Hulle doen wat hulle kan
Al kan niemand Jehovah vir al sy weldade aan hulle vergoed nie, doen baie mense wat hulle kan om die wêreldwye predikingswerk van sy Getuies te ondersteun. (Mattheüs 24:14; vergelyk Markus 14:3-9.) Die volgende brief van ’n gesin in Minnesota (VSA) lig dit goed toe:
“Liewe broers,
“Ons stuur hiermee ’n bydrae van $——. Gebruik dit asseblief vir die finansiering van die wêreldwye werk of wend dit aan vir die Koninkryksaalboufonds of vir enige ander behoefte wat die organisasie moontlik het. . . .
“Ons is seker dat die geld ooreenkomstig [Jehovah se] wil gebruik sal word. Ons wil ook die geleentheid gebruik om julle aan te moedig om voort te gaan met die uitstekende werk, en veral om julle te bedank vir die videoband van die [Wagtoring] genootskap se wêreldwye bedrywighede. Dit was hierdie band wat ons bewus gemaak het van die ontsaglike omvang van die werk, en dit het ons laat besef dat vrywillige bydraes nodig is. Ons het dit voorheen aan die gemeente, die kring en die streek oorgelaat om bydraes aan julle te stuur, maar nou dank ons Jehovah dat hy, ondanks ons kortsigtigheid, geduldig met ons was en ons liefdevol daarvan bewus gemaak het dat ons, benewens ander bydraes, persoonlik moet help om hierdie lewensreddende werk te finansier. Ons het besluit om, as ’n gesin, ’n minimum van $—— per maand . . . regstreeks aan New York te stuur.
“Nogmaals dankie dat julle julle aan ons diensbaar gemaak het, asook vir julle getrouheid aan Jehovah.”