Lesse uit die Skrif: Joël 1:1–3:21
Roep Jehovah se naam aan en word gered!
“AS DIE plaag hand-uit ruk, sal dit na Oos-Afrika en die Nabye Ooste versprei. Dit kan ’n ramp wees.” Dit was die woorde van ’n amptenaar van die VV se Voedsel- en Land bou-Organisasie oor die gulsige insek wat noordwestelike Afrika tans by die miljarde binnedring—die sprinkaan.
God se profeet Joël het omstreeks 820 v.G.J. van ’n soortgelyke plaag gepraat. Hy het op aanskoulike wyse en met onoortreflike akkuraatheid en realisme beskryf hoe die nasie Juda deur ’n insekstrooptog verwoes sou word. Maar daardie plaag het iets afgebeeld wat baie betekenisvoller as ’n ekologiese bedreiging was. Dit was ’n aankondiging van “die dag van die HERE”! Ons geslag gaan daardie “vreesinboesemende dag” en al sy vernietigende woede tegemoet. Watter hoop bestaan daar op redding? En watter lesse kan ons uit die profetiese boek Joël leer?
Skrikwekkende insekstrooptog
Berou is nodig vir redding tydens die vreesinboesemende dag van Jehovah. Deur Joël se oë sien ons ’n ramp terwyl die land van plantegroei gestroop word deur swerms ruspes, sprinkane, voetgangers en kakkerlakke. Priesters, oudstes en ander inwoners van Juda word aangespoor om hulle te bekeer ‘en tot Jehovah om hulp te roep’. Voorraadkamers word verwoes, en skure word afgebreek namate hulle voorraad verdwyn. Vee loop onrustig rond en soek tevergeefs na weiveld. Wat ’n dag van verwoesting van die Almagtige!—1:1-20, vgl. NW.
Die nabyheid van Jehovah se dag behoort ons te beweeg om heilige wandel en godsvrug te beoefen (2 Petrus 3:10-12). Joël stel ons in staat om dit as ’n dag van duisternis, wolke en wolkenag te sien. Die sprinkane is ’n skrikwekkende voorloper van daardie dag. Na hulle strooptog word Juda se landskap wat soos die tuin van Eden was ’n woeste wildernis. Die blote geruis van die sprinkane is ook onheilspellend, want dit klink soos die gedruis van ’n wa en die geknetter van ’n vuurvlam wat kaf verteer. Terwyl die sprinkane voorttrek “soos ’n magtige volk wat vir die geveg opgestel is”, klim hulle teen mure op, oorval hulle stede en gaan hulle in huise in. Selfs die son, maan en sterre word swart tydens die “vreesinboesemende dag van Jehovah”.—2:1-11, vgl NW.
Die weg tot redding
As ons gered wil word, moet ons erken dat ‘Jehovah God is en niemand anders nie’. “Bekeer julle tot My met julle hele hart”, maan Jehovah. Oud en jonk word aangespoor om ’n vergadering saam te roep sodat hulle om goddelike guns kan smeek. God sal sy volk verskoon, vir die insekverwoesting vergoed en sy volk met oorvloed seën. Diegene wat Jehovah se posisie as die enigste ware God en Bron van redding erken, sal nie beskaamd staan nie.—2:12-27.
Ons moet die naam van Jehovah in geloof aanroep om gered te word. Voor “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” sal God ‘sy Gees uitgiet op alle vlees’. Jonk en oud, manlik en vroulik, sal profeteer. Talle sal dus leer dat ‘elkeen wat die Naam van Jehovah aanroep, gered sal word’.—2:28-32, vgl. NW.
Die nasies word geoordeel
Jehovah sal sy getroue volk red wanneer hy oordeel aan die nasies voltrek. (Vergelyk Esegiël 38:18-23; Openbaring 16:14-16.) Tirus, Sidon en Filistea moet vergelding ontvang omdat hulle God se volk mishandel en in slawerny verkoop het. Jehovah sal die gevangenes van Juda en Jerusalem terugbring, en hy daag sy vyande uit: “Heilig ’n oorlog!” Maar hulle is nie opgewasse teen God nie, wat oordeel aan hulle voltrek in die simboliese “dal van Josafat”. Hoewel hemel en aarde sal bewe, sal Jehovah ’n toevlug vir sy volk wees. Die getroues sal die oordeel oor die nasies oorlewe en sal lewe in paradystoestande geniet.—3:1-21.
Lesse om te onthou: ’n Mens moet vooraf berou toon om gedurende die vreesinboesemende dag van Jehovah gered te kan word. Die nabyheid van daardie dag behoort ons te beweeg om heilige wandel en godsvrug te beoefen. Om gered te word moet ons natuurlik erken dat Jehovah alleen God is. As ons sy naam in geloof aanroep, sal hy ons red wanneer hy die oordeel aan die nasies voltrek.
Joël se profesie gee ons selfs meer stof tot nadenke. “Die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” is ophande! Die mensdom moet gewaarsku word. Soos die sprinkane in Joël se profesie verwoes Jehovah se Getuies die Christendom deur haar geestelike dor toestand meedoënloos aan die kaak te stel. Dit wek die woede en teëstand van haar leiers, maar enige muuragtige struikelblokke wat hulle in die weg van die simboliese sprinkane probeer stel, is tevergeefs. Jehovah het sy gees op sy volk uitgegiet en hulle toegerus om sy oordele te verkondig. Laat ons derhalwe, in die kort tydjie wat oor is voor God se vreesinboesemende dag, ’n volle aandeel daaraan hê om ander te help om ‘die naam van Jehovah aan te roep sodat hulle gered kan word’.
[Venster op bladsy 30]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
○ 1:2—Joël het met die “oudstes” gepraat wat die nasie mislei het. Omdat die “inwoners van die land” daardie valse leiding gevolg het, was hulle ook in Jehovah se oë aanspreeklik. Die geestelike leiers van die Christendom het vandag eweneens hulle kuddes mislei. Soos Joël het Jehovah se Getuies boodskappe tot die geestelikeklas gerig. Nogtans moet God se Woord aan die mense in die algemeen verkondig word, want hulle sal ook aan Jehovah rekenskap moet gee.—Jesaja 9:14-16; Romeine 14:12.
○ 2:1-10, 28—Die Israeliete is gewaarsku dat as hulle aan God ongehoorsaam sou wees, sprinkane en ander diere hulle gesaaides sou opvreet (Deuteronomium 28:38-45). Aangesien die Skrif nie ’n verslag bevat oor ’n insekstrooptog in Kanaän wat so groot is soos die een wat Joël meld nie, was die plaag wat hy beskryf het blykbaar ’n afbeelding. Die profesie het klaarblyklik teen Pinkster 33 G.J. in vervulling begin gaan, toe Jehovah begin het om ‘sy Gees uit te giet’ oor Jesus se volgelinge, wat valse godsdiensbeoefenaars met hulle godgegewe boodskap gefolter het (Handelinge 2:1, 14-21; 5:27-29). Jehovah se Getuies doen nou ’n soortgelyke verwoestende werk.
○ 2:12, 13—In die ou tyd was dit ’n uiterlike betuiging van smart as iemand sy klere geskeur het (Genesis 37:29, 30; 44:13). Maar dit kon onopreg en skynheilig gedoen word. Joël het dit duidelik gestel dal uiterlike betuigings van verdriet nie genoeg was nie. Die volk moes ‘hulle hart skeur’ deur hartgrondige berou te toon.
○ 2:31, 32 (vgl. NW)—Jehovah het getroue persone in die dag van Joël teen vernietiging bewaar. Nou, in hierdie “laaste dae”, maak God redding moontlik deur Jesus Christus (2 Timotheüs 3:1; Romeine 5:8, 12; 6:23). Maar sondige mense moet Jehovah se naam aanroep vir ewige redding. Dit beteken dal hulle die goddelike naam moet ken, dit ten volle moet eerbiedig en volkome op die Een wat dit dra, moet vertrou. Diegene wat sodoende Jehovah se naam in geloof aanroep, “sal gered word” wanneer God sy oordeel aan die nasies voltrek gedurende sy “groot en vreesinboesemende dag”.—Sefanja 2:2, 3; 3:12; Romeine 10:11-13.
○ 3:2, 14—Die simboliese plek waar goddelike oordeel in “die dag van die HERE” voltrek word, word “die dal van beslissing” genoem. Dit word ook “die dal van Josafat” genoem. Dit is gepas aangesien die naam Josafat “Jehovah is Regter” beteken. Gedurende die heerskappy van koning Josafat het God Juda en Jerusalem uit die strydkragte van Moab, Ammon en die bergstreek Seïr verlos deur verwarring onder hulle te veroorsaak sodat hulle mekaar doodgemaak het (2 Kronieke 20:1-30). In ons dag dien “die dal van Josafat” as ’n simboliese parskuip waarin die nasies soos druiwe vertrap word omdat hulle Jehovah se volk mishandel het.
○ 3:6 (vgl. NW)—Tirus, Sidon en Filistea was skuldig daaraan dat hulle mense van Juda en Jerusalem in slawerny aan die Grieke verkoop het. Sommige Jode wat deur ander nasies gevange geneem is, het moontlik in die hande van slawehandelaars van Tirus, Sidon en Filistea beland. Wat dit nog erger maak, is die feit dat hierdie nasies miskien slawe van Jode gemaak het wat beskerming teen hul vyande gesoek het. Wat die geval ook al was, God het daardie handelaars wat met menselewens gesmous het rekenskap laat gee omdat hulle sy volk mishandel het. Dit dui aan wat op nasies wag wat Jehovah se knegte vandag vervolg.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Prenteargief (Nabye Oosterse Geskiedenis)