Watter hoop vir die dode?
’N JONG gesin was op reis na die Suid-Afrikaanse ooskus vir ’n vakansie. Die vrou se ouers was in ’n ander motor net voor hulle. Skielik het ’n buiteband gebars. Terwyl hulle dit langs die pad wou omruil, het ’n dronk bestuurder in die twee motors vasgejaag. Die bejaarde man en sy vrou het gesterf. Die jonger man het ’n paar dae later gesterf. Sy vrou het gebreekte ribbes en ander beserings opgedoen. Haar baba het breinskade opgedoen en is gevolglik verlam.
Wat ’n tragedie was dit tog vir hierdie stomme gesin! Toe Carolann, die jong vrou se suster, die nuus gehoor het, was sy heeltemal verslae. Tragedies soos hierdie gebeur in alle lande. Bedroefde familielede en vriende wonder dikwels: ‘Is die dode werklik dood’, of . . .
‘Is die dode lewend?’
Feitlik alle godsdienste leer dat die siel onsterflik is. Gevolglik glo hulle volgelinge dat diegene wat sterf nie werklik dood is nie, maar nog in die hemel, vaevuur of hel voortleef. Volgens baie kerke se lering ervaar diegene in laasgenoemde plek tot in ewigheid verskriklike lyding. Maar sou ’n God van liefde sy skepsele werklik só laat ly?—1 Johannes 4:8.
Blykbaar nie, maar hoe kan ons seker wees? Beskou die volgende Bybelse bewyse sorgvuldig. “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Sê hierdie geïnspireerde woorde dat die eerste mens, Adam, ’n siel gegee is? Nee, hy het ’n siel, ’n lewende persoon, geword. Dit word bevestig deur die apostel Paulus, wat geskryf het: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.” Paulus het uit Genesis aangehaal.—1 Korinthiërs 15:45.
Kan die mensesiel sterf? Die profeet Esegiël het geskryf: “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20; Prediker 9:5, 10). Dit spreek vanself dat as die siel dood is, die persoon niks weet nie en derhalwe nie lyding kan ervaar nie. In sy eerste openbare toespraak na Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus gesê: “Elke siel wat nie na dié Profeet [Jesus] luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.” Die siel is dus sterflik.—Handelinge 3:23.
Sal die dode weer lewe?
Almal wat glo dat die Bybel waar is, weet dat Jesus gesterf het en op die derde dag opgewek is (Handelinge 10:39, 40). Hoe was dit moontlik? Deur die krag van God se heilige gees.
Was die opstanding van Jesus ’n uitsondering? Nee. Soos Paulus aan die gemeente in Korinthe geskryf het: “Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens . . . Christus” (1 Korinthiërs 15:20-22). Gevolglik sal baie uit die dood opgewek word. Jesus het ook gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe” (Johannes 5:28, 29). Dit waarborg die opstanding van miljoene.
As hierdie verduideliking jou belangstelling in die opstanding geprikkel het, sal jy dalk vra: ‘Wie gaan opgewek word, en wanneer?’ Kom ons bespreek daardie belangrike vrae.