Abraham—God se profeet en vriend
DIE verenigde leërs van vier Oosterse konings steek die Eufraatrivier oor. Hulle marsroete is die Koningsweg, oos van die Jordaanriviervallei. Op pad verower hulle die Refaïete, die Susiete, die Emiete en die Horiete. Dan draai die invallers om en verslaan al die inwoners van die suidelike Negeb, of die Suidland.
Wat is die doel van hierdie militêre veldtog? Tussen die verowerde streke van Transjordanië en die Negeb lê die prys. Dit is ’n veelbegeerde vallei wat die Jordaanstreek genoem word (Genesis 13:10). Hier geniet die inwoners van vyf stadstate, Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Bela, ’n sorglose lewe in materiële voorspoed (Esegiël 16:49, 50). Hulle was vroeër onderhorig aan Kedor-Laomer, die koning van Elam, wat blykbaar die leier van die verenigde leërs is. Maar hulle het teen hom gerebelleer. Nou moet hulle, sonder die hulp van omliggende nasies, rekenskap lewer. Kedor-Laomer en sy bondgenote wen die gevolglike geveg en begin hulle lang tog huis toe met baie buit.
Onder die gevangenes is ’n regverdige man, Lot. Hy is die neef van Abraham, wat in die nabygeleë berge van Hebron in tente woon. Toe Abraham die ontstellende nuus hoor, roep hy dadelik 318 van sy manne bymekaar. Met die ondersteuning van sommige bure, agtervolg hulle die vier konings moedig en verras hulle hul leërs gedurende die nag. Die invallers vlug. Lot en sy huishouding, sowel as die ander gevangenes en besittings, word teruggeneem.
Watter rede het ons om hierdie verslag in die 14de hoofstuk van Genesis te glo? Is die verhaal versin om die voorvader van verskeie nasies, die Jode inkluis, ’n volksheld te maak? Wat van ander gebeure in die lewe van Abraham?
Wat geestelikes gesê het
Vroeg in die 19de eeu het die Lutherse teoloog Peter von Bohlen beweer dat Abraham ’n mite was en dat die verslag van Kedor-Laomer se inval geen geskiedkundige grondslag het nie. Professor Julius Wellhausen het insgelyks gesê: “Ons het geen geskiedkundige kennis van die aartsvaders nie.” Hy het voorgestel: “[Abraham] kan na alle waarskynlikheid as ’n vrye skepping van onbewuste kuns beskou word.”
Engelse teoloë het die leiding van hulle Duitse kollegas gevolg. “Die groot patriargale verhale in die boek Genesis is prehistories, geskiedkundig niks waarder as die verhale van . . . koning Arthur nie”, het geestelike Stopford Brooke in sy boek The Old Testament and Modern Life geskryf. “Uit . . . Genesis . . . kry ons net ’n gebroke en verdraaide oorsig van die lewe en karakter van al die aartsvaders”, het John Colenso, Anglikaanse biskop van die voormalige Britse kolonie van Natal, geskryf. “Dit is onmoontlik”, het hy bygevoeg, “om volkome vertroue in enige van hierdie verslae te stel.”
Sulke kritiek het soos kanker versprei (2 Timotheüs 2:17). Vandag neem miljoene kerkgangers die lewe van die aartsvaders nie meer ernstig op nie. Maar tot die skande van die Christendom se teoloë sê ateïste nou dat Bybelkritiek te ver gegaan het. Die Bol’shaia Sovetskaia Entsiklopediia (Groot Sowjetensiklopedie) sê byvoorbeeld: “In onlangse jare is ’n klomp punte van Bybelkritiek in die lig van nuwe navorsing herondersoek, veral op grond van die gegewens van sogenaamde Bybelse argeologie. Party Bybelse tradisies wat as ’n mite beskou is . . . het blykbaar ’n geskiedkundige kern.” Beskou hoe argeologie lig op die verslag oor Abraham gewerp het.
Ur van die Chaldeërs
Volgens die Bybel is Abraham in “Ur van die Chaldeërs” grootgemaak (Genesis 11:27-31; 15:7). Ur se ligging was eeue lank ’n raaisel. Kritici het geglo dat dit, indien dit enigsins bestaan het, ’n onbeduidende, onontwikkelde plek was. Toe word ruïnes tussen Babilon en die Persiese Golf tot hul verleentheid onmiskenbaar as dié van Ur geïdentifiseer. Duisende kleitablette wat op die terrein opgegrawe is, het getoon dat Ur ’n middelpunt van wêreldhandel was, met ’n groot, kosmopolitiese bevolking. In Abraham se tyd het die stad selfs skole gehad waar seuns geleer is om te skryf en rekenkunde te doen.
Opgrawings by Ur het verder getoon dat sy argitekte die pilaar, die boog, die gewelf en die koepel gebruik het. Ur se vakmanne het fyn juweliersware, ryklik versierde harpe en dolke met lemme van suiwer goud vervaardig. In verskeie huise het argeoloë rioolpype opgegrawe wat van gebakte klei gemaak was en in groot dreineringsputte, wat tot 12 meter diep was, afgeloop het.
Hierdie ontdekkings het baie geleerdes ’n nuwe siening van Abraham gegee. “Ons was gewoond om aan Abraham as ’n eenvoudige tentbewoner te dink, en vind dat hy moontlik in ’n deftige baksteenhuis in ’n stad gewoon het”, het sir Leonard Woolley in sy boek Digging Up the Past geskryf. “Abraham”, het argeoloog Alan Millard in sy boek Treasures From Bible Times gesê, “het die hoogs ontwikkelde stad met al sy sekuriteit en geriewe verlaat om een van die veragtelike swerwers te word!”
Kedor-Laomer se inval
Wat van Abraham se oorwinning oor Kedor-Laomer, die koning van Elam? Vroeg in die 19de eeu was baie min bekend oor die Elamiete. Bybelkritici het die idee verwerp dat Elam ooit invloed oor Babilonië, wat nog te sê Palestina, gehad het. Nou word die Elamiete in ’n ander lig beskou. Argeologie toon dat hulle ’n magtige, oorlogvoerende nasie was. Funk & Wagnalls Standard Reference Encyclopedia sê: “Die Elamiete het die stad Ur omstreeks 1950 v.C. vernietig . . . Daarna het hulle groot invloed oor die heersers van Babilonië uitgeoefen.”
Verder is die name van Elamitiese konings op argeologiese inskripsies gevind. Party van hulle begin met die woord “Koedoer” wat soortgelyk is aan “Kedor”. ’n Belangrike Elamitiese godin was Lakamar wat soortgelyk is aan “Laomer”. Kedor-Laomer word dus nou deur sommige sekulêre bronne as ’n geskiedkundige heerser aanvaar, en sy naam beteken heel moontlik “Dienaar van Lakamar”. Een stel Babiloniese inskripsies het name wat soortgelyk is aan drie van die invallende konings—Toedoela (Tideal), Erie-Akoe (Ariog) en Koedoer-Lamil (Kedor-Laomer) (Genesis 14:1). In die boek Hidden Things of God’s Revelation voeg dr. A. Custance by: “Behalwe hierdie name was daar besonderhede wat blykbaar dui op gebeure wat in Babilonië plaasgevind het toe die Elamiete hulle heerskappy oor die land opgerig het. . . . Hierdie kleitablette het die Skrif in so ’n mate bevestig dat die Hoër Kritici daarteen te velde getrek het en alles in hulle vermoë gedoen het om die belangrikheid daarvan opsetlik te onderdruk.”
Wat van die inval deur die vier konings? Is daar enige argeologiese bewys in Transjordanië en die Negeb om dit te steun? Ja. In sy boek The Archaeology of the Land of Israel meld professor Yohanan Aharoni die verdwyning van ’n voor-Israelitiese beskawing wat “om en by 2000 v.G.J.” “indrukwekkende” nedersettings in Transjordanië en die Negeb gehad het. Ander argeoloë sê dat dit omstreeks 1900 v.G.J. gebeur het. “Die erdewerk van hierdie tydperk, in beide die Negeb en Transjordanië, is eenders en toon albei ’n skielike, rampspoedige beëindiging van die beskawing”, sê dr. Harold Stigers in sy Commentary on Genesis. Selfs Bybelkritici, soos John van Seters, aanvaar die bewys hiervoor. “Een onopgeloste probleem is waarheen hierdie mense aan die einde van die tydperk gegaan het, indien hulle êrens heen getrek het”, sê hy in sy boek Abraham in History and Tradition.
Genesis hoofstuk 14 verskaf ’n moontlike oplossing vir die probleem. Volgens Bybelchronologie het Abraham in 1943 v.G.J. in Kanaän aangekom. Kedor-Laomer se vernietigende inval moes kort daarna plaasgevind het. Later in dieselfde eeu het God ’n vurige vernietiging oor die onsedelike stede Sodom en Gomorra gebring. Dit het die ekologie van die eens vrugbare Benede-Jordaanvallei vir ewig verander (Genesis 13:10-13; 19:24, 25). Dit het vreemde invallers nie meer gelok nie.
Daar is baie ander voorbeelde van hoe argeologie by die Skrif inpas deur lig te werp op gebeure in Abraham se lewe. Maar argeologie het sy beperkinge. Die getuienis wat dit voorsien, is dikwels indirek en onderworpe aan die vertolking van onvolmaakte mense.
Die betroubaarste getuienis
Die sterkste bewys dat Abraham werklik bestaan het, is die getuienis van die mens se Skepper, Jehovah God. In Psalm 105:9-15 het God goedkeurend van Abraham, Isak en Jakob as sy “profete” gepraat. Meer as duisend jaar na Abraham se dood het Jehovah God by monde van ten minste drie profete van Abraham gepraat en hom selfs sy “vriend” genoem (Jesaja 41:8; 51:2; Jeremia 33:26; Esegiël 33:24). Jesus Christus het Abraham eweneens as ’n voorbeeld voorgehou. Gedurende sy voormenslike bestaan in die hemel het God se Seun sy Vader se handelinge met die aartsvader persoonlik aanskou. Hy kon dus vir die Jode sê:
“As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie. Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.”—Johannes 8:39, 40, 56-58.
Met die getuienis en aanmoediging van die twee belangrikste Persone in die heelal het ons die allerbeste redes om alles te aanvaar wat die Bybel oor Abraham sê (Johannes 17:5, 17). Hoewel die Bybel Abraham as ’n voorbeeld voorhou, verhef dit hom nie tot die vlak van ’n volksheld nie. Dit kan gesien word deur die verslag van sy oorwinning oor die vier verbonde konings te ondersoek. Toe Abraham van die geveg teruggekeer het, het Melgisedek, die koning van Salem, hom gegroet en gesê: “Geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het.” Hy het Jehovah vir daardie verlossing geloof.—Genesis 14:18-20.
’n Baie groter oorwinning is egter ophande! Binnekort gaan dieselfde glorieryke God ‘die konings van die hele wêreld’ tydens die globale oorlog, wat Armageddon genoem word, verslaan (Openbaring 16:14, 16). Dan sal God se belofte aan Abraham, sy profeet en vriend, volkome vervul word: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.” Miljoene geniet nou ’n voorsmaak van hierdie seëninge. Jy kan onder hulle wees, soos die artikels op bladsye 18-28 van hierdie tydskrif sal toon.—Genesis 22:18.
[Kaart/Prente op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Groot See
DIE NEGEB
Damaskus
Haran
Eufraatrivier
Tigrisrivier
Ur
ELAM
Persiese Golf
[Kaart]
Damaskus
Dan
REFAÏETE
SUSIETE
Sigem
Bet-el
Jordaanstreek
Soutsee
Hebron
DIE NEGEB
Koningsweg
EMIETE
Gomorra
Sodom
HORIETE
[Prente]
Abraham was gehoorsaam en het uit Ur, ’n baie welvarende stad, getrek
Voorbeelde van artefakte uit Ur:
1. Goue dolk en skede
2. Die ‘vaandel’ van Ur
3. Goue bulkop van ’n harpresonansiekas
4. Juweliersware
5. Juweelversierde hooftooisel
[Erkenning]
Foto’s: Met vriendelike vergunning van die British Museum