Ons het ons tot die Bron van ware regverdigheid gewend
Soos vertel deur Erwin Grosse
’N PAAR jaar gelede sou jy my vroeg soggens by die hekke van ’n groot skeepswerf in Kiel, Duitsland, aangetref het terwyl ek pamflette versprei en Rote Fahne, die tydskrif van die KPD/ML, verkoop het.a Ek het terselfdertyd probeer om werkers en vakleerlinge by besprekings te betrek. Dit was ’n ondankbare taak om hulle van my kommunistiese sienings te probeer oortuig.
Maar ek het nie toegelaat dat dit my van stryk bring nie. Ek het ’n lewensdoel ontdek: om regverdige toestande deur middel van wêreldrevolusie te help bewerkstellig. Wat het aanleiding gegee tot daardie sienswyse? Sou so ’n lewensdoel my begeerte na regverdigheid verwesenlik?
Die soeke na regverdigheid
My ouers se leefwyse het om die najaging van materiële rykdom gedraai, en dit het my glad nie aangestaan nie. Ons jongmense het iets beters gesoek. Nuwe lewenstyle is op die proef gestel, en nuwe doelwitte in die lewe is gepropageer. Destyds was die oorlog in Viëtnam en studente-onluste voortdurend in die nuus. Dit het vir ons gelyk asof onskuldige mense met hul lewens vir die hoogmoedswaansin van die politici en die kapitaliste betaal het. Ek het dikwels oor hierdie situasie nagedink en het die kapitalistiese stelsel begin haat.
Ek het ook gevestigde godsdiens die rug toegekeer. ’n Ondervinding wat ek tydens my diens in die Wes-Duitse leër gehad het, het bygedra tot hierdie besluit. Die krygsoefeninge waaraan ons deelgeneem het, is onderbreek vir ’n kampdiens, en die soldate is in Katolieke en Protestantse groepe verdeel. Na afloop van die diens het die geestelikes van albei denominasies die grofgeskut geseën! Ek was geskok. Was hierdie wapens nie vervaardig om dood te maak nie? En is ek nie tydens godsdiensonderrig op skool geleer: “Jy mag nie doodslaan nie”?—Exodus 20:13.
Ek het gedink dat Karl Marx reg was toe hy godsdiens “die opium van die volk” genoem het, omdat dit mense magteloos gemaak het voor die belange van kapitalisme. Nadat ek die leër verlaat het, het ek dus uit die kerk bedank en klas in Marxisme-Leninisme begin loop. Ek het ook die werke van Mao Tsetoeng gelees. Al hierdie dinge het my in my oortuiging gesterk dat net wêreldrevolusie van die kwaad ontslae sou kon raak. Ek het gedink dat dit die enigste manier is waarop n nuwe mensegemeenskap wat deur regverdigheid gekenmerk word, tot stand kan kom.
Die KPD/ML het my opgelei om werkers tot Lenin se ideologieë oor te haal en om pamflette en Rote Fahne vir hulle aan te bied. Tydens demonstrasies het ek ook baniere gedra en klankmotors bestuur. Ek is nogtans net beskou as iemand wat die party goedgesind is. Voor die sentrale komitee my as lid sou toelaat, moes ek my eers bewys deur ’n tyd lank vir die party te werk en dit finansieel te ondersteun.
Anders in die praktyk—bittere teleurstelling!
Ek was ’n gekwalifiseerde masjientekenaar, maar het meer belang gestel in die kuns van die sosialisteskilders en het gewens dat ek my op dieselfde kreatiewe wyse as hulle kon besig hou. Ek het dus aansoek gedoen om toelating tot die Wes-Berlynse Kunskollege. In Februarie 1972 is ek aanvaar en het ek met my kunsstudies begin.
Hier het ek weer met die party in aanraking gekom en het ek kort voor lank Rote Fahne voor fabriekshekke verkoop. Ek het ook plakkate ontwerp en tekeninge van Marx, Engels, Lenin en Mao Tsetoeng op rooi vlae geskilder.
Dit was my vaste voorneme om nooit te trou nie—dit wil sê, totdat ek Linda ontmoet het. Ek het gesien dat sy ’n seldsame eienskap het, naamlik getrouheid, en dit het my van mening laat verander. Vyf maande later was ons man en vrou en het ons harmonieuse huwelik begin.
Ek het vroeër saam met ’n groep jongmense gewoon wat verskeie linkse sienings gehad het. Ons het besprekings oor alles en nog wat gehad, maar daar was ook wrywing en vyandigheid. Die situasie in die verskillende kommunistiese partye was baie soortgelyk. Elkeen het volgehou dat al die ander die kommunistiese idee misverstaan het en by die “ware” party moes aansluit. Die slaglinies is opgestel!
In my eie party was daar talle twiste tussen die linkse en regse vleuels. Prominente lede het mekaar uit die saal probeer lig. Ek het moeg geraak vir die stryery en beledigings, en dit het daartoe gelei dat ek geleidelik alle bande met die party verbreek het. Dit was vir my sinloos om betrokke te wees by iets wat in werklikheid geen verandering teweeg kon bring nie. Die kommunistiese ideaal kon nie in die praktyk verwesenlik word nie! Maar in my hart het ek ’n Marxis gebly.
Linda vertel my van God
Een aand, terwyl ons van Kiel na Berlyn gery het, het Linda my geskok. Sy het gesê: “Ek is oortuig dat daar ’n God is, en diep binne-in glo ek aan hom.” Dit was die laaste ding wat ek verwag het om te hoor! Linda het vroeër my Marxistiese ideale gesteun.
’n Hewige stryery oor dialektiese materialisme en Marxisme het gevolg. Volgens die Marxistiese teorie bepaal die mens se sosiale omgewing sy hele geestelike, intellektuele en morele lewe. Gevolglik verskyn die “nuwe” man weens onderrig in die kommunistiese ideologie en deur ’n positiewe verandering in sy omgewing. Maar Linda was ’n opgeleide laboratoriumtegnikus, en sy het van beter geweet! Sy kon bewys dat die mens se gedrag ook deur sy genetiese samestelling beïnvloed word. Ons het ons bespreking gestaak om ’n rusie te vermy.
Tydens ’n latere rit wou Linda weer eens met my oor God praat. Na my mening het die evolusieteorie bevestig dat alles uit materiële dinge ontstaan het en die gevolg van blote toeval was. Linda het die beginsels van termodinamika, inersie en ander fisiese wette gemeld om te bewys dat daar ’n intelligente skepper van lewe moet wees. Ek het nie my sienings verander nie. Maar my lewensfilosofie en my ideale was reeds aan flarde!
’n Jaar het verloop. Een Sondagoggend het Linda skielik ’n dik boek uitgehaal en vir my daaruit begin lees. Dit was die verhaal van ’n man wat ’n boom afgekap het, die helfte daarvan gebruik het om ’n lewelose afgod te maak en dit toe gesmeek het: “Red my.” Hierdie treffende beskrywing van godsdiens het my baie beïndruk. Stel jou my verbasing voor toe ek uitvind dat dit uit die Bybel kom.—Jesaja 44:14-20.
Ek het my vrou gevra om my meer te vertel. Haar verduideliking het vyf uur geduur—sy het begin met die mens se sondeval in Eden en geëindig met die herstel van die Paradys wat in die boek Openbaring beskryf word. Dit het Linda heeltemal uitgeput, maar dit het vir my gevoel asof skille van my oë afgeval het en asof ek vir die eerste keer duidelik kon sien. Ek wou natuurlik weet waar Linda al hierdie dinge geleer het.
Sy het vir my vertel dat sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies in Berlyn bestudeer het toe sy 14 was en dat sy later selfs gedoop is. Toe sy 18 was, het haar werk haar genoodsaak om ver weg te trek, en ongelukkig het sy die weg van die waarheid laat vaar. Toe sy later na Berlyn teruggekeer het, het sy by linkse politiek betrokke geraak. Die geluk wat sy nou in ons huwelik gesmaak het, het haar beweeg om God van nuuts af te soek. Maar sou hy haar vir haar oortredings vergewe? Sy het geweet dat daar net een manier was om ons lewens en die geluk van ons huwelik te bewaar—om berouvol tot God terug te keer. Maar ek het nog nie daardie stadium bereik nie. Ek het meer tyd nodig gehad.
’n Wending in die regte rigting
Een someraand het ons na ’n goue sonsondergang oor die stad gekyk. Linda het gesê: “Miskien kan ons sulke dinge vir ’n rukkie geniet, Erwin. Maar sal God ons lewens spaar wanneer hy ingryp? Watter rede gee ons hom om dit te doen?” Dit het my tot besinning gebring. Ek het al iets oor Jehovah geleer, maar beslis nie genoeg nie. Daarom het ek my onvoorwaardelik voorgeneem om my tot hom te wend.
Kort daarna, toe ons op die markplein was, het ons ’n bejaarde vrou wat Die Wagtoring vasgehou het in ’n rolstoel gesien. Ons het haar gevra wat die tye van die vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal is, en haar oë het begin skitter. Sy het ons hande gegryp: “Ek is bly dat jongmense soos julle die Bybel wil ken”, het sy oor en oor gese. Oorstelp van vreugde het sy regop in haar rolstoel gaan sit en Linda ’n druk gegee. Ons het van die tydskrifte aanvaar en belowe om na die volgende vergadering te gaan.
Ons het net voordat dit begin het daar aangekom. Ek het lang hare en ’n baard gehad en was in ’n klinknaelbroek en ’n T-hempie. Linda het haar tannie se 30 jaar oue vlootblou trourok aangehad. Ek het ’n man met ’n baadjie en das aan by die ingang sien staan en gedink: ‘’n Regte ou “square”! Wat ’n uitstekende begin!’ Hy was egter vriendelik en het gesê: “Ons het julle verwag.” Ek was uit die veld geslaan, maar het vir hom gesê: “Ons wil graag ’n Bybelstudie hê.” Selfs dit het hom nie verbaas nie. “Dis reeds gereël”, het hy geantwoord. Ons was effens geïrriteerd, maar het ingegaan.
Gedurende die vergadering het dit ’n hele paar keer vir my gevoel asof die spreker direk met my praat. En party in die gemeente was verbaas toe Linda Die Wagtoring uithaal wat sy vooraf vir die studie voorberei het. Na afloop van die twee uur het die bejaarde suster ons kom omhels, haar gesig stralend van vreugde. Dit was sy wat almal vertel het dat ons gaan kom. Reëlings is getref dat die broer wat ons verwelkom het ’n gereelde Bybelstudie met ons hou, en nege maande later, op 4 April 1976, het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Hoe bly was ek tog om die Een te leer ken wat beloof het: “Kyk, Ek maak alles nuut”! (Openbaring 21:5). En hoe gaan die Skepper ware regverdigheid bewerkstellig? Spreuke 2:21, 22 gee die antwoord: “Want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”
Waar ek voorheen met Rote Fahne voor fabriekshekke gestaan het, het ek nou Saterdae op Karl Marxstraat in Berlyn-Neukölln met Die Wagtoring gestaan. Nou kon ek praat van iets wat geen mensgemaakte stelsel kan bied nie: die ewige lewe (Johannes 17:3). Ek het geleer hoe “die opregtes” selfs nou opgelei word om hul te beklee met “die nuwe persoonlikheid, wat deur middel van juiste kennis vernuwe word” (Kolossense 3:10, NW). Hierdie onderrig vir ’n nuwe wêreld sal nie faal nie!
Wat Linda betref, sy was nou vasberade om nooit weer die Bron van ware regverdigheid te verlaat nie. Peter en Reni, wat ons Jehovah se weë geleer het, het gesien wat sy geestelik nodig het en het haar gehelp om vooruitgang te maak.
Nuwe doelwitte op die weg van regverdigheid
Op kollege het die mense die opvattings wat ek nou so ywerig aanvaar het openlik afgekeur. My klasprofessor, ’n beroemde skilder, het laat blyk dat ek tussen kuns en my nuwe geloof sou moes kies. Ek het dus die skilderkuns laat vaar en ’n werk gesoek wat ons sou help om ons nuwe doelwit te bereik: pionierdiens. Hiermee in gedagte het ek en Linda ons begeerte herhaaldelik aan Jehovah in gebed gemeld. Ons het ons aansoeke ’n halfjaar voor ons beplande begindatum, 1 September 1977, ingestuur.
Wel, dit was nie maklik nie, maar met Jehovah se hulp het ons ons doelwit bereik. Daarbenewens dien ek en Linda sedert 1 Januarie 1985 as spesiale pioniers—en sodoende is nog ’n brandende begeerte verwesenlik. Die feit dat ons al ons krag gebruik om mense te help om die weg van ware regverdigheid te leer ken, verskaf ons groot vreugde.
En wat van my begeerte na regverdigheid? Is dit bevredig? Ja. Vandag verstaan ek die ware betekenis van Jesus se woorde in Mattheüs 5:6: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.”
[Voetnoot]
a Kommunistische Partei Deutschlands/Marxisten-Leninisten (Duitse Kommunistiese Party/Marxiste-Leniniste).