“Hy wat regte antwoorde gee”
JESUS het in die Bergpredikasie van “die wet en die profete” gepraat. Die derde gedeelte van die Hebreeuse Skrifte was die Geskrifte, waaronder die poëtiese boeke soos Psalms en Spreuke (Mattheüs 7:12; Lukas 24:44). Hulle het ook God se wysheid bevat.
Die spreuke het regters in eertydse Israel byvoorbeeld gewaarsku: “Hy wat vir die skuldige sê: Jy het reg!—die volke sal hom vervloek, die nasies sal hom verwens. Maar met die wat onpartydig straf, gaan dit goed; en oor hulle kom die seën van voorspoed. Hy wat regte antwoorde gee, soen die lippe.”—Spreuke 24:24-26.
As ’n regter aan die druk van omkopery of nepotisme toegegee en die goddelose regverdig verklaar het, sou ander hom as onbevoeg vir sy pos beskou het. Ja, selfs lede van Heidense “nasies” wat van sulke regterlike misdrywe gehoor het, sou met minagting gereageer het! As ’n regter die goddelose daarenteen moedig tereggewys en ‘regte antwoorde gegee het’, sou hy die mense se respek en liefde verkry het. Die volk in die algemeen sou beweeg gewees het om hom “die seën van voorspoed” toe te wens. Soos die spreuk voorts sê: “Hy wat regte antwoorde gee, soen die lippe.”
So ’n soen was ’n aanduiding van wedersydse respek—tussen die raadsman en dié wat sy eerlike teregwysing opgemerk het. Miskien sou selfs die een wat tereggewys is gunstig gereageer en sy geneentheid teenoor die regter getoon het. Spreuke 28:23 sê: “Hy wat ’n mens teregwys, sal agterna meer guns vind as hy wat vlei.” Diegene wat vandag as gemeentelike ouere manne dien, moet dus nie toelaat dat vriendskap of familiebande hulle oordeel verdraai nie. As ouere manne reguit die regte raad gee, sal hulle die gemeente se respek verkry.