Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/15 bl. 26-29
  • Die land van die pepervoël hoor die “nuwe lied”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die land van die pepervoël hoor die “nuwe lied”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Die “nuwe lied” bereik Liberië
  • Hoe mense vandag op die “nuwe lied” reageer
  • Die “nuwe lied” bereik ’n crescendo
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/15 bl. 26-29

Die land van die pepervoël hoor die “nuwe lied”

DOUVOORDAG kan die melodieuse gekweel van die pepervoël oral in Liberië gehoor word. Geslagte lank al maak sy gefluit die dorpsbewoners wakker vir nog ’n dag se werk onder die tropiese son. Hierdie veel voorkomende tiptol het aan Liberië sy bynaam “land van die pepervoël” gegee.

Die naam Liberië herinner egter aan ’n ander verhaal. In 1822 het bevryde slawe wat van Amerika na die vasteland van hulle voorvaders teruggekeer het by die mond van die Mesuradorivier aangekom en die nedersetting gestig wat Monrovia geword het. Ander nedersettings het in Buchanan, Greenville en Harper verrys, en die setlaars het met die konings van die inboorlingstamme verdrae gesluit. Daardie vroeë terugkerendes het geestelike Negerliedere met hulle saamgebring—liedere wat Afrika-ritmes met Bybelse temas gekombineer en hulle verlange na vryheid weerspieël het. In ooreenstemming met daardie verlange is hulle kolonie in 1824 Liberië genoem. In 1847 het dit die eerste Swart Afrika-republiek geword.

In onlangse jare is ’n nuwe lied egter in hierdie land gehoor. Hierdie lied word gesing, nie deur die pepervoël of deur slawe wat teruggekeer het nie, maar deur ’n toenemende koor van mense wat gehoor gee aan die Bybelpsalmis se aansporing: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde! Sê onder die volke: Die HERE is Koning!” (Psalm 96:1, 10). Ja, dit is die lied van God se opgerigte Koninkryk, met Jesus Christus as Koning. Dit word gesing deur toekomstige erfgename van Jehovah se hemelse regering. Hulle en hulle metgeselle verkondig vreugdevol die “evangelie” van daardie Koninkryk in al die nasies—ook in Liberië—gedurende “die voleinding van die wêreld”, waarin ons nou lewe (Mattheüs 24:3, 14). Wanneer en hoe het dit gebeur dat hierdie lied vir die eerste keer in die land van die pepervoël gehoor is? En watter uitwerking het die lied se deurvorsende melodie op waarderende hoorders gehad? Kom ons luister.

Die “nuwe lied” bereik Liberië

In 1946 het Harry C. Behannan, ’n talentvolle Swart pianis wat oral in Europa opgetree het, sy musiekloopbaan prysgegee om as ’n sendeling te dien. Hy het ses maande alleen as ’n pioniergetuie van Jehovah gedien en die Koninkrykswaarheid van huis tot huis verkondig. Hy het meer as 500 boeke versprei en baie vriende gemaak. Toe sterf broer Behannan tragies aan tropiese koors. Maar die “nuwe lied” het nie uitgesterf nie, want ander sendelinge het hom gevolg.

In 1947 het George Watkins (’n voormalige amateurbokser) en sy vrou Willa Mae gekom om in Monrovia, die hoofstad van Liberië, te dien. Hulle het nederige Liberiërs geduldig en ywerig geleer “om alles te onderhou wat [Jesus] beveel het” (Mattheüs 28:19). Teen September 1948 het ’n groep van 15 saam met hulle aan die Koninkryksdiens deelgeneem. So is die eerste gemeente van Jehovah se Getuies in Liberië gestig.

Die predikingswerk het vinnig langs die kus af versprei na die hawe Harper, in Kakata en omliggende dorpe en onder die Kisi-sprekende rubbertappers op die Firestone-plantasie. Teen 1952 was daar ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Liberië. Gedurende die volgende jaar is die eerste Koninkryksaal en sendinghuis in McDonaldstraat, Monrovia, gebou. Dit was opwindende tye. Vandag is daar 1 724 lowers van Jehovah in hierdie land, en hulle behaal uitstekende resultate onder die vriendelike, gasvrye en nederige mense.

Hoe mense vandag op die “nuwe lied” reageer

Jehovah se Getuies uit die 16 vernaamste stamme van Liberië, saam met die sendelinge en persone wat gekom het om te dien waar daar meer hulp nodig is, het nou hulle stemme laat saamsmelt in die verkondiging van die Koninkryksboodskap. In die laaste tyd is daar groter dringendheid in hulle beroep op diegene wat na die waarheid soek. Elke Getuie bestee gemiddeld meer as 27 uur per maand aan die predikingswerk en die aantal voltydse dienaars het in die afgelope vyf jaar meer as verdriedubbel. Hierdie harde werk het vir hulle en vir ander seëninge meegebring. Kom ons hoor van sommige van hulle.

Emmanuel het sy sake so gereël dat hy na sy groot gesin kon omsien en aan die voltydse pionierdiens in Gardnersville kon deelneem. Hy het vir Varney en Lucinda ontmoet en ’n tuisbybelstudie met hulle begin. Hulle het egter geglo dat dit ’n sonde is om van godsdiens te verander. Emmanuel het hulle gewys wat die boek Redenering uit die Skrif oor die onderwerp sê. Hulle het die boek geleen, ander materiaal daarin gelees en Christelike vergaderinge begin bywoon. Kort daarna het hulle aan die Christelike bediening begin deelneem. Intussen het hulle huiseienaar—’n predikant—die verandering in hulle gedrag gesien en hulle genooi om sy sitkamer vir hulle Bybelstudie te gebruik. Nadat hy ’n streekbyeenkoms bygewoon het, was die huiseienaar daarvan oortuig dat hy die waarheid gevind het en het hy om sy eie Bybelstudie gevra.

Tamba, ’n voormalige medium van die Lofa-distrik, is bevry omdat hy gehoor gegee het aan die “nuwe lied”. Uit kommer oor sy seun se siekte het hy die geeste geraadpleeg. Hulle het hom verseker dat sy seun sou lewe, maar het beweer dat sy vrou planne beraam om sy seun dood te maak. Tamba het die geeste met geskenke en offerandes gesmeek om sy vrou dood te maak en sodoende te verhoed dat sy sy seun leed aandoen. Wat was die gevolg? Die seun het gesterf maar die vrou was ongedeerd. Tamba was so “kwaad en gefrustreerd dat hy al sy spiritistiese toebehore uitgegooi het. In sy bedroefde toestand is hy diep geroer deur die boodskap van ’n opstandingshoop en die komende paradysaarde. Hy het ’n Bybelstudie aanvaar, sy lewe in orde gebring en hom aan Jehovah toegewy. Sedertdien het hy sy gesin en nege ander mense in sy gemeenskap gehelp om hulle toe te wy.

Talle opregte persone se lewens is deur die “nuwe lied” geraak. Herbert het, as gevolg van sy besondere vermoë as ’n sokkerspeler, ’n studiebeurs aan die universiteit in Monrovia en ’n staatsbetrekking ontvang. Maar toe hy leer wat die Bybel oor ’n gees van wedywer sê, is hy beweeg om sy sportloopbaan prys te gee (Galasiërs 5:26, NW). Nou verbly hy hom in sy nuwe loopbaan as ’n voltydse bedienaar.

James het die Getuie wat met hom studeer het, gevra hoe hy sy verslaafdheid aan dagga te bowe kan kom. James is aangemoedig om oor die saak te bid, en hy het Jehovah se hulp gevra om met die gewoonte te breek. ’n Paar weke later kon hy die drang nie weerstaan nie en het hy weer gerook. Op pad huis toe het hy reg in ’n ysterstaaf vasgeloop en erg om die oog gebloei. Hy het sy gebed onthou en nooit weer sy gewoonte hervat nie. Vandag dien hy as ’n gewone pionier en ’n bedieningskneg in die gemeente.

Die “nuwe lied” het ook aanklank gevind by ’n ouer man, Samuel van die Krahnstam, wat voorheen die superintendent van die Montserrado-distrik was. Wat het hom beweeg om ’n beroep met hoë besoldiging prys te gee en die voltydse bediening te betree? “Wat my beïndruk het, was die feit dat ek in my Bybel bewyse kon vind vir alles wat Jehovah se Getuies gesê, geleer en gedoen het”, het Samuel gesê. Hy het bygevoeg dat hy onder Jehovah se Getuies die liefde gevind het wat Jesus in Johannes 13:34, 35 beskryf het. Samuel het opgemerk dat die lidmate van sy voormalige kerk daarenteen “altyd in die kerk oor geldsake gestry en baklei het”. Samuel dien nou as ’n gewone pionier.

Die “nuwe lied” bereik ’n crescendo

Wat lofsange tot eer van God betref, is daar vir Jehovah se volk geen gelukkiger tyd as by hulle jaarlikse streekbyeenkomste nie. In onlangse jare het dit egter hier in Liberië ’n uitdaging geword om geriewe te vind wat groot genoeg is om sitplek te verskaf aan al die Getuies en belangstellendes wat die byeenkoms bywoon. In 1986 is twee byeenkomste in die enigste geskikte ouditorium gehou, maar die totale opkoms van meer as 4 000 was te veel vir die saal. Wat kon in 1987 gedoen word? Wel, die Samuel K. Doe-sportkompleks is, met die hulp van die Chinese regering, net betyds voltooi. Maar kon ons dit bekostig om hierdie kompleks te huur?

Weens die opvoedkundige aard van ons program het die bestuur ingestem dat ons die stadion teen ’n baie billike tarief kon gebruik. Maar net ’n paar weke voor die byeenkomstyd wou die bestuur die prys verhoog. Waarom? Omdat ’n prominente TV-evangelis van die Verenigde State pas tevore ’n saamtrek in die stadion gehou het en die skare dit in ’n jammerlike toestand gelaat het, met rommel oral gestrooi. Die bestuur is verseker dat Jehovah se Getuies anders is. Die dag voor die byeenkoms het meer as 500 broers en susters die stadion van hoek tot kant skoongemaak. Na die byeenkoms is gehoor hoe ’n lid van die Chinese bestuurspan sê dat ons werk om die stadion skoon te hou meer werd was as wat ons vir die gebruik daarvan betaal het.

Die byeenkoms self was ’n sukses. ’n Hoogtepunt van 5 852 het die openbare toespraak, “Wie kan jy in ons angsvolle tye werklik vertrou?”, bygewoon. Wat ’n vreugde was dit om te sien hoe 101 nuwelinge hulle toewyding aan God deur waterdoop simboliseer! Die kandidate is reg op die byeenkomsterrein in twee vervoerbare baddens gedoop—iets nuuts vir Liberië

Omdat al hoe meer mense op die “nuwe lied” reageer, het die oorspronklike takkantoor in McDonaldstraat, Monrovia, te klein geword. Selfs die latere gebou in Sinkor was nie groot genoeg om al die Bybellektuur te hou wat nodig is om in die geestelike behoeftes van die Liberiese volk te voorsien nie. Daarom is ’n groot woongebou naby die Paynesville-Koninkryksaal gekoop en opgeknap, en op 28 Maart 1987 is ’n nuwe takkantoor toegewy. Met hierdie ruim en ideaal geleë gebou is Jehovah se knegte in Liberië goed toegerus om na die toenemende belangstelling om te sien.

Hoeveel werk moet nog in Liberië gedoen word? Die 1988-Gedenkmaalopkoms van 8 600—vyf keer meer as die aantal Koninkryksverkondigers—dui op ’n groot potensiaal vir meer dissipels. En die hardwerkende Liberiese Getuies aanvaar die uitdaging moedig. Hulle hou elke maand meer as 3 000 tuisbybelstudies. Dit is ons bede dat nog baie hier sal aansluit by die immer toenemende “groot menigte” wat Jehovah in antwoord op die “nuwe lied” loof.—Openbaring 7:9, 10.

[Venster op bladsy 28]

Van huis tot huis in Liberië

Toe ons ’n huis van lat en klei nader, kondig ons, in plaas van te klop, ons teenwoordigheid aan deur uit te roep: “Kpaw, kpaw, kpaw!”

Ons kry geen antwoord nie en loop na die agterkant van die huis, waar ons ’n gesin in die “kombuis”—’n klein hutjie in die agterplaas—aantref. ’n Pot dik, rooi palmbotter prut op ’n houtvuur. Die moeder, wat besig is om die rys op te skep, stuur haar kinders om gou vir ons stoele in die huis te gaan haal.

Die gesinslede gaan sit nou op ’n bank en luister aandagtig terwyl ons die Koninkryksboodskap met hulle deel. Hulle aanvaar met graagte ’n eksemplaar van die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe, en ons reël om terug te kom. Toe ons opstaan om te gaan, sê hulle: “Kom ons eet!”

[Kaarte/Prente op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SIERRA LEONE

LIBERIË

LOFA- DISTRIK

MONTSERRADO- DISTRIK

Monrovia

Kakata

Buchanan

Greenville

Harper

GUINEE

IVOORKUS

ATLANTIESE OSEAAN

Km 0 100 200 300

m. 0 100 200

[Kaart]

AFRIKA

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel