Tonele uit die Beloofde Land
Besoek die land, besoek die skape!
DUISENDE Christene het al die Beloofde Land besoek met die gedagte dat dit hulle sal help om die Bybel te verstaan en dit vir hulle meer betekenis sal hê as hulle die plekke sien waar gebeure hulle afgespeel het. En dit het.
Miskien het jy die land al werklik besoek of het jy dit in jou verbeelding besoek deur boeke en artikels daaroor te bestudeer, maar hoe sal jy daarvan hou om die skape daar te gaan besoek? Jy wonder miskien: ‘Wat het skape dan met die Beloofde Land te doen?’ Skape was in werklikheid so ’n integrerende deel van die lewe in Bybelse tye dat ’n besoek aan die Beloofde Land eintlik onvolledig is as jy nog nie die skape besoek het nie.
Wat jy op die foto’s hier sien, kan deel van jou besoek uitmaak, aangesien die skape wat vandag in daardie deel gesien word baie lyk soos dié wat algemeen gedurende Bybelse tye voorgekom het.a Hulle breë stert is swaar van die vet (Levitikus 7:3; 9:19). Die dik wol is gewoonlik wit. Maar onthou, onder Jakob se groot kudde was daar ‘gespikkelde en bont . . . en donkerbruin skape’.—Genesis 30:32.
Dieselfde verhaal toon dat ’n man wat ’n groot kudde gehad het as welgesteld beskou is (Genesis 30:43). Ons lees van Job: “Sy besitting [was] seweduisend stuks kleinvee [“skape”, NW] en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne . . . sodat [hy] ryker was as al die kinders van die Ooste” (Job 1:3; 42:12). Of dink daaraan dat Nabal 3 000 skape en 1 000 bokke gehad het. Wat dink jy sou sy status en invloed in Dawid se dag gewees het? (1 Samuel 25:2). Maar waarom het ’n groot kudde dan nou juis groot rykdom beteken?
Dit was omdat skape hulle herder of eienaar van waardevolle produkte voorsien het. Die wol self was ’n bate wat homself hernieu het. Spreuke 31:13, 21, 22 help ons om te sien hoe ’n verstandige, vlytige vrou dit kon gebruik om klere vir haar gesin te maak, of kledingstukke wat sy kon verkoop (Job 31:20). Wol was ’n belangrike handelsartikel. Dit kan ons aflei uit die opmerking dat ’n Moabitiese koning ‘’n skaapwagter was, en dat hy aan die koning van Israel honderdduisend lammers en honderdduisend ongeskeerde ramme betaal het’ (2 Konings 3:4, NW). Ja, hulle was “ongeskeerde” skape; hulle groot drag wol het hulle waarde verhoog.
Skaapramme het soms indrukwekkende horings, soos dié wat jy op die foto regs sien. Herinner dit jou daaraan dat hulle ’n ramshoring gebruik het om die Jubeljaar aan te kondig? (Levitikus 25:8-10). Sulke hol horings is ook gebruik om alarm te blaas of om krygsbewegings te lei.—Rigters 6:34; 7:18, 19; Joël 2:1.
As ’n mens ’n kudde skape gehad het, was jy vanselfsprekend verseker van ’n voedselbron omdat skape onder die rein diere was wat die Israeliete kon eet (Deuteronomium 14:4). Die vleis (van ’n volgroeide skaap of van ’n lam) kon gekook of gebraai word. Gebraaide skaap was ’n belangrike aspek van die jaarlikse Pasga (Exodus 12:3-9). Skape was ook ’n gereelde bron van melk. Die melk kon gedrink word en ook gebruik word om kaas te maak.—1 Samuel 17:17, 18; Job 10:10; Jesaja 7:21, 22.
Geen besoek aan die skape sou afgerond wees sonder om te let op die hegte band wat daar tussen die kudde en hulle herder bestaan nie. ’n Getroue herder het vir sy skape gesorg. Soos Jesus gesê het, hulle het hulle herder se stem geken en hom gevolg wanneer hy hulle by hulle naam geroep het (Johannes 10:3, 4). Wanneer een verlore geraak het, het die sorgsame herder na hom gaan soek. Wanneer hy die verlore skaap gevind het, het hy hom moontlik op sy skouers getel en na die kudde toe teruggedra.—Lukas 15:4, 5.
Toe Dawid homself met ’n skaap vergelyk het wat Jehovah as sy Herder het, het hy gepraat uit sy eie ondervinding met ’n kudde. Dawid is beskerm, soos skape teen wilde diere verdedig is. Die skape kon hulle sorgsame herder volg waarheen hy hulle ook al gelei het. As hulle seergekry het, het hy hulle wonde behandel, moontlik met strelende olie. Wat ’n teenstelling is dit tog met die selfsugtige gedrag van Israel se leiers wat in Esegiël 34:3-8 beskryf word!
Die Bybel verwys talle kere profeties en figuurlik gesproke na skape. Jou besoek aan die skape van die Beloofde Land en die feit dat jy hulle beter leer ken het, kan jou dus ’n dieper insig gee wanneer dit kom by uitdrukkings soos “klein kuddetjie”, “die Lam van God” en “ander skape”.—Lukas 12:32; Johannes 1:36; 10:16.
[Voetnoot]
a Jy kan die foto hierbo, van skape in die wildernis van Judea, in Jehovah se Getuies se kalender vir 1992 bestudeer.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Garo Nalbandian