Heerskappy deur God—die beste weg
DIE geskiedenis van regerings lewer bewys dat onvolmaakte mense nie behoorlik mag oor ander mense kan uitoefen nie. Soos lord Acton van Engeland gesê het: “Mag is geneig om te verderf, en absolute mag verderf absoluut.” Daarom sê die Bybel: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”—Prediker 8:9.
Jehovah God het die mens oorspronklik heerskappy oor die diere gegee, maar nie oor ander mense nie. God het vir sy eerste geskape Seun in die hemel gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:26). Die mens se Skepper was sy Heerser. Hoe het dit dan verander?
Toe die mens in die tuin van Eden in opstand gekom het, het hy God as sy Heerser verwerp en dit sedertdien deurentyd gedoen (Genesis, hoofstuk 3). Dit word duidelik toegelig deur eertydse Israel, ’n nasie wat God as sy eie gekies het. Toe die Israeliete om ’n menslike koning gevra het, het Jehovah vir sy profeet Samuel gesê: “Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle.”—1 Samuel 8:7, NAV.
God het welwillend oor die Israeliete geheers. Jehovah het hulle deur sy verteenwoordiger, Moses, ’n stel wette gegee wat liefdevolle besorgdheid vir hulle welsyn getoon het. Dit het hulle teen baie siektes beskerm en bedagsaamheid teenoor die bejaardes, die weduwees en die wese bevorder. Die Wet het respek vir die eiendom van ander en eerlikheid in saketransaksies vereis. Dit het partydigheid, valse getuienis en omkopery veroordeel. God se heerskappy was waarlik regverdig en reg.
Jehovah het beloof om nie net oor Israel te heers nie, maar oor die hele mensdom. Hy sou sondige mense hulle mag om oor ander mense te heers ontneem en dit aan sy eniggebore Seun gee. God het dit in Esegiël se profesie voorspel: “Dit sal stellig niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek moet dit aan hom gee.”—Esegiël 21:27, NW.
God het Jesus Christus die wetlike reg gegee om as ’n verteenwoordiger van Jehovah se soewereiniteit oor die mensdom te heers. Omdat God se Koninkryk in die hande van Christus die beste regeringsvorm oor die hele mensdom is, het Jesus sy luisteraars geleer om daarvoor te bid. “Só moet julle dan bid”, het Christus gesê: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.
Jesus het deur die manier waarop hy mense behandel het, getoon watter soort heerser hy sou wees. Christus het beslis medelye gehad, want “toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Mattheüs 9:36). Jesus het getoon hoe diep sy liefde vir sy volgelinge is toe hy gesê het: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Hy het mense lief genoeg gehad om sy lewe as ’n losprys te gee. Daardie offerande stel diegene wat dit aanvaar in staat om van sonde, siekte en selfs die dood bevry te word.—1 Johannes 2:1, 2; Openbaring 21:1-4.
Toe die profeet Jesaja voorspel het hoe God se heerskappy in Jesus Christus se hande regverdig, reg en vreedsaam sou wees, is hy geïnspireer om te skryf: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”—Jesaja 9:5, 6.
Aardse verteenwoordigers van God se heerskappy sal wees soos manne wat nou as opsieners in die ware Christengemeente Jesus se liefdevolle eienskappe weerspieël. Anders as die tirannieke geestelikes, toon hierdie manne net soos Jesus Christus liefdevolle besorgdheid oor die kudde. Wat sulke godvrugtige manne betref, het die profeet Jesaja geskryf: “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg” (Jesaja 32:1). Sulke verteenwoordigers van God se heerskappy sal ook goddelike belange in die nuwe wêreld bevorder.—Psalm 45:17.
’n Groot verandering ophande!
Voordat God se Koninkryk onbetwis oor die mensdom begin regeer, moet ’n groot verandering plaasvind. Hierdie verandering sal nasionale skeidings uit die weg ruim. Pleks van talle twistende menseregerings sal daar een regverdige hemelse regering wees wat die mensdom sal verenig as een volk wat in vrede lewe. Die profeet Daniël het dit voorspel en geskryf: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke [menseregerings] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
God se heerskappy is die enigste oplossing vir die regeringsprobleme wat die mensdom vandag ondervind. Die situasie waarin mense hulle nou bevind, bedreig hulle voortbestaan! En daar is geen menslike oplossing wat kan slaag nie. Dit sal dus verstandig wees om ag te slaan op die Bybel se oplossing en om met vertroue uit te sien na die nabye toekoms wanneer regskape mense hulle sal verheug onder die onbetwiste en geseënde heerskappy van God.
[Prent op bladsy 6]
“’n Koning sal regeer in geregtigheid”