Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 10/15 bl. 24-28
  • Moedige besluite bring seëninge mee in Suriname

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moedige besluite bring seëninge mee in Suriname
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • ’n Besluit wat sy lewe gered het
  • Liefde het hom beweeg om sy broers te red
  • Hy het nie ’n kompromis aangegaan nie
  • Woensdag getroud, Saterdag gedoop
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 10/15 bl. 24-28

Moedige besluite bring seëninge mee in Suriname

VOLGENS die internasionale nuustydskrif South was Suriname vroeër “een van die welvarendste Karibiese state”. Inkomste uit bauxiet, garnale, rys, piesangs en laaghout, en deur ontwikkelingshulp aangevul, het meegebring dat die 400 000 inwoners van hierdie eertydse Hollandse kolonie welvarender was as die meeste van hulle bure.

Die ekonomie het egter gedurende die tagtigerjare ’n insinking beleef. Oorvloed het gou in ’n tekort verander, en lang voedseltoue was ’n algemene gesig. In 1986 het die uitbreek van guerrilla-oorlog sowat tienduisend inwoners verplig om van oostelike Suriname na aangrensende Frans-Guiana te vlug en aldaar in vlugtelingekampe ’n nuwe lewe te begin. Intussen het groot dele van die oerwoud—die tuiste van nagenoeg 50 000 Bosnegers en Amerindiane—onder guerrilla-beheer gekom, wat normale reise na die binneland gevaarlik gemaak het. Volgens die tydskrif South het hierdie veranderinge die land ’n knou toegedien.

Het hierdie toestande ook die aktiwiteite van Jehovah se Getuies ’n knou gegee? Inteendeel, hulle het hulle werk versnel. Die getal Getuies het byvoorbeeld van 920 in 1980 tot meer as 1 400 vandag gestyg. In April 1989 was daar 338 hulppioniers—amper 25 persent van die Getuies. Maar sulke seëninge spruit slegs voort uit die moed, onkreukbaarheid en liefde wat die Getuies tydens beproewing openbaar. Hier is etlike onlangse voorbeelde van hoe moedige besluite ryk seëninge in Suriname meegebring het.

’n Besluit wat sy lewe gered het

Lumey Hoever, ’n frisgeboude polisie-offisier in sy laat dertigerjare en een van Jehovah se Getuies, het besluit om ondanks die slegte ekonomie sy werk te bedank. Waarom? Lumey verduidelik:

“Vandat ek ’n artikel in Die Wagtoring gelees het wat beklemtoon het hoe gevaarlik dit is om vuurwapens te dra, het ek geweet dat ek hierdie werk sou moes prysgee.a Maar ek het gehuiwer, omdat ek ’n vrou en kinders het om te onderhou. Hoe langer ek egter my besluit uitgestel het, hoe meer het my gewete my gepla. ‘As Jehovah se organisasie my aanspoor om die gepastheid van hierdie soort werk ernstig te oorweeg, moet daar ’n goeie rede wees’, het ek my herinner. In Januarie 1986 het ek tot ’n besluit gekom.”

Maar die polisiehoof wou hom nie laat gaan nie en het selfs belowe om hom na Tamanredjo, ’n baie gesogte polisiekantoor na aan die hoofstad, te stuur. Maar Lumey was vasberade. Hy het aan die minister van polisie geskryf, sy godsdiensopvattinge uiteengesit en om ontslag gevra. In April 1986 het die antwoord gekom: ‘Versoek toegestaan!’

Lumey het gou werk by die Bosboudepartement gekry. Die betaling was nie so goed nie, maar hy het meer tyd gehad om sy gesin na vergaderinge by die Koninkryksaal te vergesel. Tien maande het verstryk. Eendag, nadat Lumey en sy broer die hele dag op die familieplaas gewerk het, was hulle op pad huis toe. Hy sê:

“Toe ek die plaashuis nader, het ek twee mans in verslete klere opgemerk, met doeke om hulle koppe gebind. ‘Kon dja (Kom hier)’, het hulle in Surinaams uitgeroep. Toe ek naderstap, het nog ’n man met ’n kort geweer wat aan ’n skouerband hang, verskyn. Eers toe het ek besef: guerrillas!

“Hulle het my goed beskou. Toe het een van die mans met ’n kopdoek uitgeroep: ‘Ek ken hierdie man. Hy is ’n polisieman!’ Hulle gesigte het verstar. Ons het ’n paar sekondes lank na mekaar gestaar. Ek het my asem opgehou. Toe het ek ’n dowwe geluid gehoor. Kliek, klak—die derde man het sy geweer oorgehaal. Hy het dit stadig op my bors gerig, gereed om my tereg te stel. ‘Moenie skiet nie! Jy maak ’n fout. Ek is nie meer ’n polisieman nie’, het ek uitgeroep.

“Toe het ek nog twaalf gewapende guerrillas agter die huis gesien. Een van hulle—’n gespierde man in ’n lendedoek met twee patroonbande oor sy kaal bors gekruis en ’n outomatiese wapen in sy hand— het vorentoe getree. ‘Jy sê jy is nie meer ’n polisieman nie. Waarom nie?’ wou hy weet. Ek het my gou as een van Jehovah se Getuies geïdentifiseer. ‘Getuies dra nie wapens nie’, het ek verduidelik, ‘daarom het ek my werk as polisieman bedank en werk ek nou by die Bosboudepartement. Ons is neutraal wat alle politiek betref’, het ek bygevoeg.

“Toe hy hoor dat ek ’n Getuie is, het sy gesigsuitdrukking ietwat versag. ‘Sal hy my glo?’ het ek gewonder. Toe het my jonger broer daar aangekom. Die man in die lendedoek, blykbaar die leier, het hom begin ondervra. Nadat my broer my verklaring beaam het, het die leier tevrede gelyk. ‘Saka joe gon! (Laat sak jou geweer)’ het hy die ander guerrilla beveel. Ek het verlig gevoel. ‘Dankie, Jehovah, dat u my beskerm het!’ het ek gebid.”

’n Paar dae later het Lumey nog ’n skok gehad. Onbekende gewapende mans het drie polisie-offisiere by die Tamanredjo-polisiekantoor tereggestel, die einste kantoor waarheen die baas hom wou stuur! “As ek die raad in daardie artikel in die Wagtoring geïgnoreer het, sou ek nou ’n dooie man gewees het”, sê Lumey. Dan voeg hy dankbaar by: “Jehovah behoed waarlik sy knegte.”

Liefde het hom beweeg om sy broers te red

Toe gevegte in Oktober 1986 tussen regeringstroepe en die guerrillas in die bauxiet-myndorp Moengo uitgebreek het, moes Frans Salaoema, ’n Bosneger in sy veertigerjare, ’n besluit neem. Uiteindelik het hy, sy swanger vrou en sewe seuns, tesame met ander van die dorp, met oerwoudpaadjies en oor die wye Maronirivier na veiligheid in Frans-Guiana gevlug.

Frans was nogtans bekommerd. Hy kon geen Getuies van sy gemeente onder die vlugtelinge opspoor nie. ‘Waar is hulle? Moet ek teruggaan om na hulle te soek?’ het hy gewonder. Maar dit kon gevaarlik wees. Die guerrillas was meestal Bosnegers. ‘As regeringsoldate my deur die oerwoud sien sluip, is dit klaarpraat met my’, het hy gedink. Hy het nietemin besluit om terug te gaan en sy Christenbroers te soek. Hy het vir etlike Getuies in Frans-Guiana gesê: “Steek volgende week die rivier oor en kom haal my.”

’n Week later het hulle die rivier oorgesteek, maar Frans was nie daar nie. Hulle het tot die volgende dag gewag. Steeds was daar geen spoor van Frans nie. “Kom ons bly nog een nag”, het hulle besluit. Toe het Frans en ’n groep Getuies daar opgedaag. Wat het gebeur?

“Nadat ek die broers opgespoor het”, het Frans gesê, “het ons deur die gevegsfront beweeg, die oerwoud binnegegaan en in die rigting van die grens gestap.” Maar waarom die oponthoud? Frans het na drie houers gewys wat hy saamgebring het. Hy het na die hoofstad gegaan om ’n voorraad Bybellektuur vir die vlugteling-Getuies te kry. Die wagtende broers was verheug. Daardie selfde dag het Frans, die bevryde Getuies, én die drie houers die grens veilig oorgesteek.

Frans het later nog ’n reis onderneem om meer Getuies te help. Uiteindelik het 37 Getuies die grens oorgesteek en hulle in vlugtelingekampe gaan vestig. Frans is in ’n eertydse melaatsekolonie in Frans-Guiana geplaas, waar die vlugtelinge niks meer moes doen as om in hulle hangmatte te swaai en muskiete weg te waai nie.

Maar Frans en sy gesin was nie ledig nie. Kort na sy aankoms in die kamp het Frans (wat intussen pa van ’n dogter geword het) die Koninkryksnuus aan die inwoners begin verkondig. Hy het danksy sy goeie invloed selfs toestemming verkry om per motorfiets in die ander kampe te gaan getuig. Die gevolg? Vandag hou hy 14 Bybelstudies met medevlugtelinge. Drie van hulle is reeds gedoop!

Hy het nie ’n kompromis aangegaan nie

“Ek sal binne twee weke terug wees met nuwe voorrade”, het Victor Wens, ’n 58-jarige spesiale pionier, gesê. Hy het sy vrou en enkele Bybelstudente in ’n oerwouddorpie in sentraal-Suriname agtergelaat. Dit was in Junie 1987, toe hy na die hoofstad vertrek het.

Toe Victor se vrou en ander hom gegroet het, was hulle sakke rys amper leeg. Die guerrilla-oorlog het hulle van alle voorrade afgesny. Daar sou binnekort hongersnood wees. Maar hulle het besef dat Victor se kanoreis gevaarlik was. Hy kon in kruisvuur beland of vir ’n guerrilla aangesien word. ‘Sal hy veilig terugkeer?’ het hulle gewonder terwyl die gedreun van die kano se enjin al hoe sagter geword het.

Twee weke later het Victor se vrou die rivier gefynkam—maar daar was geen teken van Victor nie. Nog weke het verstryk. Hulle kos het opgeraak, en sy het siek geword. “Jehovah, bewaar asseblief my man”, het sy gebid. “Mag hy terugkom!” Drie maande het verstryk. Victor het nie opgedaag nie. Wat het skeefgeloop?

“Nadat ek in die hoofstad aangekom het”, het Victor later gesê, “het ek toestemming verkry om ses maande se voorraad kos en brandstof te koop. Toe het ek ’n permit gevra om terug te keer huis toe. Die amptenaar in bevel het gesê: ‘Jy kan gaan, maar vind uit waar die guerrillas skuil, en kom vertel ons.’ My hart het in my skoene gesak. ‘Ek kan dit nie doen nie’, het ek gesê, ‘Jehovah wil nie hê dat ons in die politiek kant moet kies nie. Ons Getuies staan neutraal.’ Hy het geantwoord: ‘In daardie geval gaan jy nie huis toe nie.’

“Ek het elke week teruggegaan om toestemming te vra, maar die antwoord was altyd dieselfde. Intussen het ek gehoor dat my vrou siek was. Ek wou huis toe gaan om vir haar te sorg. Maar ek wou nie ’n kompromis aangaan nie. Ek het hulpeloos gevoel.

“Toe ek weer teruggegaan het, het hulle tot my verbasing gesê dat ek kon gaan. Hulle het vertel dat hulle ’n paar Pinksterpastore van my omgewing toestemming gegee het om terug te keer en dat ek saam met hulle kon gaan. Ek was verheug en het voorbereidings begin tref totdat ek by ’n vriend gehoor het dat die geestelikes ingestem het om spioene te wees. Ek het my reis gekanselleer, omdat ek nie die indruk wou skep dat Jehovah se Getuies met daardie reëling saamgaan nie. My pogings het weer eens misluk.”

Die amptenare het uiteindelik besef dat Victor nie van plan was om sy oortuigings prys te gee nie. Toe hy hulle weer genader het, het hulle hom toestemming gegee.

In Oktober 1987 het die klein groepie Getuies uiteindelik die buiteboordmotor gehoor en ’n swaargelaaide kano sien verskyn. “Ek was hartseer toe ek my vrou sien”, het Victor gesê. “Sy het so maer gelyk. Maar sy was ook bly dat ek nie ’n kompromis aangegaan het nie.”

“Victor se moedige besluit het ons tot seën gestrek”, sê ’n reisende bedienaar wat in die binneland werk. “Amptenare en guerrillas het besef dat Jehovah se Getuies neutraal staan. Hulle respekteer nou ons beskouing en ons werk floreer.”

Woensdag getroud, Saterdag gedoop

“Moenie dom wees nie”, het die familie druk op hulle uitgeoefen. “Moenie trou nie!” Die ses mans van die Aucaner-Bosnegerstam, in die suidoostelike hoek van die land, het hul familielede se menings begryp. Die stamgebruik is op stuk van sake dat ’n man nie trou nie, sodat hy die vrou kan verlaat wanneer hy ook al wil. Maar toe hierdie mans deur hul Bybelstudie geleer het wat Jehovah se beskouing van hoerery is, het hulle hul denke gewysig, die gemeenskap se druk weerstaan en moedig besluit om behoorlik te trou.

Daar was nietemin struikelblokke. Die binnelandse registrasiekantoor is weens oorlogstoestande gesluit, en dit was haas onmoontlik om na die hoofstad te reis. Die ses aanstaande bruide wou ook graag op hulle troudag regte trourokke dra. Dit dui op die plaaslike belangstelling in sulke kleredrag, al word sulke kleredrag nie van Christene vereis nie.b ‘Waar gaan ons in ’n reënwoud trourokke kry?’ het die mans gewonder. Moedige besluite in ooreenstemming met Bybelbeginsels het nietemin seëninge meegebring. Op Woensdag, 16 September 1987, is ses bruide in pragtige rokke en ses bruidegoms in deftige pakke getroud. Hoe was dit moontlik?

“Ons het in September ’n streekbyeenkoms in St. Laurent, Frans-Guiana, gereël en die Getuies wat in die binneland woon, gevra om dit by te woon”, verduidelik Daniël van Marl, een van die reisende bedienaars wat die huwelike voltrek het. “Daardie byeenkoms het die geleentheid vir die troues gebied.”

Cecyl Pinas, ’n Takkomiteelid wat na die werk in die binneland omsien, verduidelik: “Ek het vroeër daardie jaar die Bethelgesin in Nederland besoek en melding gemaak van daardie troues wat sou plaasvind. Toe ek genoem het dat ons een rok oor en oor gebruik, en dit altyd moet verstel om die volgende bruid te pas, het vier Bethelsusters my spontaan hulle trourokke as geskenke vir hulle ‘susters’ in Suriname gegee. Ek was diep geroer. Later is nog rokke by ’n byeenkoms in Nederland geskenk.”

Op die oggend van die troues moes ’n paar verstellings nog gedoen word. “Ons het gou die lyfies van party rokke uitgelaat en die lengte van ander rokke verander, maar ons het net betyds klaargekry”, sê Margreet van de Reep.

Nadat die huwelike voltrek is, was vyf van die pasgetroudes gereed vir nog ’n stap. Op Saterdag daardie selfde week is hulle in die Maronirivier gedoop. Hulle wou graag as getroude pare na hul oerwouddorpies terugkeer om hulle deel in die predikingswerk te doen. Het Jehovah hul besluit geseën?

“Daardie egpare het aan die gemeenskap bewys dat ons Getuies se dade met ons woorde ooreenstem”, sê Nel Pinas, wat in 1967 met die predikingswerk in daardie selfde gebied begin het. “Hulle besluit om te trou sodat hulle ware Christene kan word, het in afgeleë dorpies belangstelling gewek. Die Getuies vaar nou in hul kano’s op riviere waar ons nooit voorheen getuig het nie en vind meer mense wat van Jehovah wil leer.”

Die moedige besluite van Lumey, Frans, Victor en baie ander het waarlik ryk seëninge vir hulle en hul mede-Christene in Suriname en elders meegebring. Ondervindinge soos hierdie bewys keer op keer hoe waar die Bybelspreuk is: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:5, 6.

[Voetnoot]

a Kyk die artikel “Soek vrede en jaag dit na” in Die Wagtoring van 1 Oktober 1983, bladsye 19-25.

b Kyk “Christelike troues wat vreugde verskaf”, in Die Wagtoring van 1 Mei 1984, bladsye 16, 17.

[Kaarte/Prente op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ATLANTIESE OSEAAN

GUYANA

SURINAME

PARAMARIBO

Tamanredjo

Moengo

St. Laurent

Maronirivier

FRANS-GUIANA

BRASILIË

300 km

200 m.

[Prente op bladsy 25]

Twee aansigte van ’n pragtige Koninkryksaal in ’n afgeleë deel van die land

[Prent op bladsy 26]

Tipiese boomkano in Suriname

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel