Die Gulde Reël—Waarom is dit nog geldig?
SUIWER goud slaan nooit aan nie, daarom is juweliersware wat van goud gemaak is gesog en word dit waardeer. In plaas van beskadigde goue voorwerpe weg te gooi, herwin goudsmede die kosbare metaal om ’n nuwe kunswerk te vorm, want goud behou sy waarde.
Hoewel Jesus die Gulde Reël sowat tweeduisend jaar gelede uitgespreek het, het die waarde daarvan eweneens nie afgeneem nie. Deur redes vir die geldigheid daarvan te ondersoek, of vas te stel, kan ons die waarde daarvan vir ons vandag beter begryp.
Toe Jesus vir ons die Gulde Reël gegee het, naamlik: “alle dinge wat julle dan wil hê die mense moet aan julle doen, moet julle ook insgelyks aan hulle doen”, het hy bygevoeg: “Dit is trouens die betekenis van die Wet en die Profete” (Mattheüs 7:12, NW). Hoe het Jesus se dissipels en ander wat na hom geluister het dit verstaan?
“Die betekenis van die Wet en die Profete”
“Die Wet” het op die vroeë geskrifte betrekking gehad, wat die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium, uitgemaak het. Hulle openbaar Jehovah se voorneme om ’n saad te voorsien wat boosheid uit die weg sal ruim (Genesis 3:15). Daardie vroeë Bybelboeke sluit die Wet, of versameling bevele, in wat Jehovah in 1513 v.G.J. deur Moses as die middelaar op die berg Sinai aan die nasie Israel gegee het.
Die goddelike wet het Israel van die omliggende heidense nasies afgeskeie gehou, en die Israeliete moes niks doen wat hulle begunstigde posisie voor Jehovah in gevaar sou stel nie. Hulle was sy uitsluitlike eiendom en moes dit bly om sy seën te ontvang (Exodus 19:5; Deuteronomium 10:12, 13). Maar benewens die Israeliete se verpligting teenoor God het die Mosaïese Wet hulle verantwoordelikheid om goed te doen aan die vreemdelinge in Israel omskryf. Dit het byvoorbeeld gesê: “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God” (Levitikus 19:34). Die vreemdelinge het gedurende die tydperk van Israel se konings baie voorregte geniet, soos om met die bou van God se tempel in Jerusalem te help.—1 Kronieke 22:2.
Die Wet wat aan Israel gegee is, het egbreuk, moord, diefstal en gierigheid verbied. Hierdie gebooie, saam met ‘watter ander gebod daar ook al is’, kon saamgevat word in die bevel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die apostel Paulus het bygevoeg: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.”—Romeine 13:9, 10.
As die Wet die grondslag van die Gulde Reël was, wat dan van “die Profete”?
Die profetiese boeke van die Hebreeuse Skrifte bevestig eweneens die geldigheid van die Gulde Reël. Hulle beeld Jehovah uit as ’n God wat sy voorneme getrou vervul. Hy seën sy getroue knegte wat, hoewel onvolmaak, probeer om sy wil te doen en ware berou oor hulle verkeerde dade toon. “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.”—Jesaja 1:16, 17.
Wanneer God se volk aan ander en aan God reg gedoen het, het Jehovah sy ondersteuning gewaarborg. “So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid. . . . Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou.”—Jesaja 56:1, 2.
Christus rig sy gemeente
Christus het gekom om die Wet en die Profete te vervul, en sedertdien het Jehovah se ewige voorneme steeds vooruitbeweeg (Mattheüs 5:17; Efesiërs 3:10, 11, 17-19). Die ou Wet van Moses is deur die nuwe verbond vervang, wat Joodse sowel as nie-Joodse gesalfde Christene insluit (Jeremia 31:31-34). Nietemin volg die hedendaagse Christengemeente steeds die Gulde Reël. En hier is nog ’n rede om die reël se geldigheid te aanvaar: Christus is die aktiewe Hoof van die hedendaagse Christengemeente. Hy het nie sy bevele verander nie. Sy geïnspireerde raad is nog steeds van toepassing.
Voordat Jesus die aarde verlaat het, het hy sy volgelinge beveel om dissipels van al die nasies te maak en hulle te leer om “alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. Daardie bevel het die Gulde Reël ingesluit. Jesus het sy dissipels verseker: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Mattheüs 28:19, 20.
Soos in Lukas 6:31 opgeteken is, het Jesus beveel: “Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.” Wat ’n goeie voorbeeld het Jesus tog gestel deur die inisiatief te neem om aan ander goed te doen!
Jesus het in die loop van sy aardse bediening duidelik waargeneem wat mense moes verduur en hy het medelye met hulle gehad. Gedurende een van sy predikingsreise het hy die skares gesien en innig jammer vir hulle gevoel. Maar hy het meer as dit gedoen, hy het reëlings getref om hulle te help. Hoe? Deur ’n intensiewe predikingsveldtog te organiseer wat sy dissipels na die huise van mense gebring het. Hy het beveel: “In watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek.” Die feit dat hierdie werk sy ondersteuning en sy Vader se seën gehad het, kan duidelik gesien word uit Jesus se verdere woorde: “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. . . . En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ’n beker kou water laat drink, omdat hy ’n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.”—Mattheüs 9:36–10:42.
Die feit dat die Gulde Reël positiewe aksie ten behoewe van ander beteken, kan uit Jesus se redenasie by ’n ander geleentheid gesien word: “As julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen . . . en julle loon sal groot wees” (Lukas 6:32, 33, 35). As ons die steeds geldige Gulde Reël gehoorsaam, sal ons aangespoor word om die inisiatief te neem om selfs goed te doen aan mense wat ons nie persoonlik ken nie.
Steeds geldig, steeds prakties
Die ware ondervindinge van diegene wat volgens die Gulde Reël lewe, is miskien die mees afdoende bewys dat dit steeds geldig is. Christene wat daagliks in ooreenstemming met God se wette lewe, geniet groot vreugde en, dikwels, onverwagte seëninge. Omdat een Christin beleef en vriendelik was teenoor die personeel van die mediese kliniek wat sy besoek het, is sy bevoordeel deur die feit dat die verpleegsters en die dokters moeite gedoen het om haar te versorg.
Jehovah se Getuies wat help met die oprigting van vinnig geboude Koninkryksale kan ook instaan vir die geldigheid van die Gulde Reël. Vriendelike besoeke aan mense wat naby die bouperseel woon om hulle in te lig oor wat beplan word, werp dikwels goeie vrugte af. Mense wat die Getuies voorheen teengestaan het, merk dus op dat hulle aan hulle naaste goed doen, en hulle sien persoonlik hoe God se volk saamwerk. Party het gevolglik aangebied om met die bouwerk te help, òf direk, òf deur boumateriaal beskikbaar te stel.—Vergelyk Sagaria 8:23.
Toe ’n Iraanse Getuie wat in Londen, Engeland, woon voedsel by ’n winkel gaan koop het, het die winkeleienaar hom beledig omdat hy ’n uitlander was. Die Getuie het moedig op ’n vriendelike en taktvolle wyse verduidelik dat hy, as een van Jehovah se Getuies, geen slegte gevoelens teenoor mense van ander nasionaliteite koester nie. Hy besoek eerder almal in die buurt met die Bybelboodskap. Die gevolg? Die winkeleienaar het ekstra lekkernye by die Getuie se kosbestelling ingepak.
Die Gulde Reël is natuurlik nie tot sulke geringe vriendelike dade beperk nie. Verreweg die grootste blyk daarvan is ongetwyfeld die nut wat Jehovah se Getuies wêreldwyd stig deur hulle naaste gereeld tuis met die boodskap van die goeie nuus van God se Koninkryk te besoek.
Die Gulde Reël as lewenswyse
Die toepassing van die Gulde Reël beteken dat jy jou aandag op ander mense vestig. Dit is ’n positiewe riglyn. Jy sal geleenthede moet soek om aan ander om jou goed te doen. Wees vriendelik en besorg en toon persoonlike belangstelling in hulle! (Filippense 2:4). As jy dit doen, sal jy ryklik geseën word. Jy sal Jesus se raad volg: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:16). Jehovah sal op sy beurt jou Beloner wees as jy hom in erns soek en daagliks volgens die Gulde Reël leef.—Hebreërs 11:6.