Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/15 bl. 4-7
  • Moet babas gedoop word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet babas gedoop word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tradisie van God of van mense?
  • ‘By die rand van die hel’
  • Die debat vlam weer op
  • Kinderdoop en jou kind
  • Kinderdoop—Waarom party priesters nee sê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Moet babas gedoop word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wat is doop?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Doop – ’n Wonderlike doelwit!
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/15 bl. 4-7

Moet babas gedoop word?

Die baba lyk nouliks na ’n sondaar. Tog gaan hierdie eeue-oue rite juis om die afwas van sondes. Die peetvader verloën Satan en sy werke drie maal. ’n Priester neem dan ’n bakkie en gooi drie maal saggies water op die voorkop van die kind terwyl hy sê: “Ek doop jou in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees.”

BYNA twee millenniums al word babas tydens ’n plegtigheid soos hierdie gedoop. Ouers beskryf dit moontlik as ’n diep roerende ondervinding. Maar vind die gebruik sy oorsprong in God se Woord? Katolieke teoloë erken dat dit nie die geval is nie.​—Kyk die New Catholic Encyclopedia, Deel 2, bladsy 69.

Lees gerus die Bybelboek Handelinge deur, en jy sal gou sien dat die doop onder vroeë Christene bedoel was vir mense wat met begrip ‘na woorde kon luister en dit kon aanneem’ en wat hulle kon ‘bekeer’ (Handelinge 2:14, 22, 38, 41). Dit is nouliks dinge wat ’n baba kan doen! Die Bybel praat weliswaar van hele huisgesinne, soos dié van Cornelius, wat gedoop is.a Maar selfs dan was die doop vir die wat “die woord gehoor het”​—nie vir babas nie.​—Handelinge 10:44-47.

’n Tradisie van God of van mense?

Omdat hy nie ’n Bybelse presedent kan aanhaal nie, sê die Vatikaan: “Die gebruik om babas te doop, word beskou as ’n reël van onheuglike tradisie.” Maar is hierdie tradisie deur Jesus Christus voorgeskryf? Nee, want kinderdoop het eers ’n hele ruk na die dood van die apostels in swang gekom. Aan die einde van die tweede eeu het kerkvader Tertullianus aangevoer: “Laat [kinders] Christene word wanneer hulle in staat is om Christus te ken.”

Die apostel Paulus het egter gewaarsku dat daar naderhand ’n tyd sou aanbreek “wanneer [mense] die gesonde leer nie sal verdra nie” (2 Timotheüs 4:3). Nadat die apostels gesterf het en nie meer die afval kon “teëhou” nie, het onskriftuurlike gebruike in Christelike aanbidding begin insluip (2 Thessalonicense 2:6). Een van daardie gebruike was kinderdoop. Maar kinderdoop het nie voor die vyfde eeu die reël geword nie. Toe het daar ’n vurige debat plaasgevind wat die Christendom vir ewig verander het.

Dit het begin toe ’n Britse monnik met die naam Pelagius ’n reis na Rome onderneem het. Ontsteld oor die korrupsie wat hy daar onder sogenaamde Christene gesien het, het die geestelike begin om mense tot “groter morele inspanning” aan te spoor. Die mens kan nie ‘erfsonde’ die skuld gee vir sy swakhede nie, het Pelagius gesê. “Alles wat goed en alles wat kwaad is, . . . word deur ons gedoen, nie met ons gebore nie.” Die Pelagiaanse leer het vinnig deur die Christendom versprei.

Maar dit was nie lank gewild nie. Kerkleiers het hierdie verloëning van ‘erfsonde’ as kettery beskou. En Pelagius het onbewus so reg in hulle kaarte gespeel deur ’n gebruik voor te staan wat toe reeds gewild was​—kinderdoop. ’n Biskop met die naam Augustinus het dit as ’n skreiende teenstrydigheid beskou. As babas gedoop moet word’, het Augustinus geredeneer, ‘wat van die wat ongedoop is?’ Die oënskynlik logiese slotsom was dat hulle in die helse vuur sou beland omdat hulle ongedoop is. Met hierdie punt skynbaar bewese het Augustinus die doodsteek gegee: Aangesien ongedoopte babas inderdaad die verdoemenis ingaan, wat anders as ‘erfsonde’ kan daarvoor verantwoordelik wees?

Die Pelagiaanse leer het in duie gestort. By ’n konsilie in Carthago is Pelagius se leerstellings tot kettery verklaar. ‘Erfsonde’ het net so ’n onafskeidelike deel van Katolisisme geword as die biegstoel. En die kerk is toe gerig op die weg van massabekerings​—dikwels gedwonge—​om mense van die ‘helse vuur’ te red. Kinderdoop is verhoog van ’n gewilde gebruik tot ’n amptelike instrument van saligheid, ’n instrument wat later aan die Protestantisme nagelaat is.

‘By die rand van die hel’

Augustinus se leer het ’n paar baie netelige vrae laat ontstaan: Hoe kan ’n God van liefde onskuldige babas in die hel folter? Sal ongedoopte babas dieselfde straf as verstokte sondaars ontvang? Dit was nie vir teoloë maklik om antwoorde te vind nie. Katolieke priester Vincent Wilkin sê: “Sommige het ongedoopte babas die volle foltering van die vlamme van die hel laat ondergaan, ander het geglo dat hulle nie deur die vlamme verteer word nie maar bloot verhit word tot ’n temperatuur waar hulle groot ongerief verduur; ander het die ongerief die allergeringste gemaak wat in die hel moontlik is . . . Sommige het hulle in ’n aardse paradys geplaas.”b

Die teorie wat egter die heel gewildste geword het, is dat die siele van ongedoopte babas in limbus gehou word. Hierdie woord beteken letterlik “rand” (soos die rand, of soom, van ’n kledingstuk) en beskryf ’n streek wat kwansuis aan die rand van die hel lê. Vir teoloë is limbus ’n baie gerieflike idee. Dit temper ten minste die afgryslike gedagte dat babas gefolter word.

Maar soos enige mensgemaakte teorie het limbus sy probleme. Waarom word dit nie in die Skrif gemeld nie? Kan babas uit limbus kom? En waarom moet onskuldige babas in die eerste plek daarheen gaan? Begryplikerwys stel die kerk dit duidelik dat limbus “nie ’n amptelike Katolieke dogma is nie”.c​—New Catholic Encyclopedia.

Die debat vlam weer op

Eeue lank het Katolieke basies die Augustynse beskouing gehuldig en hulle kinders deur die doop ‘limbusvry’ gemaak. Sedert die vyftigerjare was daar egter ’n dramatiese herlewing van die debat oor kinderdoop. Katolieke geleerdes het ernstige bedenkinge begin uitspreek oor die Skriftuurlikheid van die gebruik. Ander erken dat hulle nòg Augustinus se idees oor die helse vuur, nòg limbus kan aanvaar.

Aanvanklik was konserwatiewe kerkleiers egter onversetlik. In 1951 het pous Pius XII ’n groep vroedvroue toegespreek. Hy het die opvatting herbevestig dat “die genadestaat by die doodsoomblik absoluut noodsaaklik is vir die saligheid” en die vroedvroue aangespoor om self die dooprite uit te voer as dit lyk of ’n pasgebore kind gaan sterf. “Moet dan nie versuim om hierdie liefdesdiens te bewys nie”, het hy gemaan. In 1958 het die Vatikaan eweneens ’n streng waarskuwing uitgereik dat “babas so gou moontlik gedoop moet word”.

Na die beroemde Vatikaan II-konsilie het die polemiek egter opnuut opgevlam. Die kerk het ’n verrassende stap gedoen in ’n poging om konserwatiewe en liberale standpunte te verenig. ‘Die doop is absoluut noodsaaklik vir die saligheid’, het die konsilie gesê. Maar eienaardig genoeg was die saligheid ook moontlik vir die “wat sonder eie toedoen onkundig is omtrent die evangelie van Christus”.d

Die kerk het die saak verder gevoer deur die kinderdooprite te hersien. Priesters het nou onder meer die keuse gehad om die doop te weier as die kind se ouers nie belowe het om hom as ’n Katoliek groot te maak nie. Het die kerk uiteindelik wegbeweeg van Augustinus se leer? Sommige het so gedink en het die nodigheid vir kinderdoop begin bevraagteken.

Toe het die Vatikaan sy “Instruksie oor Kinderdoop” uitgereik waarin gesê is: “Die Kerk . . . weet van geen ander weg behalwe die doop om te verseker dat kinders die ewige saligheid ingaan nie.” Biskoppe is beveel om “die wat van die tradisionele gebruik afgewyk het . . . daarheen terug te bring”. Maar wat van babas wat ongedoop sterf? “Die Kerk kan hulle net aan die genade van God opdra.”

Kinderdoop en jou kind

Dit alles het talle opregte Katolieke ongetwyfeld in die war gebring. Nietemin meen sommige dalk dat, Katolieke dogma ten spyt, die doop ’n kind ten minste ’n goeie begin gee wat godsdiens betref. Maar is dit so? Een Katolieke moeder het gesê: “Ek het twee bloedjong kinders, albei as babas gedoop, en ek sien geen greintjie genade in hulle nie, eintlik net die teenoorgestelde.”

