Ouere manne—Bewaar julle pand
“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde [onder wie] die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy [met die bloed van sy eie Seun] verkry het.”—HANDELINGE 20:28, vgl. “NW”.
1. Wat maak deel van die Christelike pand uit?
JEHOVAH GOD het diegene in sy aardse organisasie ’n wonderlike pand gegee. Maar wat is ’n pand? Dit is iets waardevols wat toevertrou word aan ’n persoon wat rekenskap daarvan moet gee. Die “voorbeeld van gesonde woorde”, die waarheid wat deur die Skrif verskaf en as “voedsel op tyd” deur “die getroue en verstandige dienskneg” beskikbaar gestel word, maak deel van die Christelike pand uit (2 Timotheüs 1:13, 14; Mattheüs 24:45-47). Hierdie pand behels ook die bediening wat verband hou met die waarheid, wat binne sowel as buite die gemeente verkondig moet word (2 Timotheüs 4:1-5). Koninkryksverkondigers, met inbegrip van geesaangestelde ouere manne, moet die grootste waarde aan hierdie pand heg.
2. Watter bykomende pand het ouere manne, en wat het Petrus daaromtrent gesê?
2 Christen- ouere manne het ’n bykomende pand—die verantwoordelikheid om as herders toesig te hou oor God se kudde. Die apostel Petrus het in hierdie verband geskryf: “Ek vermaan die ouderlinge [“ouere manne”, NW] onder julle, ek wat ’n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ’n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.”—1 Petrus 5:1-4.
3. Waarvan moet Christen- ouere manne bronne wees?
3 Christen- ouere manne moet wees “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:1, 2). Dit beteken dat ouere manne bronne van veiligheid, vrede en stabiliteit moet wees vir God se knegte, sy skape. Daar word “meer” van ouere manne, of onderherders, van die kudde vereis, omdat ‘baie aan hulle toevertrou is’ (Lukas 12:48, NAV). En hulle het beslis ’n kosbare pand wat bewaar moet word.
Waarom is dit aan jou toevertrou?
4. Waarom is soveel ouere manne nodig?
4 Omdat daar wêreldwyd meer as 60 000 gemeentes van Jehovah se Getuies is, is tienduisende geestelik bekwame manne nodig om na God se kudde om te sien. Daar is talle ouere manne in elke land, en dit is verblydend. Wêreldwyd is daar gemiddeld sowat 60 Koninkryksverkondigers in elke gemeente. Ouere manne het dus baie werk om te doen.—1 Korinthiërs 15:58.
5. Op grond waarvan word ’n broer die voorreg gegee om as ’n ouere man te dien?
5 Is jy ’n ouere man? Waarom het jy hier-die geseënde voorreg dan ontvang? Omdat jy sekere dinge gedoen het, en omdat jy geestelike kwalifikasies het. Byvoorbeeld, jy het God se Woord ongetwyfeld ywerig bestudeer (Josua 1:7, 8). Jy het ongetwyfeld ywerig aan die veldbediening deelgeneem en ook ander gehelp om Koninkryksverkondigers te word. Nadat jy “’n proeftyd” deurgemaak het, het jy getrou as ’n bedieningskneg gedien. Jy het daarna gestreef om jou as ouere man te bekwaam en het besef dat ’n opsienersamp “’n voortreflike werk” is (1 Timotheüs 3:1, 10). Soos Timotheüs het jy “goeie getuienis gehad van die broeders” (Handelinge 16:2). Jy was waarskynlik in jou laat twintigerjare of ouer en het reeds lewenservaring opgedoen toe jy as ’n ouere man aanbeveel is. Die gemeente het jou reeds begin respekteer as ’n geestelik ryp, genaakbare broer wat doeltreffende skriftuurlike raad kan gee en vertroulikheid kan handhaaf.—Spreuke 25:9, 10.
