Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 3/15 bl. 4-7
  • Wat God se Koninkryk vir jou kan beteken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat God se Koninkryk vir jou kan beteken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se beskouing van die Koninkryk
  • Die Koninkryk binne ons?
  • Wanneer dit sou kom
  • Hoe die Koninkryk kom
  • Seëninge van Koninkryksheerskappy
  • Wat Jesus ander oor God se Koninkryk geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Oor God se Koninkryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • God se koninkryk heers
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 3/15 bl. 4-7

Wat God se Koninkryk vir jou kan beteken

JESUS CHRISTUS het sy volgelinge leer bid: “Laat u koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). Hoe dikwels het diegene wat beweer dat hulle Jesus se volgelinge is tog nie al daardie woorde tot God gerig nie!

Maar Jesus het meer gedoen as om sy dissipels te leer om vir God se Koninkryk te bid. Hy het die Koninkryk ’n vername onderwerp van sy predikingswerk gemaak. Trouens, die Encyclopædia Britannica sê dat God se Koninkryk “gewoonlik as die hooftema van Jesus se lering beskou word”.

Waarvoor bid Christus se volgelinge in werklikheid wanneer hulle vir die Koninkryk bid? Wat kan God se Koninkryk vir hulle en vir jou beteken? En hoe het Jesus dit beskou?

Jesus se beskouing van die Koninkryk

Jesus het homself dikwels “die Seun van die mens” genoem (Mattheüs 10:23; 11:19; 16:28; 20:18, 28). Dit herinner ons aan die profeet Daniël wat van “die Seun van ’n mens” gepraat het. Daniël het oor ’n toekomstige gebeurtenis in die hemel gesê: “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer.”—Daniël 7:13, 14.

Toe Jesus gepraat het oor wanneer hy hierdie heerskappy sou ontvang, het hy vir sy apostels gesê: ‘Wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, sal julle wat My gevolg het ook op twaalf trone sit.’ Jesus het ook gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom . . . sal al die nasies [voor Hom] versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei . . . Hulle [die onregverdiges] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”—Mattheüs 19:28; 25:31, 32, 46.

Hierdie profetiese verwysings na trone en na al die nasies toon dat die Koninkryk ’n regering is waarin Jesus en sommige van sy volgelinge oor die mensdom sal heers. Daardie regering sal die mag hê om al die onregverdiges deur die dood uit te roei. Maar diegene wie se hart na regverdigheid neig, sal God se gawe van ewige lewe onder Koninkryksheerskappy ontvang.

Dit is dus duidelik dat die Koninkryk van God ’n hemelse regering is wat deur God ingestel is. Hierdie Koninkryk is nie die kerk nie, en die Skrif maak nie voorsiening vir ’n wêreldlike beskouing daarvan nie. Daarbenewens kan ’n godgegewe regering ook nie net iets in ’n mens se hart wees nie. Aangesien God se Koninkryk ’n regering is, word dit nie iets in ons hart wanneer ons die Christelike godsdiens aanneem nie. Maar waarom dink sommige dat die Koninkryk ’n toestand is waarby die hart betrokke is?

Die Koninkryk binne ons?

Sommige meen dat die Koninkryk in ons hart is op grond van die manier waarop sekere Bybelvertalers Lukas 17:21 vertaal het. Volgens die New International Version het Jesus daar gesê: “Die koninkryk van God is in julle.”

The Interpreter’s Dictionary of the Bible sê in hierdie verband: “Die teorie dat die koninkryk van God ’n innerlike geestestoestand, of persoonlike redding, is, druis in teen die konteks van hierdie vers en ook teen die hele N[uwe]-T[estamentiese] aanbieding van die gedagte.”

’n Voetnoot by Lukas 17:21 in die New International Version toon dat Jesus se woorde soos volg weergegee kan word: “Die koninkryk van God is onder julle.” Ander Bybelvertalings sê: “Die koninkryk van God is onder julle” of “is hier by julle” (The New English Bible; The Jerusalem Bible; die nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel). Volgens die New World Translation of the Holy Scriptures het Jesus gesê: “Die koninkryk van God is in julle midde.” Jesus het nie bedoel dat die Koninkryk in die harte van die trotse Fariseërs was met wie hy gepraat het nie. Pleks daarvan was Jesus, as die langverwagte Messias en aangewese Koning, reg in hulle midde. Maar daar sou heelwat tyd verloop voordat God se Koninkryk sou kom.

Wanneer dit sou kom

Sekere van Jesus Christus se volgelinge is gekies om sy medeheersers in die hemelse Messiaanse Koninkryk te wees. Soos Jesus, sterf hulle getrou aan God en word hulle as geespersone in die hemel opgewek (1 Petrus 3:18). Hoewel daar vergelykenderwys min van hulle is, sal daar 144 000 konings en priesters wees wat gekoop is uit die mense (Openbaring 14:1-4; 20:6). Jesus se getroue apostels sal onder sy medeheersers tel.—Lukas 12:32.

