Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 6/15 bl. 4-7
  • ‘Ons weet dat hulle sal opstaan in die opstanding’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Ons weet dat hulle sal opstaan in die opstanding’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘’n Land van geen terugkeer’?
  • Geloof in die opstanding
  • ’n Hemelse hoop vir ’n paar
  • Aardse onderdane van die koning
  • ’n Hoop wat op waarborge berus
  • Die enigste oplossing!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Hoop vir die dooies​—Die opstanding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • ’n Gewisse hoop
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 6/15 bl. 4-7

‘Ons weet dat hulle sal opstaan in die opstanding’

DIE almagtige God het lewe aan die mensdom gegee. Hy kan dit ook teruggee aan mense wat gesterf het. Ons het ook die betroubaarste inligtingsbron oor lewe en die dood van hom gekry: die Hebreeuse en die Christelike Griekse Skrifte, die twee dele waaruit die Bybel bestaan. Dit bevat die feitelik gegronde boodskap dat die meeste oorledenes kan en sal terugkom.—Johannes 5:28, 29.

Beskou ter toeligting die geskiedenisverslag van Lasarus van Betanië, wat ’n vriend van Jesus Christus was. Lasarus was siek en het toe gesterf. Daarna het Jesus vir Lasarus se suster, Martha, gesê: “Jou [oorlede] broer sal opstaan.” Sy het geantwoord: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag” (Johannes 11:23, 24). Ja, sy het dit geweet. Met betroubare inligting as grondslag het sy glad nie getwyfel dat haar geliefde broer Lasarus “in die laaste dag” sou terugkom nie.

Wanneer jy deur die geskiedenisverslag in Johannes hoofstuk 11 lees, sal jy besonderhede vind van wat daarna gebeur het. Jesus het daardie man opgewek, hoewel Lasarus al vier dae dood was. Daardie opstanding is bewys dat God sy beloftes kan vervul om die oorledenes “in die laaste dag” terug te bring. Maar waar het Martha verwag om Lasarus weer te sien? Waar het ander getroue Jode gedink sou die komende opstanding plaasvind?

‘’n Land van geen terugkeer’?

God het die aarde gekies as die natuurlike woongebied vir die mens. Die psalmis het dit met hierdie woorde uitgedruk: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee” (Psalm 115:16). Daar is niks in die Heilige Skrif wat toon dat Adam en Eva ewige lewe iewers anders as op die aarde sou ontvang het as hulle getrou aan God gebly het nie. Trouens, was “die boom van die lewe” nie hier op die aarde, in die Paradys wat die eerste mensepaar geniet het voor hulle ’n weg van ongehoorsaamheid aan God ingeslaan het nie? (Genesis 2:9; 3:22). Aangesien daar geen inligting van God was wat die teendeel gemeld het nie, sou sy getroue knegte buite die tuin van Eden (van Adam se godvresende seun Abel af aan) vanselfsprekend ’n opstanding geassosieer het met die enigste tuiste wat hulle vir die mens geken het—die aarde.

‘Wag nou’, sal sommige mense wat vertroud is met die Bybel dalk beswaar maak, ‘het Job nie in hoofstuk 16 vers 22 gesê dat hy ’n pad gaan bewandel waarlangs hy “nie terugkeer nie”? En in Job 7:9 het hy gesê: “So kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.” Job het in vers 10 bygevoeg: “Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.”’

Toon hierdie verse en soortgelyke verklarings dan nie, soos sommige kenners beweer, dat Job die dood as “’n land van geen terugkeer’ beskou het nie? Beteken sulke verklarings dat Job nie in ’n toekomstige opstanding geglo het nie? Vir die antwoord moet ons hierdie woorde in hulle konteks beskou en hulle ook vergelyk met ander gedagtes wat Job oor die onderwerp gemeld het.

Job was nie bewus van die redes vir sy lyding nie. Hy het ’n tyd lank verkeerdelik gedink dat God verantwoordelik was vir sy beproewing (Job 6:4; 7:17-20; 16:11-13). Moedeloos het hy gemeen dat die graf die enigste plek was waar hy onmiddellike verligting sou kry. (Job 7:21; 17:1; vergelyk 3:11-13.) Daar sou hy uit die oogpunt van sy tydgenote nie gesien word nie, nie na sy huis terugkeer nie, nie meer geken word nie, nie terugkom of enige vooruitsig daarop hê voor God se vasgestelde tyd nie. As hulle aan hulself oorgelaat sou word sonder ingryping deur God sou Job en al Adam se ander afstammelinge magteloos wees om uit die dode op te staan.a—Job 7:9, 10; 10:21; 14:12.

Geloof in die opstanding

Ons moet Job se onsekerheid oor wat hy ervaar het en sy sombere kommentaar oor sy onmiddellike toekoms egter nie beskou as ’n aanduiding dat hy nie in ’n opstanding geglo het nie. Dat hy wel in ’n opstanding geglo het, is duidelik uit Job 14:13-15. In daardie passasie praat Job van sy begeerte om ‘in die doderyk weggesteek’ te word en dat God daarna aan hom sou ‘dink’. Boonop het hierdie geloofsman in Job 19:25-27 gesê dat hy ’n “Verlosser” het en dat hy God later ‘sal aanskou’. Ja, Job het in ’n opstanding geglo. Hy het geglo dat God hom na die lewe kan terugbring en dit ook sou doen, net soos Abraham vantevore oortuig was van God se vermoë om ‘die dode op te wek’.—Hebreërs 11:10, 16, 18, 35.

Die Jode glo tot in ons dag in ’n toekomstige opstanding tot lewe op die aarde. Die Encyclopædia Judaica (1971) sê: “Die opvatting dat die dode uiteindelik in hulle liggame opgewek sal word en weer op die aarde gaan lewe”, is “’n vername leerstelling” van Judaïsme. Die ensiklopedie sê voorts: “Hierdie idee word so ernstig en letterlik opgeneem dat vrome Jode dikwels gesteld is op die klere waarin hulle begrawe word, die teraardebestelling van al hulle organe en ’n begrafnis in Israel.”

Interessant genoeg, die Bybel sê nie dat God in die opstanding die ontbinde menseliggame van die dode weer ineen sal voeg nie. Die werklike atome waaruit die wat al lank dood is bestaan het, het sedertdien oral oor die aarde versprei en is selfs daarna in plante- en dierelewe opgeneem—ja, selfs in ander mense, wat daarna gesterf het. Dit is duidelik dat dieselfde atome nie in die opstanding gebruik kan word vir meer as een persoon wat opgewek word nie. In plaas daarvan sal God mense opwek met geskikte liggame soos dit hom behaag, sonder ontbrekende liggaamsdele en ander gebreke wat hulle voor die dood gehad het.—Vergelyk 1 Korinthiërs 15:35-38.

Sal hierdie verresenes deur vriende en familie wat ook opgewek word, herken word? Dit is logies, want as ons nie die dode wat opgewek word, kon identifiseer en hulle vir ons nie, hoe sal ons weet dat ons afgestorwe geliefdes werklik teruggekeer het? Selfs al het Lasarus se liggaam ontbind, het familie en kennisse hom herken nadat Jesus hom opgewek het. Ons kan dus ook verwag dat Jehovah God liefdevol sal toesien dat ons mekaar in die opstanding tot lewe op aarde sal sien en ken.

’n Hemelse hoop vir ’n paar

Soos ons opgemerk het, is die aarde die mensdom se godgegewe tuiste. Maar Jesus Christus het lig gewerp op die vooruitsig dat ’n spesifieke getal uit die mensdom opgewek sal word tot onsterflike, onverderflike lewe as geeste in die hemele (2 Timotheüs 1:10). Nadat Jesus die “nuwe en lewende weg” tot hemelse lewe ingestel het, is alle Christene ’n tyd lank genooi om daardie hoop te deel (Hebreërs 9:24; 10:19, 20). Hoeveel sal uiteindelik daardie beloning ontvang? Die geïnspireerde ‘openbaring van Jesus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat moet gebeur’, gee die getal aan as 144 000, diegene “wat van die aarde vrygekoop is”.—Openbaring 1:1; 7:4-8; 14:1, 3.

Waarom is so ’n betreklik klein getal mense “van die aarde vrygekoop” vir lewe in die hemel? Dieselfde boek, Openbaring, gee ons die rede vir hierdie beperkte getal. Ons lees in hoofstuk 20, verse 5 en 6: “Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Kyk ook Openbaring 5:9, 10.