Hoe jy jou pand kan bewaar
6, 7. Watter raad gee 1 Timotheüs 4:13-15 om ’n broer te help om sy pand as ouere man te bewaar?
6 Ja, as jy ’n ouere man is, was daar goeie redes waarom Christelike toesig aan jou toevertrou is. En hoe bevoorreg het jy tog gevoel! Maar hoe kan jy jou pand bewaar?
7 Een manier waarop jy jou pand as ouere man kan bewaar, is om positief en vlytig te wees in die uitvoering van jou pligte. Ons het almal meer of minder verantwoordelike toewysings in Jehovah se organisasie. Ken dus jou plek, en wees tevrede om jou ‘as ’n mindere te gedra’. (Lukas 9:46-48, NW; vergelyk Rigters 7:21.) Koester jou voorregte, en moet nooit “met ’n trae hand werk” nie (Spreuke 10:4). Moenie stagneer nie, maar maak met Jehovah se hulp vooruitgang in alle aspekte van die bediening. Ja, volg hierdie raad wat Paulus aan Timotheüs gegee het: “Jy [moet] aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge. Wees vlytig in hierdie dinge [“dink diep oor hierdie dinge na”, NW], leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 Timotheüs 4:13-15.
8. Wat sal ’n ouere man help om gesonde raad te gee en ander tydens vergaderinge iets geestelik verrykends mee te deel?
8 Sorg dat jy voortdurend ’n goeie, produktiewe rooster vir persoonlike studie volg. As ’n ouere man word daar met reg van jou verwag om gesonde skriftuurlike raad te gee. Het jy die hele Bybel peinsend deurgelees, moontlik etlike kere, om jou vir hierdie verantwoordelikheid toe te rus? (Spreuke 15:28). Wat van jou verhoogtoewysings? Berei dit goed voor en vra in gebed Jehovah se hulp sodat jy diegene wat ons vergaderinge bywoon iets geestelik verrykends kan meedeel. Veral ouere manne moet ‘sê wat goed is tot opbouing, sodat die hoorders daardeur iets gunstigs meegedeel kan word’.—Efesiërs 4:29, NW; Romeine 1:11.
9. Wat moet ’n ouere man volgens 2 Timotheüs 4:2 doen?
9 As ’n ouere man moet jy ag slaan op Paulus se vermaning: “Verkondig die woord; hou aan [in gunstige tyd, in moeilike tyd]; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timotheüs 4:2, vgl. NW). Paulus was bekommerd oor afvalligheid, want party in die gemeente ‘het oor woorde gestry’, ‘dwase strydvrae’ gevra en ‘was die waarheid nie gunstig gesind nie’ (2 Timotheüs 2:14-18, 23-25, vgl. NW; 3:8-13; 4:3, 4). Maar hetsy die gemeente ’n gunstige of moeilike tyd deurgemaak het, Timotheüs moes ‘die woord verkondig’. Dit sou medegelowiges versterk om afvalligheid teen te staan. Vandag moet ouere manne insgelyks die deurdringende Woord, of boodskap, van God verkondig, wat die hart bereik en mense aanspoor om by Jehovah se standaarde te bly.—Hebreërs 4:12.
10. Waarom moet ’n ouere man gereeld saam met sy gesinslede en ander in die veldbediening werk?
10 ’n Ouere man moet ooreenkomstig God se Woord lewe om met gesag te kan praat. Maar hy bewaar nie sy pand ten volle as hy “die woord” net binne die gemeente op die verhoog “verkondig” nie. In dieselfde konteks het Paulus Timotheüs gemaan: “Doen die werk van ’n evangelis.” Jy moet God se Woord “in die openbaar en van huis tot huis” verkondig om as ouere man ‘jou bediening te vervul’ (2 Timotheüs 4:5; Handelinge 20:20, 21, NW). Werk dus saam met jou gesinslede in die veldbediening. Dit kan die geestelike band tussen jou en jou vrou versterk en sal vir jou kinders baie voordelig wees. Ruim ook tyd in om saam met ander gemeentelede aan die predikingswerk deel te neem. Dit versterk geestelike bande en laat broederliefde toeneem (Johannes 13:34, 35). ’n Ouere man moet natuurlik daarna streef om sy kosbare tyd op gebalanseerde wyse tussen sy gesin en die gemeente te verdeel. Onderskeidingsvermoë sal voorkom dat hy te veel tyd aan die een bestee, sodat die ander verwaarloos en benadeel word.
11. Waarom moet ’n ouere man hom inspan om sy vermoë as ’n onderrigter te verbeter?
11 As jy jou pand as ouere man wil bewaar, moet jy jou ook inspan om jou vermoë as ’n onderrigter te verbeter. “Hy wat onderwys, laat hy hom toelê op sy onderwys”, het Paulus gesê, “of hy wat vermaan, laat hy hom toelê op sy vermaning” (Romeine 12:7, 8, NW). Aangesien ’n onderrigter as ’n instrukteur voor ander staan, het hulle ’n reg om veel van hom te verwag. As ’n ouere man ernstig fouteer in sy onderrig en dit probleme vir medegelowiges veroorsaak, sal God hom oordeel. Ja, onderrigters sal “’n groter oordeel” ondergaan (Jakobus 3:1, 2; Mattheüs 12:36, 37). Ouere manne moet dus ernstige studente van God se Woord wees en dit in hulle lewe toepas. Dan sal medegelowiges hulle skriftuurlike onderrig, wat deur persoonlike toepassing gerugsteun word, baie waardeer. Dit sal die gemeente ook teen onheilsame invloede, met inbegrip van afvalligheid, beskerm.
Vermy slaggate
12. Watter raad wat vroeër in hierdie tydskrif gepubliseer is, sal ’n ouere man help om misbruik van die tong te vermy?
12 Bewaar ook jou pand as ouere man deur slaggate te vermy. Een slaggat is misbruik van die tong as ’n onderrigter. Jehovah se organisasie beklemtoon al lank hoe belangrik versigtigheid op hierdie gebied is. In sy nommer van 15 Mei 1897 het hierdie tydskrif byvoorbeeld Jakobus 3:1-13 bespreek en van veral ouere manne gesê: “As hulle ’n welsprekende tong het, kan dit ’n kanaal van groot seën wees en baie tot die Heer, die waarheid en die weg van regverdigheid oorhaal; of, as dit daarenteen met dwaling besmet is, kan die tong feitlik onbeskryflike skade aanrig—afbreuk aan geloof, aan sedes, aan goeie werke. Dit is inderdaad so dat enigeen wat die gawe van onderrig uitoefen ’n groter verantwoordelikheid voor God en mense het. . . . Almal wat ’n fontein is waaruit die goddelike Woord voortkom, wat seën en verkwikking en krag bevat, moet sorg dat bitter water, valse leerstellings wat ’n vloek of skade sal meebring—en God tot oneer strek en sy Woord verdraai—nie in hulle ’n kanaal van uiting vind nie. Wanneer leiers vir vergaderinge gekies word, moet die ‘tong’-vereiste, soos hier uiteengesit, nie oor die hoof gesien word nie. Dié wat vurig is van tong moet nie gekies word nie, maar eerder dié wat sagmoediger is, die gematigdes, wat hulle tonge ‘in toom hou’ en noulettend probeer om net ‘die uitsprake van God te spreek’.” Hoe belangrik is dit tog dat ’n ouere man sy tong reg gebruik!
13. Watter gevare in verband met ontspanning moet ouere manne vermy?
13 Oormatige ontspanning is ook ’n slaggat wat vermy moet word. Ontspanning moet ’n Christen verfris en opbou, nie uitput en sy aandag verdeel nie. ’n Opsiener moet boonop “matig in gewoontes” wees (1 Timotheüs 3:2, NW). As jy jou in jou ontspanning deur matigheid laat lei, sal dit jou en jou gesin beskerm en ’n goeie voorbeeld vir die gemeente wees. Jy sal nouliks ’n goeie voorbeeld stel as jy feitlik elke naweek weggaan om te gaan ontspan terwyl jou medegelowiges ywerig aan die veldbediening deelneem. Die goeie nuus moet verkondig word, en ouere manne moet die voortou neem in hierdie werk as ywerige Koninkryksverkondigers.—Markus 13:10, vgl. NW; Titus 2:14.
14. (a) Watter skriftuurlike voorbeelde toon hoe belangrik dit is dat ouere manne teen geslagsonsedelikheid waak? (b) Watter herhaalde raad oor hulp aan geestelike susters moet ouere manne nie ignoreer nie?
14 Geslagsonsedelikheid is nog ’n slaggat wat vermy moet word. Die wêreld se sedebederf kan selfs ’n ouere man beïnvloed as hy nie die versoekings weerstaan wat Satan gebruik in sy pogings om God se volk hul onkreukbaarheid te laat prysgee nie. (Vergelyk Mattheüs 4:1-11; 6:9, 13.) Onthou dat die profeet Bileam, toe hy dit nie kon regkry om die Israeliete te vervloek nie, geredeneer het dat Jehovah hulle self sou vervloek indien hulle verlei kon word om aan seksaanbidding deel te neem. Daarom het Bileam die Moabitiese koning Balak geleer “om ’n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer”. Het hulle daardie slaggat vermy? Nee, want 24 000 Israeliete het gesterf in ’n plaag wat Jehovah oor hulle gebring het omdat hulle met Moabitiese vroue gehoereer en hulle voor hul gode neergebuig het (Openbaring 2:14; Numeri 25:1-9). Onthou ook dat selfs Dawid, ‘’n man na God se hart’, in die slaggat van geslagsonsedelikheid getrap het (1 Samuel 13:14; 2 Samuel 11:2-4). As ’n ouere man moet jy dus ag slaan op die herhaalde raad van ‘die getroue bestuurder’ om nooit alleen aan ’n geestelike suster hulp te verleen nie, maar om ’n ander ouere man by jou te hê wanneer jy hierdie verantwoordelikheid nakom.—Lukas 12:42.
15. Hoe kan ’n ouere man se gesin hom help om die slaggat van materialisme te vermy?
15 Materialisme is nog ’n slaggat wat ’n ouere man moet vermy. Wees tevrede met lewensbenodigdhede in die wete dat Jehovah genoegsaam sal voorsien (Mattheüs 6:25-33; Hebreërs 13:5). Leer jou gesin om spaarsaam te wees, want verkwisting beroof ’n mens van tyd en middele wat gebruik kan word om die gesin te help, sowel as om aan die veldbediening deel te neem, die gemeente te versterk en Koninkryksbelange te bevorder. ’n Ouere man vind baat by sy gesin se samewerking in hierdie verband en is dankbaar dat hulle nie druk op hom uitoefen om dinge aan te skaf wat nie werklik nodig is nie. Trouens, “’n bietjie in die vrees van die HERE” is beter as “’n groot skat en onrus daarby”.—Spreuke 15:16.
“Gee dan ag op julleself”
16. Watter raad het Paulus die opsieners in Efese gegee?
16 As ouere manne hulle pand wil bewaar, moet hulle Paulus se raad aan die opsieners in Efese toepas. Hy het vir hulle gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde [onder wie] die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur [die bloed van sy eie Seun] verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie [met teerheid sal behandel] nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.”—Handelinge 20:28-31, vgl. NW.
17, 18. Watter raad wat sowat 80 jaar gelede in hierdie tydskrif gepubliseer is, geld steeds vir Christen- ouere manne?
17 Meer as 80 jaar gelede het The Watch Tower (1 Maart 1909) Paulus se pas gemelde raad aan mede- ouere manne aangehaal en gesê: “Alle Ouere Manne moet besonder versigtig wees; want in elke beproewing het die mees begunstigde en prominentste persone die kwaaiste probleme en toetse. Daarom maan [Jakobus]: ‘Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.’ Ons maan al die Ouere Manne wat rein en onselfsugtig van hart is eweneens dat hulle net liefde en seënwense vir alle mense moet hê en dat hulle al hoe meer gevul moet word met die vrug en deugde van die heilige Gees, en dat hulle ook ag moet gee op die kudde. Onthou dat die kudde die Heer s’n is en dat julle ’n verantwoordelikheid teenoor die Heer sowel as hulle het. Onthou dat julle vir hulle siele (belange) moet waak as diegene wat rekenskap moet gee aan die Groot Opperherder. Onthou dat Liefde die belangrikste in alle dinge is; en terwyl julle nie leerstellings afskeep nie, moet julle besondere aandag skenk aan die ontwikkeling van die Heer se Gees onder die verskeie lede van sy Liggaam, sodat hulle sodoende ‘bekwaam kan word om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig’, en, ooreenkomstig die goddelike wil, nie gestruikel word in hierdie bose dag nie, maar, nadat hulle alles volbring het, staande kan bly in Christus, sy Liggaam, sy Lede, sy Mede-Offeraars, sy Mede-Erfgename.”
18 Daardie woorde is ooreenkomstig die begrip en omstandighede van Jehovah se organisasie in daardie vroeë jare tot geesgesalfde ouere manne en medegelowiges gerig. Maar hoe geldig is daardie raad tog vandag! Hetsy hulle ’n hemelse of aardse hoop het, Christen- ouere manne moet ag gee op hulleself, hulle pand bewaar en liefdevol na die belange van God se kudde omsien.
Die bewaring van jou pand bring vreugde mee
19, 20. Waarom kan daar gesê word dat dit vreugde meebring as ouere manne hulle pand bewaar?
19 As jy jou pand as ’n Christen- ouere man bewaar, sal dit geluk—trouens, innige vreugde—meebring. Dit verskaf ’n mens vreugde as jy ’n ernstige verantwoordelikheid goed nakom. Wees dus versigtig, biddend, ywerig. Bewaar jou pand as ouere man en sien uit na die tyd wanneer jy, soos die man met die skrywer se inkpot, sal kan sê: “Ek het gedoen soos U my beveel het.”—Esegiël 9:3, 4, 11.
20 Ja, werk lojaal as ’n ouere man, sodat dieselfde van jou as van Noag gesê kan word: “Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen” (Genesis 6:22). Sulke ywerige diens strek die gemeente op talle maniere tot voordeel. Bowenal word Jehovah geëer deur sterk, bedrywige gemeentes wat bedien word deur getroue ouere manne wat hulle pand bewaar. Maar meer is nodig voordat daar, as ’t ware, vir jou gesê kan word: “Mooi so, goeie dienskneg”! (Lukas 19:17). As ’n ouere man moet jy God se kudde ook met teerheid behandel.
Wat sou jy sê?
◻ Watter bykomende pand het Christen- ouere manne?
◻ Watter positiewe stappe kan ’n ouere man doen om sy pand te bewaar?
◻ Watter slaggate moet ’n ouere man vermy om sy pand te bewaar?
◻ Waarom bring dit vreugde mee as ouere manne hulle pand bewaar?
[Prent op bladsy 10]
Christen- ouere manne moet soos “’n skuiling teen die stortreën” wees
[Prent op bladsy 12]
As ouere man moet jy gereeld saam met jou gesinslede en ander aan die veldbediening deelneem
[Prent op bladsy 13]
As jy jou pand as ouere man bewaar, sal dit die gemeente op talle maniere tot voordeel strek