Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 11/15 bl. 29-31
  • Oorvloedige oes bring vreugde in Taiwan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oorvloedige oes bring vreugde in Taiwan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • ’n Klein begin
  • Vriendelike ontvangs teenoor opregte belangstelling
  • Stimulasie vir groei
  • Oeswerk onder stamgroepe
  • Die oes duur voort
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 11/15 bl. 29-31

Oorvloedige oes bring vreugde in Taiwan

TAIWAN is ’n eiland wat 390 kilometer lank en 140 kilometer wyd is. Met ’n bevolking van meer as 20 000 000 is dit een van die digs bevolkte gebiede ter wêreld. Die meeste van die mense wat daar woon, praat Chinees, of Mandarynetaal soos Westerlinge dit noem. Maar hier word ook etlike dialekte en ongeveer 13 stamtale gepraat.

Taiwan is op die Kreefskeerkring geleë en is ’n baie vrugbare eiland wat sulke oorvloedige oeste van rys en ander gewasse lewer dat dit voedsel begin uitvoer het. Maar ’n ander soort oeswerk bring diegene wat daaraan deelneem groot vreugde. Dit is ’n geestelike oeswerk van diegene wat gunstig reageer op die “goeie nuus van die koninkryk”.—Mattheüs 24:14, NW.

’n Klein begin

Die werk om sade van Bybelwaarheid in Taiwan te saai het sowat 60 jaar gelede begin toe ’n verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap van Japan af gekom het en ’n paar Bybellesings in Taipei, die hoofstad, gehou het. Een jong Japannese man met die naam Saboero Otsjiai het gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer en het gou met ander daaroor begin praat. Later het twee voltydse bedienaars van Japan op die eiland rondgegaan en sade van die goeie nuus gesaai. Die Japannese krygshere het hulle uiteindelik in die tronk gestop, en hulle het hul lewe gegee vir God se Koninkryk. Baie van die sade wat hulle gesaai het, het vinnig uitgeloop onder die Amis-stam, maar daar was min belangstelling onder al die Chinese wat aan die weskus van die eiland gewoon het. Hulle was hoofsaaklik Boeddhiste of Taoïste.

Die geestelike oeswerk in Taiwan het van daardie klein begin gevorder totdat die eiland vandag ’n produktiewe gebied geword het. Die afgelope vyf jaar is daar byvoorbeeld 529 mense gedoop, meestal onder die Chinese bevolking. Dit het die getal Koninkryksverkondigers op die eiland in 1989 op ’n hoogtepunt van 1 552 te staan gebring. Ja, Taoïste, Boeddhiste en belydende Christene reageer op die goeie nuus en leer van Jehovah God! Maar hoe is dit om met mense uit sulke uiteenlopende agtergronde oor die Bybel te praat? En watter resultate was daar?

Vriendelike ontvangs teenoor opregte belangstelling

Die predikingswerk in Taiwan is lonend sowel as ’n uitdaging omdat die Chinese as volk vriendelik van geaardheid is. Hulle luister oor die algemeen hoflik na besoekers. Wanneer Bybellektuur aangebied word, word dit dikwels uit beleefdheid aanvaar. Gevolglik het party voltydse bedienaars in net een maand tot 300 tydskrifte versprei of 100 intekeninge op ons tydskrifte gekry. Deur die jare is baie Bybels, boeke, tydskrifte en traktate by die mense gelaat. Waarom het die Koninkryksverkondigers dan relatief stadig toegeneem?

Een rede is weens die Confucianistiese idees wat die mense se denke deur die eeue heen gevorm het. Confucius het gesê die persoon wat “die Geeste deur respek op ’n afstand hou, verstandig genoem kan word”.a Die idee is dat ’n verstandige persoon nie te betrokke sal raak by die aanbidding van die geeste of gode nie. Baie mense sal dus nuuskierig wees oor die Koninkryksboodskap, maar min mense wil by Bybelstudie betrokke raak. En al glo die Chinese in baie geeste en gode is die gedagte aan ’n oppermagtige Skepper vir die meeste van hulle iets heeltemal vreemds. Daarbenewens beteken selfs sulke bekende Bybelkarakters soos Abraham en Dawid vir hulle maar min. Dit is dus nie moeilik om te sien waarom dit baie tyd en geduld verg om mense hier te help om die Bybel as God se geïnspireerde Woord te aanvaar en om ’n persoonlike verhouding met die Skepper, Jehovah God, aan te knoop nie. Met Jehovah se seën word sulke pogings egter beloon.

Stimulasie vir groei

Die gemeentes van Jehovah se volk in Taiwan het baie jare lank gehuurde sale vir hulle vergaderinge gebruik. Die ouere manne in een gemeente het besef hoe nodig dit was om ’n gepaste vergaderplek te kry toe ’n belangstellende gesê het: “As julle die waarheid het, wat doen julle in ’n plek soos hierdie? Waarom kry julle nie ’n permanente vergaderplek nie?” Met vertroue op Jehovah het daardie gemeente gevolglik na ’n gepaste plek vir ’n Koninkryksaal begin soek. Hulle het eindelik twee aangrensende woonstelle in ’n groot gebou gekoop, en hulle het nou ’n pragtige Koninkryksaal.

Die afgelope ses jaar is daar 11 Koninkryksale in Taiwan gebou of gekoop. In elke geval het dit tot ’n groter oes en ’n groot vergaderingbywoning gelei. Een voorbeeld was die gemeente in die stad Tainan in die suide. In 1981 het hierdie groot stad met ’n bevolking van 600 000 net een gemeentetjie met 44 Koninkryksverkondigers gehad. Hierdie groepie het weens die behoefte besluit om hulle eie Koninkryksaal te bou. Met die vertroue dat Jehovah hulle sou seën, het die broers en susters voortgegaan met die projek, ondanks die feit dat die saal sowat R520 000 sou kos. Party het die goud uit hulle bruidskat geskenk; ander het oorsese reise uitgestel. Elkeen in die gemeente het sy volle ondersteuning gegee. Toe die broers by die Wagtoringgenootskap se takkantoor van die projek hoor, het hulle besluit om ’n sendinghuis bo-op die Koninkryksaal te bou en het gevolglik die helfte van die koste bygedra. Die saal is binne twee jaar voltooi. Die gevolg? Teen die tyd dat die Koninkryksaal voltooi is, het die totale getal verkondigers tot 74 toegeneem! Op die oomblik gebruik twee gemeentes, met altesaam 160 verkondigers, daardie saal, en die weeklikse vergaderingbywoning is gemiddeld ongeveer 250. Die twee gemeentes beplan nou om ’n tweede Koninkryksaal te bou.

Oeswerk onder stamgroepe

Die oeswerk onder die stamgroepe aan die ooskus van Taiwan is sedert die begin van die Koninkrykswerk op die eiland aan die gang. Party van die Amis-volk wat meer as 50 jaar gelede van die waarheid geleer het, is steeds bedrywig. Deur die jare heen het hulle baie uitdagings die hoof gebied. Gedurende die Japannese besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog moes hulle Japannees leer praat. Toe die eiland ná die oorlog aan die Chinese teruggegee is, moes hulle Chinees leer. In die vroeë sestigerjare het hulle voor ’n ander soort toets te staan gekom. Talle prominente lede van die Amis-stam het in daardie tyd Jehovah se rein organisasie verlaat of getoon dat hulle nie geskik is om daarmee om te gaan nie. Deur al hierdie dinge het ’n kern van getroue Getuies aangehou om Jehovah te dien. Baie van hierdie lojale ouer broers en susters se kleinkinders neem nou die leiding in die predikingswerk.

Mense uit ander stamgroepe het ook geestelik gevorder. Daar is byvoorbeeld ’n getroue groep Koninkryksverkondigers onder die Bunun-stam. Party van hulle onlangse voorvaders was koppesnellers. Nou verkondig hierdie mense die vreedsame boodskap van God se Koninkryk. Die Lukai- en Paiwan-stam het ook ’n goeie getuienis ontvang, en baie onder hulle het groot veranderinge in hulle lewe aangebring. Ba Tsjoe Foe vertel sy ondervinding:

“Ek is in die bergagtige gebied Pingtoeng gebore. Aangesien my pa ’n hoofman van die Lukai-stam was, het mense geskenke van kos gebring sodat ons nie swaar werk moes doen nie. Weens hierdie atmosfeer het ek ’n baie hoogmoedige gees aangekweek. Ek het die ‘hoof’ van ’n bende jong boewe geword wat mense gedreig en geld by hulle afgepers het. Die mense in my dorpie het my gevrees. Toe ek 22 was, het ek een van my talle meisies as vrou geneem. Maar ’n onsedelike lewenswyse en strawwe drinkery was so diep in my gewortel dat ek gesukkel het om my by die getroude lewe aan te pas. Ons huwelik was gou op die rotse, en ek het na my ou lewenswyse teruggekeer.

“Ongeveer hierdie tyd het my vrou die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Ek het nie belanggestel nie en het myself as ’n ateïs beskou. Maar as gevolg van die opregte en ywerige pogings van my vrou het ek ingestem om in 1973 saam met haar na ’n internasionale byeenkoms in Taipei te gaan. Ons het by ’n Getuie-gesin gebly. Die Chinese suster se vriendelikheid en onbevooroordeelde gedrag het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Toe ons tuisgekom het, het ek die Bybel begin studeer en ’n opregte poging aangewend om te verander. Ek is in 1974 gedoop.

“Sedertdien was daar baie toetse. Een was om Chinees te leer lees. Afsondering was nog ’n toets. Omdat daar geen ryp broers was met wie ons kon omgaan of by wie ons kon hulp soek nie, is ek aangemoedig om op Jehovah te vertrou. Ek het geleer om nederig te wees en by Jehovah se organisasie te bly. Die gevolg? Vandag is my hele gesin bedrywig in die waarheid. Ek het die voorreg om ’n bedieningskneg in die gemeente te wees, waar daar nou 60 ywerige verkondigers is. Al het ek nie enige spesiale gawe nie, het Jehovah my pogings in die oeswerk geseën en gesteun.”

Die oes duur voort

Taiwan is net ’n klein deeltjie van die wêreldwye veld. Maar Jesus se woorde: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min”, geld ook hier (Mattheüs 9:37). Verlede jaar het 4 534 die Gedenkmaal van Christus se dood bygewoon. En terwyl die oeswerk sy hoogtepunt bereik, maai die arbeiders wat in Taiwan werk met gejubel.—Vergelyk Psalm 126:5, 6.

[Voetnote]

a The Analects, vii 20, soos vertaal deur Arthur Waley, in The Analects of Confucius, 1938, Vintage Books, New York.

[Kaart/Prente op bladsy 31]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

JAPAN

CHINA

TAIWAN

FILIPPYNE

[Prente]

’n Koninkryksaal wat onlangs aan die ooskus van Taiwan gebou is

Koninkryksverkondigers bring vreugde aan baie mense in hierdie groen land

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel