Is jy ’n navolger van Christus of ’n naamchristen?
—Paulus se boodskap aan die Thessalonicense
DIE apostel Paulus was ’n voorbeeldige Christen. Omdat hy Jesus se voorbeeld ywerig nagevolg het, kon hy tereg die volgende by sy geloofsgenote aanbeveel: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Paulus se lewensweg en sy leer het baie van sy tydgenote gehelp om “die Weg” van ware Christelikheid te vind en daarop te bly.—Handelinge 9:2.
Paulus was liefdevol besorg oor ander. Toe God Paulus en Silas beveel het om Asië te verlaat en sendingwerk in Macedonië te gaan doen, het Hy Paulus heel gepas ’n gesig gegee van ’n man aldaar wat hom smeek en sê: “Kom oor . . . en help ons!” Met geloof en empatie het Paulus en Silas geredelik gehoorsaam en per boot uit Troas vertrek.—Handelinge 16:6-10.
Nadat hulle by Neapolis vasgemeer het, het Paulus en sy metgeselle Fillipi eerste besoek. Daarna het hulle met die groot Romeinse hoofweg, Via Egnatia, deur Amfipolis en Apollonië na Thessalonika gereis, altesaam sowat 121 kilometer (Handelinge 16:11, 12; 17:1). In Thessalonika het Paulus die Jode se byeenkomste in die plaaslike sinagoge op die Sabbatdag benut om die “evangelie” te verkondig. Die gevolg was dat “sommige” van die Jode, tesame met “’n groot menigte van die godsdienstige Grieke” gelowiges geword het.—Handelinge 17:2-4.
Omdat die ongelowige Jode Paulus sy welslae beny het, het hulle ’n gepeupel gevorm en ’n oproer in die stad Thessalonika veroorsaak sodat die broers Paulus en Silas na Berea gestuur het. Die boodskap van God se koninkryk in die hande van Jesus Christus was vir die Jode ’n struikelblok. Hulle het selfs ’n aanklag teen Paulus en Silas en die Thessalonicense wat by hulle aangesluit het, ingebring deur te sê: “Hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus.”—Handelinge 17:5-10.
Paulus se besorgdheid oor die Christene in Thessalonika
Toe Paulus Korinthe bereik, het hy sy jong medewerker Timotheüs teruggestuur om met die pasgestigte gemeente in Thessalonika in aanraking te kom. Toe Timotheüs na Paulus teruggekeer het, het hy die welkome nuus gebring dat daardie pasgedoopte Christene in die geloof vasstaan en floreer, ondanks volgehoue vervolging. Deur verdrukking te verduur, het hulle navolgers van ander getroue Christene geword (1 Thessalonicense 2:14-16; 3:6, 7). Paulus wou graag hê dat die Thessalonicense moes weet hoe hy oor hulle voel en hy wou hulle verder bemoedig en raad gee. Hy het dus twee briewe aan die gemeente geskryf. Dit was waarskynlik Paulus se eerste kanonieke briewe en is in die jare 50 en 51 G.J. geskryf. Hulle bevat ’n goeie beskrywing van wat die ware Christelike godsdiens behels.
Maar was Lukas se berig in Handelinge 17:11, 12 dat daardie Thessalonicense die woord nie so gretiglik soos die Bereane aanvaar het nie, nie ongunstig nie? Nee, want hier praat Lukas nie van die Christene nie, maar van die Jode. In teenstelling met Paulus en Silas se geringe resultate toe hulle onder die Jode in Thessalonika gepreek het, het “baie” wat na die Joodse sinagoge in Berea gegaan het, gelowig geword.
Die pasbekeerde Christene in Thessalonika het God se Woord bestudeer en daarby gebly. Paulus prys hulle in sy eerste brief omdat hulle hom en die Here nagevolg het deur “die woord in baie verdrukking [te] ontvang” (1 Thessalonicense 1:6). Hulle het die “evangelie” as “die woord van God” aangeneem, en nou het dit in die gelowiges ‘gewerk’, dit wil sê, Christelike vrugte voortgebring (1 Thessalonicense 2:3-5, 13). Hulle was geensins naamchristene nie.
Paulus was self ’n hardwerkende navolger van Christus. Hoewel sy eerste besoek aan Thessalonika kort was, was sy voorbeeld van selfopoffering onuitwisbaar ingeprent in die gedagtes van die gemeente aldaar. Hulle het hulle voormalige afgodediens gestaak “om die lewende en waaragtige God te dien”, en sodoende het hulle weer ’n voorbeeld van geloof vir al die gelowiges in Macedonië en Achaje geword (1 Thessalonicense 1:7, 9). Onder hulle was daar opsieners wat ‘gearbei’ het om in die behoeftes van die kudde te voorsien, net soos dit die geval in alle gemeentes van ware Christene behoort te wees. —1 Thessalonicense 5:12; 1 Petrus 5:2, 3.
Ja, Paulus en sy metgeselle het alles wat hulle gehad het aan daardie Thessalonicense meegedeel, nag en dag gewerk, die waarheid onverskrokke bekendgemaak en die gemeente teer gevoed “soos ’n pleegmoeder haar kinders koester” (1 Thessalonicense 2:3-11; 2 Thessalonicense 3:7, 8). Met watter doel? Sodat hierdie nuwe broers in die geloof “waardiglik moet wandel voor God” en “sodat niemand verontrus mag word onder . . . verdrukkinge nie”. Paulus wou hulle aanspoor om geestelik te “waak” en hulle’ “versterk in alle goeie woorde en werke”. Hy wou hê dat hulle ‘in Christus moes volhard’ sodat hulle nie “moeg word om goed te doen nie”.—1 Thessalonicense 2:12; 3:3; 5:6; 2 Thessalonicense 2:17; 3:5, 13. NTP.
Paulus se diepe besorgdheid oor daardie Thessalonicense is ook vir ons bemoediging opgeteken, sodat ons kan voortgaan om met God te wandel en hom te behaag (Amos 3:3). Indien iemand wat homself ’n Christen noem enigiets anders sou doen, sou dit beteken dat hy net ’n nuttelose naamchristen is.—1 Thessalonicense 4:1.
’n Bedreiging van binne!
Ongelowige Jode het die jong gemeente van buite vervolg, maar nou het daar selfs groter gevaar van binne gedreig! Party in die gemeente het klaarblyklik verkeerde beskouings versprei en gesê dat Jehovah se dag ophande was. Paulus het hom gehaas om sake reg te stel deur van daardie “dag” te sê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.”—2 Thessalonicense 2:1-3.
Toe Paulus die gemeente in sy tweede brief aan die Thessalonicense gewaarsku het teen hierdie komende “mens van sonde”, was die besonderhede omtrent sy sondige weg nog ’n “verborgenheid”, of ’n godsdiensgeheim. Maar die apostel meld dat hy selfs toe hy nog by hulle was “altyd” vir hulle vertel het van hierdie toekomstige afval asook van diegene wat dit “teëhou”.—2 Thessalonicense 2:5-7.
As ons nou ons Bybels by 2 Thessalonicense 2:3-12 oopmaak en die verband van Paulus se woorde ondersoek, sal ons ook kan sien wat Paulus in gedagte gehad het. ’n Gebrek aan “die liefde tot die waarheid” sou die “afval” ten grondslag lê. Dit sou die gevolg wees omdat mense ‘leuens geglo het’ en “behae gehad het in die ongeregtigheid”. Dit sou vermetel op die voorgrond tree kort na die verwydering van diegene wat Paulus gesê het die afval sou “teëhou”. Dit sou voortduur reg tot die ‘verskyning van die wederkoms’ van Jesus Christus, wanneer Christus daardie “ongeregtige” sou openbaar en verdelg sodat dit tot niet sou gaan.—Vergelyk 2 Thessalonicense 2:8 met Jesaja 11:4 en Openbaring 19:11, 14, 15.
Hoe om die “mens van sonde” te identifiseer
Te oordeel na die langlewendheid van die “mens van sonde”, naamlik van Paulus se dag tot Christus se teenwoordigheid, kon dit nie ’n individu wees nie, maar ’n klas mense. Aangesien hierdie ongeregtige “hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is”, sien die uitdrukking op die leiers van die afval. Hulle sou gemoeid wees in bedrieglike “kragtige dade” wat in Christus se naam verrig sou word. (Vergelyk 2 Thessalonicense 2:9 met Mattheüs 7:22, 23.) Menigtes sou hulle by hulle aansluit omdat dit ’n makliker godsdiens sou wees wat die gewete streel en nie ’n selfsugtige, wêreldlike, selfs onsedelike lewenswyse belemmer nie. Sulke elemente van valse Christelikheid was reeds in Paulus se dag “aan die werk” onder naamchristene.—1 Thessalonicense 4:3-8; 5:6-9, 14, 15, 19-22; 2 Thessalonicense 3:6-15; vergelyk Mattheüs 25:41-46.
Paulus en die ander apostels en ouere manne van die Christengemeente het sulke magte ‘teëgehou’ deur die kudde volgens Christus se voorbeeld op te pas. In die lig van die dreigende afval het Paulus die Thessalonicense met hierdie woorde vermaan: “So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is.” Na Paulus en die ander apostels se afsterwe het selfsugtige manne die waarheid opsy gestoot, hulself as leiers aangestel en die kudde mislei. Slegs diegene wat op Paulus se raad ag geslaan het, is “versterk in alle goeie woorde en werke”. Die “mens van sonde” is geïdentifiseer as die geestelikes van ’n valse Christelike godsdiens.—2 Thessalonicense 2:15-17; vergelyk Mattheüs 13:24-30, 37-43.a
Wag op Jehovah se dag
Paulus moes die Christene in Thessalonika teen nog ’n gevaar waarsku: Die gevaar om selfvoldaan of geestelik lomerig te raak ten opsigte van Jehovah se dag. Sommige godsdiensskrywers van ons dag het probeer om die betekenis en dringendheid van die Skriftuurlike boodskap oor Jesus se “koms en . . . die voleinding van die wêreld” te kleineer deur te verwys na Paulus se latere woorde: “Ons vra julle, broeders, . . . om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is.”—Mattheüs 24:3; 2 Thessalonicense 2:1, 2.
Kon dit waarlik Paulus se begeerte gewees het dat Christene weinig besorg moes wees oor die teenwoordigheid van hulle Here en die dag van Jehovah? Of wou hy nie eerder hê dat hulle hulle geestesbalans in die saak moes bewaar en ‘nugter moes wees’ deur ‘alle dinge te beproef nie? Hulle balans sou dus nie versteur word deur ongegronde boodskappe dat Jehovah se dag ophande is nie en hulle sou ook nie onvoorbereid, onverskillig en gevoelloos daaromtrent wees nie.—1 Thessalonicense 5:8, 21; vergelyk 2 Petrus 3:3, 10-12 en 1 Johannes 4:1.
Ons moet hier in gedagte hou dat daardie Thessalonicense terdeë bewus was van die feit dat Jehovah se dag sou “kom net soos ’n dief in die nag”. Dit was geen rede om ongeërg te wees nie, maar het beteken dat hulle moes “waak” as persone wat “nie bestem [is] tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry”. Nadat die afval ten volle ontwikkel het, sou die dag van Jehovah kom. Dit sou wees op ’n tydstip dat teenstanders van Jehovah se koninkryk—ongetwyfeld ook “die mens van sonde”—sou sê: “Vrede en veiligheid.” Dit sal die teken vir hulle skielike vernietiging wees (1 Thessalonicense 5:1-11). Hoe gelukkig sal diegene ‘wat God ken en aan die evangelie van onse Here Jesus gehoorsaam is’ tog in daardie dag wees wanneer regverdige oordeel voltrek word!—2 Thessalonicense 1:8.b
Navolgers of namaaksels?
Paulus se briewe van liefdevolle besorgdheid aan die Christengemeente in Thessalonika sit uiteen wat ware volgelinge van Jesus vandag moet wees, en wat hulle moet glo en doen. Maar wat van persone en groepe wat beweer dat hulle Christene is en tog nie vir Christus, Paulus en die getroue Thessalonicense navolg nie? Hulle word blootgelê as namaak-Christene! (2 Thessalonicense 3:6, 7; 2 Petrus 2:1-3). Paulus beklemtoon dat slegs diegene wat ‘aan die evangelie gehoorsaam is’ ‘die koninkryk van God waardig geag sal word’. Jesus het iets soortgelyks gesê van die regverdige “skape” wat die ryk van die Koninkryk op aarde beërwe.—2 Thessalonicense 1:4-10; vergelyk Mattheüs 7:21 en 25:31-34.
Die evangelie, soos bekendgemaak deur Paulus in sy briewe aan die Thessalonicense, moet ons beweeg om hard te werk in God se diens, om verhewe morele lewenstandaarde te hê, ja, om te volhard in vreugdevolle, vroom, waarderende, geesvolle, onberispelike Christelike lewens wat ons by ander binne en buite die gemeente van Jehovah se volk sal aanbeveel (1 Thessalonicense 5:16-23). Mag opregte bepeinsing oor Paulus se voorbeeld en briewe en oor die geloof van die Christene in Thessalonika vir jou nuttig wees sodat jy Christus se voorbeeld “oorvloediger” kan navolg. Mag dit jou dan weer verlos “van die toekomstige toorn” en vir jou redding bring tot ewige lewe onder God se glorieryke Koninkryksheerskappy.—1 Thessalonicense 1:10; 4:1; Hebreërs 12:2, 3; Openbaring 21:1, 3, 4.
[Voetnote]
a Kyk ons publikasie God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached, bladsye 364-397, vir ’n breedvoerige bespreking van die “mens van sonde”
b Meer informasie oor gebeure wat die “dag van die Here” voorafgaan, kan gevind word in Die Wagtoring van 1 Februarie 1982, bladsye 10-21.
[Prent op bladsy 28]
Paulus skryf oor die opkoms van ’n kerklike “mens van sonde”