Heerskappy deur geestelikes—Is dit die oplossing?
MENSE oor die hele wêreld is moeg vir ongeregtigheid, onderdrukking en politieke korrupsie. Hulle wil iets beters hê, soos blyk uit hul pogings om politieke leiers te vervang. Maar nuwe leiers stel selde of ooit die volk tevrede.
Party meen dat heerskappy deur geestelikes ’n beter regering tot gevolg sal hê. Hulle meen dat geestelikes regeringsake met godvrugtigheid sal behartig. Dit was waarskynlik met die oog hierop dat geestelike Marion (Pat) Robertson, ’n kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap in 1988, gebid het dat “godvrugtige mense” tot politieke ampte benoem sou word. Maar sal dit regtig in die behoefte aan beter regeerders voorsien?
Toe geestelikes Europa geregeer het
Die geestelikes het gedurende die Middeleeue ontsaglike wêreldlike mag gehad. Pouse kon selfs konings kroon en onttroon! In 800 G.J. het pous Leo III die Frankiese koning Karel die Grote tot keiser van die Heilige Romeinse Ryk gekroon. Hierdie ryk het duisend jaar lank die eenheid tussen Kerk en Staat verteenwoordig, en die geestelikes het gedurende daardie tyd in mindere of meerdere mate mag oor wêreldlike instansies uitgeoefen.
Die pousdom het van die 11de eeu af die rol van leier in Europa oorgeneem. The Columbia History of the World, geredigeer deur John Garraty en Peter Gay, sê in hierdie verband: “Die kerk was Europa se grootste regering.” Hierdie boek merk ook op dat die kerk “meer politieke mag [kon] uitoefen as enige ander Westerse regering”. Hoe het die mense onder die heerskappy van geestelikes gevaar?
Niemand kon aanbid soos hy wou of menings uitspreek wat van die geestelikes s’n verskil het nie. Hierdie klerikale onverdraagsaamheid het ’n klimaat van vrees dwarsdeur Europa geskep. Die kerk het die Inkwisisie ingestel om van mense ontslae te raak wat dit gewaag het om ander beskouings te huldig. Hulle is as ketters beskou en moes voor inkwisiteurs verskyn wat hulle vir belydenisse gemartel het. Dikwels is diegene wat skuldig bevind is op die brandstapel verbrand.
Wat die heerskappy van geestelikes in Spanje betref, sê The Columbia History of the World: “Oorloë en die kruistogideologie het ’n ortodokse en snobagtige adel en geestelikeklas wat ál die mag in die staat gehad het, saamgesmee. Sensuur en die Inkwisisie, wat gebruik is teen enigiemand wat teen amptelike teologie of staatsbeleid geprotesteer het, het die intellektuele lewe ’n knou toegedien.”
In sy boek The Age of Faith het Will Durant gesê: “As ons elke toegewing maak wat van ’n geskiedskrywer vereis word en vir ’n Christen toelaatbaar is, moet die Inkwisisie, tesame met die oorloë en vervolginge van ons tyd, onder die donkerste skandvlekke in die mensdom se geskiedenis tel, waardeur ’n wreedheid aan die lig gebring is wat in geen dier voorkom nie.” In die Middeleeue het heerskappy deur die geestelikes die vernietiging van persoonlike vryhede beteken.
Het die Protestantse hervormer Johannes Calvyn van die Katolieke geestelikes verskil? Wel, beskou wat gebeur het toe Michael Servetus vervolging deur Spaanse geestelikes ontvlug het en in Genève, Switserland, gevange geneem is. Calvyn het ’n gemeenskap aldaar gestig waaroor hy en sy geestelikes met absolute mag geregeer het. Omdat Servetus die Drie-eenheidsleer geloën het, het Calvyn reggekry wat die Inkwisisie nie kon nie. Servetus is weens kettery ter dood veroordeel en op die brandstapel verbrand. Calvyn het dus dieselfde onverdraagsaamheid as die Katolieke geestelikes geopenbaar.
Het die geestelikes se oorheersing van wêreldlike regerings vrede vir die mense van Europa beteken? Allermins. Pleks van vrede te geniet, moes hulle jare lank oorloë wat deur die geestelikes aangestig is, verduur. Pous Urbanus II het die Eerste Kruistog van stapel gestuur en sodoende ’n reeks oorloë begin wat 200 jaar lank geduur het. Verder het die geestelikes se veldtogte teen mense wat as ketters beskou is die dood van duisende mans, vroue en kinders tot gevolg gehad.
Het heerskappy deur geestelikes korrupsie beëindig? Hoegenaamd nie. Die boek A History of the Modern World, deur R. R. Palmer en Joel Colton, sê: “Die kerk is al hoe meer deur geld bederf. Niemand het in omkopery geglo nie; maar almal het geweet dat talle hooggeplaaste geestelikes (soos baie van die hooggeplaaste burgerlike amptenare van die dag) omgekoop kon word.” Korrupsie onder die geestelikes was ’n algemene klagte.
Het heerskappy deur geestelikes meegebring dat die gewone mense met deernis behandel is? Hoegenaamd nie. Beskou byvoorbeeld wat gebeur het toe kardinaal Richelieu van Frankryk tydens die heerskappy van Lodewyk XIII die beheer oor staatsake gekry het. Die boek The History of the Nations, geredigeer deur Henry Cabot Lodge, sê dat Richelieu se “beleid gegrond was op die vernietiging van Franse vryhede”.
Gedurende die 17de eeu het geestelikes dikwels oor Indianedorpe in Mexiko geheers. Volgens die boek Many Mexicos, deur Lesley Simpson, het geestelikes die geselpaal beskou as “’n onontbeerlike hulpmiddel vir die inprenting en behoud van Christendeugde, asook vir die toediening van straf vir sekulêre oortredings”.
Geskiedenisboeke stel ons dus in staat om die rekord van heerskappy deur geestelikes deur die eeue heen te ondersoek. Wat bring daardie rekord aan die lig? Skokkende miskenning van die geluk, welsyn en vryhede van die gewone mense. Heerskappy deur geestelikes was inderdaad ondraaglike despotisme. Soos Daniel Defoe in sy werk The True-Born Englishman geskryf het: “En van al die plae wat die mensdom teister, is kerklike tirannie die ergste.”
Dit is dus duidelik dat heerskappy deur geestelikes nie in die mensdom se behoefte aan ’n beter regering kan voorsien nie. Tot wie kan ons ons dus wend? Die oplossing is binne almal se bereik, soos ons sal sien.
[Prent op bladsy 4]
Die Protestant Calvyn het dieselfde onverdraagsaamheid as die Katolieke geestelikes geopenbaar
[Erkenning]
Trustees of the British Museum, met vriendelike vergunning van