Aardse onderdane van die koning

Dit is baie duidelik dat nie alle mense as konings en priesters sal regeer nie, want oor wie sal hulle “regeer” as almal konings is? Hierdie spesiaal gekose groep, waarvan die getroue apostels van Jesus die eerstes was, sal eerder oor ’n aarde heers wat deels bewoon word deur die “groot menigte” wat in Openbaring hoofstuk 7, verse 9 tot 17 beskryf word. Miljoene van hulle sien nou uit na die vinnig naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”, wat die aarde van alle ongeregtigheid sal reinig. Deur God se onverdiende goedheid sal hulle die groot verdrukking oorleef sonder om ooit te sterf.—Openbaring 16:14; 21:14; Spreuke 2:21, 22.

‘Maar wat van al daardie wat gesterf het, soos my geliefdes?’ vra jy dalk tereg. Jesus self het vir Martha gesê dat ander weer ‘sal lewe al het hulle ook gesterwe’ (Johannes 11:25). Dit sal in ’n aardse opstanding wees. Gedurende die heerskappy van Christus saam met sy 144 000 medekonings en -priesters in die hemele sal talle miljoene van die dode wat God met guns onthou, opgewek word en ’n ideale geleentheid ontvang om die ware aanbidding van Jehovah te leer. As hulle getrou is, sal hulle die beloning van ewige lewe in ’n aardwye paradys ontvang. Dit sal gedurende “die laaste dag” wees waarvan Martha gepraat het toe sy met Jesus saamgestem het dat haar broer Lasarus weer tot die lewe sou opstaan.—Johannes 5:28, 29; 11:24; Lukas 23:43.

’n Hoop wat op waarborge berus

Die opstandings wat in die Bybel opgeteken is, is voorbeelde en waarborge van die egtheid van die opstandingshoop wat die Heilige Skrif in die vooruitsig stel. Hierdie verslag vertel van mense wat op die aarde opgewek is deur die profete Elia en Elisa in voorchristelike tye, deur die seun van God (waaronder Lasarus), deur die apostels Petrus en Paulus en veral deur Jehovah God toe hy sy Seun opgewek het. Jy kan sulke verslae in jou Bybel lees in: 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; Mattheüs 28:1-10; Lukas 7:11-17; 8:40-56; Johannes 11:38-44; Handelinge 9:36-42; 10:38-42; 20:7-12.b

Op grond van so ’n deeglik geboekstaafde opstandingshoop kon Paulus die Atheners verseker: “God het . . . ’n dag bepaal . . . waarin Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal [’n waarborg] gegee deur Hom uit die dode op te wek.”—Handelinge 17:30, 31, vgl. NW.

Ja, die opstanding van Jesus is die grootste waarborg van die egtheid van die opstandingshoop. Ons het dus ook ’n vaste grondslag vir volkome vertroue in die krag en liefde van Jehovah God. Ons kan ook die oortuiging uitspreek wat Martha gehad het: ‘Ons weet dat die dode sal opstaan in die opstanding in die laaste dag!’

Nadat Paulus se gehoor op die Marsheuwel sy getuienis oor “die opstanding van die dode” aangehoor het, het hulle in drie groepe verdeel: “Sommige [het] begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor. . . . Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword.”—Handelinge 17:32-34.

Wat is jou reaksie op die opstandingshoop? Jehovah sal sy belofte hou om miljoene, selfs miljarde, uit die dood op te wek. Of jy daar sal wees om hulle te sien, en deur hulle gesien te word, hang grootliks af van wat jy doen. Is jy bereid om te leer wat God se vereistes is vir die verkryging van ewige lewe en om daarvolgens te lewe? Jehovah se Getuies sal jou baie graag meer inligting gee oor die hoop vir die dode en oor hoe jy die einde van hierdie stelsel van dinge kan oorlewe.—Johannes 17:3.

[Voetnote]

a In dieselfde trant skryf die psalmis die volgende oor die toestand wat heers voor God ingryp: “En [God] het daaraan bly dink dat [die Israeliete] vlees was, dat die gees [of lewenskrag van God af] heengaan en nie terugkeer nie.”—Psalm 78:39, NW.

b Jy kan ’n breedvoeriger bespreking van die opstandings in Bybeltye en van die Bybel se belofte van ’n komende opstanding gedurende Christus se heerskappy vind in Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Hoofstuk 20 se titel is: “Die opstanding—Vir wie en waar?” Hierdie boek is verkrygbaar by Jehovah se Getuies in jou gebied of by die kantore in die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel