‘Doen voortdurend kennis op van God en van Jesus’
“DIT beteken die ewige lewe, dat hulle voortdurend kennis opdoen van U, die enige ware God, en van die een wat U uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3, NW). Dít is wat Jesus in gebed aan sy hemelse Vader gesê het, en so het hy getoon wat ’n belangrike voorvereiste is as ’n mens die ewige lewe wil verkry. Maar waarom vertaal die New World Translation hierdie vers “voortdurend kennis opdoen van . . . God” pleks van “God . . . ken” soos die meeste ander vertalings van die Bybel dit weergee?—Sien ook voetnoot oor Johannes 17:3 in die NW-Naslaanbybel.
Die Griekse woord wat hier met “voortdurend kennis opdoen” of “ken” vertaal word, is ’n vorm van die werkwoord gi·noʹsko. En die New World Translation stel dit so om die betekenis van daardie woord so getrou moontlik weer te gee. Die grondbetekenis van gi·noʹsko is om te “ken”, maar die Griekse woord het verskeie betekenisnuanses. Let op die volgende definisies:
“GINŌSKŌ (γινώσκω) beteken om kennis op te doen, om te leer ken, om in te sien, om te verstaan, of om ten volle te verstaan” (Expository Dictionary of New Testament Words, W. E. Vine). Die vertalers van die New World Translation het dus nie ‘die Bybel verander’ deur gi·noʹsko met ‘kennis opdoen’ weer te gee soos kritici daarvan beweer het nie. James Hope Moulton, beroemde leksikograaf, sê in ’n bespreking van die verskillende betekenisnuanses wat die woord kan insluit: “Die teenwoordige simpleks, γινώσκειν, is duratief, ‘om voortdurend kennis op te doen’”—A Grammar of New Testament Greek.
A Grammatical Analysis of the Greek New Testament verduidelik dat gi·noʹsko soos dit in Johannes 17:3 gebruik word “op ’n voortdurende proses dui”. Ons vind nog ’n kommentaar oor hierdie Griekse woord in Word Studies in the New Testament, deur Marvin R. Vincent. Dit sê: “Die ewige lewe lê in kennis, of eerder die najaging van kennis, aangesien die teenwoordige tyd ’n voortgesette, ’n progressiewe begrip aandui.” (Hy kursiveer.) A. T. Robertson se Word Pictures in the New Testament stel voor dat die woord as “moet aanhou ken” vertaal word.
In die oorspronklike Grieks dui Jesus se woorde in Johannes 17:3 derhalwe op ’n voortgesette poging om die ware God en sy Seun, Jesus Christus, te leer ken, en die gedagte word baie goed uitgebring in die weergawe van die New World Translation. Ons verwerf hierdie kennis deur God se Woord naarstig te bestudeer en deur gehoorsaam ons lewe volgens die standaarde daarvan te skik. (Vergelyk Hosea 4:1, 2; 8:2; 2 Timotheüs 3:16, 17.) Watter wonderlike beloning wag op diegene wat God se persoonlikheid en dié van sy Seun leer ken en dan daarna strewe om hulle na te volg? Die ewige lewe!