Die doop help nie ’n klein kindjie om geloof op te bou nie. Trouens, dit skend Jesus se gebod: “Gaan dan heen, maak dissipels [of, “maak leerlinge”] . . . en doop hulle” (Mattheüs 28:19). Die doop is sinloos tensy iemand oud genoeg is om ’n dissipel te wees. Kinderdoop is weliswaar ’n “onheuglike tradisie”. Maar het Jesus nie diegene veroordeel wat ‘die gebod van God kragteloos gemaak het ter wille van hulle oorlewering (of, tradisie)’ nie?​—Mattheüs 15:6.

Die Bybel moedig ouers gevolglik aan om hulle kinders “van kleins af” in geestelike sake te onderrig (2 Timotheüs 3:14-17). Jehovah se Getuies neem die Bybel se vermaning ernstig op om hulle kinders “in die tug en vermaning van die Here” op te voed (Efesiërs 6:4). Dit word dikwels gedoen deur ’n program van gereelde gesinsbybelstudie. Sulke ouers leer hulle kinders om Christelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem (Hebreërs 10:24, 25). Hulle moedig hulle kinders aan om hulle geloof in die openbaar te “bely” (Romeine 10:10). Mettertyd word hulle kinders moontlik beweeg om self hulle lewe aan Jehovah God toe te wy en dit deur waterdoop te simboliseer. Dit is Skriftuurlik en is veel sinvoller en bevredigender as ’n formalistiese rite wat op ’n begriplose baba uitgevoer word.

As die kind van ’n Christen sou sterf voor eersgenoemde gedoop is, hoef die ouers nie te vrees dat hy in die hel brand of in limbus wag nie. Die Bybel leer dat die dode onbewus is (Prediker 9:5, 10). Ouers kan dus troos put uit Jesus se belofte dat daar “’n uur [kom] wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan”, met die vooruitsig op lewe in ’n herstelde paradys (Johannes 5:28, 29; Lukas 23:43, NW). Hierdie Bybelse hoop bied veel meer vertroosting as veranderlike​—en verwarrende—​mensetradisies.

[Voetnote]

a Die woorde “huis” en “huisgesin” in die Bybel word soms duidelik met uitsluiting van babas gebruik. Titus 1:11 praat byvoorbeeld van afvalliges wat “hele huise” omkeer.​—Kyk ook 1 Samuel 1:21, 22.

b Augustinus self het aan die hand gegee dat ongedoopte babas “die allersagste doemvonnis sal ondergaan”.

c Toe ’n 18de-eeuse kerksinode limbus “’n Pelagiaanse mite” genoem het, het pous Pius VI ’n pouslike bul uitgevaardig waarin die sinode as ketters veroordeel is. Hoewel dit nog nie ’n volle onderskrywing van limbus was nie, het die pouslike bul die teorie lewend gehou.

d Katolieke teoloog Tad Guzie het die kerk se nuwe standpunt bestempel as “’n enigsins belaglike sakramentele skisofrenie waarin waterdoop ’n essensiele eerste stadium van redding vir babas is, maar die finale stadium van ’n groter proses vir enigiemand anders”.

[Tabel op bladsy 7]

Hoogtepunte in die geskiedenis van kinderdoop

Datum (G.J.) Gebeurtenis

c. 193 Tertullianus bepleit volwassenedoop

253 Konsilie van Carthago sê ‘babas moet onmiddellik gedoop word’

412-417 Debat tussen Pelagius en Augustinus oor ‘erfsonde’

417 Konsilie van Carthago veroordeel Pelagiaanse leer as kettery.

Kinderdoop word ’n kenmerk van Katolisisme

1201, 1208 Pous Innocentius III skryf ten gunste van kinderdoop

1545-1563 Konsilie van Trente spreek “banvloek” uit oor enigiemand wat kinderdoop verloën

1794 Pouslike bul Auctorem Fidei veroordeel Jansenistiese Sinode, wat limbus ’n kettery genoem het

1951 Pous Pius XII beklemtoon noodsaaklikheid van kinderdoop deur vroedvroue aan te spoor om rite in noodgevalle uit te voer

1958 Vatikaan verorden dat ‘babas so gou moontlik gedoop moet word’

1963-1965 Tweede Vatikaanse Konsilie verorden dat die saligheid sonder doop moontlik is. Beveel hersiening van kinderdooprite

1980 Vatikaan herbevestig gebruik van kinderdoop, sê hy ‘weet van geen ander manier waarop kinders die ewige saligheid kan ingaan nie’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel