Jesus se lewe en bediening
Oorgelewer en weggelei
TOE Pilatus, getref deur die stille waardigheid van die gemartelde Jesus, hom weer probeer bevry, word die owerpriesters nog kwater. Hulle is vasbeslote dat niks hulle bose plan sal dwarsboom nie. Hulle skreeu dus opnuut: “Aan die paal met hom! Aan die paal met hom!”
“Neem julle hom dan en hang hom aan ’n paal”, sê Pilatus vererg. In teenstelling met wat die Jode vroeër beweer het, het hulle die mag om misdadigers tereg te stel vir godsdiensoortredings wat ernstig genoeg is. Dan, vir ten minste die vyfde keer, verklaar Pilatus dat Jesus onskuldig is deur te sê: “Ek vind geen skuld in Hom nie.”
Toe die Jode sien dat hulle politieke aantygings geen resultate oplewer nie, beskuldig hulle Jesus weer van godslastering, ’n aantyging wat hulle ure tevore by sy verhoor voor die Sanhedrin gemaak het. “Ons het ’n wet”, sê hulle, “en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”
Hierdie aantyging is nuut vir Pilatus, en dit maak hom selfs meer bevrees. Teen hierdie tyd besef hy dat Jesus nie ’n gewone man is nie, soos sy vrou se droom en Jesus se merkwaardige karaktervastheid toon. Maar “die Seun van God”? Pilatus weet dat Jesus uit Galilea kom. Maar is dit moontlik dat hy voorheen kon gelewe het? Pilatus neem hom weer in die paleis in en vra: “Van waar is U?”
Jesus antwoord hom nie. Hy het vroeër vir Pilatus gesê dat hy ’n koning is, maar dat sy Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie. Enige verdere verduideliking sal nou nutteloos wees. Maar Pilatus se eer is gekrenk omdat Jesus weier om te antwoord, en hy bars met hierdie woorde teenoor hom uit: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek mag het om u vry te laat en mag het om u aan ’n paal te hang nie?”
“U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie”, antwoord Jesus hom beleef. Hy praat van die feit dat God menseheersers die mag gee om sake op aarde te bestuur. Jesus voeg by: “Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” Die hoëpriester Kajafas en sy medepligtiges en Judas Iskariot het almal inderdaad groter skuld as Pilatus aan die onregverdige behandeling van Jesus.
Omdat Pilatus selfs meer beïndruk is deur Jesus en bang is dat Hy van goddelike oorsprong is, probeer hy opnuut om Hom vry te laat. Maar die Jode keer Pilatus. Hulle herhaal hulle politieke aantyging deur listig te dreig: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.”
Ten spyte van die ontsettende gevolge wat dit kan inhou, bring Pilatus Jesus nog ’n keer na buite. “Dáár is julle Koning!” sê hy weer eens.
“Weg met hom! Weg met hom! Aan die paal met hom!” antwoord hulle.
“Sal ek julle koning aan ’n paal hang?” vra Pilatus desperaat.
Die Jode het swaar gekry onder die Romeinse regering. Hulle verag inderdaad Rome se heerskappy! Tog sê die owerpriesters skynheilig: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”
Uit vrees vir sy politieke posisie en reputasie gee Pilatus eindelik toe aan die Jode se meedoënlose, dreigende eise. Hy lewer Jesus oor. Die soldate trek die purperkleed uit en trek weer vir hom sy eie klere aan. Jesus word gedwing om sy eie folterpaal te dra wanneer hy weggelei word om aan die paal genael te word.
Dit is nou die middel van die voormiddag op Vrydag 14 Nisan; miskien is dit al amper twaalfuur. Jesus is al sedert vroeg Donderdagoggend op, en hy het een smartlike ondervinding na die ander deurgemaak. Dit is verstaanbaar dat sy krag kort daarna weens die gewig van die paal ingee. ’n Verbyganger, ’n sekere Simon van Cirene in Afrika, word dus gedwing om dit vir hom te dra. ’n Groot deel van die volk, onder andere vroue wat hulleself in droefheid slaan en oor Jesus rouklaag, volg hulle.
Jesus draai om na die vroue en sê: “Dogters van Jerusalem, hou op om oor my te ween. Maar ween oor julleself en oor julle kinders; want kyk! daar kom dae wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die vroue wat onvrugbaar is en die skoot wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie!’ Dan sal hulle vir die berge begin sê: ‘Val op ons!’ en vir die heuwels: ‘Bedek ons!’ Want as hulle hierdie dinge doen wanneer die boom vogtig is, wat sal dan gebeur wanneer hy verdor is?”
Jesus praat van die boom van die Joodse nasie wat nog ’n bietjie lewensvog besit vanweë Jesus se teenwoordigheid en die bestaan van ’n oorblyfsel wat in hom glo. Maar wanneer hulle uit die nasie geneem word, sal daar net ’n geestelik dooie boom oorbly, ja, ’n verdorde nasionale organisasie. O, watter rede om te ween sal daar tog wees wanneer die Romeinse leërs wat as God se skerpregters sal dien, die Joodse nasie verwoes! Johannes 19:6-17, vgl. NW; 18:31; Lukas 23:24-31, vgl. NW; Mattheüs 27:31, 32; Markus 15:20, 21.
◆ Watter aantyging maak die godsdiensleiers teen Jesus wanneer hulle politieke aantygings nie resultate oplewer nie?
◆ Waarom raak Pilatus moontlik meer bevrees?
◆ Wie het die grootste sonde aan wat met Jesus gebeur?
◆ Hoe kry die priesters dit reg dat Pilatus Jesus oorlewer om tereggestel te word?
◆ Wat sê Jesus vir die vroue wat oor hom ween, en wat bedoel hy wanneer hy praat van die boom wat “vogtig” is en dan “verdor”?