Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/1 bl. 10-14
  • Jehovah voorsien in al my behoeftes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah voorsien in al my behoeftes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek raak bewus van my geestelike behoeftes
  • Opwindende geleenthede doen hul voor
  • Ons reis oor die Nullarborvlakte
  • Die embleemkwessie
  • ’n Uitnodiging om ons bediening uit te brei
  • Opbouende byeenkoms in Rangoen
  • Oorlog en Japannese inname
  • Terug na Australië
  • Jehovah, my vertroueling van jongs af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Deel 3—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Hier is ek, stuur my”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • ‘Die oes is ryp’ in Birma
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/1 bl. 10-14

Jehovah voorsien in al my behoeftes

Soos vertel deur John E. (Ted) Sewell

MET elke tree wat ons in daardie stomende Thailandse oerwoud gegee het, het ek gedink: ‘Daar moet makliker maniere wees om van Bangkok na Birma te gaan!’ Hoewel my voete seer was en die sweet my afgetap het, was my grootste kommer dat ons een van die tiere, swartbere of olifante wat in hierdie oerwoude aangetref word, sal raakloop—om nie te praat van giftige slange nie. Waarom het ek en Frank Dewar hierdie gevaarlike reis onderneem?

Ons was albei sendelinge in Thailand, en ons het kort tevore verneem dat ’n driedaagse byeenkoms vanaf 26-28 November 1938 in Rangoen, Birma, gehou sou word. Omdat ons geld skraps was, was ons genoodsaak om met die goedkoopste vervoer moontlik van Bangkok na Rangoen te gaan, en as deel van daardie reis sou ons 80 kilometer deur die oerwoud moes stap.

Ons het op 16 November per trein uit Bangkok vertrek, het later op ’n bussie oorgeklim, is in ’n groot boomkano oor die Pingrivier geroei, en het toe ons lang stap deur die oerwoud begin. Voor die tyd het Frank kaarte aandagtig bestudeer en uiteindelik op ’n roete besluit wat begaanbaar gelyk het. Daar was geen paaie wat ons kon volg nie—net ’n smal paadjie wat deur reisigers uitgetrap is en al met ’n telefoondraad langs geloop het.

Ons was dankbaar dat ’n klomp ape in die home die enigste diere was wat ons gesien het. Die asemrowend pragtige, hangende orgideë was ’n onverwagte plesier. Toe die namiddagskaduwees langer word, het ons ons begin bekommer oor hoe veilig dit sou wees om in die oerwoud te slaap. Dit was so anders as die Australiese bosveld waar ek dikwels snags buite geslaap het. Ons is ook gewaarsku teen smokkelaars wat reisigers beroof en selfs fisies leed aandoen.

Ons moed het ons begewe toe ons skielik ’n groep geharde mans, elkeen met ’n groot kapmes aan sy gordel, teëgekom het. Hulle het ons gestop en gevra waarheen ons gaan. Toe ons verduidelik dat ons op pad was om ’n Christenbyeenkoms in Rangoen by te woon, het hulle ons ongelowig aangekyk, maar het verder gegaan sonder om ons leed aan te doen.

Kort daarna het ons twee jong mans ontmoet wat vriendeliker gelyk het. In ons gebroke Thai het ons hulle gehuur om ons na Birma te lei. Toe dit donker word, het ons by ’n groot boom gekom met trappe wat na ’n houtplatform bo tussen die takke gelei het. Ons vier het daar geslaap.

Teen die volgende aand het ons ’n klein dorpie bereik waar ons op die stoep van ’n primitiewe huis kon slaap. Op die derde dag het ons die dorpie Mae Sot op die Birmaanse grens bereik. Hier het ons van ons gidse afskeid geneem en hulle met graagte vir hulle goeie dienste betaal.

Nadat ons Birma bereik het deur die rivier oor te steek, het ons in ’n bussie oor ’n bergpad verder gegaan en toe met ’n rivierboot na Moulmein gevaar. Die laaste deel van ons reis na Rangoen was per trein, wat na ons pynlike trek te voet sommer baie maklik gelyk het. Die hele reis het ’n week geduur, maar die geestelike omgang wat ons met ons broers geniet het, het alles die moeite werd gemaak. Dit was net nog een van die talle bewyse dat Jehovah in al my behoeftes voorsien het. Maar laat ek jou vertel hoe ek in Thailand gekom het.

Ek raak bewus van my geestelike behoeftes

Die lewe en gebruike was aan die verander toe ek in 1910 in Wes-Australië gebore is. Die Eerste Wareldoorlog wat in 1914 uitgebreek het, het blykbaar die veranderinge verhaas. Hoewel ek net omtrent sewe was, kan ek duidelik onthou hoe Moeder briewe geskryf het aan Vader wat in Europa geveg het. Moeder het eenkeer vir my gesê: “Weet jy, die Bybel sê dat daar oorloë en gerugte van oorloë sal wees.” Sy het dit nie verder verduidelik nie, maar ek was nuuskierig.

Jare later, in Desember 1934, het ek ’n ou skoolvriend ontmoet terwyl ek te perd teruggekeer het na die plaas waar ek gewerk het, en hy het my vertel dat ’n paar van Jehovah se Getuies onlangs van Perth of gekom het. Sy familie het hulle boeke gekoop, maar het besluit om dit nie te lees nie. Omdat ek nuuskierig was, het ek die boek Lewe by hom gekry.

Terwyl ek in die skoon naglug aangery het, was die maanlig so helder dat ek die grootdruk van elke hoofstuk se opskrif kon lees. Toe ek by die plaas terugkom, het ek in die lig van ’n parafienlantern verder gelees. Dit was toe dat ek vir die eerste keer gesien het dat God ’n persoonlike naam het—Jehovah. Ek was verheug om te leer dat God ’n wonderlike voorneme vir ons aarde het, ja, dat die aarde ’n paradys sal word sodat gehoorsame mense dit kan geniet. A1 my vrae is in hierdie boek beantwoord!

Die eerste mense wat ek hiervan wou vertel, was my ouers, wat op ’n klein plaas 138 kilometer daarvandaan gewoon het. Dit het ’n rit van ’n dag en ’n half te perd beteken. Toe ek Moeder vertel wat ek geleer hat, het sy my verbaas deur te sê dat sy ook dieselfde Bybellektuur bestudeer en geniet! Ek het baie gehad om oor te dink gedurende die lang rit huis toe ’n week later, want uit my studies het ek gesien dat kennis en geloof nie al is wat God vereis nie. Ek het besef dat ’n ware Christen Jesus Christus moet volg en Jehovah persoonlik moet dien deur vir ander te preek. Daarom het ek my voorgeneem om dit elke naweek te doen.

Opwindende geleenthede doen hul voor

Ek het ’n model T-Ford gekoop wat in ’n bestelwa omgeskep is om in ons uitgestrekte boerderydistrik te getuig. Met beddegoed en ’n paar ander benodigdhede in die motor het ek boere die hele Saterdagmiddag besoek, in die motor geslaap en dan Sondagoggend verder van plaas tot plaas getuig. Ek het eers laat in die middag teruggekeer huis toe.

In April 1936 het ek by ’n klein byeenkoms in Perth my toewyding deur doop gesimboliseer. Een van die toesprake het die voltydse pionierbediening beklemtoon. Ek het geweet dat ek geen Skriftuurlike verpligtinge het wat my verhinder om aan hierdie belangrike werk deel te neem nie, en het dus in Desember 1936 die pionierdiens betree.

In daardie selfde maand het twee veteraanpioniers, Arthur Willis en Bill Newlands, per vragmotor in Perth aangekom. Hulle het nege maande tevore uit Sydney aan die ooskus vertrek en ’n getuienisreis deur Australië onderneem. Jy kan jou my opgewondenheid voorstel toe ek die toewysing van die Genootskap ontvang het om hulle op hulle terugreis te vergesel. Hulle het my onskatbare opleiding gegee wat ek nooit vergeet het nie.

Ons reis oor die Nullarborvlakte

Die naam Nullarbor beteken “sonder home”. Dit is ’n gepaste beskrywing van die dorre, boomlose vlakte in die middel van Australië. In die middel-dertigerjare was die roete waarmee ons dit oorgesteek het ongeveer 1 600 kilometer van die slegste pad denkbaar.

Ons het elke nag in veldbeddens geslaap, gewoonlik buite onder die helder hemel. Daar is ’n lae reënval en feitlik geen dou in daardie deel van die land nie. Saans wanneer ons onder die skitterende sterrehemel in die vars, onbesoedelde lug gaan slaap het, is ek dikwels herinner aan die openingswoorde van die 19de Psalm: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”

Die treinspoor wat oor die Nullarbor loop, is glo die langste reguit treinspoor in die wêreld. Oor ’n afstand van 480 kilometer maak dit nie die geringste boog of draai nie. Ons het dit geniet om in die klein dorpies langs die treinspoor en vir manse wat op skaap- of beesplase woon, te getuig. Plase in daardie deel van Australië was ontsaglik. Ek onthou een plaas van meer as 4 000 vierkante kilometer waar die plaaswerf ongeveer 80 kilometer van die voorhek was.

Ons het uiteindelik in Katoomba in die Blue Mountains net wes van Sydney aangekom, betyds vir die Gedenkmaal op 26 Maart 1937. Ons reistoewysing was genotvol en geestelik lonend, maar dit was ’n aangename verandering om ’n tyd lank by ’n gemeente van God se volk te bly.

Die embleemkwessie

Met daardie Gedenkmaal van 1937 was daar steeds verwarring oor die “ander skape” (Johannes 10:16). Sommige het gemeen dat die mate van geloof en Christelike ywer wat ’n mens geopenbaar het, sou aandui of jy die hemelse roeping ontvang het of nie. Ek het dus, soos ’n paar ander in soortgelyke omstandighede, die embleme gebruik. Die daaropvolgende jaar het die gebruik van embleme ons weer eens gekwel.

Innerlik het ons uitgesien na lewe op ’n paradysaarde, maar talle het gemeen dat ons ywer en pionierbediening bewys was dat ons geesgesalfdes is. Jehovah het ons op die regte tyd die antwoord deur sy aardse organisasie gegee. Op die middag van die Gedenkmaal het ons Die Wagtoring se nommer van 15 Maart 1938 gekry. Die hoofartikel, “Sy kudde”, was ’n breedvoerige studie van Johannes 10:14-16. Hoe verheug was ons oor die verduideliking wat ons vrae beantwoord het!

Die artikel het voorbeelde gemeld van hoe God se gees in die ou tyd kragtig op sy knegte ingewerk het en hulle kragtige werke laat doen het lank voordat die hemelse roeping oopgestel is. God plaas vandag eweneens sy gees op sy toegewyde knegte op aarde vir wie hy die aardse hoop gegee het. Ons was dus dankbaar om die verskil te verstaan tussen verwekking deur die heilige gees en versterking deur God se gees om sy wil te doen.

’n Uitnodiging om ons bediening uit te brei

Ander opwindende gebeurtenisse in 1938 was die besoek van die Wagtoringgenootskap se president, broer Rutherford, en die byeenkoms by die Sydney-sportterrein. By die byeenkoms is daar ’n beroep gedoen op pioniers wat bereid is om in Birma, Maleia, Siam (nou Thailand) en Java (nou Indonesië) te gaan dien. Ek, Hector Oates en Fred Paton was verheug om na Birma gestuur te word.

Ek was nog nooit voorheen buite die Australiese grense nie. Maar binne twee maande was ek en ander pioniers op ’n skip onderweg na ons toewysings. Ons het op 22 Junie 1938 by Singapoer aan wal gegaan en is by die kaai deur Bill Hunter ontmoet, wat reeds daar in die pionierdiens was. Hoe vreemd en interessant het alles gelyk toe ons die kleredrag en gewoontes van die plaaslike mense gesien het en tale gehoor het wat ons nie kon verstaan nie.

