Die insameling bring vreugde in Japan
“DIT was baie duidelik dat die Sendelinge taamlik mismoedig is.” Dit was die woorde van Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, nadat hy persoonlik in 1912 ondersoek ingestel het na die godsdienssituasie in Japan. Hy het van die versuim van die Christendom se sendelinge gepraat en gesê: “Wat die Japannese nodig het, is ‘die Evangelie van die koninkryk’.”
Sou daar ooit in hierdie behoefte voorsien word? Gedurende die twintiger- en dertigerjare het ’n straaltjie waarheid op die Japannese geskyn deur middel van ’n handjievol getroue Getuies van Jehovah. Selfs gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n klein groepie volgehou om ten spyte van onderdrukking deur die keiserlike regering die goeie nuus bekend te maak. Maar ’n baie omvangryker insamelingswerk het vir hierdie reeks eilande in die Verre Ooste voorgelê.
Met die aankoms van 15 Wagtoring-sendelinge in 1949 het Jehovah nuwe lewe in die Koninkrykspredikingswerk in Japan geblaas. Die pas aangekome sendelinge het oral die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog gesien: Stede het in puin gelê, en die mense was verwar omdat hulle eeue-oue waardesisteem omvergewerp is. Die Christendom se sendelinge het terselfdertyd ook hulle werk in Japan hervat, maar hulle kon nie daarin slaag om ware Christene van die Japannese te maak nie. Die “49ers” en die meer as 150 sendelinge van Jehovah se Getuies wat ná hulle gekom het, het voor die ontsaglike uitdaging gestaan om geloof in die Skepper, Jehovah God, in die gedagtes en harte van die Japannese in te skerp. Hoe het hulle hierdie uitdaging die hoof gebied?
Die grondslag gelê
Hul sendingpogings het begin vanuit ’n dubbelverdiepinghuisie in Tokio. Die insameling het gedurende die vyftigerjare stadig gevorder. ‘Net ’n paar sal voor Armageddon in Japan in die waarheid kom’, het een van die eerste Japannese wat destyds op die goeie nuus gereageer het, gedink. Een van die vroeë kringopsieners onthou hoe hy uit die treinvenster gestaar het en gewonder het of die klein dorpies wat hy gesien het ooit die goeie nuus sou hoor.
Na byna ’n dekade van sendingaktiwiteit het die getal Koninkryksverkondigers in Japan die eenduisend-kerf bereik. Maar teen 1963 moes die ontoereikende Tokio-tak weens die volgehoue vermeerdering gesloop word en ’n sesverdiepinggebou van gewapende beton is in die plek daarvan opgerig.
Die sendelinge het ’n goeie grondslag vir die toekoms gelê deur die pioniergees in hulle Bybelstudente se harte te plant. Jehovah het die eendragtige werk van die sendelinge en die Japannese pioniers geseën, en die getal Getuies het in 1970 die tienduisend-kerf bereik. In 1972 is ’n drukkery van drie verdiepings en ’n woongebou van vyf verdiepings in Numazu, sowat 120 kilometer suidwes van Tokio, gebou om met die vermeerdering tred te hou. Pleks dat ’n buitefirma die tydskrifte druk, het die Japannese tak se eie pers nou Die Wagtoring en Ontwaak! gedruk om in die plaaslike Koninkrykspredikingswerk gebruik te word.
Wie sou ooit kon dink dat die insamelingswerk binne die volgende tien jaar die fasiliteite in Numazu sou ontgroei? Maar dit is wat gebeur het, en Jehovah het verdere bouwerk in gedagte gehad om die groeiende oes te behartig.
Vermeerdering ondanks teenspoed
’n Nuwe takkompleks drie keer die grootte van die een in Numazu is in 1982 in Ebina, ’n entjie suid van Tokio, voltooi. Teen die tyd dat dit in Mei van daardie jaar toegewy is, het Jehovah die Getuies in Japan oor ’n tydperk van drie jaar met agtereenvolgende maandelikse verkondigerhoogtepunte geseën. Hierdie vermeerdering het voortgegaan, en in Mei 1985 het die getal Japannese verkondigers die honderdduisend-kerf bereik. Ja, Jehovah het die werk op die regte tyd bespoedig, met die gevolg dat verdere uitbreiding van die tak onafwendbaar was (Jesaja 60:22, NW). Slegs ’n paar jaar nadat die eerste Ebina-kompleks toegewy is, het die Bestuursliggaam die bou van ’n nuwe fabriek van ses verdiepings met ’n kelderverdieping en ’n woongebou van agt verdiepings goedgekeur.
Satan was klaarblyklik ongelukkig oor hierdie groei onder Jehovah se volk, want ’n maand nadat die honderdduisend-kerf in verkondigers bereik is, het ’n ernstige bloedoortappinggeskil in Japan ontstaan. ’n Tienjarige seuntjie het gesterf nadat—en nie omdat nie—sy ouers geweier het dat hy ’n bloedoortapping kry (Handelinge 15:29). Die media het gevolglik teen die Getuies te velde getrek. Hoewel die vader van die seuntjie destyds nie ’n toegewyde Getuie was nie, het hy die genadelose teistering deur verslaggewers die hoof gebied. Hy is later gedoop en dien nou saam met sy vrou as ’n gewone pionier.
Het hierdie aanval die insamelingswerk geraak? Nouliks. Party Bybelstudente het hulle studies gestaak, maar die maandelikse verkondigerhoogtepunte het onverpoos voortgegaan, en teen Desember 1988 was daar tien jaar van opeenvolgende hoogtepunte. Die getal verkondigers het gedurende die sewejaartydperk van die toewyding van die eerste Ebina-kompleks tot die toewyding van die nuwe kompleks verdubbel van 67 000 tot meer as 135 000, terwyl die getal gewone pioniers drievoudig toegeneem het, van 12 000 tot 36 000, en die getal tuisbybelstudies amper verdubbel het, van 97 000 tot 172 000. Watter merkwaardige blyk van Jehovah se oorwinning oor Satan se aanvalle op sy volk!—Spreuke 27:11.
Konstruksie van die nuwe geboue
Jehovah se Getuies bou nie imposante geboue om mense te beïndruk nie. Maar hulle geboue moet dikwels baie groot wees om met die vermeerdering in Koninkryksverkondigers tred te hou. Die nuwe Japannese fabriek is ’n goeie voorbeeld. Dit het ’n vloerruimte van byna 22 500 vierkante meter, dubbel die vloerruimte van die vorige fabriek. Die Boekbindery, die Masjienwerkswinkel en die Uitvoer-/Versendingsafdeling het in die nuwe fabriek ingetrek, en bykans twee verdiepings word vir pakplek gebruik. Maar die fabriek is nog nie vol nie. Funderings is in die kelderverdieping gelê vir twee bykomende hoëspoed-rotasieperse, en twee volle verdiepings staan nog leeg, gereed vir toekomstige uitbreiding.
Die nuwe woongebou van agt verdiepings het ’n voorportaal wat pragtig en smaakvol versier is. Daar is 128 kamers vir Bethelwerkers en 8 980 vierkante meter vloerruimte—vergelykbaar met die vloerruimte van Noag se ark. ’n Buurman wou selfs van die konstruksiewerkers weet hoe hy vir die nuwe “woonstelle” aansoek kon doen!
Almal wat aan die konstruksiewerk deelgeneem het, het Jehovah die eer vir die bouwerk gegee (Psalm 127:1, 2). Die werkkragte het hoofsaaklik bestaan uit gewillige jong werkers in hul vroeë twintigerjare, vol ywer maar sonder bou-ondervinding. “Dit was aanvanklik vir my moeilik om ’n plan op te trek sodat onervare broers dit kon verstaan”, het ’n argitek wat aan die projek gewerk het, gesê. Maar met ’n onderlinge gees van samewerking is die struikelblokke te bowe gekom.
Hierdie gewilligheid om saam te werk het die vloei van Jehovah se gees onder die werkers vergemaklik. “Toe ons met uitgrawings besig was”, het een gesê, “het ek elke keer as dit reën—of dit nou vroeg in die oggend of laat in die nag was—na die konstruksieterrein gegaan om te sien of die keermure nog staan. Ek het elke keer ander bekommerde gesigte daar aangetref, en ons het almal saamgewerk, deur en deur nat, om enige noodgeval die hoof te bied. Sulke ondervindinge het ons gevoel van kameraadskap versterk.”
Steun vir die internasionale insameling
Aangesien die nuwe geboue opgerig is om Jehovah se oeswerk te ondersteun, was dit gepas dat die voltooide geboue aan hom toegewy word. Die toewydingsprogram is op 13 Mei 1989 gehou, met Carey Barber, John Barr en Lloyd Barry van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, tesame met hul vrouens, teenwoordig. Meer as duisend van die eerste Japannese wat gedoop is, is genooi om die toewydingsprogram by te woon, en hulle was verheug om ou vriende te sien wat Jehovah nog getrou dien. Verteenwoordigers uit 13 lande het die uitnodiging aanvaar om hierdie vreugdevolle geleentheid by te woon en daarin te deel. “Dit was soos ’n klein internasionale byeenkoms”, het een van die afgevaardigdes gesê.
Verslae uit nege van daardie lande het die program waarlik internasionaal gemaak. ’n Sterk band van broederskap kon gevoel word terwyl verteenwoordigers uit verskeie Asiatiese lande voorbeelde van internasionale samewerking gegee het en melding gemaak het van die feit dat die nuwe fabriek in die behoeftes van hulle lande asook die Japannese veld voorsien. Die Japannese tak druk nou publikasies in 13 tale en stuur besendings lektuur na baie lande.
Broer Barber het in die middag die gehoor toegespreek en die belangrikheid van die vervulling van die profesieë van Esegiël beklemtoon. Daarna het broer Barr ’n toespraak gehou oor die tema “Die aarde word met Jehovah se heerlikheid gevul” waarin hy die gehoor gehelp het om die deurdringende krag van die waarheid te besef.
Broer Barry, wat vroeër meer as 25 jaar lank as sendeling in Japan gedien het, het die toewydingsrede gehou. In sy toespraak “Jy moet jou voor jou God, Jehovah, verheug” het hy die gehoor aangemoedig om hulle daarin te verheug dat hulle in die tydperk lewe wat deur die Huttefees, of Fees van die Insameling, in eertydse Israel afgebeeld is. Terwyl hy ’n kort geskiedenis van die werk in Japan gegee het, het hy op redes tot vreugde gewys. Toe broer Barry voorgestel het dat die nuwe geboue aan Jehovah toegewy word, het al die aanwesiges met hartlike applous gereageer.
Die volgende dag het verteenwoordigers van die Bestuursliggaam ’n gehoor van 233 780 wat in 46 vergaderplekke dwarsdeur Japan byeengekom en per telefoonlyn verbind was, toegespreek. Soos pastor Russell in 1912 gesê het, het die Japannese inderdaad ’n behoefte aan die goeie nuus van die Koninkryk. Jehovah het in daardie behoefte voorsien deur ’n grondslag deur sendingwerk te lê en die Japannese Getuies met die pioniergees te besiel. Die pas toegewyde geboue is ’n bewys dat Jehovah die insameling gedurende die antitipiese Huttefees ‘bespoedig’ het.—Jesaja 60:22, NW.
[Prente op bladsy 24]
Die nuwe fabriek by Ebina (links), gedurende die toewydingsprogram (links onder) en die voorportaal van die nuwe woongebou (regs onder)
[Prente op bladsy 25]
Die nuwe woongebou en (inlasfoto) die biblioteek op die tweede verdieping van die kantoorgebou
[Prente op bladsy 26]
Hierdie 19 sendelinge van die 11de klas van Gilead het die toewyding bygewoon. Hulle voltydse diens—asook dié van vyf ander van die 11de klas wat getrou in hul toewysing in Japan gesterf het—is altesaam 1 023 jaar
Drie lede van die Bestuursliggaam—Carey Barber, John Barr en Lloyd Barry—het aan die toewydings-program deelgeneem