Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 2/15 bl. 31
  • Die belangrikheid van God se naam Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die belangrikheid van God se naam Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • “God” en “Vader” nie onderskeidend nie
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 2/15 bl. 31

Die belangrikheid van God se naam Jehovah

BAIE Bybelvertalers is ten gunste daarvan om die tradisie te volg om die onderskeidende naam van God weg te laat. Hulle beweer nie alleen dat die onsekerheid oor die uitspraak daarvan sulke optrede regverdig nie, maar hou ook vol dat die oppermag en enigheid van die ware God dit onnodig maak dat hy ’n besondere naam het. So ’n beskouing word nie deur die geïnspireerde Skrif, hetsy die voorchristelike boeke of die Christelike Griekse Skrifte, gesteun nie.

God se naam kom 6 828 maal voor in die Hebreeuse teks, soos weergegee in die Biblia Hebraica en Biblia Hebraica Stuttgartensia. Die blote feit dat die naam soveel keer voorkom, toon hoe belangrik dit is vir die Bybel se Outeur, wie se naam dit is. Die Skrif gebruik dit baie meer kere as enige van die ander titels wat op hom toegepas word, soos “Soewereine Heer” of “God”.

“God” en “Vader” nie onderskeidend nie

Die titel “God” is nie persoonlik of onderskeidend nie (’n mens kan selfs van sy buik ’n god maak; Filippense 3:19). In die Hebreeuse Skrifte word die woord (’Elo·himʹ) wat op Jehovah, die ware God, toegepas word ook toegepas op valse gode, soos die Filistynse god Dagon (Rigters 16:23, 24; 1 Samuel 5:7) en die Assiriese God Nisrog (2 Konings 19:37). As ’n Hebreër vir ’n Filistyn of ’n Assiriër vertel het dat hy “God [’Elo·himʹ]” aanbid, sou dit beslis nie genoeg gewees het om die Persoon aan wie hy aanbidding gegee het te identifiseer nie.

In sy artikels oor Jehovah lig The Imperial Bible-Dictionary die verskil tussen ’Elo·himʹ (God) en Jehovah goed toe. Dit sê van die naam Jehovah: “Dit is oral ’n eienaam wat die persoonlike God, en hom alleen, aandui; terwyl Elohim meer die karakter van ’n soortnaam aanneem wat wel gewoonlik, maar nie noodwendig deurgaans nie, die Allerhoogste aandui. . . . Die Hebreër kan die Elohim sê, die ware God, teenoor alle valse gode; maar hy sê nooit die Jehovah nie, want Jehovah is die naam van die ware God alleen. Hy sê keer op keer my God . . . ; maar nooit my Jehovah nie, want wanneer hy my God sê, bedoel hy Jehovah. Hy praat van die God van Israel, maar nooit van die Jehovah van Israel nie, want daar is geen ander Jehovah nie. Hy praat van die lewende God, maar nooit van die lewende Jehovah nie, want hy kan hom Jehovah op geen ander manier as lewend voorstel nie.”—Onder redaksie van P. Fairbairn, Londen, 1874, Deel I, bladsy 856.

Dit geld ook vir die Griekse term vir God, The·osʹ. Dit is eweseer op die ware God as op heidense gode soos Zeus en Hermes (die Romeinse Jupiter en Mercurius) toegepas. (Vergelyk Handelinge 14:11-15.) Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 8:4-6 skets die ware situasie: “Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom.” Die geloof in baie gode, wat daartoe gelei het dat die ware God van hulle onderskei moet word, het selfs tot in hierdie 20ste eeu voortgeduur.

Paulus se verwysing na “God, die Vader,” beteken nie dat die ware God se naam “Vader” is nie, want die titel “vader” is ook op elke manlike mense-ouer van toepassing en beskryf mans in ander verhoudings (Romeine 4:11, 16; 1 Korinthiërs 4:15). Die Messias is die titel “Ewige Vader” gegee (Jesaja 9:5). Jesus het Satan die “vader” van sekere moorddadige teenstanders genoem (Johannes 8:44). Die woord is ook op gode van die nasies toegepas, soos die Griekse god Zeus wat in die Homeriese digkuns as die groot vadergod uitgebeeld word. Die feit dat “God, die Vader,” ’n naam het, ’n naam wat verskil van sy Seun se naam, word in baie tekste getoon (Mattheüs 28:19; Openbaring 3:12; 14:1). Paulus was vertroud met God se persoonlike naam, Jehovah, soos aangetref in die skeppingsverhaal in Genesis, waaruit Paulus in sy geskrifte aangehaal het. Daardie naam, Jehovah, onderskei “God, die Vader” (vergelyk Jesaja 64:8), en dit verydel enige poging om sy identiteit en persoonlikheid te verenig of te laat saamsmelt met dié van enige ander persoon op wie die titel “god” of “vader” toegepas word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel