Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 1/1 bl. 17-23
  • Die teregstelling van die “Groot hoer” kom nader

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die teregstelling van die “Groot hoer” kom nader
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ANTIEKE “BABILON DIE GROTE”
  • BETEKENIS VIR ONS DAG
  • HOE DIE “BAIE WATERS” DAAL
  • Valse godsdiens se dramatiese einde word voorspel
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Deel 3—Magtige Babilon—die derde groot wêreldmoondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die onheil wat alle godsdiensbeoefenaars van die wêreld in die gesig staar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • “Gaan uit haar uit, my volk”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 1/1 bl. 17-23

DIE TEREGSTELLING VAN DIE “GROOT HOER” KOM NADER

“Hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.”—Openb. 17:16.

1, 2. Watter inligting verstrek God aan sy knegte, en waarom?

DIE Skepper, Jehovah God, weet presies wat in die toekoms gaan gebeur. Hy is die een “wat van die begin af verkondig die einde” (Jes. 46:10). Omdat hy “die Volmaakte in kennis” is, ken hy die besonderhede van die “einde” van hierdie stelsel van dinge tydens die komende “groot verdrukking” (Job 37:16; Matt. 24:21). Omdat hy ’n God van liefde is, openbaar hy genoeg van hierdie besonderhede aan diegene wat hom lojaal dien sodat hulle behoorlik ingelig, opgebou en beskerm kan wees. Die Bybel sê: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7.

2 God gee dus aan sy nederige knegte spesiale kennis wat ander nie het nie. Die apostel Paulus het gesê: “Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. . . . Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak” (1 Kor. 2:8-10, NAB). Omdat sy knegte voorkennis van Jehovah ontvang het, het God hulle toegerus—ja, beveel—om die waarskuwing oor hierdie stelsel se naderende einde te gee asook om die vertroostende boodskap oor die nuwe orde oor die hele wêreld te verkondig.—Matt. 24:14.

3. Sal Jehovah se knegte weet wanneer die “groot verdrukking” inderdaad begin het?

3 Sluit die voorkennis omtrent hierdie stelsel se einde wat Jehovah aan sy lojale knegte gee informasie in wat hulle in staat stel om te onderskei wanneer die “groot verdrukking” in der waarheid begin het? Ja. Wat is daardie getuienis? Dit staan in verband met God se voltrekking van oordeel aan wat die Bybel “die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” noem (Openb. 17:5). Op hierdie oomblik vind daar reeds gebeure plaas wat die weg vir daardie teregstelling baan!

4. Waarom is dit nuttig om te weet wat met antieke Babilon gebeur het?

4 Wie is hierdie simboliese hoer van die Skrif? Hoekom kan daar gesê word dat gebeure wat haar vernietiging voorafgaan reeds plaasvind? Ons kan veel hieromtrent te wete kom deur te verwys na ’n ander Babilon, daardie magtige wêreldmoondheid van meer as tweeduisend jaar gelede. Die dinge wat met antieke Babilon gebeur het, is veel meer as blote geskiedenis. Dit is ’n merkwaardige profetiese parallel van wat binnekort met die “groot hoer” van ons dag gaan gebeur.—Openb. 17:1.

ANTIEKE “BABILON DIE GROTE”

5. Waarom het Nebukadnesar oënskynlik rede gehad om te spog?

5 “Is dit nie die groot Babel [Babilon die Grote, NW] wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” (Dan. 4:30). Dit is hoe Babilon se koning, Nebukadnesar, meer as ses eeue voor die Gewone Jaartelling gespog het. Nebukadnesar het skynbaar goeie rede gehad om te spog, want Babilon was die magtigste stad van daardie tyd, die hoofstad van die sterkste moondheid wat die wêreld tot op daardie stadium gesien het. Die yslike stad het onneembaar gelyk, daar dit omring was deur ontsaglike dubbele mure. Dit het ook ’n oënskynlik veilige watervoorraad gehad—die Eufraatrivier—wat deur die stad gevloei het. Al langs die rivier, binnekant die stad, was ontsaglike mure met hekke wat gesluit kon word om enige indringer uit te hou.

6. Waarvoor was Babilon bekend?

6 Hoewel Babilon op militêre gebied baie sterk was, was sy nog bekender vir iets anders: Sy was die sentrum van valse godsdiens in daardie antieke wêreld. Volgens berig is die oorblyfsels van nie minder nie as 53 tempels in die stad se ruïnes ontdek. The World Book Encyclopedia sê: “Babiloniërs het nooit werklik vorige gode verwerp nie, met die gevolg dat hulle later duisende gode aanbid het. Daar was die beskermgode en -godinne van elke stadstaat sowel as gode wat dinge soos die son, maan en sterre, die weer, gewasse, riviere en die grond verteenwoordig het.” Babilon se godsdiensinvloed was so sterk dat dit mettertyd selfs die Christendom beïnvloed het. Tot vandag toe kan valse godsdiensopvattings en -gebruike van postdiluviaanse Babilon in so te sê al die gelowe van hierdie wêreld aangetref word.—Gen. 11:1-9.

7. (a) Wat was Babilon se fatale fout? (b) Wat sou Jehovah met haar doen?

7 Die Babilon van Nebukadnesar se dag het egter ’n fatale fout gehad: Sy was ’n ou, verstokte vyand van die ware God, Jehovah, en van sy volk. Sy was ook ’n vergieter van baie onskuldige bloed. Die Bybel sê: “Babilon was nie alleen die oorsaak van die gesneuweldes van Israel se val nie, maar ook die gesneuweldes van die hele aarde het by Babilon geval” (Jer. 51:49, NW). Jehovah het gevolglik gesê: “So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. . . . naby is sy tyd om te kom, en sy dae sal nie verskuif word nie.” Daardie profesie is omstreeks 732 v.G.J. deur Jesaja neergeskryf (Jes. 13:19-22). Omtrent ’n eeu later het Jeremia gesê: “Weens die toorn van die HERE sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al ’n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae.” Ja, die oënskynlik onneembare “Babilon die Grote” sou “kliphope word, ’n lêplek van jakkalse, . . . sonder inwoner”.—Jer. 50:13; 51:37.

8. Watter besonderhede is oor Babilon se val verstrek?

8 Hoe sou Babilon nou eintlik val? Jehovah het vir Jesaja en Jeremia party van die besonderhede gegee. Jesaja het geskryf dat Jehovah die Een is “wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog” (Jes. 44:27). Jesaja het ook gesê: “So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie” (Jes. 45:1). Jeremia het voorspel: “Die helde van Babel het opgehou om te veg, . . . hulle mag het verdwyn, hulle het vroue geword” (Jer. 51:30). Babilon se beskermende rivier, die Eufraat, sou dus “verdroog”; ’n leier wat Jehovah lank voor sy geboorte by name genoem het, “Kores” sou die veroweraar wees; die poorte langs die rivier sou “nie gesluit bly nie”; en Babilon se soldate sou ‘ophou veg’.

9. Waarom was Belsasar se fees veral aanstootlik vir Jehovah?

9 Op 5/6 Oktober van die jaar 539 v.G.J. is daardie profesieë na die letter vervul. Daardie nag het die trotse Babiloniese koning Belsasar ’n feesmaal vir ’n duisend van sy amptenare en ander gehou. Om die geleentheid in ’n godsdiensfees te omskep sodat hy Jehovah kon laster, het hy beveel dat die heilige voorwerpe wat Nebukadnesar in 607 v.G.J. uit Jerusalem se tempel weggevoer het, ingebring moes word. Uit hierdie voorwerpe, wat tevore deur God se volk in die diens van Jehovah gebruik is, het Belsasar en die ander, onder meer die koning se vroue en byvroue, aanmatigend heildronke op hulle valse gode gedrink.—Dan. 5:1-4.

10. Wat het die handskrif teen die muur gesê, en hoe het Belsasar gereageer?

10 Jehovah sou egter nie toelaat dat hy langer bespot word nie! Die tyd het vir hom aangebreek om op te tree! “Op dieselfde oomblik het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en . . . op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het” (Dan. 5:5). Belsasar het so bang geword toe hy dit sien dat “sy knieë . . . teen mekaar geslaan” het (Dan. 5:6). Daniël het moedig die handskrif van God af vir die koning uitgele en gese: “God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; . . . u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; . . . u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.”—Dan. 5:26-28.

11. Hoe is Bybelprofesie oor Babilon na die letter vervul?

11 Buitekant Babilon se mure het die Persiese leërs onder Kores die Grote, in samewerking met die Meders van Darius, die stad omsingel. Terwyl die Babiloniërs gefuif het in hulle godslasterlike godsdiensorgie, en gemeen het dat hulle veilig is weens hulle gode en leërmag, het Kores ’n briljante strategie toegepas. Ten noorde van Babilon het sy ingenieurs deur die oewer van die Eufraat gegrawe en die rivier verlê sodat die water nie langer suidwaarts deur die stad gevloei het nie. Die watervlak van die rivier in en om Babilon het gou begin daal. Kort daarna was die water vlak genoeg sodat die troepe onder aanvoering van Kores uit die noorde en die suide met die rivierbedding langs na die hartjie van Babilon kon beweeg. Verbasend genoeg is die poorte langs die rivier aan die binnekant van die stad deur die niksvermoedende of dronk Babiloniërs oopgelaat. Met ’n oorweldigende mag het Kores Babilon binnegestroom. “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood” (Dan. 5:30). “Babilon die Grote” het geval—in net een nag! Wat ’n skok was dit tog, en nie net vir die Babiloniërs nie, maar vir al die nasies in die omtrek! Haar einde het gekom presies soos Jehovah se knegte voorspel het. En mettertyd het Babilon “kliphope” “’n wildernis” en “sonder inwoner” geword.

BETEKENIS VIR ONS DAG

12. Wat sê die apostel Johannes in Openbaring hoofstuk 17 oor “Babilon die Grote”?

12 Watter betekenis hou dit vir ons dag in? Baie. Meer as ses eeue na Babilon se val is die apostel Johannes geïnspireer om die boek Openbaring te skryf. Daarin het hy van nog ’n “Babilon die Grote” gepraat en haar beskryf as “die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openb. 17:5, vgl. NW). Johannes het geskryf dat dit met haar is dat “die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery”.—Openb. 17:2.

13. (a) Waarom kon hedendaagse “Babilon die Grote” nie net nog ’n politieke mag wees nie? (b) Waarom word die hoer “Babilon die Grote” genoem?

13 Aangesien daar gesê word dat die konings met haar hoereer, is dit duidelik dat hierdie “Babilon die Grote” nie net nog ’n “koning” is nie. Dit verteenwoordig die ding waarvoor antieke Babilon beroemd was—valse godsdiens. Dit is waarom die hedendaagse hoer dieselfde naam as die eertydse stad het. Baie van die valse leerstellings en gebruike wat in hedendaagse godsdienstige Babilon aangetref word, kan inderdaad regstreeks teruggespoor word na antieke, godsdienstige Babilon. Die hoer “Babilon die Grote” van ons dag stel dus die wêreldwye ryk van valse godsdiens voor wat haarself eeue lank skuldig gemaak het aan hoerery met die wêreld in plaas daarvan om God kuis te dien. Openbaring gee ons ook ’n ander leidraad oor haar godsdiensidentiteit wanneer dit van haar sê: “Want deur jou towery [valse godsdiens] is al die nasies verlei.”—Openb. 18:23.

14. Watter ander ooreenkoms bestaan daar tussen die twee Babilons?

14 Jy onthou dat antieke Babilon ’n verstokte vyand van God se volk was en baie bloed tydens haar talle verowerings vergiet het. Die Bybel sê eweneens van die hedendaagse Babilon: “Die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openb. 18:24). Hierdie hoer was ’n vername vervolger van Jehovah se hedendaagse volk, sy getuies. En weens haar ondersteuning van die oorloë van die nasies waartydens sy mense aan alle kante aangespoor het om mekaar om die lewe te bring, word sy verantwoordelik gehou vir die bloed “van almal wat op die aarde gedood is”.

15. Wie sal die hoer vernietig, en hoe lank sal dit duur?

15 Omdat “haar sondes reik tot aan die hemel” sal God se teregstelling van die hoer vinnig geskied (Openb. 18:5, 21). Die Bybel sê dat “haar plae op een dag [sal] kom” ja, “in een uur”! (Openb. 18:8, 10). Dit sal ooreenkom met wat gebeur het met haar prototipe, antieke Babilon, wat in een nag geval het! En wie sal die hoer vernietig? Jehovah sal toelaat dat die politieke elemente wat met die hoer gehoereer het haar vernietig. “Hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.”—Openb. 17:16.

16. Wat is die “waters” waarop hedendaagse Babilon sit, en hoe kom dit met antieke Babilon ooreen?

16 Daar bestaan nog ’n ooreenkoms tussen antieke en hedendaagse Babilon, een wat in verband staan met die wyse van hulle vernietiging. Antieke Babilon het op waters gesit, die letterlike waters van die Eufraat. Openbaring 17:1 sê dat hedendaagse Babilon ook “op die baie waters sit”. Wat is hierdie waters? God se Woord antwoord: “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale” (Openb. 17:15). Let daarop dat die val van antieke Babilon onmiddellik voorafgegaan is deur die daling van die letterlike waters van die Eufraat. Is daar ’n soortgelyke daling van die simboliese waters (mense) onder hedendaagse Babilon? Ja, daar is, en dit vind voor ons oë plaas!—Openb. 16:1, 12.

HOE DIE “BAIE WATERS” DAAL

17. In watter sin daal die simboliese “waters” onder die hoer?

17 Hoe is die simboliese “baie waters” onder hedendaagse Babilon besig om te daal, om minder te word? In die sin dat miljoene mense, onder meer tienduisende geestelikes en godsdienswerkers, die steun wat hulle vantevore aan hulle kerke gegee het, onttrek het en die kerke aldus baie verswak het. Dit is veral waar in die valse Christendom, wat groter skuld dra omdat hulle beweer dat hulle God sowel as Christus dien. Hoewel daar soms sprake van ’n “herlewing” in ’n paar gelowe, veral die minder ortodokse gelowe, is, is dit in die meeste gevalle slegs oppervlakkig. Die algemene neiging is, op ’n paar uitsonderinge na, onmiskenbaar en blyk uit kommentare soos die volgende in die wêreldpers:

“lets het met die Christendom gebeur. Alles dui daarop dat ons ’n lang, lang nag binnegegaan het, en ons gaan nie daaruit kom nie . . .

“Die effektiewe bestaan van die Christelike godsdiens en Rooms-Katolisisme in die openbare strukture het reeds verdwyn. Ons is besig om die dood van ’n Christelike godsdiens met ’n maatskaplike en politieke struktuur te aanskou.”—Vermaarde Katolieke skrywer Malachi Martin, in Providence se “Sunday Journal” 17 Februarie 1980.

“ln nasie na nasie is die tekort aan priesters en nonne in die Weste naby die gevaarpunt.”—“Time” 21 Augustus 1978.

“Die Christelike godsdiens is vinnig besig om te wyk . . . ’n beeld van bygelowige agnostisisme, verwarring en onkunde . . . Dit is geen oordrywing om te sê dat so te sê alle kinders geen benul het van wat die Christelike godsdiens werklik is nie.”—Londen se “Times” 25 September 1978, in ’n kommentaar oor ’n verslag deur die Kerk van Engeland se Onderwysraad.

18, 19. Voer nog getuienis aan dat hierdie “waters” daal.

18 Toe pous Johannes Paulus II Frankryk in Mei 1980 besoek het, het New York se Times (31 Mei) gesê: “Die kerk se invloed in Frankryk is vinnig besig om af te neem. ’n Onlangse opname het getoon dat slegs 15 persent van die mense praktiserende Katolieke is, alhoewel 85 persent in die kerk gedoop is.” In Brasilië het aartsbiskop Luciano Cabral Duarte gesê: “Ons Katolieke is besig om hul krag te verloor en om weens ernstige geestelike anemie te vergaan” (Veja, 30 Januarie 1980). In Nigerië het ’n geestelike van die Presbiteriaanse Kerk erken: “Dit lyk of die kerk vandag oënskynlik sy identiteitsin verloor het soos iemand wat aan geheueverlies ly en vra: ‘Wie is ek?’ en ‘Wat maak ek hier?’” (Daily Star, 11 September 1978). In Griekeland het ’n koerant die volgende oor die eens gerespekteerde Grieks-Ortodokse Kerk gesê:

“Vandag is die Kerk, dit wil sê die geestelikes, veral die hooggeplaaste geestelikes, dikwels ’n klomp skandemakers, ’n bron van dwaasheid en onsin.”

“Soseer dat die oorgrote meerderheid Grieke nou al ’n geruime tyd die meeste geestelikes nie as ’n agtenswaardige, geestelike instelling beskou nie, maar as ’n menigte onrusstokers en skandemakers, radikale en uitbuiters, wat nie ‘hulle kudde lei’ nie, maar hulle eerder vermaak met hulle gebabbel en waansinnigheid.”—“To Vima” 15 Oktober 1978.

19 Van die Oosters-Ortodokse Kerk se belangrikste sentrum in Turkye sê Time: “Die historiese stoel, wat eens die middelpunt van die helfte van die Christelike wêreld was, is besig om te sterf.” Amerikaanse rabbi Alvin Reines sê van die Joodse geloof: ‘Die Amerikaanse Jodedom verkeer in ’n wanhopige krisistoestand. Die probleem is dat Amerikaanse Jode eenvoudig nie die leerstellings van tradisionele Judaisme aanvaar nie.’ In Engeland is so baie kerke gedurende die laaste jare gesluit weens dalende bywoning dat een kommentator hulle “’n bedreigde spesie” genoem het. In Duitsland het ’n meningspeiling getoon dat slegs 17 persent van alle Duitsers jonger as 35 glo dat God bestaan. Toe daar vir mense in Japan gevra is: “Het jy die een of ander geloof?” het 60 persent “Nee” gesê en het 7 persent nie geantwoord nie. In land na land is die situasie van hierdie wêreld se gelowe soos The Age van Melbourne, Australië, dit beskryf—alle kerke “ondervind ’n afname in die aantal gelowiges”. Kan die vernietigingsmagte nog ver weg wees indien die “afname in die aantal gelowiges” die daling van die “baie waters” waarop die hoer sit, nou so duidelik plaasvind? Nee.

20. Watter dringende raad gee God se Woord aan persone met ’n neiging tot geregtigheid?

20 Die slinkende steun vir die “groot hoer” pas by die beskrywing van Bybelprofesie aangaande hierdie “laaste dae” wanneer dit sê dat mense “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God [sal wees]; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”. Dieselfde profesie vermaan dan: “Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:4, 5). Die treffende verklaring wat gerig is tot persone met ’n neiging tot geregtigheid en wat steeds in hedendaagse “Babilon die Grote” is, lui eweneens: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—Openb. 18:4.

21. Watter laaste daad laat Jehovah se grimmigheid opkom, en met watter gevolg?

21 Die “groot hoer” sal binnekort tereggestel word ter voltrekking van God se oordeel aan haar. Net soos in die geval met antieke Babilon, sal hedendaagse Babilon se skielike val ’n groot skok vir die wêreld wees (Openb. 18:9-19). Haar vernietiging is die gebeurtenis wat die begin van die “groot verdrukking” sal aandui. Dan sal die elemente wat teen God gekant is ook Jehovah se knegte aanval en probeer om hulle te verpletter (Eseg. 38:16). Maar Jehovah sê vir sy lojale dienaars: “Wie julle aanraak, raak [my] oogappel aan” (Sag. 2:8). Dit lok onmiddellike reaksie by God uit. Jehovah sê: “Maar in dié dag . . . sal my grimmigheid in my neus opkom. Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid” (Eseg. 38:18, 19). Wanneer God vir sy lojale dienaars redding bring, sal hy die nasies by die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” Armageddon, vinnig en met verpletterende krag tref. Die vyande van God en van sy volk word aldus vernietig sodat die aarde van alle goddeloosheid gereinig is.—Openb. 16:14, 16; Spr. 2:22.

22. Hoe gaan diegene wat aan Jehovah lojaal bly, beloon word?

22 Na Armageddon gaan die wonderlike nuwe orde begin! Die getroues wat “uit die groot verdrukking kom” word ryklik beloon. “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openb. 21:3, 4.

23. (a) Waarom moet ons moed skep ondanks vandag se moeilike toestande? (b) Wat moet ons waarheidsoekers aanspoor om te doen?

23 Skep dus moed, alle liefhebbers van geregtigheid! Die dae van die “groot hoer” en van die verdrukkende politieke heersers van hierdie stelsel van dinge is getel en Jehovah gaan hulle binnekort verwyder. Aangesien God “nie kan lieg nie” kan julle vertrou dat hy julle hoop sal vervul om vir ewig in ’n paradysagtige nuwe orde te lewe waar julle julle elke dag sal kan “verlustig oor groot vrede” (Tit. 1:2; Ps. 37:11). Benut intussen Jehovah se voorsienings om julle te versterk vir die moeilike dae wat voor die deur is. Terwyl julle dit doen, moet julle ander wat “honger en dors na die geregtigheid” liefdevol in ag neem. Spoor hulle aan om die volgende Bybelraad ter harte te neem: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.”—Matt. 5:6; Jes. 55:6.

[Prent op bladsy 19]

Antieke Babilon was aan weerskante van die Eufraat geleë

[Prente op bladsy 21]

Die daling van die waters van die Eufraat het dit vir vyandelike troepe moontlik gemaak om Babilon binne te gaan en te verower

Die daling van die simboliese waters (mense) onder Babilon die Grote gaan haar vernietiging vooraf

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel