Insig in die nuus
Die voorkoming van geweld
Volgens die tydskrif American Health word die konstante toename in geweld onder tieners weerspieël deur die feit dat “gevegte met vriende, klasmaats en bure die grootste doder van stedelike adolessente en die naasgrootste doder van alle adolessente in Amerika is”.
In ’n poging om gewelddadige neigings teë te werk, bied ’n voorligtingsentrum in Boston ’n kursus aan wat sy studente in staat stel om rolle in kort, dokumentêre dramas oor geweld te vertolk. Sodoende “begin [hulle] om die patrone wat met geweld verband hou te identifiseer” en, verduidelik die programregisseur, kan hulle “daardie patrone van woede in hulleself raaksien”.
Die studente leer van die fisiologiese reaksie op woede, van die vermeerderde vloei van adrenalien wat selfbeheersing verdring en die waarde van kommunikasie om woede af te koel “voordat die liggaam biochemies reageer”. Hulle leer dat ’n heftige konfrontasie voorkom kan word deur vrae te stel en stadig en kalm te praat.
Bybelstudente besef lankal dat geweld tot geweld lei en dat ‘’n sagte antwoord woede laat bedaar’ (Spreuke 15:1, NAV). Die Bybel raai ons aan om uit die staanspoor te vlug wanneer ons met ’n potensieel plofbare konfrontasie te kampe het. Wyse koning Salomo het geskryf: “Die begin van ’n twis is soos iemand wat water laat uitloop; verwyder jou dus vóórdat die rusie losbreek.”—Spreuke 17:14, NW.
’n Gestruktureerde heelal
Aan die einde van Mei het sowat 200 fisici, waaronder verskeie Nobelpryswenners, in Blois, Frankryk, byeengekom. Hulle weeklange vergadering is belê om die 25ste herdenking van die ontdekking van “CP-skending”, ’n oënskynlike skending van wette wat na bewering die volmaakte simmetrie tussen materie en antimaterie handhaaf, te vier.
Maar hierdie teorie skep net soveel probleme as wat dit oplos. Die International Herald Tribune het Sowjet-professor Andrei Linde aangehaal en gesê: “Die paradoks”, het hy gesê, “is dat hierdie asimmetrie die geordende heelal tot gevolg gehad het.” Toe hy gevra is of “CP-skending” op ’n doel in die heelal dui, het Franse kosmoloog Jean Audouze gesê: “Party dae dink ek so, ander dae nie. Die heelal is nie eenvormig nie. En die heelal is gestruktureer. En hierdie twee dinge is verbasend. Die heelal het nie sommer vanself daar gekom nie.”
Die heelal het nòg per ongeluk nòg vanself tot stand gekom. Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die heelal is ordelik omdat Jehovah, die Skepper, “nie ’n God van wanorde [is] nie”, maar Iemand wie se werke “volkome” is.—1 Korinthiërs 14:33; Deuteronomium 32:4; vergelyk Jesaja 40:26; 42:5.
Homoseksualiteit en Katolieke
Die pous het herhaaldelik gesê dat die Katolieke Kerk se amptelike standpunt ten opsigte van homoseksuele gedrag is dat dit sedelik verkeerd is. Soos hy verduidelik, “was die vroeg-Christelike gemeenskap sekerlik nie losbandig nie”. Nie alle Katolieke biskoppe en priesters stem hiermee saam nie.
Vroeg in 1989 het Franse biskop Jacques Gaillot beweer dat hy bloot Jesus nagepraat het toe hy geskryf het dat “homoseksuele ons voorgaan in die koninkryk van God”.
Maar wat biskop Gaillot nie genoem het nie, is dat Jesus van berouvolle hoere—nie aktiewe prostitute nie—gepraat het as diegene wat die koppige Joodse leiers van sy dag sou voorgaan in die Koninkryk van God.—Mattheüs 21:28-32.
Spaanse priester José Ramón Carrasco het onlangs ook in die Madridse koerant El País geskryf dat “Jesus Christus nooit homoseksuele veroordeel het nie. . . . Toe hy van liefde gepraat het, het hy van naasteliefde gepraat en nooit gespesifiseer of die naaste ’n man of vrou moes wees nie, of watter postuur, vorm of manier hy verkies het nie.”
Maar die Bybelverslag toon dat Jesus nie van homoseksuele verhoudings gepraat het nie. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan het hy verduidelik presies wat naasteliefde beteken, naamlik onselfsugtige belangstelling in die welsyn van ander.—Lukas 10:29-37.
Die Bybel sê aangaande beoefenaars van homoseksualiteit: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete [homoseksuele] . . . sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:9-11.