Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 4/1 bl. 7-9
  • Babilon—die sentrum van valse aanbidding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Babilon—die sentrum van valse aanbidding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Babilon—arrogante vyand van ware aanbidding
  • Babilon word veroordeel en beskaam
  • Babilon die Grote—geval en geoordeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die groot stad word verwoes
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Wat is Babilon die Grote?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die teregstelling van die “Groot hoer” kom nader
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 4/1 bl. 7-9

Babilon—die sentrum van valse aanbidding

“SY HET geval! Babilon het geval, en al die gesnede beelde van haar gode het hy teen die aarde verbrysel!” Watter soort stad was die Babilon waaroor Jesaja geprofeteer het? Dit is ’n belangrike leidraad om ons te help om die belang van hedendaagse Babilon die Grote te verstaan.—Jesaja 21:9, NW.

Eertydse Babilon was bekend vir sy aanbidding van heidense gode en godinne. In sy boek Babylonian and Assyrian Religion sê professor S. H. Hooke: “Babilon was die stad waar Mardoek die vernaamste plek beklee het onder die ander gode wat daar aanbid is. . . . Gedurende die tyd van Nebukadnesar II was daar ten minste 58 tempels in Babilon wat aan spesifieke gode toegewy was, afgesien van die talle ander tempels wat aan geen bepaalde god toegewy was nie. ’n Mens kan dus sien hoe ’n groot rol die priesters in die lewe van ’n groot stad moes gespeel het.” Mardoek se tempel in Babilon het glo 55 sykapelle gehad. Hoe herinner dit ’n mens tog nie aan die baie tempels, kerke en katedrale van vandag wat sykapelle vir mindere gode, heiliges en Madonnas het nie!

Babilon was ’n sentrum van afgodediens in die kultus van die gode. Een verslag sê dat die priesters en die gelowiges “oordadig aandag aan hulle heilige beelde gegee het omdat hulle die beelde as middelaars tot die gode beskou het. Die beelde was beklee met duur gewade, versier met halssnoere, armbande en ringe; hulle het op weelderige beddens gerus en is te voet, in koetse en privaat bote in optogte oor land en water uitgeneem.”a Hoe kom dit tog nie ooreen met die aanbidding van gode, heiliges en Madonnas in die hedendaagse Hindoeïsme, Boeddhisme en Katolisisme nie, waartydens hulle hulle beelde insgelyks in optogte deur die strate, op riviere en op see vertoon!

Beskou die volgende beskrywing wat uit dieselfde ensiklopedie geneem is as ’n verdere voorbeeld van die ooreenkoms tussen eertydse Babilon en hedendaagse godsdiens: “Haar getroue gelowiges noem haar by die teerste name: Sy is nie alleen godin en liewe vrou nie, maar ook genadige moeder, sy wat gebede verhoor, sy wat bemiddel . . . sy wat lewe aan die heelal en die mensdom gegee het.” Vergelyk dit met die volgende gebed van El Santo Rosario (Die Heilige Bidsnoer): “Ons dank u, Soewereine Prinses, vir die gunste wat ons elke dag uit u milde hand ontvang; wees so gaaf, Liewe Vrou, om ons nou en vir ewig onder a beskerming en beskutting te hou.”

Wie is die onderwerp van hierdie beskrywing en hierdie gebed? Talle sal onmiddellik se dat dit “Die Maagd Maria” is. Daardie antwoord is net gedeeltelik reg. Die gebed is aan Maria opgedra. Maar, soos Las Grandes Religiones Ilustradas ons meedeel, is die eerste aanhaling ’n beskrywing van Isjtar, die “Vrou van Liefde”, die Babiloniese godin van vrugbaarheid, liefde en oorlog. Soms word sy in beeldvorm voorgestel “as ’n moeder wat haar baba soog”.b Net nog ’n voorbeeld van hoe hedendaagse godsdiens tog nie so veel van eertydse Babilon verskil nie!

Ons kan ook ’n vergelyking maak tussen eertydse Babilon met sy begrip van die mensesiel en sy triades gode en vandag se soortgelyke begrip van die onsterflike siel en die triades van die hedendaagse godsdiens. Die bewys versterk ons begrip dat “Babilon die Grote” ’n gepaste simbool van Satan se wêreldryk van valse godsdiens is.

Babilon—arrogante vyand van ware aanbidding

Babilon was ook die arrogante vyand van Jehovah se eertydse volk, Israel, en ’n veragter van hulle ware aanbidding. Babilon het die tempel in Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig, al die kosbare voorwerpe van Jehovah se aanbidding weggevoer en hierdie voorwerpe by Belsasar se fees ontheilig.—Daniël 5:3, 4.

In ons dag is Babilon die Grote eweneens ’n meedoënlose teenstander van ware aanbidding. In die meeste gevalle waar Jehovah se Getuies vervolg is, het die geestelikes dit bewerkstellig, dikwels deur hulle alliansies met politieke heersers.

Daar was reeds in 1917 ’n duidelike voorbeeld van teenstand wat deur die geestelikes aangestig is, en hierdie patroon is keer op keer herhaal. In daardie jaar het die Internasionale Bybelstudente, soos die Getuies toe bekend gestaan het, die boek The Finished Mystery gepubliseer. Kanadese en Amerikaanse geestelikes, wie se lande in die Eerste Wêreldoorlog gewikkel was, het ’n paar bladsye van hierdie boek ondermynend verklaar. Hulle het hulle gehaas om hulle politieke minnaars oor hierdie publikasie in te lig. Die gevolg? Professor Martin Marty sê in sy boek Modern American Religion—The Irony of It All: “Die geestelikes het teen die Russelliete [Getuies] gedraai en gejuig toe hulle hoor dat vonnise van twintig jaar [vir beweerde sedisie] aan die veroordeelde leiers van Jehovah se Getuies opgelê gaan word.”

Maar wat was die reaksie van die geestelikes ’n paar maande later toe daardie leiers van die aanklagte vrygespreek is? “Daar was geen gejuig deur die ortodokse kerklidmate nie.” Die Getuies was die enigste groep wat Bybelbeginsels voorgestaan het, “in so ’n mate dat hulle die federale regering se vyandskap op die hals gehaal het oor hulle godsdiens”. Die Getuies was nie toe of op enige ander tyd bereid om die onderdanige metgeselle van politieke heersers te wees nie, nie eers onder Nazi-heerskappy in Duitsland of onder Fascistiese heerskappy in Italië, Spanje en Portugal nie.

Babilon word veroordeel en beskaam

Hoe gepas is dit dan tog dat Openbaring sê dat Babilon die Grote “dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” is en dat “die bloed van profete en heiliges . . . in haar gevind [is], en van almal wat op die aarde gedood is”. Wêreldgodsdiens se bloedskuld vir aktiewe deelname aan of passiewe goedkeuring van oorloë en vervolging van ware Christene kan deur die eeue been teruggevoer word.—Openbaring 17:6; 18:24.

Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, het deur die geskiedenis been weelde en mag geniet. Maar ’n engel het Johannes gewaarsku dat die groot hoer se dag sal kom. Die verslag deel ons mee: “En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het [Babilon die Grote], en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls.”—Openbaring 18:2, vgl. NW.

Wanneer sal Babilon val? Of het sy reeds geval? Hoe val sy? En hoe raak dit jou? Hierdie en verwante vrae sal in ons volgende nommer van Die Wagtoring beantwoord word.

[Voetnote]

a Las Grandes Religiones Ilustradas (Die vername godsdienste geïllustreer): Asirio-Babilónica, Deel 20, Mateu-Rizzoli, Barcelona, Spanje, 1963, bladsy 53.

b Deel 19, bladsye 19, 20.

[Prent op bladsy 8, 9]

Babilon die Grote het haar oorsprong in eertydse Babiloniese godsdiens

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel