Onderrig in die openbaar en van huis tot huis
“Ek het nie geaarsel om . . . julle in die openbaar en van huis tot huis te onderrig nie.”—HANDELINGE 20:20, “Byington”.
1. Watter kommentaar het ’n Katolieke priester gelewer oor die doeltreffendheid van die huis-tot-huisbediening van Jehovah se Getuies?
“KATOLIEKE neem die evangelie van huis tot huis.” Dit is hoe ’n opskrif in The Providence Sunday Journal van 4 Oktober 1987 gelui het. Die koerant het berig dat hulle met hierdie werk veral beoog het om “van hulle onbedrywige gemeentelede te nooi om weer bedrywiger in die gemeente te word”. Priester John Allard, direkteur van die Offisie vir Evangelisasie in die Bisdom van Providence se woorde is aangehaal: “Daar gaan beslis baie skeptisisme wees. Mense gaan sê: ‘Daar loop hulle, net soos die Jehovasgetuies.’ Maar die Jehovasgetuies behaal welslae, nie waar nie? Ek wed jou ’n mens kan in enige Koninkryksaal in die staat [Rhode Island, VSA] ingaan en gemeentes vind wat vol voormalige Katolieke is.”
2. Watter vraag word gepas gestel?
2 Ja, Jehovah se Getuies is welbekend vir hulle doeltreffende bediening van huis tot huis. Maar waarom gaan hulle van huis tot huis?
Die apostoliese metode
3. (a) Watter opdrag het Jesus Christus sy dissipels gegee? (b) Wat was die vernaamste manier waarop Christus se vroeë volgelinge hulle opdrag uitgevoer het?
3 Jesus Christus het sy volgelinge hierdie betekenisvolle opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). Dit het direk na Pinksterdag 33 G.J. duidelik geword wat die vernaamste manier sou wees waarop daardie werk gedoen sou word. “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Handelinge 5:42). Sowat 20 jaar later het die apostel Paulus aan die bediening van huis tot huis deelgeneem, want hy het Christen- ouere manne van die stad Efese herinner: “Terwyl ek my nie daarvan weerhou het om julle alles wat nuttig is te vertel en julle in die openbaar en van huis tot huis te onderrig nie.”—Handelinge 20:20, NW.
4. Waarom kan ons sê dat Handelinge 5:42 en Handelinge 20:20 beteken dat die prediking van Jesus se volgelinge van huis tot huis versprei is?
4 In Handelinge 5:42 is die woorde “van huis tot huis” ’n vertaling van katʼ oiʹkon. Hier word ka·taʹ in “distributiewe” sin gebruik. Dit dui aan dat die prediking van die dissipels van die een huis na die ander versprei is. In sy kommentaar oor Handelinge 20:20 het Randolph O. Yeager geskryf dat Paulus onderrig het “in openbare vergaderinge [de·mo·siʹa], asook van huis tot huis (distributief [ka·taʹ] met die akkusatief). Paulus het drie jaar in Efese deurgebring. Hy het elke huis besoek, of ten minste vir al die mense gepreek (vers 26). Hier is skriftuurlike grond vir die evangelisasieprediking van huis tot huis sowel as in openbare vergaderinge.”
5. Waarom het Paulus in Handelinge 20:20 nie bloot na sosiale besoeke aan ouere manne of na herdersbesoeke verwys nie?
5 ’n Soortgelyke gebruik van ka·taʹ verskyn in Lukas 8:1, wat sê dat Jesus “van stad tot stad en van dorp tot dorp” gepreek het (NW). Paulus het die meervoudsvorm katʼ oiʹkous in Handelinge 20:20 (NW) gebruik. Sommige Bybelvertalings sê hier “in julle huise”. Maar die apostel het nie bloot verwys na sosiale besoeke aan ouere manne of herdersbesoeke in die huise van medegelowiges nie. Sy volgende woorde toon dat hy gepraat het van ’n huis-tot-huisbediening onder ongelowiges, want hy het gesê: “Maar het ek sowel aan Jode as aan Grieke grondig getuienis afgelê omtrent berou jeens God en geloof in onse Here Jesus” (Handelinge 20:21, NW). Medegelowiges het reeds berou getoon en geloof in Jesus beoefen. Daarom het Handelinge 5:42 en Handelinge 20:20 albei te doen met die prediking aan ongelowiges “van huis tot huis” of van deur tot deur.
Geen plaasvervanger daarvoor
6. Wat is gesê aangaande die aard van Paulus se predikingswerk in Efese?
6 In 1844 het Abiel Abbot Livermore in sy kommentaar oor Paulus se woorde in Handelinge 20:20 geskryf: “Hy was nie tevrede om bloot toesprake tydens openbare vergaderinge te hou en ander metodes agterweë te laat nie, maar hy het sy groot werk ywerig privaat, van huis tot huis, gedoen en het die hemelse waarheid letterlik na die huise en harte van die Efesiërs gebring.” Meer onlangs is daar opgemerk: “Die huis-tot-huisverspreiding van die evangelie was van die begin af ’n kenmerk van die eerste-eeuse Christene (vgl. Handelinge 2:46; 5:42). . . . [Paulus] het sy verantwoordelikheid teenoor Jode sowel as nie-Jode in Efese deeglik nagekom, en hulle het geen verskoning gehad as hulle vanweë hulle sondes sou vergaan nie.”—The Wesleyan Bible Commentary, Deel 4, bladsye 642-3.
7. Waarom kan daar gesê word dat die huis-tot-huisbediening van Jehovah se Getuies God se goedkeuring wegdra?
7 Hoewel openbare redevoering sy plek het in die verkondiging van die goeie nuus is dit geen plaasvervanger vir persoonlike kontak by die deur nie. Geleerde Joseph Addison Alexander het hieroor gesê: “Die kerk het nog niks uitgevind wat die plek van van prediking in die kerk en die huis kan inneem of wat die trefkrag daarvan kan ewenaar nie.” Soos geleerde O. A. Hills dit gestel het: “Openbare onderrig en onderrig van huis tot huis moet hand aan hand gaan.” Jehovah se Getuies gee onderrig deur middel van toesprake by hulle weeklikse Openbare Vergaderinge. Hulle het ook duidelike bewys dat die apostoliese metode om Bybelwaarheid van huis tot huis te versprei doeltreffend is. En dit dra beslis Jehovah se goedkeuring weg, want as gevolg van hierdie bediening laat hy elke jaar duisende na sy verhewe aanbidding stroom.—Jesaja 2:1-4; 60:8, 22, vgl. NW.
8. (a) Watter kommentaar is gelewer oor die rede waarom die predikingswerk van huis tot huis doeltreffend is? (b) Hoe kan Jehovah se Getuies met Paulus vergelyk word wat predikingswerk op mense se drumpels en ander getuieniswerk betref?
8 ’n Ander gesaghebbende het gesê: “Mense vind dit makliker om onderrig op hulle drumpel as op die kerkdrumpel te onthou.” Wel, Paulus was gereeld op mense se drumpels en het ’n goeie voorbeeld gestel as ’n bedienaar. “Hy was nie tevrede om net in die sinagoge en die mark te onderrig en toesprake te hou nie”, het Bybelgeleerde Edwin W. Rice geskryf. “Hy was altyd besig om ywerig ‘van huis tot huis’ ‘te onderrig’. Hy het in Efese van huis tot huis, hand tot hand, aangesig tot aangesig ’n stryd met die bose gevoer om mense vir Christus te win.” Jehovah se Getuies besef dat besprekings van aangesig tot aangesig op mense se drumpels doeltreffend is. Daarbenewens doen hulle herbesoeke en praat hulle graag selfs met teenstanders as hierdie mense redelike besprekings sal toelaat. Net soos Paulus! F. N. Peloubet het aangaande hom geskryf: “Nie al Paulus se werk is in vergaderinge gedoen nie. Dit ly geen twyfel nie dat hy baie mense persoonlik by hulle huise besoek het waar hy ook al gehoor het van iemand wat vrae het, of so belangstel of selfs so gekant is dat hy bereid was om oor godsdiens te praat.”
Ouere manne moet die leiding neem
9. Watter voorbeeld het Paulus vir mede- ouere manne gestel?
9 Watter voorbeeld het Paulus vir mede- ouere manne gestel? Hy het getoon dat hulle vrymoedige en onvermoeide verkondigers van die goeie nuus van huis tot huis moet wees. In 1879 het J. Glentworth Butler geskryf: “[Die Efesiese ouere manne] het geweet dat [Paulus] in sy prediking glad nie aan persoonlike gevaar of gewildheid gedink het nie; dat hy niks van die nodige waarheid teruggehou het nie; dat hy nie met eensydige partydigheid op vreemde of nuwe aspekte van waarheid gehamer het nie, maar hulle net gemaan het tot alles wat nuttig is ‘vir geestelike stigting’, of opbouing: die hele raad van God in sy suiwerheid en volkomenheid! En hierdie getroue ‘verklaring’, hierdie vurige ‘onderrig’ van die Christelike waarheid was sy gewoonte, nie net in die skool van Tirannus en in ander vergaderplekke van dissipels nie, maar in elke toeganklike huishouding. Van huis tot huis, en van siel tot siel, dag vir dag het hy die goeie nuus met ’n sterk begeerte soos Christus verkondig. Vir alle klasse en rasse, vir die vyandige Jood en die smalende Griek was sy een tema—wat, wanneer dit ten volle verklaar is, alle ander noodsaaklike reddende waarhede insluit—berou jeens God en geloof in onse Here Jesus Christus.”
10, 11. (a) Wat het Paulus van die Efesiese ouere manne verwag ten opsigte van die Christelike bediening? (b) Aan watter soort predikingswerk, soos Paulus, neem Jehovah se Getuies, die ouere manne inkluis, deel?
10 Wat het Paulus dan hoofsaaklik van die Efesiese ouere manne verwag? Geleerde E. S. Young het die apostel se woorde só geparafraseer: “Ek het nie net in die openbaar gepraat nie, maar ek het van huis tot huis gearbei, aan alle klasse, Jode sowel as nie-Jode. Die tema van my bediening vir alle klasse was ‘berou jeens God en geloof in onse Here Jesus Christus’.” W. B. Riley het Paulus se woorde anders gestel en geskryf: “Die duidelike betekenis is: ‘Ek verwag dat julle sal voortgaan om dít waarmee ek begin het te doen en te onderrig, en ek verwag dat julle sal weerstaan net soos ek weerstaan het; om privaat en in die openbaar te onderrig soos ek in die strate en van huis tot huis gedoen het, om eweneens vir Jode en vir Grieke te getuig van berou jeens God en geloof in onse Here Jesus Christus, want hierdie dinge is die grondbeginsels!’”
11 In Handelinge hoofstuk 20 het Paulus duidelik vir mede- ouere manne getoon dat daar van hulle verwag word om getuies van Jehovah van huis tot huis te wees. In hierdie opsig moes die eerste-eeuse ouere manne die leiding neem en die regte voorbeeld stel vir ander lede van die gemeente. (Vergelyk Hebreërs 13:17.) Jehovah se Getuies preek dus, soos Paulus, van huis tot huis en vertel mense van alle nasies van God se Koninkryk, berou jeens Hom en geloof in Jesus Christus (Markus 13:10; Lukas 24:45-48). En daar word van aangestelde ouere manne onder die hedendaagse Getuies verwag om die leiding te neem in sulke werk van huis tot huis.—Handelinge 20:28.
12. Wat het sommige voormalige ouere manne geweier om te doen, maar waarin neem ouere manne vandag die leiding?
12 In 1879 het Charles Taze Russell begin om Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence uit te gee, wat nou Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan genoem word. Russell en ander Bybelstudente het die Koninkryksboodskap soos die apostels verkondig. In latere jare het party gemeentelike ouere manne egter nie hulle verantwoordelikheid om te getuig nagekom nie. Een Getuie het byvoorbeeld geskryf: “Almal het goed saamgewerk totdat die aankondiging gedoen is dat almal moet deelneem aan die getuieniswerk van huis tot huis met lektuur en in die besonder die huis-tot-huiswerk op Sondae—dit was in 1927. Ons gekose ouere manne het dit teëgestaan en die hele klas probeer afraai om met so ’n werk te begin of aan enige fasette daarvan deel te neem.” Mettertyd het manne wat nie aan die predikingswerk van huis tot huis deelgeneem het nie, nie meer die voorreg geniet om as ouere manne te dien nie. Vandag word daar ook van diegene wat as ouere manne en bedieningsknegte dien, verwag om die leiding te neem in die getuieniswerk van huis tot huis en in ander fasette van die Christelike bediening.
Elkeen ’n Getuie
13. (a) Wat moet ons doen selfs as mense nie na die Koninkryksboodskap wil luister nie? (b) Hoe is Paulus met Esegiël vergelyk?
13 Christene moet die Koninkryksboodskap met Jehovah se hulp van huis tot huis verkondig, selfs al word dit nie met waardering ontvang nie. As God se wag moes Esegiël mense waarsku, hetsy hulle geluister het of nie (Esegiël 2:5-7; 3:11, 27; 33:1-6). E. M. Blaiklock het ’n parallel getrek tussen Esegiël en Paulus en geskryf: “Uit [Paulus se toespraak in Handelinge hoofstuk 20] verskyn ’n duidelike beeld van die bediening in Efese. Let op die volgende: Ten eerste, Paulus se gebiedende getrouheid. Hy het nie gewildheid of die publiek se goedkeuring probeer kry nie. Hy het hom soos Esegiël op ’n wag se taak toegelê en sy plig nagekom met eerlike ywer en gedrag wat met sy woorde gestrook het. In die tweede plek, sy liefdevolle simpatie. Hy was nie die soort man wat sonder emosie veroordeel het nie. Ten derde, sy onvermoeide evangelisasie. Hy het die evangelie in die openbaar en van huis tot huis, in die stad en dwarsdeur die provinsie verkondig.”
14. Waarom is die getuieniswerk die verantwoordelikheid van elkeen wat hom in gebed deur Jesus Christus aan Jehovah God toewy?
14 God se oorvloedige seën oor sy hedendaagse knegte is ’n duidelike blyk dat dit hom behaag dat hulle die naam Jehovah se Getuies dra (Jesaja 43:10-12). Daarbenewens is hulle ook Christus se getuies, want Jesus het sy volgelinge meegedeel: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Elkeen wat hom in gebed deur Jesus Christus aan Jehovah God toewy, het dus die verantwoordelikheid om te getuig.
15. Wat is al gesê aangaande die getuieniswerk van die vroeë Christene?
15 Daar is al van die getuieniswerk gesê: “Die hele kerk het daaraan deelgeneem. Die sendingwerk van die vroeë kerk was nie die verantwoordelikheid van die Vroue-Sendingvereniging of die Buitelandse Sendingraad nie. Ook is die getuieniswerk nie oorgelaat aan beroepsmense soos ouere manne, diakens of selfs apostels nie. . . . In daardie vroeë tye was die kerk die sendingwerk. Die sendingprogram van die vroeë kerk het op twee veronderstellings berus: (1) Die hooftaak van die kerk is wêreldevangelisasie. (2) Die verantwoordelikheid om hierdie taak uit te voer, berus by die hele Christelike gemeenskap.”—J. Herbert Kane.
16. Wat erken selfs skrywers in die Christendom ten opsigte van Christene en die getuieniswerk?
16 Hoewel hedendaagse skrywers van die Christendom nie met die Koninkryksboodskap saamstem nie, erken party wel dat Christene onder verpligting staan om te getuig. In die boek Everyone a Minister merk Oscar E. Feucht byvoorbeeld op: “Geen pastor kan die bediening wat God elke gelowige opgedra het, vervul nie. Ongelukkig het die taak van 500 gemeentelede die taak van een pastor geword as gevolg van eeue se verkeerde denke in die kerk. Dit was nie die geval in die vroeë kerk nie. Die gelowiges het orals gegaan en die Woord verkondig.”
17. Wat kan gesê word oor die plek wat die getuieniswerk in die lewe van vroeë Christene beklee het?
17 Die getuieniswerk was van die allergrootste belang in die lewe van vroeë Christene, net soos dit vandag onder Jehovah se volk is. “Oor die algemeen”, het Edward Caldwell Moore van Harvard-universiteit geskryf, “is die eerste drie eeue van die Christelike beweging gekenmerk deur ’n groot geesdrif vir die verspreiding van die geloof. Die Christelike voorliefde was evangelisasie, die verkondiging van die verlossingsboodskap. . . . Die verspreiding van die invloed en leringe van Jesus was in die eerste eeu net in geringe mate te danke aan ’n klein groepie mense wat ons sendelinge moet noem. Dit was die prestasie van mense van alle ambagte en beroepe en van alle stande in die samelewing. [Hulle] het daardie geheim van die innerlike lewe, daardie nuwe gesindheid teenoor die wêreld, wat volgens hulle ondervinding redding beteken het, tot die uiteindes van die [Romeinse] ryk versprei. . . . [Die vroeë Christelike godsdiens] was volkome oortuig van die naderende einde van die teenswoordige wêreldstelsel. Dit het aan die skielike en wonderdadige totstandkoming van ’n nuwe wêreldstelsel geglo.”
18. Watter wonderlike hoop gaan die drome van politieke leiers ver te bowe?
18 In die getuieniswerk van huis tot huis en ander fasette van hulle bediening rig Jehovah se Getuies hulle hoorders vreugdevol na die nuwe wêreld wat God belowe het. Die voorspelde seëninge van eindelose lewe gaan die grootste drome van vandag se sogenaamde stigters van ’n nuwe wêreldstelsel ver te bowe (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4). Hoewel ’n mens sou dink dat elkeen graag in God se wonderlike nuwe wêreld wil lewe, is dit nie die geval nie. Maar kom ons bespreek vervolgens ’n paar doeltreffende maniere waarop Jehovah se knegte diegene kan onderrig wat die ewige lewe soek.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom kan ons sê dat Handelinge 5:42 en Handelinge 20:20 beteken dat Jesus se volgelinge van huis tot huis moet preek?
◻ Hoe weet ons dat die huis-tot-huis-bediening van Jehovah se Getuies God se goedkeuring wegdra?
◻ Wat word van ouere manne en bedieningsknegte verwag ten opsigte van die bediening?
◻ Watter plek moet die getuieniswerk in ’n Christen se lewe beklee?
[Prent op bladsy 10]
In 33 G.J. het Jesus se dissipels onverpoos van huis tot huis getuig
[Prent op bladsy 13]
Paulus het “van huis tot huis” onderrig. Jehovah se Getuies neem vandag aan hierdie faset van die bediening deel