Insig in die nuus
’n Waarskuwingsteken
Verlede Desember het ’n aardbewing, wat 6,9 op die Richterskaal geregistreer het, verwoesting in Armenië in die Sowjetunie gesaai. Die aardbewing, wat as “een van die ergstes in die geskiedenis van die Sowjetunie” beskryf word, het sowat 25 000 lewens geeïs en 500 000 mense dakloos gelaat. Dit het twee derdes van Armenië se naasgrootste stad, Leninakan, met ’n bevolking van 290 000, vernietig en het Spitak, ’n dorp met ongeveer 30 000 inwoners, heeltemal vernietig. Talle kleiner gemeenskappe is ook deur die aardbewing verwoes. Spanne reddingswerkers uit verskeie lande het ten minste 5 400 oorlewendes uit die puin bevry, en volgens die Sowjetowerheid is 13 000 mense beseer.
Hoewel wetenskaplikes min of meer die basiese geologiese oorsake van die meeste aardbewings verstaan, kan hulle nie akkuraat voorspel wanneer aardbewings sal plaasvind nie. Die verwoestende opeenvolging van aardbewings in hierdie eeu is nietemin nie ’n verrassing vir ingeligte Bybelstudente wat bekend is met Jesus Christus se voorspelde “teken” wat sy onsigbare “teenwoordigheid” en “die voleinding van die stelsel van dinge” kenmerk nie. Waarom nie? Omdat Jesus, al het hy nie verduidelik wat die oorsaak van hierdie seismiese gebeure is nie, gewaarsku het dat daar as deel van daardie saamgestelde “teken” ‘aardbewings op een plek na die ander’ sal wees.—Mattheüs 24:3, 7, vgl. NW.
“’n Wêreldregering”
Die enigste manier om die kweekhuiseffek en ander dreigende omgewingsrampe te bekamp is deur ’n wêreldregering, se dr. Kenneth Hare, beroemde geograaf en deskundige op die gebied van klimaatsverandering. Hare het gewaarsku dat die mensdom ’n dodelike aanslag teen die natuur rig. Die planeet word nie net deur ’n kernslagting bedreig nie, “maar deur ekologiese mishandeling”, berig die Calgary Herald, ’n Kanadese koerant. Hare beweer dat driemiljard ton koolstof jaarliks deur motoruitlate en fabriekskoorstene in die atmosfeer vrygestel word. Rekenaarstudies toon dat selfs as daar matige ekonomiese groei is koolstofdioksiedvlakke teen die jaar 2075 sal verdubbel. “Ons het ’n wêreldprobleem geskep”, en sonder wêreldwye regulering van die omgewing “sal ons in die verknorsing sit”, het Hare gesê.
Wat dr. Hare sê, is inderdaad logies. Maar kan die mens ooit hoop om ’n wêreldregering saam te stel wat byvoorbeeld ekonomiese groei sal kan reguleer, nie-besoedelende energiebronne sal kan ontwikkel en die mensdom sal kan oortuig om met ’n program van wêreldwye omgewingsorg te begin?
Nouliks! God se Woord sê duidelik “dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dit is egter in God se hande. As die “Vredevors” sal sy Seun, Jesus Christus, ’n wêreldregering bestuur wat in geregtigheid en regverdigheid sal regeer. Onder sy hemelse heerskappy sal die mensdom nie die omgewing in gevaar stel nie.—Jesaja 9:5, 6; 11:9; Daniël 2:44.
Slegte raad
Is dit sleg vir ’n kind om ongehoorsaam aan sy ouers te wees? Nie noodwendig nie, beweer Leon Kuczynski, professor in ontwikkelingsielkunde aan die Universiteit van Guelph in Ontario, Kanada. Trouens, The Toronto Star berig dat Kuczynski, nadat hy 70 moeders en hulle kinders bestudeer het, glo dat die “tegnieke wat ’n kind gebruik om ongehoorsaam aan sy ouers te wees belangrik is vir sy maatskaplike ontwikkeling”. Volgens die artikel moet ouers nie moedeloos raak as kinders nie doen wat vir hulle gesê word nie. Die rede? Kuczynski sê dat sulke gedrag normaal is. Die professor meen ook dat “’n kind se weiering om sy ouers te gehoorsaam ’n teken van onafhanklikheid en volwassenheid kan wees”.
Kinders se versuim om hulle ouers te gehoorsaam is nie ’n teken van volwassenheid nie. Inteendeel, wyse koning Salomo het geskryf: ‘Sotheid sit vas in die hart van ’n seun’ (Spreuke 22:15). Hoewel sommige selfs tot die slotsom kan kom dat ’n kind se ongehoorsaamheid positiewe resultate voortbring, stem God se Woord nie daarmee saam nie. Eeue gelede het die apostel Paulus geskryf: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik” (Kolossense 3:20). Verstandige ouers sal hulle tot Jehovah God wend as hulle gesag vir kinderopvoeding.—Spreuke 19:18; 29:15.