‘Hulle het aan hul Skepper gedink’
Hoeveel jongmense stel geestelike belange eerste? In sommige gemeenskappe is dit dalk die gewoonte om vroeg afsprake te maak, vroeg te trou, vroeg met gesinsverantwoordelikhede of wêreldse beroepe belas te word. Maar moet jong Christene so ’n gewoonte volg? Ongetroude jongmense wat gewillig is om selfopofferend te wees terwyl hulle ‘aan hul Skepper dink’ in hulle jonger dae, kan soveel meer geniet.—Prediker 12:1.
In Jokohama, Japan, het ’n pionier byvoorbeeld met Joetaka, asook sy jonger broer Keisoeke, gestudeer. Hy was op daardie tydstip nege jaar oud. Na ’n paar weke het hulle moeder ’n groot verbetering in die gedrag van die twee seuns opgemerk namate hulle Christelike beginsels begin toepas het. Sy het dus ook begin studeer saam met haar drie ander kinders. Die vader, wat die vreugde gesien het wat sy familie uit hulle Bybelstudies kry, het hom by hulle aangesluit, en mettertyd is almal gedoop.
Op tienjarige ouderdom het Joetaka die hulppionierdiens betree. Hy het meer as sewe jaar lank hiermee volgehou, deur die laerskool, junior hoërskool en reg deur die hoërskool. Hy het vroeg in die môre baie tyd aan Koninkryksdiens bestee en vir verbygangers by die plaaslike spoorwegstasie getuig. Hy het ’n toutjie aan sy arm vasgebind en die ander ent van die tou deur ’n venster laat hang sodat hy nie die res van die gesin met ’n wekker sou wakker maak nie. Sy hulppioniermaat het verbygekom en die toutjie op die regte tyd getrek. Na meer as sewe jaar van hulppionierdiens het Joetaka sy doelwit van gewone pionierdiens in September 1983 bereik. Hy het sy hoërskoolloopbaan in Maart 1984 voltooi.
In Takatsoeki, Japan, was Jasoeko in haar tweede jaar van junior hoërskool. Sy het elke week sewe tuisbybelstudies gehou—vyf met medeleerlinge en twee met haar onderwysers. Toe Ons Koninkryksbediening in Japan haar ondervinding vertel het, het sy die artikel vir haar onderwysers gewys en hulle gemaan dat hulle goed moet studeer noudat hierdie verhaal in druk verskyn het.
Diegene wat ‘aan hul Skepper dink’ terwyl hulle jonk is, hetsy deur die pionierdiens of deur ander gereelde ywerige diens, kan “die liefde van die Vader” aankweek, wat baie begeerliker is as enigiets wat die wêreld kan aanbied. Trouens, “die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Johannes 2:15-17.