Toe Jesus by een geleentheid met sy volgelinge gepraat het, het hy belowe: “Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Mattheüs 16:28). Interessant genoeg toon die volgende vers dat Jesus se belofte net ’n paar dae later vervul is. Hy het toe drie van sy dissipels teen ’n berg op geneem waar hy voor hulle van gedaante verander het, en hulle het dus ’n gesig van hom in sy Koninkryksheerlikheid gehad (Mattheüs 17:1-9). Maar die Koninkryk is nie toe opgerig nie. Wanneer sou dit plaasvind?

Een van Jesus se gelykenisse toon dat hy nie dadelik as Messiaanse Koning sou begin regeer nie. In Lukas 19:11-15 lees ons: “Hy [vertel] daar nog ’n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. . . . En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.”

In daardie dae kon dit ’n man lank geneem het om van Israel na Rome te reis, in daardie stad te wag totdat hy ’n koningskap ontvang het en as koning na sy tuisland terug te keer. Jesus was die “man van hoë geboorte”. Hy sou mag as Koning van sy Vader in die hemel ontvang, maar sou nie onmiddellik as Messiaanse Koning begin regeer nie. Sy volgelinge sou handel dryf deur die werk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig vir ’n lang tyd voort te sit voordat hy as Koning sou terugkeer.

Hoe die Koninkryk kom

Wat vra liefhebbers van God wanneer hulle bid dat sy Koninkryk moet kom? Hulle vra in werklikheid dat die hemelse Koninkryk beslissend moet optree deur mensgemaakte regeringstelsels te vernietig wat in gebreke gebly het om hulle belofte na te kom om ware vrede en voorspoed te bring. Die profeet Daniël het die aandag op hierdie gebeurtenis gevestig en geskryf: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). Wanneer sou dit gebeur?

Jesus het voorspel dat dit sou gebeur in die geslag van diegene wat ’n buitengewone omwenteling in menseaangeleenthede sou aanskou. Jesus het ’n saamgestelde “teken” met betrekking tot sy “teenwoordigheid” gegee wat gebeurtenisse sou insluit soos ongeëwenaarde oorlogvoering, aardbewings, hongersnode, pessiektes—ja, en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.—Mattheüs, hoofstukke 24, 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21.

Jesus se profesie handel oor gebeurtenisse wat nóú plaasvind—in ons 20ste eeu. Dit sal dus nie lank duur voordat God se Koninkryk groot seëninge vir die mensdom bring nie. Jy kan onder diegene wees wat die voordele van Koninkryksheerskappy gaan geniet. Maar presies wat kan God se Koninkryk vir jou en jou dierbares beteken?

Seëninge van Koninkryksheerskappy

Daar sal geluk oor die hele aarde heers. Onder “’n nuwe hemel”—die hemelse Koninkryk—sal daar “’n nuwe aarde” wees, ’n wêreldwye gemeenskap van gehoorsame Koninkryksonderdane. “God self sal by hulle wees”, het die apostel Johannes geskryf. “En God sal al die trane van hulle oë afvee.” Niemand sal dan rede hê om ongelukkig te wees nie want “droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:1-4.

Daar sal geen dood meer wees nie. Hierdie verskriklike oorsaak van droefheid sal ons nie meer van ons vriende en geliefdes beroof nie. “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” (1 Korinthiërs 15:26). Watter vreugde sal daar tog wees wanneer begrafnisse vervang word deur die opstanding van diegene in God se geheue!—Johannes 5:28, 29.

Blakende gesondheid sal siekte en gebreke vervang. Hospitaalbeddens sal nie meer vol wees van dié wat deur liggaamlike en geestelike siektes gekwel word nie. Die Meestergeneesheer, Jesus Christus, sal die waarde van sy losprysoffer “tot genesing van die nasies” aanwend (Openbaring 22:1, 2; Mattheüs 20:28; 1 Johannes 2:1, 2). Die genesings wat hy verrig het terwyl hy op die aarde was, was net ’n voorsmakie van wat hy deur middel van die Koninkryk sal doen.—Vergelyk Jesaja 33:24; Mattheüs 14:14.

Daar sal oorvloedige voedselvoorraad wees. Soos die psalmis gesê het: “Daar sal volop koring op die aarde wees; op die top van die berge sal daar oorvloed wees” (Psalm 72:16, NW). Jesaja se profesie sê daaroor: “Die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6). Hongersnood sal beslis nie die aarde se bewoners onder Koninkryksheerskappy teister nie.

Die hele aarde sal ’n paradys word. Hierdie belofte van Jesus aan ’n berouvolle misdadiger sal so vervul word: ‘Jy sal saam met My in die Paradys wees’ (Lukas 23:43). Jy kan ook die ewige lewe op hierdie aarde geniet, ’n aarde wat gereinig is van goddeloosheid en in ’n aangename, parkagtige aardbol verander is.—Johannes 17:3.

Die hele gehoorsame mensdom kan hierdie wonderlike vooruitsigte geniet. Jehovah se geïnspireerde Woord, die Bybel, gee ons hierdie wonderlike versekering. En dit is wat God se Koninkryk alles vir jou kan beteken.

[Prent op bladsy 7]

Glo jy wat Jesus oor God se Koninkryk gesê het?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel