Groot dinge gebeur in ’n klein landjie!
KAN jy die Groothertogdom Luxemburg op jou kaart vind? Hierdie klein landjie is tussen die grense van België, Frankryk en Duitsland geleë. Hoewel dit klein is, is dit lank nie onbelangrik nie. Sy hoofstad, Luxemburg, is een van die setels van die Europese Ekonomiese Gemeenskap. Dit word ook as ’n finansiële sentrum erken, aangesien 125 banke tans daar verteenwoordig word. Nogtans het die Groothertogdom Luxemburg ’n oppervlakte van slegs 2 586 vierkante kilometer en ’n bevolking van net 372 000!
Dit is dus verstaanbaar dat die bydrae van Jehovah se Getuies in Luxemburg se bydrae tot die wêreldwye predikingswerk betreklik klein is wanneer dit vergelyk word met dié van die Getuies in die groter nasies rondom ons. Nogtans laat die uitbreiding van die Koninkrykswerk hier ons aan Sagaria 4:10 dink: “Want wie verag die dag van klein dinge?” Soos ’n engel daardie Hebreeuse profeet meegedeel het, is dit “nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare” (Sagaria 4:6). Dus moet ons werk, hoe nederig dit ook al is, beslis nie verag word nie. Wanneer dit deur God se gees gelei word, bring dit lof aan hom.
‘Dae van klein dinge’
Die Koninkryksgetuieniswerk het in Luxemburg begin toe ’n handjievol Christene van Straatsburg, Frankryk, tussen 1922 en 1925 hierheen gekom het om traktate te versprei. Hoewel hulle geledere klein was, was hulle gedrukte boodskappe kragtig. Let op na die traktaattitels: A Challenge to World Leaders (’n Uitdaging aan wêreldleiers), A Warning to All Christians (’n Waarskuwing aan alle Christene) en Ecclesiastics Indicted (Aanklag teen die geestelikes). Hulle moes baie moedig wees om hierdie boodskappe te versprei, aangesien die Groothertogdom Luxemburg meer as 96 persent Rooms-Katoliek was en baie geheg aan hul godsdiens en tradisies was.
Gedurende 1930 en 1931 is die Photo-Drama of Creation (Die Fotodrama van die Skepping) in Luxemburg vertoon. Die vertonings en hulle resultate herinner ’n mens in sekere sin aan Jesus se bediening. Groot skares mense het om Jesus saamgedrom om hom te hoor praat en om sy genesings te sien of te ervaar, maar slegs ’n paar het sy dissipels geword (Mattheüs 4:23-25; 23:37). By die vertonings van die Photo-Drama in die stad Luxemburg was die saal wat gehuur is elke aand stampvol met ’n maksimumopkoms van 300 mense. Maar min het die daaropvolgende weke teruggekeer vir die volgende toespraak en vraag-en-antwoordsessie. Daar was aanvanklik 20 of 30 persone, later 10 en uiteindelik 4. Slegs daardie paar het ’n blywende waardering vir die geestelike voedsel gehad wat aan hulle gebied is.
Volharding bring beloninge mee
In 1931 het die eerste gebore Luxemburgers met die predikingswerk begin. Dit was nie ’n eenvoudige taak nie. Die Rooms-Katolieke Kerk het ’n haatlike propagandaveldtog teen God se volk op tou gesit, en dit het die polisie beïnvloed om soveel moontlik met ons huis-tot-huisbediening in te meng. Byna elke keer wat die broers in die velddiens uitgegaan het, het die polisie op ons lektuur beslag gelê, waarskuwings gegee of iemand gearresteer. Sou die uitbreiding van ware aanbidding in die Groothertogdom nou tot ’n stilstand kom? Inteendeel! Net na die verbanning van August Riedmueller, die eerste voltydse bedienaar wat in die land gewerk het, is tien Luxemburgers op 25 September 1932 gedoop. Hulle het gereeld aan die predikingswerk deelgeneem, ondanks die probleme met die polisie.
In die vooroorlogse jaar van 1934 het die 15 verkondigers hier 3 164 stukke Bybellektuur versprei. Hulle het dikwels 80 tot 100 kilometer per dag op fietse gereis! Een suster het gesê: “My fiets was my vaste ‘metgesel’. Dit het my geliefkoosde werk geword om van een dorpie na die ander te werk, veral op Sondae.”
Die Duitse leërs het die Groothertogdom Luxemburg in 1940 ingeval, en ons broers was verplig om vyf jaar lank ondergronds te werk. Etlike van hulle is gearresteer. Na maande in die tronk is hulle vrygelaat met die streng opdrag om alle verdere openbare prediking as Jehovah se Getuies te staak. (Kyk Handelinge 4:17, 18.) Twee broers is na konsentrasiekampe geneem. Die oorblywende broers het nietemin gedoen wat hulle kon, en die getal tuisbybelstudies wat met belangstellendes gehou is, het van 6 in 1942 tot 20 in 1944 gestyg. En terwyl 23 persone in 1939 velddiens gerapporteer het, was daar in 1946 ’n hoogtepunt van 39.
Blyke van Jehovah se seëninge
Gedurende die dekades sedertdien het Jehovah God die Koninkrykspredikingswerk in Luxemburg ryklik met vermeerdering geseën. Die getal Getuies het in 1988 tot ’n hoogtepunt van 1 336 toegeneem. Nou is daar gemiddeld 1 getuie van Jehovah vir elke 327 inwoners van ons takgebied. Meer as 2 900 mense het die viering van die Gedenkmaal op 1 April 1988 bygewoon, wat neerkom op 1 persoon vir elke 148 inwoners! Daar is ook baie belangstelling in die voltydse bediening. In 1955 nog was daar slegs 5 voltydse werkers, of pioniers, maar in Mei 1988 was daar altesaam 190 pioniers in die veld!
Hierdie groei het groter takfasiliteite genoodsaak. In September 1955 is ’n takkantoor van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap vir die eerste keer hier gestig, en dit het uit twee kamers in ’n privaat huis bestaan. Op 12 September 1987 is ’n pragtige nuwe takkantoor- en Bethelhuiskompleks met 20 vertrekke ingewy. ’n Nuwe sendinghuis met drie woonstelle en twee Koninkryksale is terselfdertyd ook toegewy.
Preek by alle geleenthede
Luxemburg is waarlik internasionaal. Die Luxemburgers self is drietalig. Maar aangesien 1 uit elke 4 inwoners van die een of ander vreemde land kom, word baie tale deurgaans gepraat.
Die buitelanders kom om vir die Europese Ekonomiese Gemeenskap, vir die talle banke of in ambagte te werk. Ons het dus Franse, Italiaanse en Portugese gemeentes om na hierdie vreemde taalgroepe om te sien.
Een van ons Portugese susters vertel wat op ’n onlangse vliegtuigrit gebeur het: “Ek het ’n klein voorraad tydskrifte saamgeneem om informeel te getuig indien moontlik. By ons vliegtuig se eerste landingsplek het dit herstelwerk nodig gehad. Niemand is toegelaat om van die vliegtuig af te klim nie. Aanvanklik het ek eenvoudig nie die moed gehad om te doen wat my hart my aangesê het om te doen nie. Ek het oor en oor tot Jehovah gebid om my krag te gee om hierdie geleentheid te benut.
“Nadat ek ’n rukkie daaroor gedink het, het ek na die lugwaardinne gegaan en hulle gevra of dit toelaatbaar sou wees as ek ’n paar bemoedigende en nuttige tydskrifte vir die mense aan boord aanbied. Hulle het my toegelaat om dit te doen, en ek was verheug om die passasiers vryelik te nader en van een ry sitplekke na die ander te gaan asof ek van huis tot huis werk. Ek kon 12 tydskrifte en ’n boekie by verskeie mense laat, en het ’n paar goeie besprekings gehad.
“Die laaste persoon wat ek genader het, het neerhalend geantwoord dat hy nie hulp nodig het nie, want hy is ’n Evangeliese predikant. Hy het ook nie gedink dat dit reg was dat ek die passasiers op die manier nader nie. Ek het die gesprek taktvol voortgesit op die gemeenskaplike grondslag van geloof in God en waardering vir al die seëninge wat hy sal uitstort op diegene wat in hom glo. Na die bespreking het die pastoor my geprys vir my geloof en ook die vrymoedigheid wat ek gehad het om met al die passasiers te praat.
“Die persoon langs my het toe vrae begin stel, en ons het byna drie uur lank gepraat!”
Ons broers het ook buitengewone ywer in hulle diens van huis tot huis getoon. ’n Kringopsiener berig oor die velddiensopkoms in een gemeente: “Die groot hoogtepunt het gekom toe ons Sondagoggend vir velddiens vergader het. Van die 109 verkondigers wat aan die gemeente verbonde is, was 102 teenwoordig om aan die predikingswerk deel te neem! Hulle het ’n uitstekende poging aangewend om belangstellendes na die middag se openbare toespraak te nooi, en die resultate was ’n stampvol saal met ’n opkoms van 198 persone! Talle het vir die eerste keer ’n vergadering bygewoon, hoewel daar 1 Getuie vir elke 50 inwoners in daardie gemeente se gebied is!”
Jongmense openbaar ook ’n goeie gesindheid ten opsigte van hulle geleenthede om die Koninkryksboodskap te verkondig. Toe twee tieners in Die Wagtoring van 1 April 1985 lees van die opsluiting van sommige van ons broers in Turkye het hulle besluit om die Turkse ambassadeur te besoek. Hulle vertel:
“Ons eerste stap was om ’n afspraak te maak. Sy sekretaresse het ons versoek aanvanklik nie ernstig opgeneem nie. Ons het haar eksemplare, in verskeie tale, van die tydskrif getoon wat die artikel bevat het om haar te oortuig dat ons dit ernstig bedoel. Dit het haar beïndruk en sy het die tydskrifte geneem en in die ambassadeur se kantoor ingegaan. Na tien minute het sy teruggekeer en ons meegedeel dat ons oor twee weke weer kon terugkom, maar dat die ambassadeur die tydskrifte sou hou om die sterk aantygings wat daarin gemaak word, na te gaan. Ons het dit as ’n goeie teken beskou.
“Toe ons teruggegaan het na die ambassade vir ons afspraak was die ambassadeur baie gaaf en vriendelik teenoor ons. Hy het vir ons ’n teleksberig gewys wat hy na die Turkse regering gestuur het om verskeie besonderhede in ons tydskrifartikel na te gaan. Die besonderhede is bevestig en dit het baie krag aan ons klagte verleen.
“Hy was beïndruk dat die artikel so objektief geskryf is, sonder oordrywings of ongegronde kritiek op die politieke leiers. Ons kon anderhalfuur lank met hom praat oor God se soewereiniteit, Christelike neutraliteit en die onvermoë van die mens om met welslae oor die mens te regeer. Hy het begrip vir ons standpunt uitgespreek en gevra wat hy kon doen om te help. Ons het aan die hand gedoen dat hy sy regering van ons vergadering met hom in kennis stel en dat hy hulle meedeel wat hy van die hele saak gedink het. Hy het ingestem om dit te doen, en hy het ’n paar eksemplare van die tydskrif gevra om na verskeie verteenwoordigers van die regering te stuur. Hy het gesê dat hy ’n lêer sou maak van die gepaste informasie en sou probeer om te help op watter manier hy ook al kon.”
’n Paar maande later het Die Wagtoring berig dat die Getuies in Turkye ooreenkomstig ’n beslissing van die Turkse Hooggeregshof uit die tronk vrygelaat is. Toe die jong manne dit hoor, het hulle die ambassadeur weer besoek en is hulle hartlik ontvang.
Uit die geskiedenis van die Koninkryksverkondigingswerk hier in die Groothertogdom Luxemburg sien ons die wysheid daarvan om nie “die dag van klein dinge” te verag nie, maar dat ons op Jehovah se gees moet vertrou om ons elkeen die krag te gee wat ons nodig het om sy wil ten volle uit te voer. Met Jehovah se hulp het groot dinge hier in ons klein takgebied in Luxemburg gebeur. Ons doen ’n luide beroep op julle wat dit nog nie doen nie om Jehovah saam met ons ‘groot te maak’ en sodoende te “smaak en sien dat die HERE goed is”.—Psalm 34:4, 9.
[Kaarte op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Noordsee
Nederland
Bonds-republiek Duitsland
België
Frankryk
Luxemburg
150 km
100 mi
België
Luxemburg
Luxemburg
Bonds-republiek Duitsland
Trier
Frankryk
Metz
[Prent op bladsy 27]
Victor Bruch, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in ’n konsentrasiekamp was, dien as ’n Christen- ouere man, hoewel hy oor die 80 is