Kan jy die Bybel glo?
“WANNEER jy iemand ontmoet wat beweer dat hy nie in evolusie glo nie, is dit heeltemal veilig om te sê dat daardie persoon onkundig, dom of versteurd is.” Hoe raak hierdie woorde van bioloog Richard Dawkins jou? As jy in die Bybel glo, glo jy waarskynlik in die skepping eerder as die evolusieteorie. Beteken dit dat jy, as iemand wat in die Bybel glo, onkundig, dom of versteurd is?
Beskou ook hierdie stelling: “Kenners van die Nuwe Testament het buite alle redelike twyfel vasgestel dat die Jesus van die vroeë Christelike dokumente in sekere mate ’n verdigsel van die Christenverbeelding is.” Hierdie woorde van dr. Robert W. Funk, ’n universiteitsprofessor in godsdiensstudies en die skrywer van ’n aantal boeke oor godsdiensinterpretasie, het in The Weekend Australian verskyn.
Dr. Funk het ’n projek begin wat bekendstaan as die Jesus-Seminaar, ’n groep van meer as honderd Bybelkenners wat saam die woorde van Jesus wat in die Bybel opgeteken is, ondersoek het. Hulle het onder andere tot die gevolgtrekking gekom dat die Onse Vader nie deur Jesus opgestel is nie; dat Jesus nie gesê het dat die sagmoediges die aarde sal beërwe of dat die vredemakers kinders van God genoem sal word nie; en dat hy nie gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo . . . sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”—Johannes 11:25, 26; Mattheüs 5:5, 9; 6:9, 10.
Hoewel hulle gevolgtrekkings jou dalk skok, is sulke gevolgtrekkings nie ongewoon nie. Dit is die gevolg van hedendaagse Bybelkritiek, en soortgelyke idees word al geruime tyd in godsdienskweekskole verkondig. Miskien steur jy jou nie daaraan as wetenskaplikes die Bybel weerspreek nie. Maar wanneer godsdiensleiers die waaragtigheid van die Bybelverslag in twyfel trek, wonder jy dalk of jy nou jou eie posisie in heroorweging moet neem. Is dit logies om in die Bybel te glo wanneer so baie intellektuele op godsdienstige gebied dit blykbaar nie doen nie?