Wat word bedoel met “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”?
DIE “hemele” kan na Jehovah God in sy soewereine posisie verwys. Toe Daniël derhalwe vir Nebukadnesar gesê het dat die ondervinding wat vir hom as Babiloniese heerser voorgelê het hom sou laat besef dat “die hemel heers”, het dit beteken dat hy insgelyks sou besef “dat die Allerhoogste [die] Heerser is in die koninkryk van die mens”.—Daniël 4:25, 26, NW.
Maar buiten die verwysing na die Oppersoewerein kan die begrip “hemele” ook verwys na ander heersers wat bo hulle onderdane verhewe of verheerlik is. Juis hierdie dinastie van Babiloniese konings wat deur Nebukadnesar verteenwoordig is, word in Jesaja 14:12 beskryf as steragtig, as ’n “môrester, seun van die dageraad”. Deur sy oorwinning oor Jerusalem in 607 v.G.J. het daardie Babiloniese dinastie sy troon “bo die sterre van God” verhef. Hierdie “sterre” het klaarblyklik na die Judese konings uit die geslagslyn van Dawid verwys.
Die verband tussen die “hemele” en heerskappy help ons om die betekenis van die uitdrukking “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te verstaan wat in Jesaja 65:17 en 66:22 voorkom en wat in 2 Petrus 3:13 deur die apostel Petrus aangehaal word. Met verwysing na dié verwantskap sê McClintock en Strong se Cyclopædia (1891, Dl. IV, bladsy 122): “In Jes. lxv, 17, beteken ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde ’n nuwe regering, nuwe koninkryk, nuwe mense.”
Net soos die “aarde” ’n mensegemeenskap kan beteken, kan “hemele” ook die hoër heerskappy of regering oor so ’n “aarde” simboliseer (Psalm 96:1). Die profesie wat deur Jesaja gegee is, en wat die belofte bevat van die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, het aanvanklik te doen gehad met die herstel van Israel uit Babiloniese ballingskap. Toe die Israeliete na hulle tuisland teruggekeer het, het hulle ’n nuwe stelsel van dinge betree. Kores die Grote is op prominente wyse deur God gebruik om daardie herstel te weeg te bring. Ná hulle terugkeer na Jerusalem het Serubbabel (’n afstammeling van Dawid) as goewerneur en Josua as hoëpriester gedien. In ooreenstemming met Jehovah se voorneme het hierdie nuwe regeringsreëling, of “nuwe hemele”, hulle onderdane gelei en toesig oor hulle gehou (2 Kronieke 36:23; Haggai 1:1, 14). Sodoende het Jerusalem, soos vers 18 van Jesaja hoofstuk 65 voorspel het, “’n rede [geword] vir blydskap en haar volk . . . ’n rede vir uitbundige vreugde”.—NW.
’n Groter vervulling
Petrus se aanhaling toon egter dat ’n toekomstige vervulling op grond van God se belofte verwag kon word (2 Petrus 3:13). Aangesien God se belofte volgens vers 4 met Christus Jesus se teenwoordigheid verband hou, moet die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” na God se Messiaanse Koninkryk en sy heerskappy oor gehoorsame onderdane verwys. Deur sy opstanding en hemelvaart tot aan God se regterhand het Christus Jesus “hoër as die hemele geword” in die sin dat hy sodoende “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy . . . nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” gestel is.—Hebreërs 7:26; Efesiërs 1:19-21; Mattheüs 28:18.
Christenvolgelinge van Jesus word as “deelgenote van die hemelse roeping” deur God bestem om “erfgename” in eendrag met Christus te wees (Hebreërs 3:1). Hulle maak die “nuwe Jerusalem” uit wat volgens Johannes se visioen “uit die hemel van God neerdaal”. (Openbaring 21:2, 9, 10; vergelyk Efesiërs 5:24-27.) Aangesien daar aanvanklik gesê word dat hierdie visioen te doen het met “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” volg dit daaruit dat albei uitgebeeld word in wat daarna beskryf word (Openbaring 21:1). Gevolglik moet die “nuwe hemel” ooreenstem met Christus saam met sy “bruid”, die “nuwe Jerusalem”, en dui die “nuwe aarde” op die ‘volke van die mensdom’ wat hulle onderdane is en die seëninge van hulle heerskappy geniet, soos dit in verse 3 en 4 uitgebeeld word: “En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
Die eerste hemel en aarde wat verbygaan
Johannes se visioen verwys na die “eerste hemel en die eerste aarde” wat verbygaan. (Openbaring 21:1; vergelyk 20:11.) Die Christelike Griekse Geskrifte toon dat aardse regerings en hulle onderdane onderworpe is aan Sataniese heerskappy (Mattheüs 4:8, 9; Johannes 12:31; 2 Korinthiërs 4:3, 4; Openbaring 12:9; 16:13, 14). Die apostel Paulus het ook verwys na “die bose geeste in die lug” met hulle owerhede, magte en wêreldheersers (Efesiërs 6:12). “Die eerste hemel” wat verbygaan, dui derhalwe op die einde van politieke regerings sowel as van Satan en sy demone. Hierdie beskrywing van “die eerste hemel” stem ooreen met die feit dat Johannes, kort voor sy verduideliking van die ‘eerste hemel wat verbygegaan het’, ’n visioen gehad het wat toon hoe Satan se magte geheel en al verslaan word en hoe Satan in “die afgrond” gewerp word (Openbaring 19:19–20:3). Volgens Openbaring 19:17, 18 word die aardse onderdane van Satan se heerskappy vernietig voordat hy in die afgrond gewerp word. (Vergelyk 1 Johannes 2:15-17.) Die beskrywing van ’n vurige vernietiging van hemel en aarde in 2 Petrus 3:7-12 stem ooreen met die visioene in Openbaring.
Permanensie van die fisiese hemele
Elifas die Temaniet het van God gesê: “Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie.” Maar Jehovah het vir Elifas gesê dat hy en sy twee metgeselle “nie reg van My gespreek [het] soos my kneg Job nie” (Job 15:1, 15; 42:7). In teenstelling hiermee toon Exodus 24:10 dat die hemele reinheid verteenwoordig. Daar word derhalwe geen rede in die Bybel gegee waarom God die fisiese hemele moet vernietig nie.
Dat die fisiese hemele wel blywend is, word getoon deur die feit dat hulle in vergelykings gebruik word wat na dinge verwys wat ewigdurend is, soos die vredevolle, regverdige gevolge van die Dawidiese koninkryk wat deur God se Seun beërwe word (Psalm 72:6-8; Lukas 1:32, 33). Tekste soos Psalm 102:26, 27 wat sê dat die hemele sal ‘vergaan’ en dat hulle ‘soos ’n verslete kledingstuk vervang sal word’, moet dus nie letterlik verstaan word nie.
In Lukas 21:33 sê Jesus “die hemel en aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie”. Die betekenis van hierdie uitdrukking is blykbaar soortgelyk aan dié van Mattheüs 5:18: “Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan [of, ‘dit is makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan’; Lukas 16:17] as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.”—NAV.
Psalm 102:26-28 beklemtoon God se ewigheid en onverganklikheid, terwyl sy fisiese skepping van die hemel en die aarde verganklik is, dit wil sê, vernietig kan word—as dit God se doel was. In teenstelling met God se ewige bestaan, geniet geen deel van sy fisiese skepping permanente bestaan onafhanklik van Hom nie. Soos ons hier op die aarde kan sien, is die fisiese skepping onderhewig aan ’n voortdurende hernuwingsproses om sy voortbestaan te verseker of sy bestaande vorm te handhaaf. Die feit dat die fisiese hemele onderhewig is aan God se wil en onderhoudende krag word in Psalm 148 getoon, waar, nadat dit na die son, maan en sterre, asook na ander aspekte van God se skepping verwys het, vers 6 sê dat God “hulle in stand [hou] vir altyd, vir ewig; Hy het ’n wet gegee wat geeneen oortree nie”.