Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 8/15 bl. 29-31
  • Ontken jy jou sondige neigings?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontken jy jou sondige neigings?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom die ontkenning daarvan noodlottig is
  • Versterk jouself!
  • Erken sondige neigings en stry daarteen
  • Is daar ’n uitweg uit die mens se sondige toestand?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Waarom word ons oud en sterf ons?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Hoor Jehovah se stem waar jy ook al is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Hou aan waak teen versoeking
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 8/15 bl. 29-31

Ontken jy jou sondige neigings?

“EK VIND dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.”—Romeine 7:21-23.

Dit het nederigheid van die apostel Paulus geverg om die bogenoemde te erken. Maar deur dit te doen, het hy help voorkom dat hy deur sy onvolmaakte neigings oormeester word.

Dieselfde geld vir ware Christene vandag. Toe ons ’n juiste kennis van Bybelwaarheid verkry het, het ons ooreenkomstig Jehovah se standaarde die nodige veranderinge in ons lewenswyse aangebring. Maar ons sondige neigings verdwyn nie, “want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Is ons eerlik genoeg om teenoor onsself te erken watter neigings van ons druk op ons uitoefen? Of ontken ons dat ons hulle het deur miskien te sê: ‘Dit is dalk vir ander ’n probleem maar nie vir my nie’?

Sulke selfbedrog kan noodlottig wees. ’n Bybelse illustrasie kan ons help om te besef hoe belangrik dit is dat ons ons sondige neigings erken en dit in toom hou.

Waarom die ontkenning daarvan noodlottig is

In Bybeltye is baie stede deur mure beskerm. Die poorte—wat dikwels van hout gemaak is—was ’n betreklik swak deel van ’n stad se binnemuur; gevolglik is hulle die kragtigste verdedig. Die inwoners het slegs soveel poorte opgerig as wat nodig was vir die verkeer gedurende vredestyd. Houtpoorte is dikwels met metaal bedek om dit teen vuur bestand te maak. Torings is in die mure ingebou sodat wagte wat daar wag gestaan het vyande van ver af kon sien aankom.

Dink nou: Wat sou gebeur as die inwoners van ’n stad ontken het dat die stad se poorte ’n swak plek is en sodoende nie vir die behoorlike beskerming daarvan gesorg het nie? Vyandelike soldate sou maklik toegang tot die stad kon verkry wat tot sy ondergang sou lei.

Dit is ook die geval met ons. Jehovah ken ons individuele swak punte. “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Hebreërs 4:13). Satan het dalk ook al die een of ander sondige neiging in ons opgemerk, hetsy dit is dat ons die waarheid verdraai, ’n vinnige humeur het, in geslagsonsedelikheid belangstel, materialisties is, trots is of iets anders is. As ons ontken dat ons sondige neigings het, maak ons ons net nog kwesbaarder vir Satan se aanvalle op ons geloof (1 Petrus 5:8). Ons kan deur verkeerde begeertes oormeester word as hulle meer as blote neigings word en dit sonde baar (Jakobus 1:14, 15). Ons moet soos Paulus wees deur enige ‘houtpoorte’ wat moontlik bestaan ronduit te erken.

Versterk jouself!

Dit sal sinloos wees om verkeerde neigings te identifiseer maar dan niks daaromtrent te doen nie. Dit sal wees soos ’n man wat na homself in die spieël kyk, dinge opmerk waaraan hy moet aandag gee en dan weggaan sonder om die nodige veranderinge aan te bring (Jakobus 1:23-25). Ja, ons moet stappe doen om onsself te beskerm sodat sondige neigings nie oor ons die oorhand kry nie. Hoe kan ons dit doen?

In Bybelse tye het kleiner dorpies of “onderhorige plekke” dikwels nie mure om gehad nie (Numeri 21:25, 32; Rigters 1:27; 1 Kronieke 18:1; Jeremia 49:2). Inwoners van hierdie dorpies kon na ’n ommuurde stad vlug wanneer die vyand hulle aangeval het. Versterkte stede het dus as ’n toevlug vir die mense in die omliggende gebied gedien.

Die Bybel beskryf Jehovah God as ’n toring, ’n toevlug, ’n muur waarheen ons kan hardloop vir beskerming (Spreuke 18:10; Sagaria 2:4, 5). Jehovah is dus die vernaamste beskerming van sy knegte. Onophoudelike gebed tot hom is baie noodsaaklik (1 Thessalonicense 5:17). Nog ’n hulpmiddel is die Bybel. Dit sal goed wees as ons God se Woord gebruik om ’n spesiale studie te maak van daardie gebiede waarop ons swak is. Ons kan ook Bybelse artikels wat oor ons individuele ‘houtpoorte’ handel, opsy sit sodat ons dit herhaaldelik kan ondersoek.

Soos wagte in ’n toring kan ons die vyand as ’t ware ook van ver af sien aankom en dienooreenkomstig optree. Hoe? Deur omstandighede te vermy waar ons voor versoeking of druk te staan kan kom. Iemand wat byvoorbeeld sterk drank matiger wil gebruik, sal wyslik verkies om plekke te vermy waar hierdie drank maklik bekombaar is of die gebruik daarvan selfs aangemoedig word.

Dit verg alles inspanning. Maar as die apostel Paulus ‘sy liggaam moes kasty’ ten einde sy onvolmaakte neigings te weerstaan, behoort ons ons dan nie ook in te span nie? Sulke bewuste aandag aan ons sondige neigings sal weerspieël dat ons die apostel Petrus se bevel gehoorsaam: “Beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”—1 Korinthiërs 9:27; 2 Petrus 3:14.

Erken sondige neigings en stry daarteen

Moenie mismoedig raak as al jou onvolmaakte neigings, ondanks jou pogings, nie verdwyn nie. So lank ons onvolmaak is, sal ons altyd ’n sekere mate van verkeerde neigings hê, soos dit met Paulus die geval was. Maar ons moet dit voortdurend onderdruk, om te keer dat dit sonde baar.

Maar ’n mens moet besef dat as jy die onvolmaaktheid as ’n werklikheid aanvaar dit nie dieselfde is as wanneer jy dit sou duld nie. Dit kan toegelig word deur ’n man wat ’n swak hart het. Hy moet hierdie werklikheid onder die oë sien deur sy hart in so ’n goeie toestand te hou as wat hy kan. Hy redeneer nie dat hy net sowel alle selfbeheersing oorboord kan gooi en kan lewe soos hy wil aangesien sy letterlike hart in elk geval swak is nie.

Ons moet dus weet dat ons krag nie daarin lê om ons sondige neigings blindelings te ontken nie, maar om dit te erken en daarteen te stry. Moet dus nie bang wees om teenoor jouself en teenoor Jehovah te erken op watter gebiede jy maklik versoek word en druk ervaar nie. Jy hoef nie minder van jouself te hou as jy dit doen nie, en Jehovah se liefde vir jou sal ook nie afneem nie. Trouens, namate jy tot God nader in ’n opregte poging om sy goedkeuring te verkry, sal hy selfs nader tot jou kom.—Jakobus 4:8.

[Prent op bladsy 31]

Hierdie model van Megiddo beeld die versterkte poorte en beskermende mure van antieke stede af

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel