“Moenie moeg word om goed te doen nie”
Glanspunte uit Tweede Thessalonicense
DIE apostel Paulus se besorgdheid oor Christene in die Macedoniese stad Thessalonika het hom beweeg om sy tweede brief omstreeks 51 G.J. aan hulle te skryf. Party in die gemeente het verkeerdelik gesê dat die teenwoordigheid van Jesus Christus ophande was. Dit was moontlik selfs ’n brief wat verkeerdelik aan Paulus toegeskryf is en wat vertolk kon word asof dit sê dat “die dag van Jehovah” reeds aangebreek het.—2 Thessalonicense 2:1, 2, NW.
Sommige Thessalonicense se denke moes derhalwe reggestel word. Paulus het hulle in sy tweede brief geprys vir hulle toenemende geloof, vermeerdering in liefde en getroue volharding. Maar hy het ook getoon dat afvalligheid voor Jesus se teenwoordigheid sal kom. Moeilike tye het dus voorgelê, en die apostel se brief sou hulle help om sy vermaning te volg: “Moenie moeg word om goed te doen nie” (2 Thessalonicense 3:13, NAV). Paulus se woorde kan ons op soortgelyke wyse help.
Christus se openbaring en teenwoordigheid
Paulus het eers gemeld dat hierdie verdrukking verlig sal word (1:1-12). Dit sal kom “in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele”. Diegene wat nie die goeie nuus gehoorsaam nie, sal dan vir ewig vernietig word. Dit is bemoedigend om dit in gedagte te hou wanneer ons verdruk word deur vervolgers.
Paulus het vervolgens daarop gewys dat “die wettelose mens” voor Christus se teenwoordigheid openbaar sou word (2:1-17, vgl. NAV). Die Thessalonicense moes nie opgewonde raak oor enige boodskap wat sê dat “die dag van Jehovah” alreeds aangebreek het nie (NW). Eerstens sal die afvalligheid kom en die wettelose mens sal geopenbaar word. Daarna sal Jesus hom tot niet maak tydens die openbaring van Sy teenwoordigheid. Intussen het Paulus gebid dat God en Christus die Thessalonicense se harte vertroos en hulle “versterk in alle goeie woorde en werke”.
Hoe om onordelikes te behandel
Paulus het onder andere instruksies gegee oor hoe onordelike mense behandel moes word (3:1-18). Hy het sy vertroue uitgespreek dat die Heer die Thessalonicense sou versterk en hulle van die bose, Satan die Duiwel, sou bewaar. Maar hulle moes stappe doen wat tot hulle eie geestelike voordeel sou wees. Hulle moes hulle onttrek aan onordelike broers, diegene wat hulle bemoei met sake wat hulle nie aangaan nie en wat weier om te werk. “As iemand nie wil werk nie”, het Paulus gesê “moet hy ook nie eet nie.” Sulke mense moes geteken, of gemerk, word en daar moes geen broederlike gemeenskap met hulle gehou word nie, hoewel hulle as broers vermaan moes word. Getroue Christene in Thessalonicense moes nie ophou om te doen wat reg is nie, en Paulus se begeerte was dat die onverdiende goedheid van die Here Jesus Christus met hulle almal moet wees.
Paulus se tweede brief aan die Thessalonicense gee Jehovah se Getuies die versekering dat hulle verligting sal kry in hulle verdrukking wanneer Christus en sy engele wraak uitoefen op diegene wat nie aan die goeie nuus gehoorsaam is nie. Dit is ook geloofsversterkend om te weet dat “die wettelose mens” (die geestelike-klas van die Christendom) en alle valse godsdiens binnekort vernietig sal word. Laat ons intussen op Paulus se vermaning ag gee en nie ophou om te doen wat reg is nie.
[Venster/Prent op bladsy 23]
Jehovah se woord snel voort: “Hou aan om vir ons te bid”, het Paulus geskryf “dat die woord van Jehovah mag voortsnel [of, “mag hardloop”] en verheerlik word, soos dit trouens by julle is” (2 Thessalonicense 3:1, NW; sien Kingdom Interlinear). Party geleerdes het voorgestel dat die apostel gesinspeel het op hardlopers wat vinnig beweeg in ’n wedren. Hoewel daardie verduideliking onseker is, het Paulus die Christene in Thessalonicense gevra om te bid dat hy en sy medewerkers die woord van waarheid met dringendheid en sonder hindernis kan versprei. Omdat God sulke gebede verhoor, beweeg sy woord “snel voort” terwyl die goeie nuus met dringendheid in hierdie laaste dae verkondig word. Gelowiges “verheerlik” ook Jehovah se woord en ag dit hoog as die “krag van God tot redding”, soos dit die geval was met die Thessalonicense wat dit aanvaar het (Romeine 1:16; 1 Thessalonicense 2:13). Hoe bly is ons tog dat God Koninkryksverkondigers seën en die geledere van sy aanbidders vinnig vermeerder!—Jesaja 60:22.