Lesse uit die Skrif: Obadja 1-21
Goddelike waarskuwings wat jou raak
“WIE julle aanraak, raak sý oogappel gaan” (Sagaria 2:8). Hierdie dreigende woorde staan as ’n waarskuwingsboodskap vir elkeen: Jehovah sien hoe nasies sy volk behandel. Wat gebeur egter met ’n nasie wat lynreg teen so ’n goddelike waarskuwing ingaan en God se volk leed aandoen? Die kortste boek in die Hebreeuse Skrifte, Obadja, antwoord.
Rampspoed vir Edom
Niemand spring Jehovah se oordele vry nie. Obadja se profesie wat omstreeks 607 v.G.J. uitgespreek is, het voorspel hoe die Edomiete uit hulle land verdryf sou word, ondanks hulle skynbaar veilige posisie hoog “tussen die sterre”. En hoewel die persoonlike lewe van hierdie Bybelskrywer nie geopenbaar word nie, doen hy die betekenis van sy naam, “Kneg van Jehovah”, gestand. Hoe? Deur ’n verwoestende oordeel te verkondig. Wanneer Edom val, sal hy geheel en al deur sy bondgenote geplunder word. Nie eers sy wyse manne en helde sal dit oorlewe nie.—1-9.
God bring rampspoed oor diegene wat geweld teen sy volk gebruik. Wat is die rede vir die Edomiete se rampspoed? Herhaalde gewelddade teen die seuns van Jakob, hulle broers. As afstammelinge van Esau was die Edomiete familie van die Israeliete. Nogtans word hulle daarvan beskuldig dat hulle hul bloedverwante beroof, hulle kwaadwillig verheug oor Jerusalem se val en, nog erger, oorlewendes aan die vyand oorlewer. Edom het dus sy lot beseël.—10-16.
Die huis van Jakob word herstel
Jehovah se beloftes is altyd betroubaar. In Obadja se dag het Jehovah gewaarborg dat Sy volk weer hulle land en nog meer in besit sou neem. Israel sou nie meer verdeeld wees nie. Die huis van Jakob, die tweestammeryk Juda, sou hulle versoen met die huis van Josef, die tienstammeryk in die noorde, en Edom vernietig soos vuur ’n stoppel verteer en Edom se gebied in besit neem. Obadja sluit op ’n bemoedigende wyse af en verklaar dat die gerepatrieerde Israeliete hulle God in eenheid sal aanbid en sy onderdane sal wees. Die koningskap sal gewis Jehovah s’n word.—17-21.
Lesse vir vandag: Waarskuwings wat veronagsaam word, bring skadelike vrugte voort. Obadja se klinkklare waarskuwing aan Edom moet gevolglik in die ore van hedendaagse teenstanders van God weerklink: Diegene wat teen Jehovah en sy volk veg, sal vir ewig vernietig word.
Lesse uit die Skrif: Jona 1:1–4:11
VERMY rampspoed! Ontvang barmhartigheid! Hoe? Deur ag te slaan op die les van ’n ware verhaal wat meer as 2 800 jaar oud is—die boek Jona. Dit is ongeveer 844 v.G.J. deur die profeet Jona van Galilea geskryf en is gevul met geestelike insig.
Jona hardloop weg
Ons moet op Jehovah vertrou om ons in sy diens te onderskraag. Maar Jona vlug van ’n godgegewe taak pleks van op Jehovah te vertrou om hom te ondersteun. Sy toewysing was weliswaar nie maklik nie. Hy moes die onbeskaamd goddelose Nineve waarsku teen goddelike rampspoed. Maar Jona gaan in die teenoorgestelde rigting en seil na Tarsis, nou Spanje. Onderweg begin ’n storm so erg woed dat dit onmoontlik lyk dat die skip en bemanning behoue sal bly. Jona bieg, die matrose gooi hom oorboord en die see raak stil. ’n Groot vis sluk die profeet in.—1:1-17.
God se knegte kan vol vertroue wees dat hy hulle gebede sat beantwoord. Binne-in die vis roep Jona tot Jehovah om hulp en dank hy God biddend dat hy uit ’n watergraf gered is, en belowe om sy gelofte na te kom. Hy word mettertyd op droë grond uitgespuug.—2:1-10.
Jona gaan na Nineve
Moet nooit ’n toewysing van Jehovah ontduik nie. Die eens huiwerige profeet wat blykbaar hierdie les geleer het, preek in “die groot stad”. Jona gee ’n eenvoudige maar pertinente waarskuwing: “Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes.” In ’n uiters merkwaardige ommeswaai van gebeure bekeer die Nineviete hulle en vermy hulle rampspoed.—3:1-10.
Die mens kan nie God se barmhartigheid beperk nie. Jona word al hoe kwater omdat Nineve gespaar word. Maar deur middel van ’n plant leer Jehovah Jona dat Hy barmhartigheid sal betoon wanneer dit Hom behaag.—4:1-11.
Les vir vandag: Rampspoed kan afgewend word deur op goddelike profesie ag te slaan! Volg die Nineviete se voorbeeld na. Luister nederig na Jesus Christus, ’n profeet groter as Jona.—Lukas 11:32.
[Venster op bladsy 30]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
○ 7 (vgl. NW)—In Bybeltye was dit feitlik ’n vriendskapsverbond om saam met iemand ‘voedsel te eet’. Hoe ironies! Die Babiloniërs, ‘die manne met wie die Edomiete vriendskap gehou het’, sou hulle vernietig. Die Babiloniërs van Nebukadnesar se dag het Edom weliswaar ’n deel van Juda se buit toegelaat nadat Jerusalem verwoes is. Maar die latere Babiloniese koning Nabonidus het die kommersiële en handelsambisies van Edom eens en vir altyd aan bande gelê.
○ 10—Edom was verdoem om ‘vir ewig uitgeroei te word’ vanweë sy verterende haat en verstokte gebrek aan natuurlike geneentheid vir sy broedernasie, “die kinders van Juda” (Vers 12). So ’n volksuitwissing het beteken dat ’n Edomitiese staat met ’n regering en ’n bevolking op ’n spesifieke geografiese plek van die aardbol af sou verdwyn. Daar is vandag geen Edomitiese volk nie; hulle het geword “asof hulle nooit bestaan het nie”.—Vers 16.
[Venster op bladsy 31]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
o 1:17—Omdat die spermwalvis se kop en slukderm so groot is, kan dit ’n man insluk. Hoewel walvisse skaars is in die Middellandse See, het walvisbote eens by Joppe aangedoen. ’n Vis wat daarvoor bekend is dat dit skepe in die Middellandse See volg en enigiets eet wat oorboord gegooi word, is die mensvreterhaai. Dit kan ook ’n man heel insluk. In Jona se geval het God egter “’n groot vis” gebruik, waarskynlik ’n dier wat vir die hedendaagse wetenskap onbekend is.
o 2:1, 2—Jona het beslis nie ideale toestande gehad om ’n gedig te skryf terwyl hy in “die ingewande van die vis” was nie. Maar hy het sy ondervinding later opgeteken. Uit die diepte van sy hart het woorde gekom wat sy gevoelens uitgedruk het en wat gestrook het met dié in die Psalms.—Vergelyk 2:2 met Psalm 120:1 en 130:1; 2:5 met Psalm 69:2.
o 3:3—Nineveh se grootte word nie oordryf nie. Hoewel die mure waardeur dit omring is, net ongeveer 13 kilometer in omtrek was, het die naam van die stad blykbaar sy voorstede ingesluit, wat moontlik oor ’n afstand van ongeveer 42 kilometer gestrek het.
o 3:10—Die Hebreeuse woord wat vertaal word met ‘het berou gehad’, beteken om “van gedagte te verander ten opsigte van vorige (of voorgenome) optrede”. Jehovah kan derhalwe ‘berou hê’ of van gedagte verander oor sy voorneme om sondige mense te straf wanneer hulle waarlik berouvol is.