Masada—Waarom het dit gebeur?
“LANK gelede, my dapper makkers, het ons besluit om nie die Romeine of enigiemand anders buiten God te dien nie . . . Kom, terwyl ons hande vry is om die swaard vas te hou . . . Laat ons sterf voordat ons ons vyande se slawe word, en laat ons, tesame met ons kinders en vrouens, hierdie lewe saam as vry mense verlaat!”
Hierdie desperate aansporing is na bewering deur Eleasar, seun van Jaïr (oftewel, Ben Jaʼir), tot die verdedigers van Masada gerig. Die eerste-eeuse geskiedskrywer Josephus het dit in sy boek The Jewish War opgeteken. Waarom het daardie Joodse leier sy makkers aangespoor om massamoord en selfmoord te pleeg, aangesien dit strydig met God se wet is? (Exodus 20:13). Nog belangriker, hoe kan kennis van die omstandighede jou help om in die hedendaagse gewelddadige wêreld behoue te bly?
Die dolkstekers van Masada
’n Romeinse garnisoen was voor die uitbreek van die Joodse opstand in 66 G.J. op Masada, ’n versterkte heuweltop naby die Dooie See, gestasioneer. Hoewel Masada op ’n afgesonderde plek is, het Herodus die Grote ’n pragtige winterpaleis daar laat bou. Hy het ’n watertoevoerstelsel laat bou sodat selfs ’n warm bad daar geniet kon word. Van groter belang was egter die feit dat baie wapens tydens die Romeinse beleëring op die vesting weggesteek is. Toe gevoelens teenoor die Romeinse beleëraars van Palestina hoog geloop het, het die gevaar bestaan dat die wapens in die hande van die Joodse opstandelinge kon val. Die Sicariërs, wat “dolkstekers” beteken, word in die Bybel gemeld as so ’n groep wat by ’n oproer betrokke was.—Handelinge 21:38, NW.
In 66 G.J. het die dolkstekers Masada verower. Hulle het met hul pas verkreë wapens na Jerusalem gemarsjeer ter ondersteuning van die opstand teen die Romeinse bewind. Die Joodse opstandelinge se slagting van Romeinse garnisoene by Masada sowel as by Jerusalem het die toorn van die Romeinse Ryk oor hul landgenote gebring. Voor die einde van 66 G.J. het die Romeinse Twaalfde Legioen onder Cestius Gallus na Judea gemarsjeer en buite Jerusalem kamp opgeslaan. Die Romeine het die stad van alle kante aangeval en so ver gegaan as om die noordelike fondament van die tempel te ondermyn. Gallus het sy troepe skielik onttrek en Judea skynbaar sonder rede verlaat. “As hy net ’n bietjie langer met die beleëring volgehou het, sou hy die Stad meteens ingeneem het”, het die ooggetuie Josephus geskryf.
Maar die Romeine was nie klaar nie. Vier jaar later het die Romeinse generaal Titus met vier legioene na Jerusalem gemarsjeer.a Hierdie keer is die hele stad vernietig, en Judea is weer aan die ysterbewind van Rome onderwerp. Alles behalwe Masada.
Die Romeine wat vasbeslote was om hierdie laaste weerstandskol te verpletter het die vesting met ’n breë klipmuur en agt steenmuurkampe omsingel. Hulle het uiteindelik ’n skuinste van grond gebou wat na die bokant gelei het—’n mensgemaakte skuinste wat oor 197 meter strek en 55 meter hoog is! Daarop het hulle ’n toring gebou en ’n stormram opgestel om ’n gat deur Masada se muur te breek. Dit was slegs ’n kwessie van tyd voordat die Romeinse leër sou oorstroom en hierdie laaste Judese vesting sou verower!
Vandag gee die duidelike omtrek van die Romeinse kampe, die omsingelende beleëringsmuur en die ontsaglike skuinste getuienis van hoe die Joodse opstand beëindig is. ’n Intensiewe argeologiese opgrawing van Masada is in 1965 voltooi. The New Encyclopædia Britannica (1987) sê die volgende oor die vondste: “Die beskrywings van die Romeins-Joodse geskiedskrywer Josephus, tot daardie tyd die enigste uitvoerige bron van Masada se geskiedenis, is uiters akkuraat bevind.”
Maar hoe het die dolkstekers gereageer op die selfmoordtoespraak van Eleasar, seun van Jaïr, toe die Romeine op die punt gestaan het om deur die mure te breek? Josephus sê: “Elkeen het sy gesin doodgemaak; . . . toe, nadat tien manne deur die lot gekies is om die skerpregters van die res te wees, het elkeen langs sy vrou en kinders gaan lê, en met hul arms om hul gesin het hulle hul keel blootgestel aan diegene wat die pynlike taak moes verrig.b Die laasgenoemdes het almal sonder skroom vermoor, en toe dieselfde metode teenoor mekaar gevolg, . . . maar ’n ou vrou, tesame met ’n ander een . . . het ontsnap . . . Die slagoffers het negehonderd-en-sestig getel, met inbegrip van die vrouens en kinders.”
Waarom het die Joodse opstand so tragies geëindig? Het dit iets met die lewe en dood van Jesus van Nasaret te doen gehad?
[Voetnote]
a By Masada het argeoloë honderde munte gevind met Hebreeuse inskripsies wat die opstand herdenk het, soos “Om die vryheid van Sion” en “Jerusalem die Heilige”. In sy boek Masada verduidelik dr. Jigaël Jadin: “Die sikkels in ons vondste het al die jare van die opstand verteenwoordig, van die jaar een tot die seldsame jaar vyf, die laaste jaar wat die sikkel geslaan is, en wat met die jaar 70 n.C. ooreenkom toe die Tempel van Jerusalem vernietig is.” Sien die munt hierbo.
b Op ’n strategiese plek naby een van Masada se hekke is 11 potskerwe gevind en op elkeen is ’n kort Hebreeuse bynaam geskryf. Verskeie geleerdes doen aan die hand dat hierdie potskerwe die lote kan wees waarna Josephus verwys het. Op een is geskryf “Ben Jaʼir”, wat “seun van Jaïrus” beteken. “Jadin se ontdekking van die lote, met inbegrip van die een met die naam Ben Jaïr daarop, is ’n buitengewone bevestiging van Josephus se verslag”, sê Louis Feldman in Josephus and Modern Scholarship.
[Prent op voorblad]
Masada—Bewys dat die Messias gekom het?
[Prent op bladsy 4]
’n Joodse munt van 67 G.J., wat “Jaar 2” van die oorlog teen Rome meld
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.