Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 3/1 bl. 26-30
  • Die strewe na ’n doelwit wat ek op ses gestel het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die strewe na ’n doelwit wat ek op ses gestel het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek streef my doelwit na
  • Eindelik Gilead!
  • Sendelinge in Marokko
  • Na Sentraal-Afrika
  • Uiteindelik na Sierra Leone
  • Ons ouers het ons geleer om God lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ’n Seldsame Christelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Soek eers die Koninkryk—’n veilige en gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Ek geniet nou vrede met God en met my ma
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 3/1 bl. 26-30

Die strewe na ’n doelwit wat ek op ses gestel het

SOOS VERTEL DEUR SANDRA COWAN

Baie ouers kies ’n loopbaan, soos musiek of ballet, vir hulle kinders en begin hulle dan op ’n baie jong ouderdom oplei. Dit is presies wat my ma vir my gedoen het. Vandat ek twee weke oud was, is ek na al die Christelike vergaderinge geneem en in die veldbediening uitgeneem.

TOE ek vier was, het Ma gedink dat ek gereed was om op my eie ’n prekie te gee. Ek onthou my eerste poging nog goed. Ons het na ’n groot plaashuis gery, en terwyl Ma en die ander in die motor gewag het, het ek uitgeklim en na die deur toe geloop. ’n Vriendelike dame het geluister terwyl ek haar tien boekies aangebied het. Sy het daarvoor betaal deur my ’n groot steen seep te gee. Ek moes dit met altwee hande vashou. Ek was in ekstase!

Daardie selfde jaar, 1943, het die Wagtoring-Bybelskool Gilead sy deure oopgemaak om voltydse pionierbedienaars vir sendingwerk op te lei. Ma het my aangemoedig om sendingdiens as doelwit in my lewe te stel. Die Tweede Wêreldoorlog het toe in Europa gewoed, en Ma het my altyd vertel van jong Getuiekinders in Europa wat van hulle ouers weggeneem is. Sy wou hê dat ek sterk genoeg moes wees om enige toets te deurstaan.

In die somer van 1946 is ek gedoop by die internasionale byeenkoms in Cleveland, Ohio. Hoewel ek net ses jaar oud was, was ek vasbeslote om my toewyding aan Jehovah uit te leef. Daardie somer het ek vir die eerste keer as pionier gedien. Ek onthou hoe ek een oggend 40 tydskrifte versprei het onder mense wat op die Plaza in San Diego, Kalifornië, gesit het. Ek is seker die feit dat ek so klein was en so baie gepraat het, het baie daarmee te doen gehad.

Ons het dikwels getuieniswerk gedoen naby Beth-Sarim, waar die siek president van die Wagtoringgenootskap, broer Rutherford, die winters deurgebring het voor sy dood in 1942. Ons het die voltydse knegte daar gereeld besoek en maaltye saam met hulle geniet. Sulke aangename besoeke het my laat besluit dat dit werklik die soort lewe is wat ek wou hê. Ek het Gileadskool en sendingdiens toe as my doelwit in die lewe gestel.

Die daaropvolgende jaar is my ouers geskei, maar die veranderde gesinsomstandighede het nie ons geestelikheid gedemp nie. Ma was ’n pionier en was baie besorg oor die opleiding wat ek en my broer ontvang het. Ons klein woonwa het altyd gewemel van Christenbroers en -susters wat ons besoek het. Ma het ’n spesiale poging aangewend om my aan Gileadgegradueerdes voor te stel. Twee sulke gegradueerdes was Lloyd en Melba Barry, wat ons in die reisende werk besoek het terwyl hulle gewag het om na hulle buitelandse toewysing in Japan te gaan. Hulle het tyd daaraan afgestaan om my—’n dogtertjie wie se begeerte dit was om ’n sendeling te wees—aan te moedig en dit het ’n groot indruk op my gemaak.

Toe ek tien jaar oud was, het Ma met ’n wonderlike Getuie getrou wat ook ’n pionierbedienaar was. Hy het my en my broer nie net op papier nie, maar ook in sy hart aangeneem. Sy liefde vir Jehovah en ywer vir die velddiens was baie aansteeklik.

Ma en Pa het as ’n span saamgewerk om albei ons kinders deur die moeilike tienderjare leiding te gee. Ons huis was ’n geestelike hawe wat tere herinneringe by my wek. Dit was nie vir hulle maklik om op ’n klein inkomste as pioniers te dien terwyl hulle twee kinders grootgemaak het nie; dit het selfopoffering geverg. Maar Ma en Pa het op Jehovah vertrou en Koninkryksbelange eerste gestel.

Hoe goed onthou ek tog die internasionale byeenkoms in New York-stad in 1950! Pa het ’n lening by die bank gekry, en ons het drie passasiers saamgeneem om die koste te help dek. Ma, Pa, my broer en ek het die hele pad van San Diego tot by New York saam op die voorste sitplek gesit, en die ander het agter gesit. Aangesien Pa se werkgewer geweier het om hom twee weke se verlof te gee, het hy sy werk verloor omdat hy daardie byeenkoms bygewoon het. Maar Pa het ons verseker dat Jehovah in ons behoeftes sou voorsien, en Hy het. Pa het die motor verkoop om die lening by die bank af te betaal, en toe het hy ’n beter werk gekry. Hierdie ondervinding en soortgelyke ondervindinge was jare later van onskatbare waarde vir my toe ek en my man voor moeilike situasies te staan gekom het.

Op pad terug van New York af het ons Kingdom Farm besoek, waar ek Gileadskool vir die eerste keer gesien het. Ek onthou hoe ek in een van die klaskamers gestaan het en vir myself gesê het: ‘Ek’s nog nie eers 11 nie. Ek sal nooit hierheen kan kom nie. Armageddon sal eerste kom.’ Maar daardie besoek het my nog meer vasbeslote gemaak om Gilead as my doelwit te stel.

Ek streef my doelwit na

Ek het van graad een af my hele skoolloopbaan deur elke somervakansie aan die pionierdiens deelgeneem. En twee weke nadat ek my hoërskoolloopbaan in Junie 1957 voltooi het, het ek ’n gewone pionier geword.

Die streekbyeenkomsvergadering by die Los Angeles-byeenkoms in 1957 vir diegene wat in Gilead belangstel, was vir my ’n spesiale vergadering. Toe ek vir daardie vergadering by die tent inloop, het ek Bill raakgeloop, ’n jong broer wat ek geken het vandat ek ses jaar oud was. Hy was die jaar vantevore weg om in Louisiana te dien waar daar meer hulp nodig was. Ons was verbaas om uit te vind hoeveel ons albei in sendingdiens belanggestel het. Ses maande later het ons besluit om dit ’n gesamentlike strewe te maak. Ons het aan die Genootskap geskryf en om ’n toewysing gevra en ’n maand voor ons troue het ons ’n toewysing gekry in Romney, Wes-Virginië.

Ons het onderweg na die byeenkoms in New York in 1958 daarheen verhuis. By daardie byeenkoms het ons die vergadering bygewoon vir diegene wat in Gilead belangstel. Daar was honderde mense teenwoordig. Toe ons na daardie skare kyk, het ons gedink dat ons kanse om na Gilead genooi te word beslis skraal was. Ons het nogtans ’n voorlopige aansoekvorm ingestuur, al was ons toe net 11 weke getroud. Die daaropvolgende jaar het ons by die byeenkoms in Philadelphia ’n tweede aansoekvorm ingegee.

Ek en Bill het in Romney geleer om op Jehovah te vertrou om ons deur moeilike omstandighede te help. Romney was ’n dorp met ongeveer 2 000 inwoners. Dit was onmoontlik om werk te vind. Ons het in ’n tuisgemaakte woonwa wat vyf meter lank was, gewoon wat vir die weer in Kalifornië gemaak is. Ons het geen lopende water, geen verwarmer en geen yskas gehad nie. Binne het dit so koud geword dat ons die ys in die emmer moes breek om water te kry. Die broers het ons gehelp waar hulle kon en die kos waarvoor hulle gaan jag het met ons gedeel. Ons het hert, wasbeer en eekhoring geëet. Ons het baiekeer gedink dat ons niks kos vir die dag sou hê nie, en wanneer ons dan ná velddiens huis toe kom, het ons ’n paar appels of kaas gevind wat voor ons deur gelaat is.

Ons het nege maande lank so noustrop getrek. Uiteindelik het ons besluit dat dit verstandig sou wees om na Baltimore, Maryland, te trek, waar Bill werk kon kry. Toe ons die broers van ons besluit vertel, het hulle gehuil en ons het gehuil. Ons het dus besluit om nog ’n bietjie langer uit te hou.

Kort daarna het ’n Getuie wat ’n bestuurder was van ’n supermark in Westernport, Maryland, ongeveer 60 kilometer daarvandaan, Bill ’n deeltydse werk aangebied. In daardie selfde maand het een van ons Bybelstudente ons ’n oulike gemeubileerde huisie met ’n groot koolstoof aangebied. Toe het Maleagi 3:10 my geliefkoosde teks geword. Jehovah het ’n seën op ons uitgestort wat ons verwagtinge oortref het.

Eindelik Gilead!

Een van die opwindendste dae in ons lewe was die dag, in November 1959, toe ons ons uitnodiging na Gilead ontvang het. Ons is na die 35ste klas genooi, die laaste klas wat by Kingdom Farm gehou is. Toe ek in dieselfde klaskamer staan wat ek as kind besoek het, het ek ’n warm, gelukkige gevoel ervaar wat deur geen woorde beskryf kan word nie.

Gilead was ’n geestelike oase. Dit was asof ’n mens vyf maande lank in die nuwe wêreld gewoon het. Dit is baie selde in die lewe dat ’n mens jare lank op iets wag en dan vind dat dit jou verwagtinge oortref. Maar dit is presies wat Gilead gedoen het.

Ons het ’n toewysing na Indië gekry, maar op die ou end is visas nie aan ons toegestaan nie. Nadat ons dus ’n jaar lank in New York-stad gewag het, het die Wagtoringgenootskap ons na Marokko, Noord-Afrika, gestuur.

Sendelinge in Marokko

Ons het 24 gelukkige jare in Marokko deurgebring, en het met die intrapslag vir die mense lief geword. Ons het Frans en Spaans geleer, tale wat ons gehelp het om te kommunikeer met die talle nasionaliteite wat daar woon. Dit was hoofsaaklik mense wat van ander lande gekom het wat op die Koninkryksboodskap gereageer het.

Een vrou met wie ek ’n Bybelstudie gehad het, was ’n Spaanse flamenco-danseres wat by ’n kabaret in Casablanca gewerk het. Nadat sy Bybelbeginsels geleer het, het sy die kabareteienaar met wie sy saamgeleef het, verlaat en na Spanje teruggekeer. Daar het sy vir haar hele familie getuig, en van hulle het die Bybelwaarhede wat sy aan hulle vertel het, aangeneem. Later het sy na Casablanca teruggekeer, waar sy tot haar dood in 1990 getrou aan God gebly het.

In ons eerste paar jaar in Marokko het ons vermeerderings in die aantal Koninkryksverkondigers gesien. Maar toe dit vir buitelanders moeilik geword het om werk en verblyfpermitte te kry, was daar ’n uittog van Getuies na Europa. Van die mense met wie ons gestudeer het, is nou in Nieu-Seeland, Kanada, die Verenigde State, Bulgarye, Rusland en Frankryk, en party van hulle is in die voltydse bediening.

In April 1973 is ons predikingswerk in Marokko skielik verbied. Wat ’n slag was dit tog nie! Ons was nog een Donderdagaand ’n gelukkige groepie by die Koninkryksaal en het gesels totdat die ligte afgeskakel is om vir ons te sê dat dit tyd was om huis toe te gaan. Min het ons geweet dat ons nooit weer daardie ligte sou sien skyn op sulke openlike Christelike kameraadskap nie. As gevolg van die verbod moes ons ons vergaderinge en kringbyeenkomste in klein groepies in privaat huise hou. Die Getuies moes óf na Frankryk óf na Spanje reis om streekbyeenkomste by te woon.

Namate ons getalle afgeneem het, het die paar Getuies wat in Marokko oorgebly het baie geheg geraak aan mekaar. Toe die Wagtoringgenootskap dus uiteindelik besluit het om die tak te sluit en ons na ’n ander plek te stuur, het ons almal baie trane gestort.

Na Sentraal-Afrika

Ons nuwe toewysing was die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Hoe anders tog as Noord-Afrika! Terwyl Marokko se klimaat soortgelyk aan dié in suidelike Kalifornië was, het ons ons nou in die bloedig warm, vogtige trope bevind.

Daar was nuwe probleme waarmee ons te kampe gehad het. Ek moes nou byvoorbeeld my vrees vir kruipende gediertes beheer. By drie geleenthede het ’n akkedis op my kop geval wanneer ek by ’n deur ingeloop het. Soms het ’n rot besluit om hom by ons aan te sluit terwyl ons ’n Bybelstudie gehou het! Hoewel ek wou opspring en weghardloop, het ek geleer om myself te beheers, en ek het nooit my oë van mnr. Rot afgeneem nie terwyl ek my boeksak en my voete van die vloer af gehou het totdat hy besluit het om weg te gaan. Ek het gevind dat ’n mens aan enigiets gewoond kan raak as jy net vasbyt.

Toe ons ses maande daar was, is ’n aankondiging oor die radio gedoen dat ons werk verbied is. Ons Koninkryksale is dus gesluit, en die sendelinge is gevra om te gaan. Net ons en ’n ander egpaar het dit reggekry om nog drie jaar lank by die tak aan te bly. Maar een Sondagoggend gedurende ons Wagtoring-studie het gewapende polisiemanne gekom en ons na die polisiehoofkwartier geneem. Hulle het die vroue en kinders vrygelaat, maar hulle het 23 broers, waaronder my man, Bill, aangehou. Na ses dae het hulle hom vrygelaat om huis toe te kom en te pak; drie dae later, in Mei 1989, het ons die land op bevel van die regering verlaat. Daar is weer eens baie trane gestort met ons vertrek by die lughawe, waar baie van ons liefdevolle broers ons kom afsien het.

Uiteindelik na Sierra Leone

Ons huidige toewysing is Sierra Leone, Wes-Afrika, ’n pragtige land met mooi, wit strande. Mense is baie vriendelik, en die veldbediening is ’n plesier. Ons word by elke huis genooi om te sit, dikwels in die skadu van ’n mangoboom of ’n klapperboom. Mense praat graag oor God en gaan haal hulle eie Bybels om saam daarin te volg.

Ek en Bill werk albei by die Freetown-Bethelhuis. Ek is ’n ontvangsdame en werk ook met intekeninge en gemeenterekeninge. Na 16 jaar van diens in lande waar ons predikingswerk verbied is, is dit wonderlik om in ’n land te wees waar die werk vry is en vooruitgang maak.

Ek het in Junie 1991 reeds 30 jaar van sendingdiens agter die rug gehad. Ma het waarlik ’n waardevolle doelwit aan my voorgehou! As sy nog gelewe het, sou ek graag weer vir haar wou sê: “Dankie, Ma!” Gelukkig kan ek nog sê: “Dankie, Pa!”

[Prent op bladsy 28]

New York-byeenkoms, 1958

[Prent op bladsy 29]

35th class—Julie, 1960

[Prent op bladsy 30]

Bill en Sandra Cowan, 1991

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel