Koninkryksverkondigers berig
Jehovah beloon ’n getroue jongeling
GETROUE jongmense is baie kosbaar in Jehovah se oë. Die volgende ondervinding van ’n getroue jong man behoort ander jonges aan te moedig om hulle getrouheid in Jehovah se diens te handhaaf.
In Argentinië het ’n 11-jarige seun en sy jonger boetie die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe saam met hulle ouma bestudeer. Die seuns se ouers het hulle onmiddellik begin teenstaan en hulle verbied om na die vergaderinge in die Koninkryksaal te gaan. Om die vergaderinge by te woon, het die seuns ’n ruk lank deur die badkamervenster geglip, in die binnehof afgespring en dan oor die muur tot in die bure se binnehof geklouter en vandaar na die Koninkryksaal gegaan. Toe het iemand vir hulle ma vertel dat hulle die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon. Hulle ma het hulle met slae gedreig, en dit het die jonger boetie afgeskrik sodat hy opgehou het om te studeer. Maar die oudste het volhard. Hy het vyf jaar lank daarin geslaag om die vergaderinge sonder sy ouers se wete by te woon.
Toe hy 16 was, wou hy ’n hoërskoolkursus volg wat nie in sy tuisdorp aangebied is nie. Die feit dat hy weg van die huis af sou wees, sou hom meer vryheid bied om met die waarheid aan te gaan. Sy ouers het toegestem dat hy kon gaan, en drie maande lank het alles goed gegaan. Toe het die skoolhoof sy ouers laat weet dat hulle seun weier om die vlag te salueer of om die volkslied te sing. Die jong man het voor ’n gehoor wat bestaan het uit die skoolhoof, sy ouers, ’n sekretaris, ’n prokureur en tien onderwysers ’n uitstekende getuienis gegee oor waarom sy gewete hom nie toegelaat het om hierdie dinge te doen nie (Exodus 20:4, 5). Sy ouers was woedend. Die ma het ’n rewolwer aangeskaf om die ouma te skiet, omdat sy haar hiervoor verantwoordelik gehou het. Maar sy kon haar nooit alleen kry nie.
Later het die ouers, op die voorstel van ’n huisvriend en met die skoolhoof se goedkeuring, besluit om die seun in ’n kliniek vir sielsiekes te laat opneem, omdat hulle gedink het dat psigiatriese behandeling hom van sy geloof sou laat afsien. Personeellede van die kliniek het die seun 100 kilometer ver in ’n motor weggeneem en hom met groot dosisse insulien en ander dwelmmiddels ingespuit totdat hy sy bewussyn verloor het. Toe hy weer bykom, was hy heeltemal verward, het hy niemand geken nie en het hy aan gedeeltelike geheueverlies gely. Na talle sorgvuldige ondersoeke kon die dokters geen teken van sielsiekte by hom vind nie. Maar die kliniek het met die behandeling voortgegaan. Die seun het, wanneer hy by sy bewussyn was, voortdurend tot Jehovah gebid om hom nie te verlaat nie en het hom om krag gesmeek sodat hy kon volhard. Jehovah het hom inderdaad beskerm, en hy is mettertyd uit die kliniek ontslaan.
Die skoolhoof het die jong man eenkeer gevra of hy bereid was om van standpunt te verander. Toe hy weier, het die skoolhoof vir die ouers gesê hulle moet die seun terugneem na die kliniek omdat hy kranksinniger as tevore is. Die ouers het hom na ’n losieshuis geneem en aan die eienares gesê sy moet toesien dat hy nie na die vergaderinge van Jehovah se Getuies gaan nie. Wat ’n verrassing het die seun gekry nadat sy ouers daar weg is! Die eienaars van die losieshuis was Getuies van Jehovah! Uiteindelik het die ouers sy psigiatriese behandeling gestaak, want hulle was nou oortuig dat die dokters vir hulle leuens vertel het. Die Appèlhof van Argentinië het intussen beslis dat die kinders van Jehovah se Getuies nie uit die skool geskors kon word omdat hulle weier om die vlag te salueer nie.
Het hierdie beproewinge hierdie getroue jongeling gehelp? Ja. Hy sê: “Ek kon ’n deeglike getuienis gee aan die dokters, onderwysers, skoolmaats, my ouers en familie, trouens, aan die hele stad. My ouers se houding het ietwat versag, en hulle verstaan die Getuies se standpunt beter. Wanneer ek nou op my kinderjare terugkyk, sien ek hoe wonderlik en hoe liefdevol onse God is in die wyse waarop hy vir iemand sorg wat aan hom lojaal bly. Dit is net soos die psalmis in Psalm 27:10 gesê het: ‘Ingeval my eie vader en my eie moeder my werklik sou verlaat, sou Jehovah my inderdaad self opneem.’”—NW.
Hierdie jong man is nou 23, getroud en baie bedrywig in Jehovah se diens. Jehovah se onderskragende krag is gewis onbeperk.—Psalm 55:23.