Broer Hunter het vir my ’n telegram uit Australia gegee wat my toewysing van Birma na Maleia verander het. Fred Paton en Hector Oates moes sonder my na Birma gaan. Ek was bly om te verneem dat ek saam met twee ervare sendelinge, Kurt Gruber en Willi Unglaube, sou werk. Hulle was oorspronklik van Duitsland, maar het reeds ’n ruk lank in Maleia gedien.

Na drie maande in Maleia is ek na Thailand gestuur. Willi Unglaube moes saam met my gaan, asook Frank Dewar, wat voorheen sendingwerk daar gedoen hat. Ons het in September 1938 per trein daar aangekom, plek gekry waar ons tydelik kon woon en met die getuieniswerk begin. Die Thaise mense was vriendelik en geduldig wanneer ons met hulle beeldende taal gesukkel het.

Opbouende byeenkoms in Rangoen

Ons het die uitputtende reis na Rangoen, Birma, wat vroeër beskryf is, vanaf Bangkok, Thailand, onderneem. Dit was die eerste keer dat ’n byeenkoms in Birma gehou is, en die pragtige stadsaal was stampvol met meer as duisend mense vir die openbare toespraak. Die deure moes toegemaak word aangesien daar nie plek vir nog meer was nie. Daar was slegs ’n paar Getuies in Birma en omliggende lande, en die meeste mense wat gekom het om die toespraak te hoor, was dus mense wat gereageer het op die duisende strooibiljetuitnodigings wat voor die byeenkoms versprei is.

Dit was vir ons as sendelinge op afgesonderde plekke waarlik ’n geestelike tonikum. Toe die byeenkoms verby was, het ons na Thailand teruggekeer—maar hierdie keer met ’n makliker roete waarmee ons nie deur die oerwoud moes loop nie.

Oorlog en Japannese inname

Die stormwolke van oorlog het onheilspellend in die rigting van Suidoos-Asië beweeg. Toe die Japannese leërs Thailand beset het, is die werk van Jehovah se Getuies verbied. Alle Britte, Amerikaners en Nederlanders is vir die duur van die oorlog in ’n kamp geinterneer. George Powell, ’n pionier wat van Singapoer getrek het om hom by ons in Bangkok aan te sluit, is saam met my opgesluit. Ons het drie jaar en agt maande saam in die kamp deurgebring.

Gedurende die tyd wat ons opgesluit was, kon ons geen nuwe lektuur of nuus van die Genootskap ontvang nie. Maar ons het die belofte van die psalmis ondervind: “Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.”—Psalm 145:14.

Terug na Australië

Toe die oorlog in 1945 geëindig het, het ek na Australië teruggekeer. Met goeie kos en gunstiger lewensomstandighede het ek my gesondheid herwin en kon ek weer met pionierdiens begin. Toe, in 1952, is ek aangestel om reiswerk as ’n kringopsiener te doen, en ek het hierdie voorreg vir die volgende 22 jaar geniet. In 1957 het ek met Isabell getrou, wat reeds 11 jaar lank ’n pionier was, en ons het saam as man en vrou in die kringwerk voortgegaan.

As gevolg van gesondheidsprobleme het dit moeilik geword om gedurig te reis, en in 1974 het ons ons dus in Melbourne as pioniers gaan vestig. Ek dien steeds van tyd tot tyd as ’n plaasvervangende kringopsiener, en ek het onlangs die voorreg gehad om ’n instrukteur by een van die pionierdiensskole te wees. My vrou het my in al hierdie werk standvastig en vreugdevol bygestaan. Nou, op 78-jarige ouderdom, is ek Jehovah innig dankbaar terwyl by steeds in al my behoeftes voorsien.

As ek terugkyk op die jare dink ek dikwels oor hoe Jehovah ons opgelei het, ons gehelp het om foute te oorkom en ons gedissiplineer het om ons as sy knegte te louter. Ek onthou die kere toe God vir my die middele voorsien het om beproewinge te deurstaan wat menslik onmoontlik was om te verduur. Hierdie herinneringe is ’n bron van krag en laat my herhaaldelik besef dat Jehovah inderdaad in al my behoeftes voorsien het.

[Prent op bladsy 10]

’n Onlangse foto van my en my vrou Isabell

[Prent op bladsy 12]

Getuieniswerk in die Nullarbor

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel