Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/15 bl. 25-29
  • Pionierdiens al met die Amasone langs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pionierdiens al met die Amasone langs
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Georganiseerde predikingsmetodes
  • Hartverblydende ondervindinge
  • ’n Geestelike se teenstand gedwarsboom
  • Afgeleë Koninkryksaal opgerig
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/15 bl. 25-29

Pionierdiens al met die Amasone langs

DIE Amasone-oerwoud! So te sê almal het al daarvan gehoor. Maar min het die geleentheid gehad om daarheen te gaan en dit te sien. Gedurende die afgelope dekade het ’n aantal pioniers, oftewel voltydse bedienaars, dit egter wel gedoen. Selfs belangriker, hulle het die goeie nuns van God se Koninkryk daarheen geneem. Met die Wagtoringgenootskap se boot El Refugio (Die Toevlug) as vervoermiddel het hulle die Amasone-oerwoud deurkruis op die netwerk van riviere wat kruis en dwars deur noordoostelike Peru loop.

Wat ’n interessante toewysing is dit tog nie! Talle Indianestamme bewoon hierdie uitgestrekte gebied. Klein chacras, of plasies, word oral langs die riviere aangetref, op die oewers en diep in die donker oerwoud in. Al is hulle afgesonder, moet ook hierdie mense die Bybel se lewensreddende boodskap ontvang.—Mattheüs 24:14; 28:19.

Naby die oerwoudstad Iquitos vloei twee groot riviere saam—die vinnig vloeiende en verraderlike Ucayali en die Marañón—en sodoende word die magtige Amasone gevorm. Hierdie immer kolkende, draaiende en bruisende riviere vreet hulle oewers geleidelik weg, sodat reusebome omval en in hulle honger waters beland. Sandbanke word oornag gevorm, wat die rigting van die stroom verander.

Terwyl El Refugio al met die Ucayali stroom af beweeg het, het dit skielik op ’n versteekte sandbank geloop. Die onverwagte stamp het die bemanningslede hulle balans laat verloor, maar hulle het die boot se relings en tralies vasgegryp en gelukkig nie oorboord geval nie. Die kaptein het die enjin in trurat gesit, maar tevergeefs. Die boot het vasgesit. Die ses broers aan boord het dus op hul kortbroeke na uitgetrek, op die sandbank gespring en 40 kartonne lektuur begin aflaai om die vrag ligter te maak. Skielik het ’n bemanningslid geskreeu: “Pas op! ’n Rivierboa probeer op die boot kom.” En jou waarlik, ’n twee meter lange heldergroen slang was besig om teen die kant van die boot op te seil. Maar ’n paar vinnige veeghoue met ’n roeispaan het dit weer in die rivier laat beland. Met ’n ligter vrag het die boot kort daarna losgeraak en kon die reis weer eens voortgesit word.

Georganiseerde predikingsmetodes

El Refugio is nie ’n groot boot nie, en beslis nie die vinnigste vaartuig nie. Trouens, wanneer dit teen die vinnige stroom op moet vaar, beweeg dit maar redelik stadig. Daarom het die pioniers ’n plan van aksie opgestel om die binnelandse gebied vinniger te dek. Voordat hulle hul tuisbasis in die stad Iquitos verlaat, probeer hulle meer uitvind oor die spesifieke gebied wat hulle wil dek. Deur met mense te praat wat van die deel kom, kan hulle ’n ruwe kaart van die dorpies en chacras in daardie gebied teken. Riviertjies of kanale word daarop aangedui sodat hulle ook daarlangs kan gaan preek. As die spesifieke gebied baie dorpies het, kan die boot dus ’n week of twee op een plek bly lê. Gewoonlik dek vier van die ses pioniers die wydverspreide plase, terwyl die kaptein en die ander pionier dieper die oerwoud in reis, waar die boot nie kan kom nie. Hulle doen dit deur ’n vlug te reel in ’n vliegtuig van ’n petroleummaatskappy wat na ’n kamp gaan.

Hierdie kampe is ooptes diep in die oerwoud waar daar voortdurend na olie geboor word. In so ’n kamp kan daar honderd of meer mans woon. Die Getuies reël om na werk, tydens die aandete, met die mans te praat. In een kamp was die eethut ’n uitstekende ouditorium. Die mans het geluister, en na die tyd het verskeie vrae gevra oor die morele probleme waarmee hulle te kampe het wanneer hulle so ver van hulle gesinne woon. Wat ’n uitstekende geleentheid was dit tog om die Bybel se beskouing van morele reinheid met hulle te deel! Na die vraag-en-antwoordsessie het talle mans om Bybels en Bybelstudiehulpe gevra. Hulle name is neergeskryf, en later is studies met party van hierdie mans en hulle gesinne in Iquitos begin. Vier petroleumkampe is op hierdie manier gedek—drie deur middel van lugreise en een deur ’n besoek van El Refugio.

Telkens wanneer hulle ’n caserío, of dorpie, op die oewer gesien het, het die pioniers die boot aan die naaste stewige voorwerp vasgemaak wat sou verhoed dat dit wegdryf. Maar dit was die verstandige bemanningslid wat eers gekyk het of die oewer hom sal hou voordat hy gespring het. Die skynbaar harde grondwal wat deur die rivier gevorm word, lyk veilig, maar kan vol verrassings wees. ’n Niksvermoedende persoon wat daarop spring, beland dalk mooitjies tot by sy middel in die modder!

As hulle eers veilig aan land is, loop die broers deur die groep nuuskierige, babbelende kinders wat gewoonlik saamdrom en soek hulle die hoofman van die dorp. Hulle verduidelik kortliks die doel van hulle besoek aan hom en vra of hulle die plaaslike skoolhut of vergaderplek van die dorp vir ’n Bybeltoespraak kan gebruik. Gewoonlik word toestemming hiervoor verleen. Aankondigings word mondeling gedoen deurdat die kinders in alle rigtings spat en die uitnodiging bekendmaak. Voor die toespraak word die dag in die predikingswerk van hut tot hut deurgebring. Die mense is vriendelik en gasvry en aanvaar ons Bybellektuur gretig. Waar mense nie genoeg geld het nie, word die boeke verruil vir skilpaaie, ape, henne, papegaaie, vrugte of selfs ’n lieflike orgidee.

Afhangende van hoeveel tyd daar is, word herbesoeke in die middag gedoen. Diegene wat besondere belangstelling toon, word gevra om hulle mecheros, of houers, met paraffien en ’n pit vir lig saam te bring. Gewoonlik sit almal al teen seweuur, met hulle lamp in die een hand en hulle Bybel in die ander. Na afloop van die toespraak begin die vrae. Glo Jehovah se Getuies in die helse vuur? Hoe verskil die Getuies se opvattings van dié van die Katolieke godsdiens? Die meeste is verheug om die antwoorde in hul eie Bybels te vind.

Hartverblydende ondervindinge

Na een van hierdie toesprake het ’n man en sy vrou met trane in hulle oë na die pionier gekom. “Broers, ons het lank gewag om woorde te hoor soos wat ons vanaand gehoor het”, het die man gesê. “Ons is lief vir ons grond en hou van die idee van ’n aardse paradys waar ons na daaraan sal kan lewe. Wie sê julle nou is dit wat hemel toe gaan?” Dit is waarlik hartverblydend om daar ver in die Amasone-oerwoud, soveel kilometers van die “beskawing” af, sulke regskape mense te vind.

Die pioniers probeer om die boeke in stelle te versprei, aangesien dit geruime tyd kan duur voordat hulle die dorpe weer kan besoek. Eendag het ’n rivierbootwerker een van die broers in Iquitos voorgekeer en nog ’n stel van agt boeke gevra. Wat het van sy eerste stel geword? Sy besoekende familielede het die boeke een vir een by hom geleen. Leesstof is skaars daar ver in die oerwoud. Sodoende het lektuur plekke bereik waar die pioniers self nooit kom nie. Deur middel van sy gees sien Jehovah dus toe dat ons Christenpublikasies die regte mense bereik.

By een dorpie het twee van die broers op die boot gebly terwyl die ander ’n paadjie die oerwoud in gevolg het. Reusebome het die meeste sonlig gekeer, en veelkleurige voëls in die groen lower het heen en weer gefluit. Nadat hulle 15 minute geloop het, het die Getuies in ’n redelik groot oopte aangekom. Dit het ongeveer ’n uur geduur voordat hulle al die hutte daar besoek het. Toe die broers gereed was om te vertrek, het ’n man hulle genader en hulle gesmeek om daar te oornag aangesien hy baie vrae gehad het. Een van die pioniers het dus agtergebly terwyl die res na die boot teruggekeer het.

Die pionier het voorgestel dat ’n Bybeltoespraak daardie aand gehou word. Die kinders is derhalwe gestuur om die bure te gaan roep, en hulle is daar weg op paadjies wat die broers nie eens raakgesien het nie. Intussen is ’n Bybelstudie in die dorp gehou deur die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe se hoofstukke wat die gasvrye man se vrae gedek het te bespreek. Toe die aandkoelte oor die hittekombers neerdaal, het ’n kakofonie eensklaps in ’n klompie bamboesbome uitgebreek. Honderde parkiete het amper gelyktydig begin kwetter, al asof hulle die aandkoelte verwelkom.

Teen vroegaand het 20 volwassenes en baie kinders om die spreker byeengekom. Die helder lig van ’n gaslamp het dit maklik gemaak om te lees, maar dit het ook honderde oerwoudinsekte gelok. Toe hy ongeveer halfpad met die toespraak was, het die spreker een ingesluk! Na ’n hele kabaal van rugkloppery, gelag en simpatie het hy voortgegaan en die toespraak voltooi. Teen daardie tyd was alle skuheid iets van die verlede, en ’n lewendige bespreking het gevolg.

Nadat die laaste buurman daar weg is, het die belangstellende man ’n muskietnet in een hoek van die opelugplatform van sy huis gehang, wat ongeveer anderhalf meter bo die grond op pale gebou was. Die man het die pionier verlaat sodat dié hom onder die net kon tuis maak en sy diere bymekaargejaag en onder die platform vasgebind vir beskerming teen roofdiere. Terwyl die broer daar gelê en Jehovah in gebed vir sy sorg bedank het, het die oerwoudgeluide hom gou-gou aan die slaap gesus.

Dit het maar net soos ’n oogwink gevoel voor die broer skielik regop gaan sit het. ’n Haan het gekraai, en dit het geklink asof die voël reg onder sy bed is. Hy was ook. Eers het die haan gekraai, toe het die hond geblaf, daarna het die kalkoen gekoel-koel, en laastens het die bok begin bler. Daarna het allerhande soorte voëls hulle oggendgekwetter begin. Dit was ’n nuwe dag.

Na ’n stywe ontbyt het die broer met die paadjie langs vertrek om by sy maats aan te sluit. Nie ver voor hom nie het hy iets oor die pad sien lêe wat soos ’n groot boom gelyk het. Toe hy dit van nader bekyk, het hy gesien dat dit ’n groot luislang is, ’n goeie agt meter lank. Die pionier het versigtig om hom geloop en veilig by die boot aangekom.

’n Geestelike se teenstand gedwarsboom

Die volgende dorp was nie so ontvanklik nie. Die broers was verbaas om ’n groot groep op die oewer bymekaar te sien kom terwyl die boot stadig ’n vasmeerpaal genader het. Met ’n Katolieke priester aan die voorpunt het hulle beduie dat die boot moet weggaan en geskreeu dat hulle nie enige Bybellektuur nodig het nie. Die broers het dus verder gevaar en by ’n plek net verby die dorp vasgemeer.

Dit was nie lank nie of ’n vlot gelaai met piesangs het van die dorp vertrek. Toe dit verby hulle dryf, het die broers die drie mans geroep wat die vlot met pale vooruit gestoot het en vir hulle gesê om langs El Refugio te kom lê. Hulle het dit gedoen, en drie pioniers het op die vlot geklim en vir hulle begin getuig. Die eienaar van die vlot wou weet waarom die priester nie wou hê dat die Getuies by die dorp aan land moes gaan nie, en die pioniers het geantwoord dat hulle nie kon begryp waarom ’n priester nie wou hê dat mense die Bybel moet verstaan nie. Watter kwaad kan dit byvoorbeeld doen om My boek met Bybelverhale te lees? Toe die mans eers na die boek begin kyk het, kon hulle dit nie neersit nie.

Die volgende dag het verskeie kano’s na El Refugio aangeroei gekom. Die publikasie My boek met Bybelverhale het groot opgewondenheid in die dorp veroorsaak. Die broers is meegedeel dat as hulle ’n entjie die woud in loop hulle op ’n paadjie sal afkom waarmee hulle die dorp van agter af kan binnekom. Toe hulle eers daar was en van deur tot deur gegaan het, het die pioniers ’n baie beter ontvangs geniet. Baie van die dorpenaars het volledige stelle boeke geneem, tot groot ergernis van die plaaslike priester.

Afgeleë Koninkryksaal opgerig

Mettertyd het die onverskrokke pioniers die punt in die Amasone bereik waar die grense van drie lande saamloop. Daar vorm drie dorpe, wat sommer naby mekaar lê, ’n bedrywige handelsentrum. Hulle is Caballococha in Peru, Leticia in Colombia en Tabatinga aan die Brasiliaanse kant. Dit is maklik om in enige van hierdie dorpe in te kom, want daar is min paspoortformaliteite so diep in die oerwoud.

In Tabatinga het die broers verneem dat twee Brasiliaanse pioniersusters in die dorp preek. Daar was ’n groepie wat graag saam wou vergader maar geen vergaderplek gehad het nie. Die twee susters het die broers gesmeek om te bly en toesprake in daardie gebied te hou, wat hulle met graagte gedoen het. Daaropvolgende besprekings het aan die lig gebring dat die groep oor genoeg fondse beskik het vir hout om ’n geboutjie op ’n geskenkte stuk grond op te rig. Die susters het vroeër reeds ’n saagmeule rivier op gevind, waar ’n belangstellende man belowe het om hout vir ’n goeie prys te verskaf. El Refugio moes twee maal heen en weer vaar om die hout te gaan haal. In 15 dae het gewillige hande ’n Koninkryksaal gebou wat genoeg sitplek vir 80 mense het. Die bemanning van die boot het hulle eie atril, of rostrum, geskenk, asook ’n paar bankies waarop die opgewonde groep kan sit. Hoe bly was hulle tog om uiteindelik hul eie vergaderplek te hê!

Daar is nog ’n groot gebied langs die Amasone en sy syriviere wat gedek moet word. Diegene wat gehoor gee aan die Macedoniese oproep om in hierdie afgelee gebiede “die evangelie . . . te verkondig”, word ryklik geseën (Handelinge 16:9, 10). El Refugio het nou ’n nuwe pionierbemanning. Hulle is ook vol vertroue dat Jehovah hulle sal lei en beskerm in hulle heilige diens.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

COLOMBIA

Leticia

PERU

Iquitos

Amasone

Marañón

Ucayali

BRASILIË

Tabatinga

[Prente op bladsy 26]

Pioniers aan boord van “El Refugio” bring lewegewende waarheid aan mense langs die Amasone

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel