Is jou persoonlike opinie die belangrikste?
“NUWE skeuring in kerk oor homoseksuele priesters”, het die opskrif gelui. Die nuusberig het voorts die aandag gevestig op diepliggende verdeeldhede in die Anglikaanse Kerk oor die kwessie van homoseksuele priesters.
“Daar is ’n plek in die kerk vir homoseksuele”, het die predikant beweer wie se verantwoordelikheid dit is om geestelikes vir die kerk te werf. Volgens hom het ’n homoseksueel wat ‘eerlik en verantwoordelik’ in sy verhouding met ’n ander man is die reg om georden te word.
“Homoseksueel bedrywige geestelikes is sondig en moet bedank”, was die teenoorgestelde siening van ’n kerkrektor. Hy het gemeen dat geestelikes in elke opsig van hulle morele gedrag voorbeeldig moet wees.—The Sunday Times, Londen, 8 November 1987.
Elkeen van hierdie mans was ongetwyfeld oortuig dat sy opinie reg is. Maar behoort ’n mens se persoonlike opinie die beslissende faktor te wees in uiters belangrike aangeleenthede? Dalk sê jy ja, omdat jy meen dat elkeen geregtig is op sy eie opinie.
Maar beskou hierdie twee geïnspireerde kommentare in die Bybel: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” “Ek vermaan julle, broeders, . . . om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid.”—Romeine 14:19; 1 Korinthiërs 1:10.
Gestel egter dat jy, as ’n Christen, dit moeilik vind om oor die een of ander belangrike saak met die Christengemeente saam te stem. Wat dan? Hoe sal jy daardie situasie hanteer sodat die noodsaaklike vrede en eenheid van die gemeente behou kan word?—Mattheüs 5:9; 1 Petrus 3:11.
Beskou ’n situasie wat in die eerste-eeuse Christengemeente ontstaan het toe party hulle persoonlike opinie as die belangrikste beskou het. Kyk waartoe dit uiteindelik gelei het, en vra jou af: ‘Wat sou ek gedoen het as ek daar was?’
Vrae oor die besnydenis
In 36 G.J. is onbesnede Heidene die eerste keer tot die Christengemeente toegelaat. Hoewel God die apostel Petrus op hierdie dramatiese gebeurtenis voorberei het, was Petrus en diegene saam met hom verbaas om te sien dat heilige gees op onbesnede mense uitgestort word (Handelinge 10:1-16, 34-48). Vir talle ander Joodse Christene was dit ’n bitter pil om te sluk. Trouens, party Joodse Christene, “voorstanders van die besnydenis”, het Petrus gekritiseer omdat hy met onbesnede mense omgegaan het.—Handelinge 11:2, 3, NW.
Waarom was hierdie kritici verontrus? Omdat die besnydenis byna 2 000 jaar lank ’n teken van ’n spesiale verhouding met God was. Toe Jehovah God Abraham beveel het om al die manspersone in sy huis te besny, het Hy gesê: “Dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle . . . ’n ewige verbond” (Genesis 17:10-13). Talle eeue later was die besnydenis steeds baie belangrik vir die Jode. Baie van hulle het gemeen dat onbesnedenheid onreinheid beteken het (Jesaja 52:1). Hulle het gemeen dat God se heilige volk niks met onreine, onbesnede Heidene te doen moes hê nie.
In 49 G.J. het party van hierdie “voorstanders van die besnydenis” die apostel Paulus in Siriese Antiochië gekonfronteer. Aan die einde van sy eerste sendingreis het hy aan die gemeente aldaar verslag gedoen oor hoe God “’n deur van geloof vir die [onbesnede] heidene geopen het”. Hy het duidelik gesien dat dit nie nodig was dat hierdie mense uit die nasies besny word nie. Maar sekere manne van Judea het ’n ander opinie gehad. “As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie”, het hulle beweer, “kan julle nie gered word nie.” Hulle het gemeen dat die besnydenis noodsaaklik is vir redding en dat alle Heidene wat tot die Christelike godsdiens bekeer is, besny moes word.—Handelinge 14:26–15:1.
Sterk gevoelens was by die saak betrokke. Hulle het ongetwyfeld oortuigende argumente aangevoer om hulle opinie te staaf. Hoe sou die vrede en eenheid van die gemeente behou word? Nadat die saak oor en weer bespreek is, het die gemeente in Antiochië besluit “dat Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk” (Handelinge 15:2). Daar was geen aanduiding dat elkeen geregtig was op sy eie opinie oor so ’n belangrike aangeleentheid nie. Hierdie Christene het genoeg nederigheid en lojaliteit teenoor teokratiese orde gehad om ’n gesaghebbende besluit van hulle sentrale onderrigliggaam te vra.—1 Korinthiërs 14:33, 40; Jakobus 3:17, 18, NW; 1 Petrus 5:5, 6.
’n Besluit word geneem
Die apostels en ouere manne in Jerusalem (wat ongetwyfeld in die vroeë Christengemeente as ’n bestuursliggaam erken is) het die geesgeïnspireerde Skrif noukeurig ondersoek en die wyse waarop heilige gees sake gedurende die voorafgaande 13 jaar gerig het, hersien. Hulle besluit? Dat die besnydenis nie vir Heidense bekeerdes ’n vereiste was om gered te word nie (Handelinge 15:6-29). Nou was daar ’n duidelike opdrag wat persoonlike opinies vervang het.
Die gemeentes wat op hierdie leiding ag geslaan het, “is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal” (Handelinge 16:4, 5). Maar party mense het nie die bestuursliggaam se besluit aanvaar nie. Hulle was steeds daarvan oortuig dat hulle opinie reg was en dat onderhouding van die Mosaïese Wet noodsaaklik was vir redding. Wat sou jy gedoen het? Hulle het ’n gevaarlike, verdelende invloed onder die Christene geword. Beskou die raad wat die apostel Paulus gedurende die daaropvolgende 15 jaar gegee het terwyl hy getroue Christene teen die invloed van sulke onversetlik eiesinnige mense probeer beskerm het.
Galasië, Klein-Asië, c. 50-52 G.J. Die vryheid wat Christene deur Jesus Christus se offerande ontvang het, is bedreig. Weens vrees vir vervolging deur Joodse vyande wou party Christene mede-Christene dwing om voorskrifte van die Mosaïese Wet na te kom (Galasiërs 6:12, 13). Die apostel Paulus het die dissipels daaraan herinner dat hulle hul weer “die juk van diensbaarheid [“’n slawejuk”, NW]” sou laat oplê as hulle weer Joodse gebruike soos die besnydenis sou begin nakom. Aangesien hulle sondaars was, kon geeneen van hulle die Wet volmaak onderhou nie, en daarom sou die Wet hulle, net soos die Jode, veroordeel. Dit was net Jesus se offerande wat hulle kon reinig en red. “As julle jul laat besny [en dus onder verpligting kom om die hele Wet na te kom]”, het Paulus gesê, “[sal] Christus vir julle tot geen nut . . . wees nie.”—Galasiërs 5:1-4; Handelinge 15:8-11.
Korinthe, Griekeland, c. 55 G.J. Stryery oor die besnydenis het die gemeente verdeel. Paulus het geweet dat die besnydenis op sigself nie sondig is nie. Dit was deel van God se volmaakte Wet (Psalm 19:8; Romeine 7:12). Paulus het selfs gereël dat sy jong metgesel Timotheüs (wie se moeder ’n Jodin was) besny word. Paulus het dit nie gedoen omdat dit verpligtend was nie, maar omdat hy die Jode geen rede tot struikeling oor die goeie nuus wou gee nie (Handelinge 16:3). Hy het Christene aangespoor om nie by verdelende stryerye betrokke te raak nie. “Is iemand as ’n besnedene geroep?” het hy gevra. “Hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep—hy moet hom nie laat besny [omdat hy dink dat dit noodsaaklik vir redding is] nie.” Dit was eerder belangrik om God se duidelike gebooie te gehoorsaam, met inbegrip van dié wat deur middel van die Christengemeente oorgedra is.—1 Korinthiërs 7:18-20; Hebreërs 13:17.
Filippi, Griekeland, c. 60-61 G.J. Diegene wat gemeen het dat Christene steeds onder die Joodse wet was, het voortgegaan om die duidelike bewyse van Jehovah se seën op die Christengemeente, wat nou talle onbesnede gelowiges ingesluit het, te ignoreer. Diegene wat die besnydenis voorgestaan het, het ander geestelike skade berokken deur op hul eie opinies aan te dring. Daarom is die apostel Paulus se taal nou sterker: “Pas op vir die honde [wat deur die Jode as seremonieel onrein beskou is], pas op vir diegene wat skade berokken, pas op vir hulle wat die vlees vermink.”—Filippense 3:2, NW.
Kreta, c. 61-64 G.J. Die apostel Paulus het Titus agtergelaat om toesig te hou oor die werk van Christene in Kreta. Dit is interessant dat die nie-Jood Titus nie gedwing is om besny te word nie (Galasiërs 2:3). Nou het Paulus Titus opdrag gegee om ferm teen vyande van die waarheid op te tree, want dit is wat hierdie voorstanders van die besnydenis geword het. Hulle moes selfs uit die gemeente uitgesit word as hulle aangehou het om hulle strydwekkende persoonlike opinies te propageer. Hy het gepraat van manne “wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat [aan] die besnydenis [vashou]”. Toe het hy gesê: “Hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie.”—Titus 1:10, 11, vgl. NW; 3:10, 11; 1 Timotheüs 1:3, 7.
Watter tragiese gevolge! Hierdie manne was so gesteld op hulle persoonlike opinies dat hulle die leiding van die Christengemeente verwerp, ander se geloof ondermyn en hulle goeie verhouding met God vernietig het.—Vergelyk Numeri 16:1-3, 12-14, 31-35.
Wat sal jy doen?
Kan ons dit vermy om vandag dieselfde fout te maak? Ja, as ons eerstens seker maak dat ons persoonlike opinie nie met die duidelike leer van die Bybel bots nie. Oor homoseksualiteit sê die Bybel byvoorbeeld: “Geen onsedelikes . . . of mense wat homoseksualiteit beoefen . . . sal deel kry aan die koninkryk van God nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10, NAV). Wanneer dit vir ons lyk asof die skriftuurlike riglyne op verskillende maniere vertolk kan word, moet ons egter dieselfde nederige ontvanklikheid as die vroeë Christene openbaar en besluite en riglyne van God se gemeente aanvaar. Ten laaste, ons moet selfs op gebiede waar ’n saak skriftuurlik nie reg of verkeerd is nie maar ’n persoonlike besluit is vrede met ander as die belangrikste beskou en dus bereid wees om dikwels toe te gee.
Is jy bereid om daardie gees te openbaar? Indien wel, openbaar jy ’n goeie sin vir balans en erken jy dat vrede en eenheid kosbaarder is as jou eie opinie.