Jesus se lewe en bediening
Die ryk man en Lasarus
JESUS het met sy dissipels gepraat oor die behoorlike gebruik van materiële rykdom en het verduidelik dat ons nie die slawe daarvan en terselfdertyd slawe van God kan wees nie. Die Fariseërs luister ook, en hulle begin om Jesus te bespot, want hulle is geldgierig. Hy sê dus vir hulle: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.”
Die tyd het aangebreek dat die bordjies verhang moet word vir mense wat ’n oorvloed wêreldse besittings, politieke mag en godsdiensbeheer en -invloed het. Hulle moet verlaag word, en diegene wat hulle geestelike behoefte erken, moet verhoog word. Jesus wys op so ’n verandering wanneer hy voorts vir die Fariseërs sê:
“Die wet en die profete was tot op Johannes [die Doper]; van toe of word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.”
Die skrifgeleerdes en die Fariseërs is trots op hulle sogenaamde onderhouding van die Wet van Moses. Onthou dat toe Jesus ’n sekere man in Jerusalem wonderbaarlik laat sien het, hulle gespog het: “Ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gespreek het.” Maar nou het die Wet van Moses sy doel bereik, naamlik om nederiges na God se aangewese Koning, Jesus Christus, te lei. Toe Johannes se bediening begin het, het allerhande mense, veral die nederiges en die armes, hulle dus ingespan om onderdane van God se Koninkryk te word.
Aangesien die Mosaïese Wet nou vervul word, moet die verpligting om dit te onderhou, verwyder word. Die Wet laat egskeiding op verskeie gronde toe, maar Jesus sê nou: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” Hoe irriteer sulke woorde die Fariseërs seker, veral aangesien hulle egskeiding op baie gronde toelaat!
Jesus praat verder met die Fariseërs en vertel ’n gelykenis van twee manne wie se status, of situasie, uiteindelik ingrypend verander word. Kan jy vasstel wie deur die mans afgebeeld word en wat die ommekeer van hulle situasies beteken?
“En daar was ’n ryk man”, verduidelik Jesus, “en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.”
Jesus gebruik hier die ryk man om die Joodse godsdiensleiers af te beeld, wat nie net die Fariseërs en die skrifgeleerdes nie, maar ook die Sadduseërs en die owerpriesters insluit. Hulle het ’n oorvloed van geestelike voorregte en geleenthede, en hulle tree op soos die ryk man. Hulle klere van koninklike purper stel hulle begunstigde posisie voor, en die wit linne beeld hulle eiegeregtigheid af.
Hierdie trotse rykmanklas verag die arm, gewone mense geheel en al en noem hulle ‛am ha·’aʹrets, of mense van die aarde. Die bedelaar Lasarus beeld dus hierdie mense af vir wie die godsdiensleiers nie behoorlike geestelike voeding en voorregte gun nie. Soos Lasarus wat vol swere is, word die gewone mense dus verag as geestelik siek en alleenlik geskik om tussen honde te wees. Tog honger en dors diegene van die Lasarus-klas na geestelike voeding en is hulle derhalwe by die poort om enige krummeltjies geestelike voedsel te ontvang wat dalk van die ryk man se tafel sal val.
Jesus beskryf nou vervolgens veranderinge in die toestand van die ryk man en Lasarus. Wat is hierdie veranderinge, en wat word daardeur afgebeeld? Hierdie vrae sal in die volgende nommer van ons tydskrif bespreek word. Lukas 16:14-21; Johannes 9:28, 29; Mattheüs 19:3-9; Galasiërs 3:24; Kolossense 2:14.
◆ Watter verandering vind volgens Jesus se woorde aan die begin van Johannes se bediening plaas?
◆ Wat moet na Jesus se dood verwyder word, en hoe sal dit die kwessie van egskeiding raak?
◆ Wie word in Jesus se gelykenis deur die ryk man en deur Lasarus afgebeeld?
◆ Watter inligting sal in die volgende nommer van hierdie tydskrif verskyn?