Insig in die nuus
Waarom die evangelie verkondig?
Sommige gesaghebbendes het die gebrek aan evangelisasiewerk deur kerkgangers genoem as ’n rede vir die afname in kerklidmate onder die vernaamste kerkgroepe. Besorgdheid oor hierdie probleem het die United Church of Christ in 1988 beweeg om die kwessie van “evangelisasie en lidmaatvermeerdering” as ’n prioriteit vir die volgende vier jaar te aanvaar.
Die St. Petersburg Times berig dat ander vername denominasies in die Verenigde State, waaronder die Presbiteriaanse Kerk en die Episkopale Kerk, soortgelyke stappe gedoen het. ’n Onlangse meningspeiling in oor die 200 gemeentes van die United Church of Christ het nogtans aan die lig gebring dat baie van sy 1,6 miljoen lidmate weinig daarin belangstel om met ander oor hulle geloof te praat. Een lidmaat het gevra: “Waarom moet ons met ander praat as ons doen wat goed is?” ’n Ander het gesê: “As jy jou geloof uitleef, het jy nie nodig om daaroor te praat nie.”
Medeskrywer Wade Clark Roof het nietemin in sy boek American Mainline Religion erken dat “die voortbestaan van geloof hoofsaaklik daarvan afhang hoe mense oor hulle godsdiens- en geestelike lewe praat”.
As ’n mens net moet “doen wat goed is” en “geloof” moet hê om God te behaag, waarom het die apostel Paulus geskrywe: “Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie”? Hy het aan medegelowiges in Rome verduidelik: “As jy met jou mond die Here Jesus [in die openbaar] bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons [in die openbaar] tot redding.”—1 Korinthiërs 9:16; Romeine 10:9, 10, vgl. NW.
Seksuitbuiting
Meer as die helfte van sowat 1 100 fotoverhale wat in verskeie Japannese publikasies verskyn het, met inbegrip van die verhale vir kinders, het seksdade uitgebeeld, het professor Mamoroe Foekoetomi gesê. Hy het aan die hoof gestaan van ’n ondersoek in Tokio waarin meer as 390 tydskrifte en ander publikasies wat in een maand gekoop is, nagegaan is.
‘Die meeste voorstellings van die seksdaad’, sê professor Foekoetomi, ‘volg die patroon van mans wat onwillige vroue [tot geslagsgemeenskap] oorreed en vroue wat dan uiteindelik aktief begin deelneem.’ Bykans 80 persent van die 6 861 foto’s in gewilde Japannese tydskrifte wat ontleed is, “het vroue op ’n seksueel prikkelende wyse uitgebeeld”, berig The Daily Yomiuri. Terwyl die meeste van die vroue in die foto’s “in onderklere, baaikostuums of naak” was en slegs 40 persent geklee was, was 75 persent van die mans in die foto’s wat ontleed is, geklee.
Watter uitwerking sal sulke seksuitbuiting op die jeug hê? Die Bybelboek Spreuke beskryf op aanskoulike wyse hoe ’n jong man ‘sonder goeie beweegredes’ na die huis van ’n prostituut gelok word. (Spreuke 7:7, vergelyk voetnoot in NW-naslaanuitgawe.) En die prostituut? “Sy is . . . nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer. En sy het hom gegryp” (Spreuke 7:8-13). Deesdae “staan” selfs die gedrukte bladsy ‘op die loer’ om die jeug te ‘gryp’. Die Bybel waarsku egter: “Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie.”—Spreuke 7:25.
Wie is ’n “beter” Christen?
“Ongeag die besluit wat ’n Christen neem, hetsy om ’n soldaat te wees of ’n gewetensbeswaarde, dit sou verkeerd wees van hom om daarop aanspraak te maak dat hy ’n hoër graad van Christelikheid besit as iemand wat ’n ander standpunt as hy inneem of om dit selfs te betwyfel dat die ander persoon ’n Christen is.”
Hierdie verklaring is in Julie 1989 deur die Evangeliese Lutherse Kerkraad van Duitsland uitgereik. Waarom? Ampsdraers het gesê dit was om die standpunt teë te werk wat deur sommige in die kerk ingeneem word dat gewetensbeswaar ’n “positiewer aanduiding” is dat iemand ’n Christen is as wat militêre diens is. Die Kerkraad gee toe dat Christene oorlog kan uitskakel deur hulle “individueel van geweld te weerhou”, maar voer nogtans aan dat dit ook gedoen kan word deur geweld met krygsmag te beveg om vrede te verseker.
In sy boek History of Christianity het Edward Gibbon geskryf dat die eerste-eeuse Christene “geweier het om enige aktiewe deelname te hê aan die burgerlike administrasie of die militêre verdediging van die ryk”, en dat dit “vir Christene onmoontlik was om die rol van soldate, van magistrate, of van vorste aan te neem sonder om ’n heiliger plig te verloën”.
Die vraag is dus nie wie ’n “beter” Christen is nie, maar of ’n persoon wat ’n weg strydig met die vroeë Christelike geloof volg hoegenaamd nog ’n Christen genoem kan word. Paulus het geskryf: “Hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie.”—2 Korinthiërs 10:3, 4.