“Sint Nikolaas-dag”—Wat is die oorsprong daarvan?
WANNEER jy vroeg in Desember deur die strate van België stap, sal jy ’n bekoorlike gesig sien: klein groepies kinders wat van huis tot huis gaan en kort rympies sing wat “Sint Nikolaas-liedjies” genoem word. Huisbewoners beloon die oulike kinders met vrugte, lekkers of geld.
Die geleentheid? “Sint Nikolaas-dag”! “Sint Nikolaas”, of “Sinterklaas”, word in die Verenigde State en ander lande met Kersdag verbind. Maar in België het die bebaarde “heilige” sy eie dag. “Sint Nikolaas” (Sinterklaas of Sint Nicolaas), wie se feesdag op die 6de Desember val, is trouens een van die gewildste “heiliges” in België en Nederland. Heelparty kerke, kapelle, strate of woonbuurte is na hom vernoem. Hy is tradisioneel bekend as “die kinders se groot vriend” wat graag op sy feesdag geskenke aan hulle uitdeel.
Die jong kinders sit die aand voor daardie vakansiedag een van hulle skoene of pantoffels naby die skoorsteen terwyl hulle hul rympies sing. Hulle is vertel dat “Sint” Nikolaas en sy swart kneg (Swart Piet) daardie nag per stoomskip van Spanje sal aankom. Die “heilige” sal daarna met sy grys perd oor die dakke ry, gevolg deur Swart Piet wat ’n stok en ’n groot sak vol speelgoed en lekkergoed dra. Nikolaas bring ook appels, neute en ander produkte van die land. Hy laat dikwels ’n soort bruin speserykoekie wat speculaas, of biskopskoekie, genoem word agter wat in verskillende besondere vorms gebak word.
Die ontvangers? Kinders wat gedurende die afgelope jaar soet was. Die ongehoorsames sal egter kwansuis met die stok slae kry; of nog erger, hulle kan in Swart Piet se sak gesit en weggedra word! Die kinders is dus begryplikerwyse gretig om hierdie nagtelike besoekers te paai. ’n Glas jenewer staan dus reg vir die “heilige”, en ’n wortel of ’n paar suikerklontjies vir sy perd.
Baie ouers in België beskou “Sint Nikolaas-dag” as die vreugdevolste tyd van die jaar. Dit is vir hulle ’n genot om die gretige afwagting op die gesigte van hulle kindertjies te sien wat tog so graag wil weet wat die “goeie heilige” vir hulle gebring het! Daarom dra hulle die legendes aan hulle kinders oor sonder om te weet wat die oorsprong van hierdie gebruike is. As hulle geweet het, sou hulle miskien geskok wees.
“Sint” Nikolaas en Odin
Die Oosthoeks Encyclopedia verduidelik: “[Sint Nikolaas]-viering in die huis het uit die kerkfeestelikheid (met inbegrip van verrassings vir die kinders) ontstaan en dit het weer uit voor-Christelike elemente ontstaan. Sint Nikolaas wat op die dakke ry, is die heidense god Wotan [Odin]. . . . Sint Nikolaas was ook die leier van die wilde jaagtog waarin die siele van die dooies die aarde besoek.”
Ja, die Teutone het geglo dat Odin, of Wotan, hulle hoofgod, die siele van die dooies gedurende die “twaalf slegte dae” tussen Kersfees en Epifanie (6 Januarie) op ’n dolle jaagtog deur die land gelei het. Die gevolglike stormwind het die sade van gesaaides meegevoer en vrugbaarheid aangewakker. En wat van die appels, neute en ander herfsprodukte wat met “Sint Nikolaas-dag” gegee word? Hulle was simbole van vrugbaarheid. Eertydse volke het geglo dat hulle hul gode kon paai deur gedurende die koue, donker wintersdae vir hulle geskenke te gee. Dit sou tot gevolg hê dat mense, diere, en die grond vrugbaarder sou wees.
Odin is vergesel van sy kneg Eckhard, die voorloper van Swart Piet, wat ook ’n stok gedra het. In die Middeleeue nog is daar algemeen geglo dat sekere bome en plante mense vrugbaar kon maak en om ’n vrou net met ’n tak van so ’n boom te slaan genoeg was om haar swanger te maak.
Die boek Feest-en Vierdagen in kerk en volksgebruik noem ’n paar ander ooreenkomste tussen Odin en “Sint” Nikolaas: “Wotan het ook die stewels en houtskoene gevul wat by die skoorsteen gesit is, maar met goud. Daar is ook hooi en strooi vir Wotan se perd in die houtskoen gesit. Die laaste gerf van die land was ook vir die perd.”
Die boek Sint Nicolaas deur B. S. P. van den Aardweg vestig die aandag op ’n paar ander opvallende ooreenkomste:
“Sint Nikolaas: ’n lang, magtige figuur op ’n wit perd. Hy het ’n lang, wit baard, ’n biskopstaf in sy hand en ’n biskopsmus op sy kop . . . met ’n wye, vloeiende biskopsmantel.
“Wotan: ’n lang persoon met ’n wit baard. Hy dra ’n wyerandhoed wat laag oor sy oë getrek is. In sy hand hou hy ’n towerspies. Hy is in ’n wye mantel geklee en ry op sy getroue grys perd Sleipnir.
“Daar is nog duidelike ooreenkomste: Wotan het op sy grys perd deur die lug gery en sidderende mense het koeke met vulsels en ook vleis en produkte van die land aangebied. Sint Nikolaas ry op die dakke en kinders sit hooi, wortels en water vir sy perd uit. Gemmerkoekies en die stok was lank voor die aanvang van Sint Nikolaas-feestelikhede simbole van vrugbaarheid.”
Hedendaagse vrugbaarheidsritusse
’n Aantal ander gebruike in verband met “Sint” Nikolaas verraai ook hulle heidense oorsprong. Op 4 Desember verskyn jong seuns tussen 12 en 18 byvoorbeeld in noordelike dele op straat. Die gemaskerde seuns stel “klein Sint Niklasies” of Sunne Klaezjen voor en dra groteske kostuums wat met vere, skulpe en ander artikels van die landstreek versier is. Die volgende aand is dit mans van 18 jaar en ouer se beurt. Hulle dwaal vroegaand deur die strate. Met besems, buffelhorings en kieries verjaag hulle al die vrouens, dogters en seuntjies wat hulle toevallig teëkom. Jong meisies moet dans of oor ’n stok spring.
Wat is die doel van al hierdie dinge? Dit is weer eens vrugbaarheid—die immer teenwoordige kommer van eertydse kulture. Die winter was ’n donker en angstige tydperk en is dikwels beskou as die tyd wanneer die vrugbaarheidsgod geslaap het of dood was. Hulle het gedink dat die godheid op verskillende maniere nuwe lewe gegee kon word of dat die god of godin ten minste ’n bietjie gehelp kon word. Geskenke, danse, geraas, rapse met ’n vrugbaarheidsstok—al hierdie dinge is beskou as metodes om bose geeste te verdryf en om die mense, diere en die grond vrugbaarder te maak.
Wanneer jong meisies dus oor die stok spring, boots hulle hul voorvaders na wat geglo het dat die vlas so hoog sou groei as wat hulle gespring het. Wanneer die jong mans vroue en kinders verdryf voer hulle die ritus op waarmee bose geeste verdryf is.
’n Besluit vir ware aanbidders
Waarom het sulke ritusse ’n deel van die sogenaamde Christelike godsdiens geword? Dit is omdat kerksendelinge eeue gelede nie daarop aangedring het dat hulle bekeerlinge die volgende skriftuurlike opdrag navolg nie: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af . . . en raak nie aan wat onrein is nie” (2 Korinthiërs 6:17). Die Christendom se sendelinge het, in plaas van heidense gebruike te verwyder, hierdie gewoontes in werklikheid laat voortbestaan deur hulle te verander en te gebruik. Sulke gewoontes is toe deur die hele wêreld versprei.
Hollandse immigrante wat hulle in Noord-Amerika gaan vestig het, het die “Sint” Nikolaas-viering saam met hulle geneem. Die naam is mettertyd na “Sinterklaas” verander. Die statige biskop het in ’n rooiwang-, oorgewig kêrel met ’n bloedrooi uitrusting verander. ’n Kabouterhoed het sy biskopsmus vervang en ’n slee wat deur takbokke getrek word sy wit perd. Sinterklaas het egter ’n geskenkbringer gebly, hoewel sy besoeke na Kersaand verskuif is.
Die Katolieke “Sint” Nikolaas is in Protestantse dele van Duitsland deur die neutraler “Kersvader” vervang. Die heidense elemente is egter tot vandag toe duidelik waarneembaar.
Jesus Christus het gesê dat “ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid” (Johannes 4:23). “Sint” Nikolaas-gebruike is vir opregte aanbidders ’n wesenlike uitdaging: Sal hierdie aanbidders die eertydse gebruike van die Odin-kultus laat voorbestaan, of sal hulle van die oorblyfsels van heidendom losbreek? Dit is ’n goeie tyd van die jaar om oor sulke ernstige vrae na te dink.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Harper’s Weekly