Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 10/1 bl. 26-29
  • Onthou Christelike beginsels

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onthou Christelike beginsels
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is jou aanbidding aanvaarbaar?
  • ’n Lewensbelangrike Skriftuurlike beginsel
  • Diegene wat grondbeginsels volg
  • Laat goddelike beginsels jou lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Hoe help Bybelbeginsels ons?
    Goeie nuus wat van God kom!
  • Bybelbeginsels – Hoekom is dit belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Goddelike beginsels kan jou tot voordeel strek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 10/1 bl. 26-29

Onthou Christelike beginsels

WANNEER ’n kind begin skoolgaan, is lees en skryf van die eerste dinge wat hy leer. Hierdie noodsaaklike vakke berei hom voor vir meer gevorderde materiaal soos sosiale studie, wetenskap en tale. As die kind nie daarin slaag om lees en skryf volkome onder die knie te kry nie, belemmer dit sy hele toekomstige opleiding.

Dit is ietwat soortgelyk wanneer ’n mens leer hoe om God te aanbid. Wanneer ons die Bybel bestudeer, vind ons dat daar talle grondwaarhede, of beginsels, is wat bemeester moet word. Wanneer ons dit eers begryp, kan ons begin om die dieper dinge te bestudeer. As ons hierdie eerste beginsels nie volkome verstaan en glo nie, sal ons aanbidding egter te kort skiet. Ons sal nie goeie besluite kan neem nie, en ons geloof sal wankelrig wees.

Die grondbeginsels van die Bybel is nie moeilik om te verstaan nie. (Kyk tabel.) Maar dit is nie blote gemeenplase of sake van intellektuele belang nie. Dit is lewende, noodsaaklike waarhede, en verstandige Christene leer om dit lief te kry. Jehovah sê: “Luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ’n genesing vir hulle hele liggaam.”—Spreuke 4:20-22; Esegiël 18:19, 20, 23.

Nogtans het Jesus, ondanks die belangrikheid van hierdie beginsels, gewaarsku dat slegs ’n paar dit sal begryp en daarvolgens sal lewe. Hy het gesê: “Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mattheüs 7:14). Dit is nie omdat die beginsels op die een of ander manier verborge is nie. Jehovah wil hê dat mans en vroue dit naleef en sodoende die lewe beërwe (2 Petrus 3:9). Hy het wysheid, kennis en insig in die Bybel laat opteken, wat alom vir almal beskikbaar is. En sy Getuies spoor hulle naaste aan om hierdie lewegewende informasie te soek. So, in letterlike sin, ‘roep die wysheid hardop daarbuite’ (Spreuke 1:20; 2:1-9). Maar daar is ander kragte werksaam.

Satan het die oë van die meeste mense vir ware beginsels verblind (2 Korinthiërs 4:4). Daarbenewens veroorsaak die mens se gees van onafhanklikheid dat hy verkies om sy eie weg te volg pleks van op ’n Hoër Krag vir leiding te vertrou. In die apostel Paulus se dag het selfs sommige wat die grondbeginsels geleer het dit uit die oog verloor. Hy het gevolglik geskryf: “Julle [het] weer nodig dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer.”—Hebreërs 5:12.

Jesus het boonop gewaarsku: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte [“kragtige werke”, NW] gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:22, 23). Waarom word mense wat dink dat hulle Jesus dien dan verwerp? Omdat hulle “kragtige werke” nie op Bybelbeginsels gegrond is nie. Dit is asof hulle probeer het om geskiedenis of wetenskap te bestudeer sonder om eers te leer lees. Hulle werke is gebrekkig en nie op die waarheid gegrond nie. Gevolglik is hulle ‘werkers van ongeregtigheid’.

Is jou aanbidding aanvaarbaar?

Kan ons daarvan seker wees dat Jesus nie eendag vir ons sal sê: “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” nie? Ja, mits ons aanbidding volkome op Bybelbeginsels gegrond is. Dit kan daarop gegrond wees as ons die Bybel, veral die woorde van Jesus, noukeurig ondersoek. Jesus het op die nou, smal pad na die lewe gewandel—trouens, hy was “die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). As ons sy woorde toepas en noulettend in sy voetspore volg, sal ons op dieselfde weg wees.—Johannes 6:68; 1 Petrus 2:21, NAV.

Jesus se naaste volgelinge het ook op daardie nou, smal pad na die lewe gewandel. Toe Jesus gesterf het, het hy die werk om ander te leer om God te aanbid dus aan hulle toevertrou. Hy het ook gewaarsku dat hy sou terugkeer en rekenskap van hulle sou eis oor hulle gedrag gedurende sy afwesigheid.—Mattheüs 24:46; 25:14-23; 28:19, 20.

Die aantal mense wat verklaar het dat hulle Christus volg, het uiteindelik tot honderdmiljoene gestyg. Maar in die meeste gevalle was die aanbidding van hierdie ontsaglike menigtes nie op Bybelbeginsels gegrond nie. Wat het Jesus dus gevind toe hy in 1914 as hemelse Koning aangestel is en toe ‘gekom het’ om rekenskap te eis van diegene wat bely het dat hulle sy volgelinge is? Miljoene naamchristene het deelgeneem aan die afgryslikste oorlog wat tot op daardie tydstip in die mensdom se geskiedenis gevoer is.

Ja, die oorgrote meerderheid “Christene” het geheel en al strydig met fundamentele Bybelbeginsels opgetree. Maar daar was ’n groep ware Christene wat hard probeer het om godvrugtige beginsels te volg en wat dit ook aan almal in die oorlogsugtige wêreld wat wou luister, geleer het. Húlle is versamel, en ’n groot menigte mense met dieselfde gesindheid het mettertyd by hulle aangesluit (Mattheüs 24:31; Openbaring 7:4, 9, 10). Hulle volg steeds lewegewende beginsels, vertel ander van God se grootse voornemens, geniet omgang met mekaar as een kudde en probeer hard om hulle na die “volmaakte wil van God” te skik.—Romeine 12:2.

’n Lewensbelangrike Skriftuurlike beginsel

Dit was nie maklik nie. Vir eers moes hierdie ware Christene stry teen hulle eie onvolmaakte, sondige geaardheid. En hulle moet in ’n wêreld woon wat heeltemal gekant is teen die waardes en beginsels wat hulle probeer uitlewe. Trouens, die apostel Johannes het gesê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). God se hedendaagse, ware aanbidders moet dus ’n lewensbelangrike beginsel wat Jesus verklaar het goed in gedagte hou: “Hulle [Christene] is nie van die wêreld nie.”—Johannes 17:16.

Jehovah dwing individue nie om hom te dien nie, maar diegene wat kies om dit te doen, moet ’n paar nugtere besluite neem. Hulle moet hul byvoorbeeld versoen met die feit dat hulle nooit in hierdie wêreld gewild kan wees nie (Mattheüs 24:9). Die dissipel Jakobus het vermaan: “Wie . . . ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). En die apostel Paulus het gesê: “Watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid” en “watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” Toe het hy Jehovah se eie woorde aangehaal: “Gaan onder hulle uit en sonder julle af, . . . en raak nie aan wat onrein is nie.”—2 Korinthiërs 6:14-17; Efesiërs 5:11.

Hoe kan ons ‘ons afsonder’? Vanselfsprekend nie deur fisies uit die wêreld uit te gaan nie. Maar ons kan dit vermy om ‘in dieselfde juk saam met ongelowiges te trek’. Ons kan die ‘slegte gesprekke wat goeie sedes bederf’, vermy (1 Korinthiërs 15:33). En ons kan ons afsonder van die gees van die wêreld, die gees van selfsug, oneerlikheid, materialisme en ’n waansinnige najaging van plesier (2 Timotheüs 3:1-5). Diegene wat hulle sodoende van die begeertes van hierdie wêreld afsonder, het die hartverblydende versekering: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:15-17.

Diegene wat grondbeginsels volg

Is dit vandag moontlik om Bybelbeginsels te volg en op die nou pad wat na die lewe lei te wandel? Ja, selfs kinders kan dit doen. Twee jong kinders in Brasilië het hulle byvoorbeeld by die skool so goed gedra dat hulle onderwyseres hul moeder versoek het om die rede hiervoor met haar te kom bespreek. Die moeder het verduidelik dat dit is omdat hulle Bybelbeginsels ten opsigte van gehoorsaamheid aan ouers en ander in gesagsposisies volg (Efesiërs 6:1-3). Aan die einde van die skoolkwartaal is hulle ’n geleentheid gebied om vir die hele klas te verduidelik watter voordele so ’n godvrugtige leefwyse inhou.

Jesus het dié beginsel gegee: “lemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15). ’n Welvarende dokter in Japan het dit geleer en het dit, tot die verbasing van sy kollegas, toegepas. Hy het sy winsgewende posisie laat vaar en na ’n dorpie gegaan waar hy die dorpsmense geestelik kon help. Hierdie opoffering van materiële voordele het hom nie van sy geluk beroof nie. Inteendeel, hy en sy vrou, put nou groter vreugde daaruit om die Woord van die lewe na ander te bring.

Die Bybel sê: “’n Drinker en ’n vraat sal arm word” (Spreuke 23:21). Dit is ’n duidelike waarskuwing teen verslawing. Ons word ook gewaarsku teen dwelmmisbruik: “Die werke van die vlees is . . . afgodery, towery [phar·ma·kiʹa, “die gebruik van dwelms” in die oorspronklike Grieks]” (Galasiërs 5:19, 20). Daarbenewens het die apostel Paulus gemaan: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig.”—2 Korinthiërs 7:1.

Die gebruik van tabak en ander verslawende dwelms druis duidelik teen hierdie Bybelbeginsels in en is dus “ongeregtigheid” (Mattheüs 7:23). Enige kneg van God wat hom met sulke produkte besoedel, sal vind dat sy aanbidding nie vir God aanvaarbaar is nie. Honderdduisende het derhalwe opgehou om hierdie dwelms te gebruik, en hulle het gevolglik geestelike sowel as liggaamlike voordele ontvang. Dit is natuurlik nie altyd maklik om hierdie onreine gewoontes te laat vaar nie.

’n Jong man in Michigan, VSA, het van God en sy beginsels geleer by bedienaars wat aan sy deur geklop het. Hy het gehou van wat hy gehoor het, maar het besef dat sy gewoonte om dagga en tabak te rook nie met aanbidding van Jehovah gestrook het nie. Hy sê: “Ek het nie gesukkel om van dwelms, wat ek geniet het, af te sien nie. Maar dit was ten minste ses maande voordat ek opgehou het om sigarette te rook.” Mede-Christene en gebed het hom gehelp. Omdat hy ’n rein lewe volgens Bybelbeginsels lei, geniet hy nou ’n rein gewete, ’n verhouding met God en Christelike omgang. Trouens, hy sê dat hy nooit geweet het wat ’n vriend is nie, totdat hy ’n Christen geword het nie.

Dit is waarlik die weg van wysheid om regverdige beginsels te volg. En wysheid is selfs kosbaarder as fyn goud. Slaan self hierdie weg in, en dit sal Jehovah tot eer strek en ewige seën vir jou meebring.—Psalm 19:8, 11; Spreuke 16:16.

[Venster op bladsy 27]

Beginsels is grondwaarhede of fundamentele wette waaraan ander waarhede of wette ontleen kan word. Hier volg ’n paar voorbeelde:

◻ “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—Mattheüs 22:37.

◻ “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.

◻ “Die vriendskap van die wêreld [is] vyandskap teen God.”—Jakobus 4:4.

◻ “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”—1 Korinthiërs 10:31.

◻ “En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”—Romeine 15:1.

◻ “Laat ons dan gedurig . . . aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”—Hebreërs 13:15.

◻ “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim [nie].”—Hebreërs 10:24, 25.

◻ “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”—Mattheüs 4:4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel