Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 9/15 bl. 28-30
  • Prente—’n Sleutel om tot harte deur te dring

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Prente—’n Sleutel om tot harte deur te dring
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Prente wat onderrig
  • Hoe om illustrasies te vind
  • Laat die Bybel lewe
  • “Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Leersame illustrasies
    Leer hoe om beter te lees en onderrig
  • Volg die Groot Onderrigter na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Onderrig met insig en oorredingskrag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 9/15 bl. 28-30

Prente—’n Sleutel om tot harte deur te dring

DAWID is aan die vlug vir sy lewe. Sy vyand is Saul, die gesalfde koning van Israel. Maar Saul is ’n man wat gevul is met haat teenoor Dawid, verteer deur jaloesie. In sy moorddadige agtervolging het die koning nou 3 000 krygsmanne met hom saamgebring. Weens die groot oormag wat hulle agtervolg, het Dawid en sy manne diep in ’n spelonk in die woestyn weggekruip.

Die situasie neem ’n verrassende wending terwyl Dawid en sy manne saamgebondel in die donkerte skuil. Koning Saul kom juis hierdie spelonk binne om homself te ontlas. Dawid bekruip met sy wapen in sy hand sy weerlose vyand stilletjies. Maar tot die verbasing van Dawid se manskappe maak hy nie die koning dood nie. Hy sny net die slip van Saul se mantel af. Dawid wat selfs hieroor jammer voel, sê: “Mag die HERE my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die HERE, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die HERE.”—1 Samuel 24:2-7.

Hierdie Bybelverhaal leer ons ’n baie belangrike les oor eerbied vir godgegewe gesag. Dit dring ook deur tot die hart, miskien selfs beter as regstreekse raad. Dit is hoe kragtig die verslae is wat in God se Woord vir ons onderrigting opgeteken is.—Romeine 15:4.

Getuies van Jehovah probeer insgelyks meer doen as om net feite oor te dra wanneer hulle die goeie nuus verkondig, tuisbybelstudies hou, skriftuurlike toesprake hou of ’n informele getuienis gee. Hulle probeer tot harte deurdring deur ondervindinge te vertel en illustrasies te gebruik. Hulle Teokratiese Bedieningskool-handleiding verduidelik: “Illustrasies prikkel die belangstelling en bring die belangrike gedagtes na vore. Hulle wek ’n mens se denkprosesse op en maak dit makliker om nuwe gedagtes te begryp. Goedgekose illustrasies skakel die geesteswerking aaneen met die gevoels-inwerking. . . . Met tye kan ’n illustrasie gebruik word om vooroordeel of partydigheid te ontwyk.”a—Bladsy 168.

In sy boek Essentials of Public Speaking skryf Warren DuBois: “Laat die skrywer of spreker sy gedagtes in die dade of woorde van mense weergee en die saaiste onderwerp kry lewe en kleur.” Dit sal Christenbedienaars beslis help om tot die hart deur te dring as hulle só lewe en kleur verleen aan ’n boodskap wat reeds kragtig en lewegewend is.

Prente wat onderrig

Watter soort illustrasie werk die beste? Gewoonlik een wat handel oor iets waarmee luisteraars vertroud is en dus maklik kan snap. Jesus Christus het ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig gestel. In sy Bergpredikasie het Jesus gepraat oor alledaagse dinge soos sout, lampe en voëls (Mattheüs 5:1–7:29). Almal het byvoorbeeld lampe geken wat met olyfolie gebrand het en wat soms op ’n staander gesit is. Jesus se dissipels moes derhalwe besef het dat hulle draers van geestelike lig moet wees toe hy aan hulle gesê het: “’n Mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:15, 16). Eenvoudige illustrasies wat by ’n onderwerp pas, sal ’n Christenbedienaar help om gedagtes en Bybelleerstellinge te verduidelik.

Jesus se treffendste illustrasies was moontlik dié wat oor mense gehandel het. Dink aan dié wat in Lukas hoofstuk 15 en 16 opgeteken is. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Jesus gekritiseer omdat hy sondaars en tollenaars ontvang het. In antwoord hierop het hy roerende verhale oor mense vertel. Hy het gepraat van ’n herder wat sy verlore skaap gevind het, ’n vrou wat ’n verlore penning weer gekry het, ’n verlore seun wat teruggekeer het huis toe en ’n onregverdige bestuurder.

Realistiese illustrasies en ondervindinge uit die werklike lewe kan vir ’n Christenbedienaar baie nuttig wees. Let byvoorbeeld op hoe Alexander H. Macmillan, wat 60 jaar lank baie rondgereis het as ’n openbare spreker, die Bybelwaarheid oor die toestand van die dode verduidelik het. Kort voor die dood van sy vader, wat geglo het dat die siel nooit sterf nie, het Macmillan die volgende gesprek met hom gehad:

“My vader het my pront-uit gevra: ‘Boet, sal ek eensaam wees in die graf terwyl ek wag dat die koninkryk met sy werk moet begin om die aarde met volmaaktheid te vul?’

“Dit was ’n vraag wat ’n jong man nie maklik kon beantwoord sodat dit ’n ouer persoon sou oortuig wat nog nooit in daardie rigting gedink het nie.

“In antwoord het ek hom gevra: ‘Pa, het Pa verlede nag goed geslaap?’

“Hy het geantwoord: ‘Ja, my seun, ek het nadat die dokter vir my slaappille gegee het.’

“‘Was Pa eensaam terwyl Pa geslaap het?’

“‘Nee, ek was nie. Ek wens ek kon aanhou slaap, want dan voel ek geen pyn nie.’”

A. H. Macmillan het toe Job 14:13-15 en 3:17-19 vir sy vader gelees en gesê: “So sien Pa die dode verkeer in ’n doodslaap en weet niks terwyl hulle in daardie toestand is nie, hoe kan hulle dan eensaam wees?”

Wat ’n doeltreffende manier om te onderrig! Indien jy een van Jehovah se Getuies is, kan jy ook tekste en illustrasies gebruik om jou onderrigting in die verstand en die hart ingang te laat vind.

Hoe om illustrasies te vind

Maar waar kan ’n mens geskikte illustrasies of ondervindinge uit die werklike lewe vind? Jy kan baie uit jou kosbare fonds van persoonlike ervaring opdiep. Moet jy byvoorbeeld die seëninge van geloof, die krag van gebed of die vreugde van die bediening toelig? Indien jy ’n toegewyde Christen is, kan jy waarskynlik van verskeie gebeurtenisse in jou eie lewe vertel. Jy hoor miskien ook goeie ondervindinge in ’n gemeentelike vergadering of in jou gesprekke met mede-Christene. Of jy lees ’n bemoedigende ondervinding in die jaarboek van Jehovah se Getuies. Trouens, die Watch Tower Publications Index gee jou toegang tot gepubliseerde ondervindinge van oor die hele wêreld.

Hoe kan jy ’n ondervinding doeltreffend vertel? As jy in die eerste plek ’n mate van afwagting wek, sal dit jou help om jou gehoor se aandag te boei. Jy kan ’n ondervinding inlei deur te sê: “Een pionier het uit persoonlike ondervinding geleer hoe Jehovah diegene seën wat op hom vertrou.” Jou gehoor sal dadelik wonder watter seëninge die voltydse Koninkryksverkondiger geniet het. Moet dan nie vergeet om hulle te vertel nie.

Probeer ’n ondervinding in jou eie woorde vertel. Verstrek besonderhede, want dit gee groter trefkrag aan ’n verhaal. As jy ’n duidelike prentjie van die betrokke omstandighede skilder, kan jy jou gehoor makliker motiveer. Maar sorg dat jy jou verhaal nie so omslagtig vertel dat hulle nie kan snap waarom jy die ondervinding vertel nie. Jy moet ook nie jou verhaal aandig nie, want hoewel dit ’n vertelling interessanter kan maak, kan dit jou minder geloofwaardig laat klink. ’n Mens moet om dieselfde rede nie ondervindinge oorvertel wat jy tweedehands gehoor het of wat jy nie kan bevestig nie.

Laat die Bybel lewe

Die leersaamste ondervindinge word in die Bybel self gevind. Sê jy wil byvoorbeeld aan ’n Bybelstudent of ’n gehoor toon dat kinders ’n standpunt vir Jehovah God kan inneem. Jy kan besluit om die verhaal te gebruik van die meisietjie, wie se naam nie bekend is nie, wat vir Naäman se vrou van Jehovah se profeet Elisa vertel het. Lees eers die verhaal in 2 Konings 5:1-5. Dan kan jy vra: “Hoe moeilik dink jy was dit vir hierdie meisietjie om haar getrouheid teenoor God te handhaaf in ’n land waar valse aanbidding beoefen is? Het dit nie moed van haar geverg om met oortuiging van Jehovah en sy profeet te praat nie?”

As jy voor die tyd navorsing doen, kan dit jou help om die verhaal te laat lewe. Jy het moontlik nuttige inligting onder die opskrifte NAAMAN, SYRIA en ELISHA in die Watch Tower Publications Index gevind. Kruisverwysings in die New World Translation of the Holy Scriptures het jou van die verhaal in 2 Konings na Psalm 148:12, 13 geneem, waar ons lees: “Jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!” Wat ’n aanmoediging tog vir jongmense om God se woord met vrymoedigheid te spreek!—Handelinge 4:29-31.

Indien jy ’n Christenbedienaar is, moet jy ‘voortdurend aandag skenk aan jou onderrigting’ in hierdie opsig (1 Timotheüs 4:16, NW). Moenie net die waarheid vertel nie—illustreer dit. Maak Bybelverhale aanskoulik en betekenisvol. Gebruik gepaste ondervindinge en illustrasies. Dit is hoe ’n mens tot die hart kan deurdring.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prente op bladsy 29]

Soos Jesus kan Christenbedienaars vandag aanskoulike illustrasies gebruik om hulle boodskap oor te dra en tot harte deur te dring

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel