Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 3/15 bl. 26-29
  • Die Koninkryk word verkondig in kleurryke Maleisië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Koninkryk word verkondig in kleurryke Maleisië
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Bied die godsdiensuitdaging die hoof
  • Tale en gebruike
  • In die “Land van die Koppesnellers”
  • ‘Die kleinste sal ’n duisend word’
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 3/15 bl. 26-29

Die Koninkryk word verkondig in kleurryke Maleisië

MOSKEES met goue koepels, tempels met boë, kerke met torings en tempelziggoerats wat met beelde versier is. Dit is Maleisië, ’n land waar die vier vername godsdienste van die wêreld aangetref word. Sy 16 000 000 inwoners is Maleiers, Chinese, Indiërs, Eurasiërs, Ibans, Kazadans en verskeie inheemse stamme. ’n Groter verskeidenheid van godsdienste, kulture, gebruike, tradisies en tale word waarskynlik nêrens anders aangetref nie.

Maleisië, wat net noord van die ewenaar in die Suid-Chinese See geleë is, bestaan uit twee geografiese dele: die skiereiland in die weste wat voorheen Maleia genoem is en die state Sabah en Sarawak op die eiland Borneo in die ooste. Van die moerasagtige kuslaaglande, deur die digte, dikwels ondeurdringbare oerwoude tot die hoë bergpieke—waaronder die 4 101 meter hoë Kinabaluberg in Sabah—is die land net so veelsoortig soos sy mense en kultuur.

Jehovah se Getuies streef daarna om binne hierdie raamwerk “hierdie evangelie van die koninkryk” te verkondig (Mattheüs 24:14). Hoe slaag hulle daarin om die mense te bereik, wat soveel verskillende tale, gebruike en godsdiensidees het? Onder watter toestande word die Koninkryksboodskap in hierdie land verkondig? Selfs belangriker, wat het die Getuies reeds bereik?

Bied die godsdiensuitdaging die hoof

As verkondigers van die goeie nuus mense van verskillende godsdiensagtergronde wil bereik, moet hulle leer om te onderskei tussen ’n Moslemhuis en ’n Hindoehuis, tussen ’n Boeddhiste- of Taoïstegesin en ’n Protestantse of Katolieke gesin. Hoe kan dit gedoen word?

Daar is duidelike aanduidings. ’n Helderrooi altaar is byvoorbeeld ’n teken van ’n Taoïste- of ’n Boeddhistehuis, net soos ’n beeld van Maria of Jesus ’n teken van ’n Katolieke woning is. Net so kenmerkend is die mangoblare van Hindoehuise of die Arabiese tekste uit die Koran wat bokant die deure van Moslemhuise geskryf is.

Dit is een ding om die godsdiensagtergrond van die huisbewoner te identifiseer; maar dit is iets heel anders om sy belangstelling in die goeie nuus te wek. ’n Tipiese antwoord, gewoonlik in ’n mengelmoes van Chinees, Maleis en Engels, is: “Semua agama sama lah.” Dit word gevolg deur: “Jammer, ek is nie interessant nie.” Met ’n breë glimlag het die huisbewoner jou so pas meegedeel dat hy dink dat alle godsdienste dieselfde is en dat hy nie geïnteresseerd is nie.

Talle Maleisiërs wat as Boeddhiste, Taoïste of Hindoes gebore is, is aangetrek deur die onmiddellike bekering wat die sendingposte van die Christendom aanbied en het by verskeie Protestantse sektes aangesluit. Baie van hulle is deur hulle geestelikes oorreed om hulle ore vir die goeie nuus te sluit. Nogtans word Jehovah se groot naam en voorneme standvastig in hierdie kleurryke land verkondig.

As gevolg van die geduld en begrip van Jehovah se Getuies reageer talle opregte mense gunstig op die Koninkryksboodskap. Kyk byvoorbeeld na Patrick, voorheen ’n roker met lang, ongekamde hare. Hy is in Chinese verweerkuns opgelei en het gewoonlik gewelddadig geword wanneer hy kwaad gemaak is. Hoewel hy geen doel in die lewe gehad het nie, is hy getref deur die woorde “daar sal geen dood meer wees nie” wat ’n Koninkryksverkondiger vir hom uit Openbaring 21:4 gelees het. Patrick het dus ’n Bybelstudie aanvaar. Hy was so verheug deur die Skriftuurlike waarhede wat hy geleer het dat hy spoedig begin het om dit aan sy moeder mee te deel, deur die pos sowel as persoonlik wanneer hy huis toe gegaan het. Maar sy was baie gekant daarteen.

Eendag het Patrick en sy moeder sy jonger broer, ook ’n bobaas in karate, gedissiplineer. Toe die broer begin slaan en skop het, was die moeder verstom om te sien dat Patrick nie teruggeslaan en teruggeskop het nie, maar kalm gebly het. Sy het groot belangstelling begin toon in wat haar seun geleer het wat ’n krag gehad het om hom so te verander. Sy moeder het vinnig vordering gemaak en is binne ses maande gedoop. Sy het op haar beurt vir haar 73-jarige moeder, ’n ywerige Boeddhis, getuig. Hierdie dame het ook die vooruitsig om vir ewig te lewe waardeer. Hoewel sy ongeletterd is, het sy begin om die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te bestudeer en het sy soveel Chinese karakters moontlik gememoriseer. Sy is nou ook ’n verkondiger van die goeie nuus.

Tale en gebruike

Om die probleem van soveel tale die hoof te bied, moet ’n mens genoeg lektuur in jou tas dra wanneer jy van huis tot huis preek. Maar dit los nie altyd die probleem op nie.

Wanneer ’n mens Chinees is en Chinese lektuur het, beteken dit byvoorbeeld nie vanselfsprekend dat ’n Getuie met ’n Chinese huisbewoner kan kommunikeer nie. Praat hulle dieselfde dialek? As die Getuie Foekien en die huisbewoner Kantonees is, kan dit ’n probleem skep. Aangesien Chinese dialek tonaal is, kan die geringste variasie van uitspraak ’n heeltemal ander boodskap oordra. Ter toeligting: Dit was heel amusant toe ’n Foekiensprekende pioniersuster in ’n Kantonese gebied vir mense vertel het dat sy ’n “mal student” is toe sy eintlik wou se dat sy ’n “Bybelstudent” is.

Selfs wanneer die regte woord gebruik word, beteken dit dalk nie vir almal dieselfde nie. Omdat hulle in ’n veelrassige gemeenskap woon, is Maleisiërs gewoonlik hoflik en versigtig om niemand aanstoot te gee nie. Dit is veral moeilik vir hulle om vir vreemdelinge nee te sê. ’n Mens leer dus om nie te opgewonde te raak wanneer ’n huisbewoner instem om ’n Bybelstudie te hê of om na Christenvergaderinge te gaan nie. Waarom nie? Omdat dit nie noodwendig beteken dat hy enigiets aanvaar nie. Dit verg tyd en ondervinding om vas te stel wie opreg belangstel.

Maleisië tel onder die lande wat die grootste getal vakansiedae en godsdiensfeeste het. Dit is tye wanneer mense vriende en familie besoek. Die Maleisiese Getuies is ook bedrywiger en gebruik sulke vakansiedae om die goeie nuus te verkondig. Maar hulle moet dit taktvol en met begrip doen as hulle goeie resultate wil behaal.

Chinese Nuwejaar is juis so ’n dag. Die Taoïste glo daaraan dat die nuwe jaar met vriendelike woorde en weldade begin moet word om voorspoed vir die res van die jaar te verseker. Op daardie dag sal ’n Getuie woorde soos “dood”, “siekte” en “pyn” vermy. Hy sal eerder gelukkige temas bespreek, soos “ewige lewe met goeie gesondheid en blywende vrede en voorspoed in ’n nuwe wêreld”. Hierdie vakansiedag is nie die tyd om mense aan hulle ellendes te herinner nie.

In die “Land van die Koppesnellers”

Aangesien die “groot menigte” uit individue “uit alle nasies en stamme en volke en tale” bestaan, kan ons nie anders as om aan die talle inheemse stamme van Oos-Maleisië te dink nie (Openbaring 7:9). Dit is bemoedigend om te sien dat al hoe meer inwoners van Sarawak—eens bekend as die Land van die Koppesnellers—op die Koninkryksboodskap reageer.

Vier jaar gelede was daar byvoorbeeld net drie Koninkryksverkondigers in die oliedorp Miri aan die kus van Sarawak. Vandag toon talle belangstelling in die Bybel. ’n Pioniersuster rapporteer 17 Bybelstudies, en sommige van haar studente hou self studies met ander belangstellendes. Daar is nou ’n bloeiende gemeente in die dorpie Miri.

’n Besonderse kenmerk van die Ibanmense van Sarawak is die gemeenskapshuis. Hierdie lang timmerwerk op pale word uit hardehout en palmblare gebou. Dit word gewoonlik op ’n rivieroewer langs die oerwoud gebou en bestaan uit ’n ry van 30 tot 40 of meer wonings langs mekaar langs ’n gemeenskaplike voorgalery. Baie van ons predikingswerk word in hierdie soort gebied gedoen.

By een geleentheid sou ’n Bybeltoespraak oor die onderwerp “Watter hoop is daar vir die afgestorwenes?” by een van hierdie gemeenskapshuise gehou word. Die tuai rumah, of hoofman, het al die mense in die ruai, of gemeenskaplike gang, bymekaar laat kom. Almal het beleefd en in doodse stilte geluister totdat die toespraak klaar was. Toe het een man gevra: “Hoe kan die dode niks weet nie?” ’n Ander een het daarop aangedring dat die goeies reeds in die hemel is en dat die slegtes in ’n brandende hel is. Maar sommige het die vooruitsig om vir ewig op ’n paradysaarde te woon aantreklik gevind en wou meer weet. Dit was net soos toe Paulus met die Atheners op die Areopagus gepraat het.—Handelinge 17:32-34.

Juing Insoll, ’n 72-jarige Iban wat ’n lid van die Anglikaanse Kerk was, het in ’n ander gemeenskapshuis gewoon. As ’n jongmens was daar vrae wat hom gepla het, soos: Hoe kan ’n liefdevolle God afgestorwenes vir ewig in ’n brandende hel pynig? Waarom is daar soveel onreg as daar ’n God is? Niemand kon hom bevredigende antwoorde gee nie. Eendag het ’n vriend van hom uit die stad ’n eksemplaar van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gekry. Die vriend het opgemerk dat dit dalk Juing se vrae sal beantwoord en het die boek vir hom geleen. Wat ’n vreugde vir Juing! Uiteindelik, na ’n soektog van 60 jaar, het hy die waarheid oor God gevind!

Juing was vasbeslote om ’n eksemplaar van die boek vir homself te kry. Hy het die 240 kilometer na Kuching, die hoofstad van Sarawak, afgelê en die boekwinkels gefynkam. Nie ’n teken van die boek nie. Daardie nag het hy in ’n familielid se huis gehoor dat ’n ander familielid ’n eksemplaar het. Hy is na die plaaslike Koninkryksaal gestuur en het 15 verskillende publikasies gekry om na sy gemeenskapshuis terug te neem.

Nadat hy al daardie materiaal gelees het, was Juing terug in die stad en het hy gevra om gedoop te word. Die ouere manne het geglimlag en hulle koppe geskud. Tot hulle verbasing het hulle egter gou ontdek dat hy ten volle aan die vereistes voldoen het. Hy is dus gedoop! Juing het terug in die gemeenskapshuis en oorlaai met nog Bybellektuur begin om vir sy bure te getuig. Hy het aanvanklik gewonder waarom sy vriende nie die waarheid aanvaar onmiddellik nadat hulle die boeke gelees het nie. Maar hy het gou besef dat hy ’n Bybelstudie met hulle moes hou. Juing se velddiensrapport was altyd in die vorm van ’n dagboek!

Uit die afgesonderde dorp Lahad Datu in die staat Sabah kom hierdie berig: ’n Jong getroude vrou met drie kinders het die waarheid leer ken deur ’n Bybelstudie wat ’n suster in Kota Kinabalu, die staat se hoofstad, deur die pos met haar gehou het. Die vrou het mettertyd besluit om haar by ’n kringbyeenkoms te laat doop. In die middel van die dooptoespraak het haar man egter ingestorm en geeïs dat sy saam met hom terugkeer huis toe.

Terug by die huis het die man daarvoor probeer vergoed, maar sonder welslae. Hy het uiteindelik uitgeroep: “Nou wat wil jy hê?” “Ek wil gedoop word”, het sy vrou geantwoord. “Is dit so belangrik vir jou?” het hy gevra. “Ja, dit is die belangrikste geleentheid van my lewe.” “Goed dan!” het hy uiteindelik geantwoord. “Roep jou ouere man. Ek sal ’n swembad vir jou bou om hier gedoop te word.”

Die man het sy woord gehou en dit gedoen. En sy vrou is gedurende die kringopsiener se volgende besoek gedoop—in die swembad wat haar man vir haar gebou het! Maar wat het hierdie suster so vasbeslote gemaak? Wel, al was sy afgesonder, het sy gereeld al die materiaal vir die verskillende vergaderinge voorberei. As sy ooit ’n “vergadering” gemis het, het sy gevoel asof sy ’n maaltyd gemis het. Hierdie suster leer nou haar kinders en hou drie tuisbybelstudies.

‘Die kleinste sal ’n duisend word’

Die Koninkrykswerk in Maleisië is deur Alfred en Thelma Wicke begin, wat in 1939 van Australië daarheen gegaan het. Hulle getroue sendingdiens strek oor byna 50 jaar, en hoe wonderlik het Jehovah hulle pogings tog geseën! Sedert die stigting van die takkantoor in Penang in 1972, met broer Wicke as takopsiener, het die predikingswerk in Maleisië vinnig gevorder. Destyds was daar 207 Koninkryksverkondigers. Tien jaar later het die getal verdrievoudig. Die tak is dus in Julie 1983 na Klang verskuif, ’n hawestad naby die federale hoofstad, Kuala Lumpur. Die nuwe takkompleks bestaan uit ’n ry van drie dubbelverdiepinggeboue wat baie geskik is vir die huidige behoeftes. (Kyk bladsy 26.)

’n Paar jaar gelede is pogings verskerp om die Koninkryksboodskap na meer van die Chinees- en Tamilsprekende bevolking te neem. Nou is daar, buiten twee Chinese gemeentes, ook Chinese en Tamil-groepe in verskeie ander gemeentes asook ’n bloeiende Japannese groep van ongeveer 20 persone.

In die hele gebied is daar nou 20 gemeentes, met byna 900 Koninkryksverkondigers. Dit is ’n verhouding van 1 verkondiger vir elke 18 500 inwoners. Daar is dus nog baie werk om te doen. Die feit dat 2 633 mense na die Gedenkmaalviering van 1988 gekom het, is ’n aanduiding van die potensiaal vir groei. Die Maleisiese Getuies was verheug hieroor, en al hoe meer streef daarna om die voltydse bediening te betree. Ja, en Jehovah se Getuies in Maleisië sien gretig daarna uit om ’n verkondigertal van 1 000 te bereik. Hulle onthou Jehovah se belofte goed: “Die kleinste sal’n geslag [“duisend”, NW] word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, Sal dit op die regte tyd gou laat kom.”—Jesaja 60:22.

[Kaart op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

THAILAND

MALEISIË

Penang

Kuala Lumpur

Klang

Singapoer

MALEISIESE SKIEREILAND

SUMATRA

EWENAAR

Suid-Chinese See

FILIPPYNE

SABAH

Kota Kinabalu

Kinabaluberg

Lahad Datu

BROENEI

Miri

MALEISIË

SARAWAK

Kuching

BORNEO

600 km

400 m.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel