Watter invloed God se gees op jou kan hê
“IN DIE begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters” (Genesis 1:1, 2). Hierdie skriftuurlike mededeling toon op watter uitsonderlike wyse almal wat lewe by die heilige gees baat gevind het. Daardie gees was werksaam gedurende die skepping, en danksy sy werking het die aarde ’n genotvolle tuiste vir die mens geword.
Maar mense kan baie meer baat vind by die heilige gees. ’n Geïnspireerde spreuk sê: “Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak” (Spreuke 1:23). Vandag is God se versamelde “woorde” beskikbaar in die Heilige Bybel, wat geskryf is deur mense wat “deur die Heilige Gees gedrywe” is (2 Petrus 1:21; Markus 12:36; 2 Timotheüs 3:16). Wanneer ’n sagmoedige mens die Bybel lees, vind hy baat by die heilige gees.
Heilige gees en die predikingswerk
Wanneer een van Jehovah se Getuies jou tuis besoek om oor die goeie nuus van die Koninkryk te praat, kan die heilige gees op nog ’n manier ’n invloed op jou lewe hê. Hoe weet ons dit? Wel, toe Jesus die goeie nuus begin verkondig het, het hy die woorde van die profeet Jesaja op homself toegepas deur te sê: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring . . . om die aangename jaar van die Here aan te kondig” (Lukas 4:18, 19; Jesaja 61:1, 2). Ja, Jesus is deur die heilige gees gesalf om die goeie nuus te verkondig.
Boonop het Jesus gesê dat die verkondiging van die goeie nuus na sy dood sou voortgaan. Hy het voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Kort voor Jesus na die hemel opgevaar het, het hy sy volgelinge hierdie opdrag gegee: “Gaan . . . maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Christus se dissipels het dus na sy hemelvaart met die predikings- en onderrigtingswerk aangehou wat deur die heilige gees gemagtig is. Vandag volg Jehovah se Getuies daardie eertydse dissipels na deur die goeie nuus wêreldwyd te verkondig.
Doop en die heilige gees
Jesus het gesê dat iemand “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” gedoop moet word wanneer hy gunstig op die goeie nuus reageer. Die heilige gees het dus ’n verdere invloed op nuwe dissipels. Die uitdrukking “in die naam van” beteken in werklikheid “op gesag van” of “ter erkenning van die posisie van”.a Om in die naam van die Vader gedoop te word, beteken dus dat ons God se soewereiniteit onvoorwaardelk in ons lewe aanvaar. Doop in die naam van die Seun beteken dat ’n mens Jesus as Verlosser, Model en Koning aanvaar. En doop in die naam van die heilige gees beteken dat ’n mens op die gees staatmaak en jou aan sy krag onderwerp.b
Die heilige gees in jou lewe
Ongelukkig toon die oneerlikheid, onsedelikheid, geweld en algemene wetteloosheid wat ons in “Christelike” lande sien dat die meeste van dié wat bely dat hulle Christene is in werklikheid die heilige gees weerstaan. Maar diegene wat hulle aan die heilige gees onderwerp, word grootliks geseën. Vereers neem hulle dit wat hulle in die gees-geïnspireerde Bybel lees ernstig op en pas hulle dit in hulle lewe toe. Hulle besit dus wysheid, insig, onderskeidingsvermoë, skranderheid, kennis en denkvermoë (Spreuke 1:1-4, vgl. NW). Dit is kosbare bates in ons moeilike tye.
Die heilige gees help sulke mense ook om ernstige probleme te bowe te kom. In die ou tyd het God aan sy volk verduidelik hoe hulle ’n baie moeilike taak sou kon verrig. Jehovah het gesê dat dit “nie deur krag of deur geweld nie, maar deur [sy] Gees” gedoen sou word (Sagaria 4:6). As ons ons aan God en aan sy gees onderwerp, sal ons ook gehelp word om take te verrig en struikelblokke te bowe te kom wat andersins vir ons te groot sou wees.—Mattheüs 6:33; Filippense 4:13.
Verder help God se gees ons om ’n vryheid te geniet wat die wêreld oor die algemeen nie ken nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Korinthiërs 3:17). Diegene wat hulle aan God se gees onderwerp, is vry van valse godsdiens, bygelowigheid, vrees vir die toekoms en baie ander verslawende faktore. God se gees is waarlik ’n krag ten goede! Dit kan mense selfs verander. Die Bybel raak dit aan wanneer dit sê: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Galasiërs 5:22, 23). Hoe anders sou hierdie wêreld tog wees as almal hulle aan God se gees sou onderwerp!
As ’n groep geniet ware Christene ook die ‘eenheid van die gees in die verenigende band van vrede’ (Efesiërs 4:3, NW). Eenheid en vrede is vandag iets seldsaams. Maar dit bestaan wel waar God se gees werksaam is. Die verenigende band van die heilige gees onder Jehovah se Getuies het mense van alle rasse, tale en nasionaliteite inderdaad in ’n ware “broederskap” verenig.—1 Petrus 2:17.
God se gees en jy
Sien jy watter voordeel dit inhou om godgegewe wysheid te hê en ware vryheid te geniet? Sal dit nie wonderlik wees om goddelike hulp te hê om probleme op te los en liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing aan te kweek nie? Dan moet jy jou aan die krag van God se heilige gees onderwerp. Maar hoe kan ’n mens dit doen?
Laat God se Woord, die Bybel, jou verstand en hart beïnvloed. Gaan om met diegene wat toelaat dat die heilige gees hulle lewe beïnvloed. Doen nou stappe om te leer wat God se wil is en dit te doen. “Mag die God van die hoop julle [dan] vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”—Romeine 15:13.
[Voetnote]
a Vergelyk die uitdrukking “in naam van die wet”. Sien ook Mattheüs 10:41 in die King James Version, waar Jesus die woorde “in die naam van ’n profeet” en “in die naam van ’n regverdige mens” gebruik het.
b Sien Petrus se toespraak aan die Jode op Pinkster 33 G.J., toe hy baie aspekte van die rol wat Jesus en die heilige gees in die lewe van gedoopte gelowiges speel, verduidelik het. Na sy toespraak is 3 000 in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees gedoop.—Handelinge 2:14-42.