Insig in die nuus
Bedenkinge oor evolusie
Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Wetenskaplikes wat die evolusieteorie voorstaan, het hierdie Bybelvers meer as ’n eeu lank gekritiseer. Maar “baie van hulle kyk nou opnuut na hierdie vroegste, sterkste saak vir die bestaan van ’n Skepper”, berig The Orange County Register, ’n Kaliforniese koerant.
Die artikel meld byvoorbeeld wat Australiese bioloog Michael Denton in sy boek Evolution: A Theory in Crisis gesê het. Hy hou vol dat daar van die tyd dat Darwin sy boek On the Origin of Species gepubliseer het tot nou toe geen greintjie bewys was om Darwin se teorie te staaf nie.
Die Register haal insgelyks aan uit die boek The Mystery of Life’s Origins: Reassessing Current Theories, wat deur drie wetenskaplikes geskryf is. Volgens die koerant verduidelik hulle dat lewe nie deur toeval kon ontstaan het nie, en hulle “voer aan dat ’n ‘Skepper buite die kosmos’ die aanneemlikste verklaring vir die oorsprong van lewe is”. Ter ondersteuning van hierdie beskouing meld die artikel dat Britse sterrekundige Fred Hoyle “allerweë aangehaal word weens sy stelling dat om te glo dat die eerste sel toevallig ontstaan het dieselfde is as om te glo dat ’n tornado wat deur ’n rommelwerf vol vliegtuigonderdele trek ’n Boeing 747 kan voortbring”.
Vir ’n aantal wetenskaplikes is die bewys ter stawing van ’n Skepper onmiskenbaar. Maar wat van die wat aanhou om die bestaan van ’n Skepper te ontken? Sulke persone kan gerus nadink oor die woorde wat die profeet Jesaja geskryf het: “o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie”?—Jesaja 29:16.
’n Dodelike beheptheid
In Januarie vanjaar is seriemoordenaar Theodore Robert Bundy in die elektriese stoel van Florida se Staatsgevangenis tereggestel. Hy is gekoppel aan die grusame moorde op ’n stuk of 36 vroue, hoewel owerhede vermoed dat dit tot 100 kan wees.
Tydens ’n onderhoud voor sy teregstelling het Bundy erken dat pornografie ’n vername faktor was wat tot sy kriminele gedrag bygedra het. Volgens dr. James Dobson, wat die onderhoud gevoer het, “het hy op 12 of 13 begin om pornografie in kafees, selfs langs die pad, te koop en het hy verslaaf daaraan, behep daarmee, geraak”, berig die Daily News.
Bundy se bekentenis is ’n eggo van die woorde van Arthur Gary Bishop, ’n ander veroordeelde moordenaar wat verlede jaar tereggestel is vir die seksuele moorde op vyf seuns. Volgens The Tribune, ’n koerant van San Diego, Kalifornië, het Bishop aangevoer dat pornografie “’n ‘verwoestende’ uitwerking op hom gehad toe hy ’n seun was en tot sy ondergang gelei het”. Bishop het ’n sielkundige aangehaal wat by sy verhoor getuig het dat “mense se sinlike begeerte toeneem wanneer hulle [aan pornografie] verslaaf raak. Hulle normale gevoelens raak afgestomp en hulle is geneig om op te tree volgens wat hulle gesien het.” Bishop het erken: “Dit is wat met my gebeur het. Ek is ’n homoseksuele pedofiel wat aan moord skuldig bevind is, en pornografie was ’n vername faktor wat tot my ondergang gelei het.”
Selfs al het erkende moordenaars gesê dat pornografie vernietigend is, is daar baie mense wat dit steeds as skadelose vermaak beskou. Die waarskuwing wat in Jesaja 5:20 gegee word, is op sulke mense van toepassing: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis.”
Geen verborgenheid nie
Phyllis Smith, bedienares van die Verenigde Kerk, beweer dat die geloof van sommige geestelikes skynbaar bedreig word deur die vrae van pasiënte wat dodelik siek is, berig The Toronto Star, ’n Kanadese koerant. Volgens Smith “vra sterwende mense vrae oor die verborgenhede van die lewe en die dood wat niemand verstaan nie”. Sy sê: “Ons hoef nie bedreig te voel net omdat ons meen ons moet al die antwoorde hê nie.” Wanneer moeilike vrae van ’n geestelike aard geopper word, meen Smith dat geestelikes “God nie hoef te verdedig nie”.
Hoewel dit waar is dat individue nie altyd al die antwoorde op vrae oor die lewe en die dood sal hê nie, het die Bybel dit wel. Behoort diegene wat beweer dat hulle God se bedienaars is nie te weet wat sy Woord sê nie? Die apostel Petrus het gesê dat medegelowiges altyd bereid moet wees “om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” (1 Petrus 3:15). Vroeë Christene het dit nie moeilik gevind om te verstaan wat die toestand van die dode is of watter vooruitsigte vir die sterwende mensdom voorgehou word nie. Hulle het geweet dat Prediker 9:5 sê: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.” En Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29). Vir ware bedienaars van God is die lewe en die dood nie ’n verborgenheid nie.