Waarom Réunion so baie Koninkryksale het
ONGEVEER 640 kilometer oos van Madagaskar verrys die eilandjie Réunion skielik uit die uitgestrekte Indiese Oseaan. Hoewel dit net ongeveer 60 kilometer lank by 50 kilometer breed is, is die eiland bekend vir sy lawakoepels en hulle periodieke vuurwerkvertonings. Die hoogste spits, wat 3 069 meter bokant seespieël is, is die uitgedoofde vulkaan Piton des Neiges (Spits van die Sneeu). In die suidoostelike deel van die eiland is die 2 625 meter hoë aktiewe vulkaan wat gepas Piton de la Fournaise (Spits van die Smeltoond) genoem word. Wat ’n skouspelagtige gesig is dit tog wanneer dit in die aand uitbars! Baie paaie kronkel op en af met steil hellings langs, wat ’n mens asemrowende uitsigte gee op wat al Réunion se skrikwekkende skoonheid genoem is.
Waarom so baie Koninkryksale?
Die ware skoonheid van Réunion is egter die wyse waarop talle van die eilandbewoners ag slaan op die “goeie nuus van die koninkryk” wat deur Jehovah se Getuies verkondig word (Mattheüs 24:14, NW). Hulle predikingswerk het in 1960 begin, toe twee voltydse bedienaars vanuit Frankryk daar aangekom het. Nou, 30 jaar later, verkondig 1 665 Getuies die Koninkryksboodskap onder die 582 000 inwoners—’n verhouding van 1 Getuie vir elke 350 mense op die eiland.
Sulke groei het die bou van geskikte vergaderplekke genoodsaak sodat die Getuies hulle aanbidding kan beoefen en geestelike onderrig kan gee (Hebreërs 10:24, 25). Van Réunion se 19 gemeentes het 13 reeds hulle eie Koninkryksaal gebou. Vanweë die veelvuldige siklone in hierdie gebied is die sale stewige klipstrukture wat heelwat tyd—en onkoste—verg om te bou. Hoe was dit dus moontlik om sulke sale te bou, aangesien die meeste Getuies op hierdie eiland gemiddelde lone verdien en groot gesinne het om te onderhou? Die antwoord is, soos die Bybel dit stel, dat ‘die hand van Jehovah nie te kort is nie’.—Jesaja 59:1.
Struikelblokke wat oorkom is
Beskou byvoorbeeld hoe Jehovah die harte van mense beweeg het om te help met die bou van die Koninkryksaal in die dorpie Sint-Louis, wat in die suidwestelike deel van Réunion geleë is. Toe die planne aanvanklik goedgekeur is, het ’n jong Getuie vir sy messelwerk-onderwyser gesê dat ’n Koninkryksaal deur vrywilligerwerkers gebou gaan word. Die onderwyser het nie net sy eie dienste aangebied nie, maar het ook sy hele klas na die terrein gebring om die fondament te help uitgrawe. Later het hy die staal geskenk wat nodig was vir die fondament.
Toe meer as honderd vrywilligers op ’n openbare vakansiedag bymekaargekom het om beton oor ’n oppervlakte van sowat 190 vierkante meter te gooi, was hulle verbaas om te vind dat die dorp die watervoorraad afgesluit het. Hoe kon hulle die beton sonder water voorberei? Een van die werkers wat die hoof van die brandweer geken het, het besluit dat hy die verknorsing aan hierdie vriendelike man sou verduidelik. ’n Rukkie later het ’n brandweerwa by die terrein opgedaag. Die voertuig het genoeg water vir die projek gehad, en die brandweer het toegelaat dat dit die hele dag daar bly! Dit is te verstane dat al die vrywilligers beweeg is om met hart en siel te werk.
Die manier waarop struikelblokke oorkom is, het duidelik Jehovah se hulp weerspieël. Gedurende een stadium van die bouwerk was die plafon byvoorbeeld gereed vir die 22 spesiale ligtoebehore wat agt maande vantevore bestel is. Maar die maatskappy het die broers in kennis gestel dat die model wat hulle wou hê nie meer gemaak word nie. Wat kon gedoen word? Sou die hele ontwerp en die plafon verander moes word? Nee, want net op die regte tyd het die broers gehoor van ’n plaaslike kontrakteur wat soortgelyke ligte in voorraad gehad het vir ’n projek waarvan daar niks gekom het nie.
“Hoeveel het jy?” is hy gevra.
“Ongeveer 25”, het hy geantwoord.
Die ligte is sonder enige verdere versuim gekoop en geïnstalleer.
Iemand wat kort vantevore die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was diep beïndruk deur die mooi gebou namate die projek gevorder het.
“Sê my”, het hy gevra, “is daar enigiets anders wat julle nodig het?”
“Ja”, het een broer geantwoord. “Ons het klanktoerusting nodig.”
Hierdie nuwe belangstellende het net daar en dan sy tjekboek uitgehaal en feitlik genoeg bygedra vir ’n volledige nuwe klankstelsel. Sulke bydraes, asook ’n groot lening van die Wagtoringgenootskap se hoofkantoor in die Verenigde State, het die gemeente gehelp om hierdie mooi Koninkryksaal te voltooi.
Die Sint-Louis-gemeente se vreugde het die kroon gespan toe broer Carey W. Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, die Koninkryksaal in Desember 1988 kon kom toewy. Broer Barber sou van die Genootskap se hoofkantoor in Brooklyn, New York, kom om die nuwe takfasiliteit op die naburige eiland Mauritius toe te wy. Toe die broers in Sint-Louis hiervan hoor, het hulle in net drie weke genoeg geld ingesamel om die vliegkoste vir hom en ’n lid van die Mauritius-takkomitee te dek om van Mauritius na Réunion te reis. Vanweë die groei sedertdien moes die Sint-Louis-gemeente afstig. Nou deel twee gemeentes die nuwe Koninkryksaal.
Alle eer kom Jehovah toe
Wat van die ander gemeentes in Réunion? As gevolg van die goeie reaksie op die Koninkrykspredikingswerk was die vergaderingbywoning by die Koninkryksale al van 150 tot 200 persent van die getal Getuies van Jehovah op die eiland. Dit is dus duidelik waarom baie Koninkryksale in Réunion nodig is. Trouens, nog drie is gebou na die een in Sint-Louis, en dit het die totaal te staan gebring op 13 vir die 19 gemeentes op die eiland.
Die eer vir al hierdie dinge kom Jehovah toe, wat voorspel het: “Die kleine self sal tot duisend word, en die geringe tot ’n magtige nasie. Ekself, Jehovah, sal dit op sy eie tyd bespoedig” (Jesaja 60:22, NW). Hierdie profesie is, soos in ander dele van die aarde, op hierdie pragtige eiland bewaarheid.