Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/1 bl. 3-5
  • Watter God aanbid jy?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Watter God aanbid jy?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloofsvermenging
  • “Bewaar julleself van die afgode”
  • Aanbidding van geld
  • Watter God moet ons aanbid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wie se aanbidding is vir God aanneemlik?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Sal jy ’n getuie vir die ware God wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die universele hofsaak waarby jy betrokke is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/1 bl. 3-5

Watter God aanbid jy?

MENSE dwarsdeur die wêreld sal daardie vraag op talle verskillende wyses beantwoord. Die apostel Paulus het gesê: “Daar [is] baie gode en baie here”, en vandag word daar miljoene gode aanbid (1 Korinthiërs 8:5). Maar het jy geweet dat baie mense nie die god aanbid wat hulle dink hulle aanbid nie? En het jy besef dat talle ateïste meer toegewyd is as diegene wat in ’n god glo? Hoe?

Wel, een betekenis van aanbidding is “om met groot, selfs oordadige, respek, eer of toegewydheid te bejeën”. In die oorspronklike Bybeltale dra die woorde vir aanbidding die gedagte oor van diens of om voor iemand neer te buig. Kom ons kyk, terwyl ons dit in gedagte hou, hoe mense verkeerd kan wees oor wie of wat hulle werklik aanbid.

Geloofsvermenging

Neem as voorbeeld die eertydse Samaritane. Baie van hulle was oorspronklik vreemdelinge wat deur die Assiriërs na Palestina gebring is om die weggevoerde noordelike tienstamkoninkryk van Israel te vervang. Hulle het voorheen heidense gode aangehang, maar nou het hulle probeer om van Jehovah, die God van Israel, te leer. Het hulle hulle ou godsdiens laat vaar? Nee. Die Bybel sê: “Hulle het . . . volgens hul vroeër gebruik gehandel. So het hierdie nasies dan die HERE gevrees en hulle gesnede beelde gedien” (2 Konings 17:40, 41). Hoewel die Samaritane Jehovah dus in naam aanbid het, het hulle steeds hulle ou gode gedien en sodoende ’n soort geloofsvermenging beoefen.

Iets soortgelyks het gebeur toe sendelinge Rooms-Katolisisme in Suid-Amerika bekend gestel het. Hulle het die grootste gedeelte van die bevolking bekeer, maar soos die eertydse Samaritane het die bevolking nie hulle vroeëre gode vergeet nie. “Christene” in Brasilië onderhou dus steeds die heidense voedoerituele sowel as feesvieringe ter ere van godhede van die oudheid, soos die godin Iemanjá. Soortgelyke dinge gebeur in ander Suid-Amerikaanse lande.

Daarbenewens was die godsdiens wat daardie sendelinge in Suid-Amerika bekend gestel het self ’n vermenging van godsdienste. Baie van sy leerstellings, soos die Drie-eenheid, helse vuur en die onsterflikheid van die siel, is van eertydse heidense godsdienste en filosofieë afkomstig. Dit word beslis nie in die Bybel aangetref nie. Sy feeste—onder andere Kersfees en Paasfees—is eweneens van nie-Christelike oorsprong.a Is dit moontlik om sulke heidense feeste te vier en aan sulke nie-Christelike leerstellings te glo en steeds die God van die Bybel te aanbid wat gesê het: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”? (Exodus 20:3). Beslis nie!

“Bewaar julleself van die afgode”

Beskou nog ’n wyse waarop mense mislei word wat godsdiens betref. Die apostel Johannes het geskryf: “My kinders, bewaar julleself van die afgode” (1 Johannes 5:21). Na bewering behoort ongeveer ’n miljard mense tot die Christendom, en hulle aanbid glo dieselfde God wat Johannes aanbid het. Tog buig honderdmiljoene van hulle hulle neer voor beelde van “heiliges”, van Jesus en van die maagd Maria.

Daar is subtieler vorme van afgodediens. Koning Herodes Agrippa het in die jaar 44 G.J. ’n openbare toespraak gehou, en die mense het so opgewonde geraak dat hulle geskreeu het: “’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie!” (Handelinge 12:21, 22). Ja, hulle het Herodus vereer en ’n god van hom gemaak. Soortgelyke dinge gebeur vandag. Tydens die onstuimige dae toe Nazisme in Europa aan die bewind gekom het, was die uitroep “Heil Hitler!” in werklikheid ’n uitroep van aanbidding. Talle was gewillig om vir die Führer te veg en te sterf asof hy ’n god was, die verlosser van die nasie. Tog was die meeste van dié wat sulke eer betoon het lede van die Christendom se kerke!

Voor en na Hitler het ander politieke leiers hulleself ook so as verlosserfigure verhoog en uitsluitlike toegewydheid vereis. Diegene wat toegegee het, het gode van hierdie mans gemaak, ongeag tot watter godsdiens die “aanbidders” behoort het of al het hulle ook beweer dat hulle ateïste is. Die hulde wat charismatiese sportsterre, rolprentsterre en ander verhoogkunstenaars van hulle bewonderaars kry, is ook ’n vorm van aanbidding.

Aanbidding van geld

Dink daarbenewens aan die implikasies van Jesus se woorde toe hy gesê het: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Mattheüs 6:24). Ken jy iemand wat tot ’n godsdiens behoort maar wie se hoofbelangstelling dit in die lewe is om geld te maak? Wie dien so iemand dus in werklikheid, God of rykdom? Hoeveel ongelowiges ken jy wat vasgevang is in die waansinnige najaging van geld? Hulle is ongetwyfeld ook aanbidders van geld, miskien yweriger aanbidders as baie gelowiges.

Die apostel Paulus het ’n soortgelyke beginsel verduidelik toe hy geskryf het: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is” (Kolossense 3:5). As ons iets so sterk begeer dat ons al ons kragte inspan om dit te verkry, en miskien selfs die wet oortree in die proses, dan is daardie ding vir ons ’n afgod, ’n god (Efesiërs 5:5). In ’n ander brief het Paulus van sekere kwaaddoeners geskryf: “Hulle god is die buik” (Filippense 3:19). As ons enigste doel in die lewe is om onsself te behaag, om as ’t ware ons buik te vul, dan is ons ons eie god. Hoeveel ken jy wat hierdie soort god aanbid?

Ja, soos die apostel Paulus geskryf het: “Daar [is] baie gode en baie here.” En in baie gevalle is hulle aanbidders wat, soos die eertydse Samaritane, een god met hulle woorde en ’n ander met hulle dade dien. Maar daar is inderdaad net een God wat ons aanbidding verdien. Weet jy wie hy is? Daarbenewens is daar een ding wat die aanbidding van alle ander gode buiten hom verenig. Wat is dit? Ons sal in die volgende artikel sien.

[Voetnote]

a Vir meer inligting sien die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, bladsye 212-13, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel